|
|
KKNK: Pieter Fourie gesels ... en jy beter daar wees!Die bekende dramaturg, Hertzog-pryswenner en voormalige hoofbestuurder van die KKNK, Pieter Fourie, bied jaarliks ‘n reeks gesprekke aan waarin hy ‘n verskeidenheid onderwerpe aansny. Hierdie jaar pak hy van 27 tot 30 Maart vier aktuele onderwerpe wat vir lewendige en interessante debat behoort te sorg. Erns Grundling het op die vooraand van die KKNK met hom gesels oor wat feesgangers te wagte kan wees. Pieter Fourie praat ‘n hond uit ‘n bos. En hy hoop die gehore kom gesels lustig saam by sy reeks gesprekke. As ons telefoongesprek enigsins ‘n aanduiding was van wat in sy reeks gesprekke by die KKNK gaan opduik, moet feesgangers maar weet: hier kom ‘n ding! Niemand gaan by hierdie reeks gesprekke met ‘n bek vol tande betrap word nie ... EG: Hoe het jy besluit op vanjaar se vier onderwerpe vir jou reeks gesprekke? PF: Karen Meiring het my genader om dit weer te doen en ons het die onderwerpe bespreek. Die eerste praatjie, Met die Nagtegaal-Pryswenners (27 Mrt, 15:30 in die RSG NA Smitkamer, R30) met Charles J Fourie (Vrededorp) en Chris Vorster (Haaks) gee die gehoor die kans om uit die perd se bek te hoor oor tendense in die teater. Dit sal lekker wees om met die jong geslag dramaturge te gesels – dit kan verhelderend wees vir die gehoor, “ou ballies”, resensente, dramaturge ens. Die jaarlikse Nagtegaal-prys vir nuwe toneelstukke is ‘n prestige-saak; saam met die Sanlam-prys vir Afrikaanse teater vul dit ‘n baie belangrike leemte, in die sin dat daar geld bewillig word wat dit moontlik maak vir ‘n groot rolverdeling, iets wat mens deesdae baie min sien. Deesdae word “feesdramas” soos by ‘n worsmasjien uitgekarring. EG: Vertel meer oor die sogenaamde “feesdramas”. PF: Ons sit deesdae met die dilemma van “feesdramas” – toneelstukke en teaterwerk word basies geskryf met slegs die fees in gedagte, en daarna hoor of sien niemand weer iets van die stuk nie. Sekere maklikhede het ingesluip. By ‘n fees het mens ‘n “ingeboude”, amper gewaarborgde gehoor. Kry ‘n sepiester of twee in die hoofrol en jou saal is vol. Maar sit dieselfde produksie in die Baxter, Artscape of die Staatsteater en jy sit dikwels met minder as 20 mense in die gehoor. Buite ‘n fees is die publiek op ‘n manier die mees betrokke beoordelaars: die voete wat oor die teater se drumpel gaan, is sigself ‘n oordeel. Maar op ‘n fees werk dit anders. EG: Jy gesels ook met David Piedt en Karen Meiring oor die KKNK se visie. Wat verwag jy uit hierdie gesprek? PF: In die gesprek Met die KKNK en Kie (28 Mrt, 13:30 in die RSG NA Smitkamer, R30) het ek besluit om die topbestuur daar te laat sit en dat die mense hul sê kom sê oor die KKNK. Daar is soveel dinge wat ek sal wil aansny in hierdie gesprek. Ek dink ons moet weer teruggaan na die akte van oprigting, die grondwet en die doelstellings van die KKNK en die situasie in oënskou neem. Daar is ook gereeld ‘n bohaai oor iets by die KKNK. Om maar net ‘n voorbeeld te noem: verlede jaar was daar groot ontevredenheid oor die keuring van stukke. Maar daar is ‘n enorme verskil tussen “keur” (nie goed genoeg nie) en “kies” (iets pas dalk nie by die balans van die program of binne die raamwerk van ‘n groot fees nie). Dit sal goed wees as die publiek én medekunstenaars hierdie gesprek bywoon. EG: En die gesprek oor borgsake? PF: In die gesprek Borgsake (29 Mrt, 14:00 in die RSG NA Smitkamer, R30) wil ek graag ‘n hele paar klippies in die bos gooi. Verlede jaar het ons tydens een van die gesprekke gal gebraak oor die Nasionale Kunsteraad wat so op die miljoene sit, hoe maklik dit is vir sport om groot borgskappe te kry ens. Laetitia van Dyk, groep uitvoerende direkteur van Absa, was daardie dag ‘n lid van die gehoor en het tydens die gesprek gesê ons moenie so gefrustreerd wees nie en ons huiswerk doen, daar is borge wat die kunste op die hart dra. En nou, ‘n jaar later, is Absa hoofborg van die KKNK. So dit is veral gepas dat Laetitia van Dyk een van die sprekers is by hierdie belangrike en nodige gesprek. Die ander spreker is die bekende Springbok en sakeman Schalk Burger (snr), wat veral belangrike insette kan lewer oor die hele kwessie van kuns- en sportborgskappe. Schalk het vir my dertig jaar gelede in ‘n restaurant geborg met ‘n bottel Meerlust-wyn na die eerste vertonings van Faan se trein! EG: En die dinamiek tussen korporatief en kuns? PF: Dis uiteraard ‘n geweldig belangrike