|
|
Gun élke inheemse taal sy plekMarius Swart *Die taaldebat (sug). Ek sal nie hier 'n uiteensetting gee van die T-spesifikasie nie. Dit is wyd beskikbaar en dit staan enigiemand vry om dit te gaan bestudeer. Ek sal my bepaal by enkele punte van kritiek daarop en 'n siening op die taaldebat (sug). Een ding wat die T-spesifikasie baie goed regkry, is om verdeeldheid te skep. Daarop val my fokus dan ook. Die bedreiging wat van toepassing is op Afrikaans, is die verdeeldheid tussen sprekers van die taal. Daar is 'n gekyf en geween en gekners van valstande soos selde gehoor word by 'n ander kwessie as "taal". Waarom voel die mense so ten diepste gekrenk wanneer "ons" taal nie meer kunsmatig bevoordeel word nie? Dit is vir my, as Afrikaanssprekende student, erg tragies dat daar soveel druk op ons jong taal is. Dit is egter 'n werklikheid dat hierdie pragtige taal van ons sedert die vroeë 1900's kunsmatig en wederregtelik bevoordeel is ten koste van ander tale. Afrikaans word vandag nog gesien as die "Boere" se taal, die taal van die onderdrukkers. Hoe 'n bevolking van etlike miljoene so 'n moerse denkfout kan begaan, sal my Afrikaanse verstand nooit insien nie. Die hele 300-jarige geskiedenis van ons taal Afrikaans word agterweë gelaat ter wille van 'n teregwysing van die sprekers en bevorderaars daarvan op grond van die feit dat dit voorheen (lees: die afgelope halfeeu) bevoordeel is. Ons is bewus van die onlangse verlede en die Afrikaans waarin die ideologie van apartheid "gepraat" is. Dit is nogtans nie 'n rede om Afrikaans te veroordeel nie. Omdat apartheid in Afrikaans gebeur het, impliseer nie dat Afrikaans apartheid ís nie. Die taaldebat is betekenisloos totdat alle betrokkenes hul oorwegend ideologies-gekleurde brille afhaal. Net omdat daar mense is wat Afrikaans lief het en wil bevorder, beteken nie daardie mense smag na 'n terugkeer na die vergange era van geïnstitusionaliseerde rassisme nie. Dit is skrikwekkend dat soveel intelligente mense so 'n eenogige siening kan hê van so 'n groot saak. Waarom word Afrikaans vandag nog deur soveel mense gesien as die taal van apartheid? Ja, dit was die taal waardeur apartheid oorgedra is. Net soos wat Nazi's Duits gepraat het. En tog, snaaks genoeg, is alle sprekers van Duits nie vurige ondersteuners van wat Hitler gedoen het nie. Ek glo ook nie dat almal wat Engels praat, dink dit was reg om Nigerië te koloniseer nie, argumentsonthalwe, of om duisende Suid-Afrikaners (sommer nog nou die dag) in konsentrasiekampe soos diere van die honger te laat vrek nie. Afrikaans kan en mag nie sinoniem wees met die vorige bedeling net oor dit as voertaal vir onderdrukking gebruik is nie. Daar moet verdraagsaamheid wees teenoor alle sprekers van veral inheemse tale. Mense moet ophou om Afrikaans as sinoniem met Afrikanernasionalisme te sien. Om dit as sodanig te sien, is domastrant en oningeligd. Kyk 'n bietjie verder terug en dink weer oor waar Afrikaans vandaan kom. Kyk hoe 'n heterogene groep praat vandag ons taal, soos nog altyd. En laat dan die stemme hoor, in Afrikaans. Solank as ons aanhou om ons taal te praat, sal dit oorleef en vooruitgaan. Dit is nie reg om enige taal kunsmatig te bevoordeel nie. Net so is dit weersinwekkend om een taal te onderdruk ter wille van 'n ander. Afrikaans moet 'n ruimte gegun word waarbinne dit kan ontwikkel, net soos wat ander tale daardie ruimte behoort te kry. Die ruimte wat een taal gegun word, kan en mag nie inbreuk maak op die ruimte van 'n ander taal nie. Die Universiteit Stellenbosch se beleid skep oënskynlik hierdie soort ruimtes. Dis belangrik om te onthou dat die Universiteit nie 'n bakermat van die Afrikanervolk is nie, maar 'n instelling wat in ons globaliserende wêreld moet oorleef. Dit behoort aan niemand nie; dit is 'n instelling wat 'n diens lewer aan diegene wat die diens verlang. Niemand het die reg om te eis dat hul taal voorrang moet geniet binne die opvoedkundige kader nie. Die moedertaalonderrig-argument is ook effe dun in 'n wêreld waar Engels gewoon die neokolonialiste se ononderhandelbare voertaal is. 'n Instelling soos die US kan nie by elke individu se taalvoorkeur aanpas nie. Daar is 'n afruiling tussen inklusiwiteit en praktiese uitvoerbaarheid. Daar is hoegenaamd geen rede vir die US om uitsluitlik Afrikaans te wees nie, en dit is ook nie. Die stand van die US se taalbeleid word duidelik op amptelike dokumente aangedui. As jy aansoek doen vir toelating, is daar geen rede om onbewus te wees daarvan nie. En die tema is al holrug gery, maar daar is instellings in ons provinsie wat veel minder in die behoefte van Afrikaanssprekendes voorsien. Myns insiens moet jy na die instelling gaan wat die beste in jou behoeftes voorsien. Jy kan nie elke struktuur waarmee jy vir die res van jou lewe te doen het, wil druk en trek om by jou behoeftes aan te pas nie. Dit is 'n simptoom van akute "entitlement syndrome". As die institusionele beleid jou nie geval nie, werk aan jou perspektief en vind uit of daar nie 'n instelling is wat beter in jou spesifieke behoeftes sal voorsien nie. Of probeer om as deel van jou opvoedingservaring die kampuskultuur, wat so eie is aan elke betrokke instelling, te ervaar deur betrokke te raak daarby. Net soos wat Afrikaans niemand uitsluit nie, behoort geen ander taal dit te doen nie. Afrikaans se ontstaan was juis 'n inklusiewe een. En net omdat "almal tog Engels verstaan", soos wat ons so baie hoor, beteken nie Engels moet voorrang kry bo enige inheemse taal nie. Dis ook glad nie 'n slegte idee om taalvaardigheid te beklemtoon en te bevorder nie. Daar is 'n sterk Afrikatale-departement en die bedrywige Eenheid vir Afrikaans aan die US. Dit staan elkeen vry om werk te maak daarvan om Afrikaans en/of IsiXhosa op beginnersvlak aan te leer. Minstens een van die twee behoort by elke kursus verpligtend te wees. As almal dan nou "tog Engels verstaan", maak werk daarvan om 'n tweede of derde inheemse taal (byvoorbeeld Afrikaans en IsiXhosa) aan te leer. Heelwat buitelandse studente doen dit; waarom nie ons almal nie? Die US bied minstens twee aan. Wat ons as Afrikaanssprekendes op ons beurt moet doen, is om saam te werk en in ons taal oor ons taal te praat. Ons kan van niemand anders as onsself verwag om iets te doen oor die saligheid van ons taal nie. Geen instelling hoef, of behoort, dit te "red" nie. Dit het in elk geval nie redding nodig nie. Al wat dit nodig het, is dat ons aanhou om daarin te kommunikeer. Op die huidige stadium gee die Universiteit Stellenbosch se beleide ons teoreties die geleentheid om dit te doen. Hopelik hou dit in die praktyk so aan. Kom ons hou op om mekaar aan te val en oor skynbare teenstrydighede binne die strukture hare te kloof. Wees selfversekerd. Sê eerder vir die karwagte in die straat "dankie" in plaas van "thanks". Dis hoe maklik dit is om 'n taal aan die gang te hou.
Marius Swart* volg 'n BA PPE aan die US met Politieke Wetenskap, Filosofie en Ekonomie as hoofvakke. Interkulturele kommunikasie en die rol van ideologie en geskiedenis daarin is vir hom fassinerend. So ook die geleidelike beweeg na 'n totaal grenslose wêreld en die invloed daarvan op die mens se gebondenheid en geborgenheid. Verder bestudeer hy nie-amptelik die letterkunde en waag sy hand per geleentheid aan 'n kreatiewe stuk. Hy doen vryskutvertaalwerk en vryskutfotografie en werk in die bietjie vrye tyd wat hy het vir 'n saaiboerdery in die Overberg.
Wil jy reageer op hierdie mini-seminaar? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |