Zani BotesArchive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Jan Blohm: Sunnyside se rock 'n roll poet



Erns Grundling

Bestel nou by kalahari.net!Al gehoor van Jan Blohm, en sy cd Melkstraat Confessions? Hierdie kêrel is besig om Afrikaanse musiek aan die brand te sing met sy vlymskerp lirieke en hardekwas rock- en blues-klanke. Vra maar vir enigeen wat Sondagmiddae by die Sidewalk Café in Pretoria rondhang, of vir diegene wat hom die afgelope naweek by Oppikoppi sien optree het.

Kapenaars kan vir Jan Blohm (saam met sy trawant Bacchus Nel) op 14, 16 en 17 Augustus in die Dorpstraat Teaterkafee in Stellenbosch sien optree. Bel (021) 886 6107 om jou kaartjie te bespreek.

LitNet het vir Jan Blohm gepeper met 30 vrae:

1) Is Jan Blohm jou regte naam en van? Indien nie, waarom het jy dit gekies, en wat is jou doopname?

My naam is Jim Morrison en ek word gesoek deur die polisie in Miami. My slaafnaam is Jurie (George Harry) Kymdell; ek was bang as ek die naam sou gebruik sou mense dink ek is 'n wannabe mengsel tussen Jurie Els en die Campbells. My pa is Jan en my ma is 'n nagblom so toe kies ek Jan Blohm.

2) Hoe sou Jan Blohm sy musiek en lirieke beskryf?

Ek skryf gedigte vandat ek kan onthou. In die kultuur waar ek grootgeword het was die stelling "ma ek wil 'n artist wees" dieselfde as "ma ek wil 'n lesbian wees", so ek het my geskrifte goed weggesteek en maar in my hart rondgedra. Ek was maar nog altyd aangetrokke tot die musiek van Chuck Berry en die ou rock 'n roll pioneers. Ek het voor ek army toe was direk na skool vir my 'n pawnshop special acoustic gekoop en het nie net my algehele haat van comformity ontdek nie maar ook die wortels van rock 'n roll: die blues. Ek voel my musiek is partykeer folky en meestal bluesy grungerige elektriese poetry wat lekker luister in 'n trok op pad na nêrens nie (maar altyd op pad) terwyl die stof jou jaag oor die vlaktes van jou halwe R5-winkel-drome. So terloops, ek en Kabous Verwoerd het die woord grunge vertaal. Daarom kan my klanke gesien word as Sunnyside Karoo Gronk.

3) Die woord "de-revolusie" duik op in jou cd se notas. Vertel meer ...

Somtyds is my kies van woorde 'n duidelike bewys van 'n onvermoë om te kan kommunikeer. Met "profete van die nuwe de-revolusie" probeer ek 'n paar persone beskryf wat, soos ek, nie glo in die tegnologiese revolusie wat van so rukkie gelede af sy verskyning in musiek begin maak het nie. Ek persoonlik hou nie van elektroniese band members nie en voel Bill Gates hoort in strategiese games en nie in 'n band nie. Net soos nie almal van Bob Dylan hou nie (weird nè!), glo ek dat musiek uit 'n mens moet kom en nie welgekrabbelde ene en nulle is nie. Almal het hulle smaak en dis myne en basta.

4) Vertel ons van jou oupa Harry se invloed op jou lewe.

