|
|
Ons poep weer teen donderweer!!Philip Van Dyk*Vandag noem ons dit 'n debat, gister 'n vryheidstryd en vantevore oorlewing. Eweneens is dit dalk 'n stryd om oorlewing vergestalt in Afrikaans wat as liggaam baie kreatiewe denkery skep, groei en huisves. Om te debatteer oor 'n taal is nie so eenvoudig soos die raserigheid van jou buurman se hond nie, eerder meer kompleks. Taalbemagtiging is 'n vloekwoord in die moderne demokrasie waarin ons ons bevind. Groot was die verwagting en klein die uitkoms met die nuwe demokrasie en ons gepaardgaande grondwet wat minderheidsregte en ons land se elf amptelike tale inboesem, glo dit of te nie, Afrikaans inkluis. Een wyse persoon het die spitsvondige opmerking gemaak dat die enigste waarheid in 'n demokrasie is dat 'n meerderheid regeer. In ons geval is die meerderheid nie meer 'n Afrikaanssprekende blanke regime nie, eerder 'n groot menigte swart Engelssprekende comrades. Die US-taaldebat bevat baie fasette, waarvan die enigste waarheid sy verskyning maak in 'n fyn, goue draadjie genaamd politieke indoktrinasie en die een kan nie sonder die ander kan klaarkom nie. Politiek skep die speelruimte vir emosie en sterk individualistiese opinies wat deels op oningeligte meerderheid afgedwing word. Nie weens 'n gebrek aan belangstelling nie, maar die meelopende gewoondwording dat daar weer gekompenseer gaan word. Ek noem bogenoemde studente-apatie, waarvoor ek geen verskoning wil aanvoer nie; ja ons poep weer teen donderweer Die US bevind hom in 'n pandemiese krisis voortslepend uit die afgelope dekade. Ons leef in 'n snel veranderende samelewing aangevuur deur 'n nuwe politiese bestel en die ontluikende wêreld. Vanweë baie faktore het Engels weens praktiese en dood logies redes op die voorgrond getree. Die breë Afrikanergemeenskap het die golwe/winde van verandering op die horison bespied, waarvan taalopoffering een is. Geen van ons het met skrik besef dat die verandering ons tot op hierdie mislike punt van die uurglas gaan dryf nie. Een van die gevolge was 'n afname in tradisioneel Afrikaanssprekende universiteite. Moenie my verkeerd verstaan nie: ek bedoel nie 'n afstel nie, eerder 'n akkommodering op skrandere wyse. Nou bevind ons ons waar daar baie raseg Afrikaanssprekendes, bedoelende blanke Afrikaanssprekende persone wat in Afrikaans wil swot, migreer na 'n tersiêre instelling wat 'n suiwerder taalaanslag voer. Genaamd die US. Kom ons wees realisties! Die US het kapasiteitsuitputting bereik en kan nie volhou om meer studente te akkommodeer nie. Op die ou einde van die dag groei die Afrikaanssprekende stroom teen 'n ongekende pas en steeds moet daar ruimte geskep word vir die akkommodering van ons nie-Afrikaanssprekende broeders. Die Universiteit se krisis spruit voort uit 'n situasie waar daar in die toekoms teen Afrikaanssprekende studente gediskrimineer kan word. Voorts moet ek aandag skenk aan 'n algemene verskynsel genaamd korttermyn-breinkrag. Ons het al op so 'n wyse gekompenseer dat ons vergeet het van die vorige punt waar ons weggespring het, om nie eens te praat van die vorige, vorige staanspoor nie. Ek en jy het al vergeet waar ons was, en waarvoor ons as Afrikaanssprekende persone voet by stuk standpunt ingeneem het. Wat is die waarde van 'n wet as hy voortdurend oortree word? Mense steur hulle nie meer aan die wet nie. Juis hieroor steur mense hulle nie aan 'n nuwe Afrikaanse status quo nie, want hulle weet dit gaan weer verander word. Ons poep weer teen donderweer!! Ek kan nie namens ander mense praat nie, veral nie bruin of swart Afrikaanssprekende persone nie. Die US-taaldebat word hoofsaaklik aangevoer deur individue (grotendeels in 'n hoër ouderdomsgroep) wat meer skade aanrig as goed doen. Die tyd is verby om doekies om te draai en ons behoort waaragtig standpunt in te neem vir die dinge waarin ons glo. En voet by stuk daarby te staan. Die grondwet van ons land is daar om getoets te word en daar is geen rede waarom dit nie getoets kan word nie. Dit is myns insiens die enigste silwer randjie van die donderwolk. Ek is egter van mening dat die Afrikaanse gemeenskap en die US-studente, -personeel en almal wat 'n liefde vir die taal het, 'n mosie van wantroue teen die US se bestuur instel. 'n Kleine laerskool kan die regering in 'n taalgeding hof toe vat. Wat verhoed die US om die geskil in die land se howe te besleg? Of is daar dalk te veel politieke bande in die bestuur van die US? Afrikaanse onderrig het ten spyte van al die verandering, nie afgestudeerde Maties tekort gekom nie. Ons moet ophou om blindelings al die leuens van die kamstige kampvegters vir die verengelsing van die US na te volg. Daar is een waarheid, en dit is dat ek en jy en ons kinders ook die voorreg mag hê om volledig in hul moedertaal te onderrig en te laat onderrig word. Indien ander opinies nie dieselfde saak ondersteun nie, moet hulle maar skouer aan die wiel sit en stappe doen om hulself in hul moedertaal te bemagtig. Die verengelsing van die US het onder 'n paar terme gestand gedoen; die jongste is diversifisering, alhoewel die aanvoerders van die term onbevoeg is om enigsins betekenis daaraan te gee, weens gebrekkige redenering. Ek sê diversiteit is om respek te toon vir identiteit. Indien die politici hul wil betrek by 'n akademiese instelling en hul selfgemotiveerde abstraksie op ons wil afdwing, kan hulle ten minste respek toon vir identiteit en sodoende die taaldebat in die regte rigting stuur. Vir die akademici wat hul soos politici voordoen, wel, hulle moet maar dalk 'n ander tuiste as die US gaan soek. Die Universiteit is primêr daar vir die bevordering van die wetenskap en akademie, nie die vervulling van politiese agendas nie. Afrikaans is hier om te bly, politiese agendas kan maar gly.
Philip van Dyk* het sy B.Comm.Bemarking aan die
US voltooi en is betrokke by verskeie organisasies en Studenteraad-subkomitees.
Wil jy reageer op hierdie mini-seminaar? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |