|
|
Waarom ek uiteindelik my stem dik maakHelena Odendaal*Tussendeur die warrel van opsies vir volgende jaar, soos werk soek of verder swot, het baie van hierdie taaldebat vir my en die meeste van my medestudente ongesiens verbygegaan. Die gemiddelde Stellenbosch-student is al dikwels gekritiseer vir sy/haar apatie teenoor aktuele sake soos duistere koshuisaktiwiteite, die studenteraadverkiesings, en nou die taaldebat. Aan die einde van drie jaar se studies en in die middel van 'n vurige taalstryd wat al amper net so lank duur, het ek uiteindelik besluit om my (Afrikaner-) stem dik te maak. Die groot vraag is seker: Hoekom nou, nadat die groot kanonne reeds gevuur is en die perde reeds ingespan is? Die antwoord is heel eenvoudig: want hierdie stryd het vir my 'n emosionele punt bereik wat vir my die doel van 'n universiteit mis. "Wat is 'n universiteit?" het prof AA van Niekerk vir ons gevra in eerstejaar-Filosofie. Die doel van 'n universiteit is ook 'n filosofiese vraag uit eie reg en moet voor oë gehou word as 'n mens die onvanpastheid van 'n taalstryd in hierdie sfeer wil beredeneer. Die soeke na wysheid, bevordering van abstrakte denke, die vloei van kennis, is sentrale doelstellings. Maak dit werklik saak in watter taal dit geskied? Is 'n universiteit die korrekte plek om so 'n stryd te veg? Bepaal die Universiteit Stellenbosch die voortbestaan van Afrikaans? Die antwoord is nee! Ek het aan die begin van die jaar 'n uitstekende besoekende filosofiedosent gehad uit Amerika, en tans is daar uitruilstudente van België in my klas wat interessante insigte lewer ten opsigte van die werk; maar dit geskied in Engels. Wil die taalvegters vir my sê dat sulke besoeke aan die Universiteit van Stellenbosch nie meer toegelaat moet word op derdejaarsvlak nie, ten bate van die voortbestaan van 'n taal wat myns insiens nie in gevaar is nie? Soos die T-opsie tans in klasse geskied op derdejaarsvlak, word geen persoon van die reg ontneem om in die taal van sy/haar keuse vrae te beantwoord, werkstukke in te gee of vraestelle te skryf nie. Die enigste funksie wat die T-opsie vervul, is om 'n wyer spektrum van studente in te sluit. Afrikaans is groter en sterker as wat enige taalvegter voor kan wens! Die toevoeging van Engels as onderrigmedium verarm nie Afrikaans nie, maar dra by tot die verryking van die student in sy/haar akademiese ervaring op Stellenbosch en bemagtig die student om internasionaal mededingend te wees. Aan die taalstryders: Hê meer geloof in ons taal, toe! (Dalk 'n anglisisme, maar die boodskap is duidelik ...)
* Helena Odendaal: Wil jy reageer op hierdie mini-seminaar? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |