Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Wie moet die taal red?

Dora Scott*

Die taaldebat wat tans heers, is 'n storm in 'n koppie wat in 'n orkaan ontaard het: dit gaan verwoed voort, maar in die oog is dit doodstil. Dit is stil op Stellenbosch, waar die meeste studente niksvermoedend deur die strate stap, T-module-klasse bywoon, of - soos tans - studeer vir die eksamen, die meeste van hulle salig onbewus van die storm wat bo hul koppe losgebars het, soos duidelik bewys is deur die petisie wat selfs met die steun van die dagmedia slegs 3 000 uit die ongeveer 20 000 handtekeninge kon kry. Dit verteenwoordig net 'n klein persentasie van die totale studentekorps. Die res het hulle nie daaraan gesteur nie, omdat dit tot dusver geen daadwerklike invloed op hul daaglikse bestaan gehad het nie.

Gegee die gebrek aan belangstelling onder studente, is dit eienaardig dat daar so baie belangstelling van mense is wat nie enigsins deur die besluit geraak word nie. Die meeste studente met wie ek gepraat het, voel dat Engels, eerder as Afrikaans, die taal is wat hulle bemagtig in akademiese diskoers. Die meeste handboeke is deesdae by noodsaak in Engels, terwyl dit ook geld vir navorsing. Om alles te vertaal is onmoontlik en word gevolglik ook nie gedoen nie. Nie deur studente nie - ook nie deur navorsers nie.

Die universiteit se rol is sekerlik nie om 'n taal lewend te hou nie, maar om studente voor te berei vir die mark waarin hulle hul vaardighede gaan aanwend. Dit sou blote wensdenkery wees om te dink dat hierdie mark Afrikaans is. Die keuse van 'n voertaal behoort slegs deur akademiese meriete bepaal te word en nie deur emosionele argumente rondom die voortbestaan van Afrikaans nie. Van al die emosionele argumente, het iemand eenkeer gesê, is die beroep op tradisie voorwaar die swakste.

Waarom is dit dan, as niemand bereid is om te ontken dat Engels die sterkste akademiese taal is nie, buitestaanders met 'n bloot historiese belang by die universiteit wat hulle bemoei met die keuse van 'n voertaal? Dié buitestaanders, ook soms bekend as die Konvokasie, blyk bemoeienis te hê slegs met sekere sosiopolitieke kwessies wat 'n merkwaardige ooreenstemming het met die sosiopolitieke belange van die ou regering. Opvoedkunde blyk nie die maatstaf te wees nie, want die laaste keer toe die bulle hul hoewe in die grond gekrap het, was toe 'n eredoktorsgraad aan Braam Fischer toegeken is. Hierdie aksie het absoluut geen invloed op die akademiese meriete van die universiteit gehad het nie.

Ongelukkig vertroebel die oudstryders se ware motiewe die water van wat andersins 'n sinvolle, helder akademiese gesprek kon wees. Moedertaalonderrig is 'n gesprek wat belangrik is, en veral op primêre en sekondêre vlak dringende aandag moet geniet. Tersiêr is dit egter nie meer haalbaar om te verwag dat een universiteit moet pa staan vir die behoud van 'n akademiese taal nie. Selfs binne die geledere van dié wat die T-opsie se instelling teenstaan, is daar 'n duidelike verdeling hieroor. Nie Etienne van Heerden, André P Brink of Tom Dreyer het kans gesien om hulle name te voeg by die lys van beswaarmakers wat aanvanklik versprei is nie.

Gevolglik is die probleem lankal nie meer met die taal in sigself nie, maar met die mag (al dan nie) wat daarmee verband hou. Nietemin, taal is nie sleg nie. Taal het nie magiese kragte wat mense bind of uitmekaar skeur nie. Dit is neutraal en onskuldig, maar word net 'n wapen in die hande van dié wat weet hoe om dit te gebruik (of misbruik).

Dit laat dan vrae oor hoekom dit juis hierdie taal Afrikaans is wat al die aandag geniet. As die debat nie meer handel oor die taal by die Universiteit van Stellenbosch nie, maar oor Afrikaans in die algemeen, behoort dit tog nie so uitsluitlik en arrogant te wees as om al die ander tale waarvan die bestaan ook bedreig word, te ignoreer nie. Die feit dat die Universiteit van Stellenbosch op innovasie ingestel is (maak nie saak in watter taal nie), dui egter dat dit reeds besig is om te gebeur. Hoe dit ook al sy, 'n bekommernis is die definisie van 'n inheemse taal. Waarom is Afrikaans gevrywaar van hierdie naambord? Sy geskiedenis mag dalk daadwerklik verskil, maar hy het, nes die ander nege amptelike inheemse tale, ook op hierdie kontinent ontwikkel. Die eksklusiwiteit wat met die debat oor die bestaan van Afrikaans gepaard gaan, moet dus heroorweeg word.

Dit is nie vir die debat nie, maar dis opmerklik dat Afrikaans as akademiese taal sonder die kunsmatige pilare van regeringsteun binne 'n dekade sy voet in die akademiese deur verloor het. Afrikaans as taal behoort geen meer steun te geniet as Xhosa of Zoeloe nie. 'n Beroep om een A-vlak-universiteit in Suid-Afrika spesifiek vir Afrikaans te reserveer is moreel bankrot as mens nie terselfdertyd 'n beroep maak om byvoorbeeld die Universiteit van Pretoria 'n Ndebele-instelling te maak nie. Engels is vanweë sy posisie as globale akademiese taal die keuse van voertaal, nie in sy posisie as nog een van elf amptelike tale in Suid-Afrika nie.

Dit is onregverdig om Chris Brink verantwoordelik te hou vir die behoud van Afrikaans as akademiese taal. Selfs Etienne van Heerden, Tom Dreyer en André P Brink besef dit wanneer hulle in hulle beswaar die stap van Chris Brink 'n simboliese stap noem. Chris Brink het geen keuse nie. Vir die voortbestaan van die Universiteit is dit beter om 'n wêreldklasinstelling te word wat studente van oor die aardbol lok as om weens verknogtheid aan een taal te verval in akademiese middelmatigheid.

So wie moet dan die taal red?

Sekerlik die skrywers, sangers, en uitgewers wat so teen die T-opsie uitgevaar het. Maar hulle is juis dié wat die verantwoordelikheid probeer afwentel op die US.

Koos Bekker en Ton Vosloo behoort, eerder as om hulle met die Universiteit se taalbeleid te bemoei, hul te beywer om weer kwaliteit Afrikaanse produkte te lewer. Die Son, tydskrifte soos Huisgenoot, dramareekse soos Dit wat stom is en koerante soos Die Burger laat nou nie juis my taalpatriotiese hart oorloop van vreugde nie.

Ook die sangers en skrywers is nie onskuldig nie. Pleks van kerm oor die taalbeleid, kan hulle gerus meer aandag gee aan die skep van kwaliteit Afrikaanse werke. Fokofpolisiekar is ongelukkig geen Green Day nie, en mediasensasie ten spyt, is hulle nie 'n groep wat selfs in die breër Suid-Afrikaanse gemeenskap impak maak nie. Laat ons ook nie vergeet nie dat die Afrikaanse literêre gemeenskap daarin geslaag het om binne twee jaar eers aan Kleinboer se swak poging tot 'n JD Salinger-verwerking van My Lewe in Hillbrow se Bordele die Rapport-prys toegeken het en toe in 'n daad van verstommende tonnelvisie daarin geslaag het om aan 'n bundel met plagiaatverse die Eugène Marais-prys te gee. Die meeste moderne Afrikaanse musiek en literatuur laat met slegs enkele uitsonderings my en die res van my geslag koud.

Die geveg vir die voortbestaan van Afrikaans kan nooit geveg of beïnvloed word deur wat in die gange van die Lettere en Wysbegeerte-gebou gebeur nie, maar sal eerder gewen of verloor word in die produkte van ons skrywers en sangers.


Dora Scott* is 'n student in die tale en assistentredakteur van Die Matie- studentekoerant. Sy hou haar hele lewe al mense dop en vermoed die meeste meningvormers en politici is besig om doelbewus ander 'n rat voor die oë te draai. Sy is kwaad vir hulle omdat hulle dit nie eers half ordentlik regkry nie.



LitNet: 08 November 2005

Wil jy reageer op hierdie mini-seminaar? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.