Zani BotesArchive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Om deur die dal van Diep Kontreie te gaan ...

Erns Grundling

Albert de VosAlbert de Vos (AD) is vir baie Afrikaanse musiekliefhebbers nie 'n onbekende naam nie. Sy meesleurende lirieke en folk-aanslag het die vermoë om op jou te groei en dan by jou te begin spook. Hy het reeds twee cd's (Diep Karoo en Wolfman) agter sy naam en tree veral gereeld in Gauteng op.

Diep KontreieAlbert is vanjaar te sien by die Aardklop-kunstefees op Potcefstroom. Hy en Kleinboer tree saam op in die vertoning Diep Kontreie, wat op Woensdag 29 September (14:30), Donderdag 30 September (17:00) en Vrydag 1 Oktober (19:30) te sien is in die Heimat Saal. Klik hier om by Computicket te bespreek.

Kleinboer sal voorlees uit sy bekroonde roman, Kontrei, terwyl Albert tussendeur songs van sy twee cd's - en 'n paar nuwe verrassings - sal sing.

Ander leesstof oor AD op LitNet:

  • Klik hier om Roof Bezuidenhout se rubriek oor AD te lees!
  • Klik hier om JP du Toit se resensie van Wolfman te lees!

    LitNet het vir AD met 25 vragies gepeper:

    1. Wat maak jy in kantoorure?

    Ek is 'n apteker en as dit stil is in die apteek, lees ek die Huisgenoot in die wagkamer om op hoogte te bly van waarvan die mense regtig hou.

    2. Jy het lank in PE gewoon. Het die skuif na Johannesburg 'n groot invloed op jou musiek/skryfwerk gehad?

    Nie soseer Johannesburg nie, maar wat terselfdertyd in my persoonlike lewe gebeur het.

    3. Hoe het die idee van 'n "Wolfman" by jou aangemeld?

    Ek is van mening dat die mens maar net 'n baie slim dier is. Ek is nogal 'n fan van Freud. Ek dink 'n mens moet maar jou dierlike instinkte uit die kas haal, anders het jy probleme.

    4. Vertel meer oor "die engel op jou linkerskouer"?

    Ek neem aan jy praat nou van Isis, die drie-en-twintigjarige nimf. Nee, ek hou baie van haar. Net jammer dat ek in my jeug so bang was vir haar.

    5. Jy sê in jou cd-omslag: "Dankie aan almal wie geïnspireer het." Vertel meer ...

    Ek wil byvoorbeeld dankie sê aan Morgan alias Jude, want sonder haar sou ek nie "Eenuurvrou" geskryf het nie. Ek weet nie waar sy swerf nie en sy lees seker ook nie LitNet nie. Maar indien wel: Hi Jude! En dan is daar natuurlik ook almal wie my laat voel dis die moete werd om dié soort musiek te maak - mense soos byvoorbeeld Roof Bezuidenhout.

    die plakkate is teen die vensters
    'n ballon dryf in die lug
    deur die tralies van die stede
    het ons na die Klein Karoo gevlug
    Afrikaners raak plesierig
    hulle speel en wroeg en lag
    ek loop deur die strate van Oudtshoorn
    ek soek na Breyten Breytenbach

    uit: "Strate van Oudtshoorn"

    6. Wat sou jy vir Breyten Breytenbach sê as jy hom vind?

    Ek sal heel moontlik iets simpels vir hom vra wat hom die moer in sal maak, soos: "Skryf jy nog?"

    7. Waar kom jy aan die Wolf op die cd-omslag?

    Dit is 'n houtbeeld wat in 'n winkel in PE gekoop is.

    vlamme in die hemel
    almal het apocalypse-blues
    as jy iemand sien kniel
    wonder jy of hy bid of koes
    die vredesengel het stil omgedraai
    net nog 'n siel wat wag
    vir die winterwind om op te hou waai

    uit: "September 2001"

    8. Jy het al selfs 'n paar Bob Dylan-songs in Afrikaans vertaal. "September 2001" het vir my 'n sterk Dylan-gevoel. Vertel meer oor jou liefde vir Dylan se musiek.

    Ek het eers laat na Dylan begin luister. (Ek was aanvanklik 'n Simon & Garfunkel-aanhanger, totdat 'n vriend vir my gesê het: "Why do you listen to this sensitive shit?") Ek hou van die outobiografiese kwaliteit van sy lirieke. Sy lirieke is dikwels baie eenvoudig, maar dit is die gevoel wat hy in 'n reël sit wat my tref. Luister byvoorbeeld na hoe hy sing: "When you think you've lost everything you find out you can always lose a little more." Ek hou ook van Dylan omdat baie mense sê hy kan nie sing nie.

    Daar is baie dinge wat nie sin maak nie
    hoe kon al die diere pas in Noag se ark
    waar eindig die heelal
    hoe werk die aandelemark
    hier kom die storie
    van Kelvin Koen
    almal wonder
    almal vra
    hoekom het hy daai dag
    daai ding gedoen

    uit: "Hoekom"

    9. Wat dink jy het mnr Koen daardie dag gedoen? Sou Huisgenoot of Son daaroor geskryf het?

    Hy het iets dierliks gedoen en Huisgenoot en Son was mal daaroor.