Oupa Harry op sy heuwel Jordania, buite Kroonstad, wat my altyd laak dink het Golgota moes op so heuwel gewees het, waarvan Oupa met 'n reënboog van levers en clutches die wêreld se treine wys waarheen om te gaan, en oom Ralie wat op een 'n lift bum en skreeu "Harry hier kom die reën, stuur dit suid stuur dit suid, Bethlehem is te bruin" en Oupa op die dak van Jordania waar hy Jock lewendig lees vir Solomon en die spook wat die volkies se twak steel met sy bekfluitjies in die die wind waarin hy duisende bybeltekse herkou en in sy boekie wegvou om Sondae vir die kerk in Wespark oop te vou waar Ouma op die orrel Oupa help sing sodat hy die die arm kinders van Kroonstad en die herders kan wys waarheen om gaan, want Oupa weet dis vlees teen gees en gees teen vlees as hy met sy hande soos berge vir my die brood breek en in grapetizer doop want jy moet neem, eet ter nagedagtenis van Jesus Christus wat die drywer is van die trein wat my hond Nompie kom haal het en my laat huil het en toe het my mangels van al die tjank siek geraak en Oupa het my in sy gebede gesalf en ek het nooit weer vir 'n hond liefgeraak nie. Sy berge kon skryf en voëltjie-traps maak en visvang en druiwe pluk en troos en bid en enige instrument speel. So moet jou hande wees as jy vir die Here 'n voorman op Jordania-stasie wil wees. Dis waar ek is as ek droom.

5) Is dit waar dat jy onlangs gevra is om by 'n begrafnis te sing? Watter songs gaan jy sing?

Ek het saam met die draers geloop en Amazing Grace vir 15 minute op 'n vals ou C-mondfluitjie gespeel, ek dink hulle het daarvan gehou, baie het gehuil en een baba het gelag.

6) Is daar enige tipe gigs wat jy sal weier om te doen?

Nooit ooit weer in bordele in Amanzimtoti nie.

7) Gerugte doen die rondte dat Jan Blohm die perfekte "pick-up"-strategie vir jong dames by 'n kroegtoonbank het. Deel jou wenresep.

Aai, een aand het ek in 'n oomblik van blinde-kind prozac-passie vir 'n blonde blou-oog engel gesê: "Baby ek het vergeet om te skeer, so as ek jou soen mag ek jou dalk steek."

8) Deel 'n paar van Sunnyside se geheime ...

Dis nie so erg as wat die meeste mense dink nie, daar is baie sad stories wat tussen die graffiti lê. Hier kom haal die kinders van die herfs elke dag hulle fix en ruil hulle drome in die hordes pandjiewinkels vir 'n eendag se permanent fix. Hier skryf ek en Bacchus en Kabous oor hierdie plek se purper romance. In Sunnyside kan jy skoene in pandjieswinkels koop. In Sunnyside kan jy los rizlas koop. As daar ooit 'n united Afrika gaan wees, gaan dit baie klink soos dit in Sunnyside op 'n Vrydagaand klink as Habari (oorkant die straat) se regulars hulle groove vang.

9) As 'n relatief jong, opkomende sanger kry mens dikwels die geleentheid om vir 'n gevestigde "muso" in 'n voorprogram op te tree. Vir watter drie Afrikaanse sangers sou jy die graagste wou "open"?

Ek het reeds vir Anton Goosen en Piet Botha oopgemaak, dus is dit net Gert Vlok waarvan ek nog droom.

10) Watter bands/sangers inspireer jou die meeste?

Dit wissel, op die oomblik is dit Gert Vlok Nel, Mark Knopfler, Bob Dylan, Otis Redding en Bacchus Nel.

11) Vir wie skryf Jan Blohm sy songs?

Vir die persone en engele en drome wat vir 'n oomblik alles in en om my kon stil maak sodat ek kon vlug in 'n stuk wit dooie boom.

12) Hoe gaan jy te werk as jy 'n song begin skryf?

'n Song het vir my nie 'n resep nie. Partykeer voel dit of dit in die lug hang en in my hart kondenseer om deur my lyf uitgegil te word.

13) Is daar 'n onderwerp waaroor jy nooit 'n song sal skryf nie?

Apartheid. Ek skryf liewers tien-jaar-later songs as om myself te remind aan wat my kultuur en taal 'n ruk lank 'n simbool van was. Jy sien, die vorige generasie het tog alles klaar gesê.

14) