|
|
Die woord het golf gewordErns Grundlingtsoenamie s.nw. (-s) (< Jap.) 'n Besondere uitgestrekte, hoë seegolf veroorsaak deur onderwateraardbewings of ander steurnisse. (HAT) Die woord tsoenami (AWS se spelwyse) het met die onlangse gebeure in Suidoos-Asië onherroeplik verander. Tsoenami het altyd vir my 'n eksotiese bekoring ingehou. Die woord val lekker op die tong, soos iets in Tswana, of selfs 'n soen. Ek onthou 'n rolprent soos Deep Impact, wat eindig met 'n tsoenami nadat 'n komeet die aarde tref. Selfs 'n droom of twee wat snags die onbewuste oorspoel. My redakteur praat altyd van die tsunami-werkslading op sy lessenaar. By die Mugg & Bean oorkant die LitNet-kantoor word 'n "Tsunami Chicken Burger" met trots geadverteer. (Toe ek vanoggend verby die Mugg & Bean stap, was dit nog steeds daar. Effens absurd, om die minste te sê.) Skielik speel al hierdie skrikwekkende tonele reg voor ons oë af. Hier in sonnige Suid-Afrika, waar die spandabelrige Kersete nog skaars begin verteer het, bring die media ons in aanraking met die harde werklikheid van derduisende mense se pyn en lyding. Met afstandbeheer in die hand flits ons gesin tussen BBC, SKY en CNN. Hoe later hoe kwater, die dodetal styg elke halfuur met nog 10 000. Die getalle lyk onwerklik, mens steier by die blote gedagte daaraan. Reality TV word skielik 'n ongeredigeerde werklikheid as die volle omvang van die tragedie by mense regoor die wêreld insink. 'n Pa hakkel verbysterend en swaai sy linkerhand heen en weer. Die hand wat ure gelede nog sy seuntjie s'n vasgehou het, en toe skielik nie meer nie. 'n Bejaarde omie beduie hand om die ken hoe hoog die watervlak in sy huis gestyg het, soveel so dat hy letterlik met sy kop teen die plafon gespartel het. 'n Handvol kinders dwaal verdwaas rond op 'n strand, kitswesies. Op CNN beduie motgevrete proffies oor hoe die aardbewing ontstaan het. Daar word gespekuleer oor voorkomingsmaatreëls wat afwesig was, vingers word gewys en rondgeswaai. Die foon kraak terwyl Sri Lanka se president in gebroke Engels haar landsburgers probeer troos. Die Burger daag soggens op met gru-foto's van opgeblaaste, halfontbinde lyke wat op die strand uitspoel. Daar ontstaan 'n herrie met inbellers wat kla en die ombudsman verduidelik: "Mense hou nie net vakansie op strande nie. Hulle sterf ongelukkig ook." Die werklikheid is nie vir sissies nie. Gou word dit duidelik dat die wêreld nog swaar gaan dra aan hierdie natuurramp. Miljoene is dakloos, derduisende wees. Dorpe is verwoes, luukse eilande skielik onherbergsaam. Van regoor die wêreld stroom finansiële hulp in, noodvoorrade word van oraloor ingevlieg. Maar gaan dit genoeg wees? Hoe volkome kan herstel ooit plaasvind na so 'n tragedie? Sommige se geloof word getoets, ander s'n word versterk. Moeder Natuur het gefrons, wie sal mens blameer? Hierdie is nie 'n oorlogsituasie, 'n mensgemaakte misgissing nie. Ander staar verbysterd na bo (of Bo) en wil gillend uitroep: "HOEKOM???" Tesame met al die hulp is die skurke van die nag ook digby. Weeskinders word ontvoer en verkoop - aan gesinne en as seksslawe. Fop-e-posse word die wêreld ingestuur wat vals doodstydings aan bekommerde families verkondig. Hier ter plaatse doen 'n SMS die rondte: "Die Gunston 500 by Durban is op omstrede wyse gewen deur 'n Indonesiër op 'n hangkas." Swak smaak, brom ek onderlangs. 'n Vriendin van my se ma laat hoor: "Wel, ten minste het hy survive." Ek reken hierdie (wrang?) humor is tekenend van ons onvermoë om die omvang van die tragedie te verwerk. Gelukkig is daar ook stories vol hoop en wonderbaarlike reddingspogings wat in hierdie tye troos. En fassinerende feite kom na vore, soos dat die diere die naderende vloedgolf kon aanvoel en betyds gevlug het. Iewers in Sri Lanka het meer as 200 olifante hul rug op die oseaan gekeer en vroegtydig die binneland in beweeg. "Oor alles hou die wurm wag" skryf Eugène Marais in sy gedig "Skoppensboer". Mens wil amper sê, na aanleiding van die natuurramp: Oor alles hou die tsoenami wag. Die woord tsoenami ... Net soos mens na 11 September 2001 nooit weer dieselfde na twee wolkekrabbers langs mekaar sal kyk nie, het tsoenami's, die oseaan, en eksotiese strande op eilandparadyse onherroeplik verander. Die see was nog nooit iemand se speelmaat nie, maar die laaste onskuld is ook nou daarmee heen. Want die woord het golf geword, geswel en sonder enige voorbehoud verswelg.
Wil jy reageer op hierdie rubriek? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |