LitNet is n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
SR se opinie oor die taaldebat
(20-10-2005)
Ongetwyfeld is taal tans ‘n belangrike en kontroversiële kwessie vir die studente van Stellenbosch Universiteit. Daar is ook talle verskillende opinies onder studente oor hierdie kwessie. Die Studenteraad erken hierdie verskillende opinies, belange en bekommernisse en hanteer dit as ’n saak van erns. Verder moedig ons gesonde, konstruktiewe debat oor hierdie kwessie aan.
Die SR het deurgaans gepoog om nugter en verantwoordelik met hierdie kwessie om te gaan, eerder as om oorhaastige uitlatings aan die pers te maak. Gesien in hierdie lig, is dit dan jammer dat ons (in ’n soeke na sensasie) hopeloos verkeerd aangehaal word en daar selfs berig gegee is dat die SR-Voorsitter voel dat “die meeste studente glad nie ’n probleem het” met die T-opsie nie en nie omgee oor die taalkwessie nie. Dit is natuurlik glad nie die geval nie. Ons is pynlik bewus van die verskillende studente se behoeftes en opinies oor hierdie saak en stel dit beslis op prys.
Die SR maak kapsie teen die idee van sommige individue dat ons slegs as lakeie van die US-Bestuur optree. Dít is ons beslis nie. Ons enigste doel is om alle studente se belange (en die beste belange van die hele studenteliggaam) te verteenwoordig.
Dit is vir ons jammer dat baie van diegene wat toetree tot die debat, ander kategoriseer as óf konserwatief, met hul voete stewig in die ou bedeling, óf opportunistiese agente van die regering, bloot op grond van hul mening oor taal in hierdie debat. Dit is vir ons noodsaaklik dat daar wegbeweeg moet word van hierdie stereotipering en dat daar eerder gefokus moet word op wat in die beste belang van ons studente is.
Die SR sien ons rol as dié van leiding in hierdie situasie. Diegene wat voel dat ons ’n openbare stelling moet maak oor watter taalspesifikasie (taalopsie) ons kies, verstaan duidelik nie die kompleksiteit van die debat nie. Om bloot ’n opsie te kies, is nie ons doel nie. Hierdie studenteraad is nie só arrogant om voor te stel dat ons die oplossing op hierdie ingewikkelde probleem het nie. Wat ons egter aanbied, is ’n paar grondbeginsels wat ons glo as vertrekpunte gebruik moet word in die taaldebat. Ons glo dat ’n gesonde debat slegs binne hierdie raamwerk sou kon plaasvind.
Die Studenteraad van die Universiteit van Stellenbosch glo dat:
1. Afrikaans belangrik is;
2. alle tale gerespekteer moet word;
3. die taaldebat moet handel oor taal en nie gebruik moet word om enige ander agendas te dryf nie;
4. onderrig ‘n sentrale fokus van hierdie universiteit moet bly;
5. elke student suksesvol moet kan leer en studeer aan die Universiteit van Stellenbosch;
6. taal nooit die rede moet wees vir enige student se akademiese mislukking nie;
7. geen student ooit skuldig of selfbewus behoort te voel wanneer hy/sy kies om in sy/haar moedertaal te kommunikeer nie (ook Afrikaanse studente);
8. geen student moet voel dat sy/haar taal bedreig word nie;
9. studente die geleentheid moet aangryp om verryk te word deur ander tale as hul eie;
10. net soos Afrikaanssprekendes verryk moet word deur die invloede van ander tale, nie-Afrikaanssprekendes ook moet toelaat dat hulle verryk word deur Afrikaans;
11. daar steeds klas gegee moet word in Afrikaans aan die US;
12. die Universiteit van Stellenbosch ‘n nasionale bate is. Dit beteken dat hierdie universiteit ‘n trots Suid-Afrikaanse kultuur en identiteit moet hê. Afrikaans het slegs ‘n regmatige plek as ons dit sien binne die nasionale konteks, maar dan het dit nie net ‘n regmatige plek nie – dit het ’n noodsaaklike plek;
13. ons moet trots wees op ons verskille en ons diversiteit en dat ons ons uniekheid saam moet vier;
14. ons moet erken dat daar meer as een uitgangspunt is en dat daar meer as een opinie is wat gehoor moet word;
15. Afrikaans aktief uitgebou en ontwikkel moet word as onderrig- en wetenskapstaal (en dat dit gedoen kan word sonder om enigiemand te benadeel of uit te sluit);
16. daar verantwoordelik met hierdie debat omgegaan moet word, al is dit ’n makliker opsie om die saak te oorvereenvoudig en net te stem oor ’n taalopsie.
LitNet: 7 November 2005
Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za
om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.