    Hy's 'n halwe man
    hy staan voor die spieël
    hy kyk na sy halwe, sy halwe siel
    hy klim op 'n trein
    hy was gewaarsku
    maar hy kan nie glo nie
    hy soek na Salome

    uit: "Soek na Salome"

    10. Wat doen mens as jy vir Salome vind?

    Miskien moet 'n mens dan bekommerd raak, want daar is mos daardie wysheid: Never wish for something too much; you may just get what you wish for.

    Bang vir die middestad
    bang vir die stasie
    bang ek raak verdwaal
    daar diep in die lokasie
    kyk na my spierwit gesiggie
    jy sal sien ek is bang

    uit: "Spierwit Blues"

    11. Het baie wit Afrikaanse mans "Spierwit Blues"? Hoe gaan mens hulle help?

    Vrouens ook. Ek weet nie. Dalk moet 'n mens in Yeoville gaan bly soos Kleinboer.

    12. Waaroor sal jy nooit skryf nie?

    Ek sal seker moeilik oor 'n rugbywedstryd kan skryf, maar dit hang af van die invalshoek. Ek sal seker oor enigiets kan skryf.

    13. Watter sigarette rook jou muse?

    Ek voel nou half skuldig, want ek is nie seker nie. Ek dink dit is Camel en nou en dan papegaaiblaar.

    14. Wat kan Aardklop-feesgangers verwag tydens Diep Kontreie? Hoe het jou en Kleinboer se kreatiewe paaie gekruis?

    Die idee is om te bewys dat daar nie seks op elke bladsy van die boek is nie. Ek gaan van my liedjies sing wat ander temas uit sy boek lig. Kleinboer wil ook graag ander gedeeltes lees, maar voor hy hom kom kry, dan is hy weer by die hardcore. So ons sal maar sien. Ek het vir Kleinboer dikwels by gigs raakgeloop, maar dit was eers nadat ek sy boek gelees het dat ek hom beter leer ken het.

    15. Sal jy Kleinboer eerder met jou girlfriend of huisbediende vertrou?

    Soos ek Kleinboer opgesom het, is hy nie die soort mens wat in 'n ander man se slaai krap nie.

    16. Watter vyf cd's sou jy saam met jou vat na die Diep Karoo?

    Time out of mind - Bob Dylan
    Darkness on the edge of town - Bruce Springsteen
    The Wall - Pink Floyd
    Rain Dogs - Tom Waits
    Beaufort-Wes se beautiful woorde - Gert Vlok Nel.

    17. Watter vyf boeke sou jy saam met jou vat na die Diep Karoo?

    Isis - Etienne Leroux (as ek Jungiaanse sielkunde nodig het)
    The Catcher in the Rye - JD Salinger (vir humor)
    Seks, Drugs & Boeremusiek - Koos Kombuis (baie om mee te identifiseer)
    Vis in die Punch - Jackie Nagtegaal (vir die ewige tiener in my)
    Kontrei - Kleinboer (vir die engel op die linkerskouer).

    18. Etienne Leroux duik telkens op in van jou songs. Watter invloed het hy op jou gehad?

    Op hoërskool het ek eendag in die biblioteek met Sewe dae by die Silbersteins in my hand gestaan en toe kom die Afrikaans-onderwyser - ene mnr Koen, toevallig - en hy vat die boek uit my hand en sit dit terug op die rak. Toe het ek eers baie jare daarna weer vir Etienne Leroux gelees. Hy het defnitief 'n rol gespeel in my verval. Dalk was die onnie reg.

    19. Jy het weer saam met Willem Möller gewerk aan die album. Vertel meer van die kreatiewe proses saam met mnr Möller.

    Ek speel gewoonlik die liedjie eenmaal vir Willem en ons besluit wat ons daarmee wil doen. Gewoonlik as daar ander instrumente bykom, slaan dit 'n heeltemal nuwe rigting in, maar ek hou daarvan dat die eindproduk iets nuuts word. Ek speel net op gehoor, so dis ook vir my belangrik om met iemand te werk wie musiekteorie ken.

    20. Watter Afrikaanse musiek maak jou opgewonde?

    Dit is gewoonlik die lirieke wat my van 'n liedjie laat hou - as daar iets is waarmee ek kan identifiseer. Die enigste vroulike Afrikaanse musikant waarvan ek 'n cd het is Laurinda Hofmeyr. Ek was nog altyd 'n sucker vir weemoedigheid en sy doen dit vir my.

    21. Watter Afrikaanse musiek maak jou die moer in?

    Enigiets met die woorde gat of boude in.

    22. Waar kan mens vir die Wolfman hoor sing?

    Ek speel gereeld op Sondae by die Sidewalk Café in Sunnyside. En dan natuurlik by die Aardklop-kunstefees.

    23. Waar kan mens jou cd's in die hande kry?

    Ek het cd's gegee aan die cd-winkeltjie daar in Stellenbosch (Classix on CD); ook op Hatfield Square in Pretoria, die Boekehuis in Melville en dan by myself: adtvos@iafrica.com.

    24. Hoe het jy die afgelope KKNK gevind?

    Ek wil nie die KKNK afskiet nie, want ek hou van die Klein Karoo en ek kuier altyd lekker met vriende daar en kry die geleentheid om goeie produksies by te woon, maar ai, die biertuinkermis-atmosfeer wil my soms, soos Trike sing, in my eie kots laat verstik.

    25. Wat doen die Wolfman om te ontspan?

    Ek kyk oor en oor na Woody Allen-video's.

    Wolfman




    LitNet: 25 September 2004

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.