ding, hierdie hele kwessie van korporatiewe borgskappe. Borgskappe by die kunste is immers iets anders, daar is inherent sekere etiese kodes en norme by betrokke. Dit gaan nie net oor die naamborge wat groot geld belê nie. Die “branding” lê soms geen smaak aan die dag nie. Die grens is dikwels baie dun tussen branding en visuele besoedeling. Ek onthou by die 3de fees het Metropolitan Life nie een van die grootste borgskappe gehad nie, maar dit was esteties van die mees bevredigende branding wat ek nog gesien het. Ek besef dat ‘n borg waarde moet kry vir sy geld, maar ek hoop die borge lê meer smaak aan die dag – van die pragtige geboue word met groot disrespek behandel ter wille van branding. Die branding strek deesdae al vanaf Kaapstad tot by Oudtshoorn! EG: Om nie eens van die politieke “branding” te praat nie. Verlede jaar het politici, handelsmerke en produksies almal om spasie meegeding by elke robot, lamppaal en stopteken. PF: Dit was afgryslik! Persoonlik is ek goddank bly die Wes-Kaapse regering is nie meer betrokke met ‘n borgskap nie. Waar ‘n politikus geloop het, daar vrek die gras. Natuurlik is mens dankbaar vir ‘n borgskap, maar geld van die regering moet eerder via die kunsterade gekanaliseer word – ‘n regering bly tog ‘n politieke party. EG: Hoe sien die huidige situasie met die KKNK en borgskappe daar uit? Absa se borgskap is fantasties. Banke se borgskappe werk goed, daar is nie agendas betrokke nie. Kyk maar na Standard Bank wat so lank betrokke is by die Nasionale Kunstefees op Grahamstad. Maar mens kry verskillende tipes borge. Bosluisborge is van die meer gevaarlikes: hulle koop klein advertensies en neem dan ‘n feesterrein heeltemal oor met allerhande promosies. Hulle ry dus op die rug van ander, nes ‘n bosluis. Maar bosluisborge is nog beter as die roofborge, wat ‘n situasie bloot vir eie gewin wil uitbuit. Wat my opgewonde maak, is die gedagte van ‘n katalisatorborg. In die tweede jaar van die KKNK het die Nederlandse Ambassade teen die verwagting ingekom met groot ondersteuning. Dit was ‘n moeilike tyd in ons land: die nuwe (of is dit normale?) Suid-Afrika was maar ‘n jaar of twee oud. Die Nederlandse Ambassade het egter gewys hulle is nie bang om in die KKNK te belê nie, en dit het as ‘n katalisator gedien vir verskeie ander maatskappye wat hul voorbeeld gevolg het. Mens moet ook nie die rol van mediaborge onderskat nie. Al is daar nie altyd geld by betrokke nie, speel mediaborge ‘n reuserol om belangstelling en blootstelling aan te moedig. EG: Jy gesels ook vanjaar met die Afrikaans Onbeperk-vereerdes, Audrey Blignaut en Anthony Wilson? PF: Die gesprek Met die Afrikaans Onbeperk-vereerdes (30 Mrt, 16:30 in die RSG NA Smitkamer, R30) fokus op die wenners van hierdie prys. Audrey Blignaut (lewensbydrae vir haar passie vir die Afrikaanse boek en die vestiging van ‘n leeskringkultuur onder Afrikaanse lesers) kan ongelukkig om gesondheidsredes nie hier wees nie, maar Martie Meiring – ‘n baie goeie vriendin van haar – sal oor haar werk en lewe gesels. Anthony Wilson (vernuwende denke in teater) beskou ek as ‘n baanbreker en die vader van professionele township-teater, as mens nou van “bruin teater” moet praat. Ek het destyds Gert Garries spesiaal met hom in gedagte geskryf. EG: Ten slotte, hoe het die afgelope 10 KKNK-feeste jou eie visie van waarheen die fees op pad is, beïnvloed? PF: Dit het eenvoudig ‘n enorme fees geword. Dis goed so, dis goed vir die kunste. Ek het so drie jaar terug ‘n paar rooi ligte sien flikker. Die kommersiële element en aksent op “fees” het te sterk na vore begin kom. Daar was ‘n hele kultuur wat begin uithang het rondom die gratis verhoë en mens moenie vergeet dat hulle ook akkommodasie opneem nie, wat dit vir ware kunstefeesliefhebbers soms moeilik maak om die fees te besoek. So verskeie subkulture het begin inkom, maar dis mos hoe dit gaan – met die sinodevergadering in die Kaap trek al wat hoer is mos maar saam. Maar ek sien ‘n ommekeer gebeur; dinge loop in ‘n goeie rigting en dit maak mens se hart bly. Veral as mens hoor dat ‘n toneelstuk soos Twaalfde Nag op hierdie stadium een van die topverkopers is. Daardie vertaling van Uys Krige is een van die wonderwerke in Afrikaans. Die Nagtegaal-prys en die opwindende studenteproduksies van die Sanlam-prys laat mens ook moed skep. Dit sê vir jou iets, dinge begin regkom.
Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |