|
|
Die T-beleid is die beste van al die moontlikhedeEric Mulder *Voordat ek die taalplan van die US kritiseer of bespreek, wil ek net by voorbaat sê dat polarisering en stereotipering die probleem, denkbeeldig of werklik, net vererger. Stereotipering met terme soos grysskoen-brigade, throwbacks (sic) na 'n vorige bestel, ens spreek eerder van 'n onvermoë by diegene wat aan die debat wil deelneem, om iets werklik konstruktiefs of intelligents te sê. Dit is ironies dat mense soos Giliomee, wat waarskynlik, indien sy Afrikaners 20 jaar terug uitgegee was, as 'n liberaal getipeer sou word, nou gestereotipeer word met beelde van die geykte kakiebroekvellies of gryspakgrysaards. Dit is ook ironies dat die sogenaamde bevryde Afrikaners so dogmaties en anaal kan wees. Aan die ander kant word mense wat 'n meer oopkop siening het, weer summier gekritiseer as die geykte naïewe liberaliste en ANC-lakeie. Wat die "taaldebat" betref, glo ek beide kampe se besware en verwere het meriete. Dat die Universiteit moet diversifiseer en transformeer, is 'n feit, maar dat die manier waarop dit geskied en die hantering daarvan lei tot bitterheid by studente, moedeloosheid by dosente, en om nie eers te praat van verwarring nie, is baie waar. Dit is belaglik om aan die een kant te glo dat jy 'n hoogstaande universiteit kan bestuur wat inklusief is maar byna eksklusief Afrikaans is. Ek dink ook dat die verweer dat, in die lig van die feit dat hier alreeds twee Engelsmedium-universiteite is, en in die lig van die konstitusie, wat moedertaalonderrig beskerm, swart niemoedertaalsprekers en Engelse moedertaalsprekers dan eerder daar moet studeer, ook onrealisties is. Gaan ons dan 11 universiteite in die land stig wat in die 11 landstale onderrig lewer? In die verre toekoms miskien, indien daar nou al miljoene rande se befondsing daarvoor beskikbaar gestel kan word. Dat die Universiteit 'n gevaar loop om te verengels, dink ek is nie heeltemal gegrond nie; dit gaan afhang van die taalbehoefte in die klas. Verengelsing geskied hoofsaaklik wanneer die taal in die volksmond (volk, hmmm, daardie verskriklike woord) nie meer suiwer gepraat word nie. Dat die T-opsie in my voorgraadse jare wel probleme veroorsaak het, is baie waar. Die Teologie-fakulteit is 'n baie klein fakulteit waar omtrent 70 persent van die studente se moedertaal Afrikaans is. Heelwat van hierdie moedertaalsprekers het gesukkel om akademiese Engels baas te raak, veral in die eerste jaar. Maar die meeste van ons klasse was ongelukkig in Engels aangesien ons twee studente gehad het van wie een byna geen Afrikaans kon praat nie; die ander student was 'n Engelse moedertaalspreker uit die Vrystaat en het uitstekende Afrikaans gepraat, alhoewel hy ook ontsettend gesukkel het met akademiese Afrikaans. Die lesings, wat dus meesal in Engels waargeneem is, het die nadelige gevolge gehad dat diegene wat in Afrikaanse kerke wou dien, swakker uitdrukking kon gee aan godsdienstige begrippe in hul moedertaal. Verder het dit die begrip van belangrike teologiese inhoud ook verskraal, wat ook akademiese prestasie benadeel het. Hierdie probleem is alreeds opgetel in die opname wat beskikbaar is op die US se tuisblad. Die T-opsie het ook druk op dosente begin plaas om klasnotas in hul eie tyd te vertaal en in die klas 50-50 Afrikaanse-Engelse lesings te gee. Dit beteken dat dosente minder tyd vir navorsing het, aangesien geen befondsing vir vertalers beskikbaar gestel is nie, en die lesingtyd met die helfte verminder word, wat beteken dat daar min tyd is vir vrae en klasbespreking. Laasgenoemde kwessies word ook in die opname genoem. Met betrekking tot die klasaanbieding moet ook genoem word dat die meeste fakulteite alreeds voor die T-opsie aanvaar was, op 'n ad hoc-wyse die huidige taalplan gevolg het. Studente wat aanvoer dat die wetenskap en tegnologiese taal by uitstek Engels is, en lesings in Engels hul beter voorberei op die lewe na universiteit, asook dat die meeste studiemateriaal in elk geval in Engels is, moet in gedagte hou dat alhoewel die globale dorpie 'n al hoe groter realiteit is, dit nie enersdenkendheid, enerse leefwyse en kultuur, of 'n tropmentalitiet impliseer nie. Globalisasie staan nie in spanning teenoor pluralisme nie; pluralisme is eerder 'n produk daarvan. Dit impliseer dat die verengelsing van die akademie, en dan ook die taal wat ons in die akademie en wetenskap gebruik, eerder 'n produk is van ons eie lamsakkige en fatalistiese wêreldbeeld as wat dit die noodgedwonge uitwerking is van die pas en groei van die wetenskap. Latyn as akademiese taal was tot selfs die vroeë 20ste eeu nog gebruik, maar dit het nie geïmpliseer dat die ander Europese tale nie as wetenskapstale uitgebou kon word nie. Afrikaanse universiteite kon tot onlangs tegnologiese, geesteswetenskaplike en teologiese terme vertaal en onderrig bied wat van die beste wetenskaplikes, filosowe, geskiedkundiges en teoloë opgelewer het. Daarmee saam moet ek ook daarop wys dat die voortleef van Afrikaans as akademiese taal slegs sal geskied as die kundiges in hul onderskeie velde self 'n poging sal aanwend om die taal te ontwikkel, in plaas daarvan om taalbesoedeling en -verarming wanhopig te aanvaar of die huidige regering, politieke ideologie ens te blameer - die voortleef van Afrikaans sal dan nie 'n probleem wees nie. Dit beteken die huidige geslag studente wat kla oor die taal van die studiemateriaal dan maar hulle sokkies sal moet optrek en 'n goeie woordeboek aanskaf. Die T-opsie is nie die mees ideale taalplan nie; dit skep in sekere gevalle meer wrywing en spanning. Soos sommige dosente in die opname wel aangevoer het, sal daar befondsing beskikbaar gestel moet word vir voltydse vertalers sodat dosente hul tyd kan bestee aan belangrike navorsing en klasvoorbereiding. Die T-opsie word nie net in die eerste jaar gebruik nie; in my klas was dit toegepas tot aan die einde van die vierde jaar en is daar grotendeels van Engels as onderrigtaal gebruik gemaak. Die tyd vir lesings word ook met nog 50 persent verminder in klasse waar in beide Afrikaans en Engels gedoseer word. In 'n dubbelmediumkonteks moet die dosent, asook die studente, beide tale in 'n meerdere of mindere mate magtig wees vir 'n sinvolle en produktiewe lesing. Sommige dosente se vermoë om kennis oor te dra en begrippe te verduidelik verswak ook drasties indien hulle dit in hul tweede taal doen. Dit impliseer nie hulle is swakker kundiges nie - om 'n stelling of tesis op papier in 'n tweede of derde taal te formuleer is baie makliker as om in daardie taal idees en begrippe in 'n klas te verduidelik. Maar aan die ander kant moet in ag geneem word dat indien die US die beste kundiges wil trek, dit noodwendig impliseer dat sommige van hulle nie Afrikaans magtig gaan wees nie, of dalk hoogstens tweedetaalsprekers kan wees. Tog dink ek die Konvokasie het 'n goeie punt beet wanneer dit kom by die voortleef van Afrikaans; dit sal uiters swak wees as die voortleef en uitbou van Afrikaans juis na die groot suksesse van die vorige eeu al weer sal moet verarm of 'n kombuistaal word van minderwaardige wetenskaplike en letterkundige waarde. Maar as mens na die meeste studente luister en sommige van die bydraes in die Seminaarkamer lees, wonder mens of dit nie alreeds gebeur het nie.
Eric Mulder* is tans besig met `n MTh in Sistematiese Teologie. Sy groot drome sluit in om bokwagter te wees in die Karoo, sy eie wildsplaas te besit en om dalk sy DTh te doen. Hy wil voor hy aftree of die emmer skop Afrika deurkruis van die Kaap tot Kaïro.
Wil jy reageer op hierdie mini-seminaar? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |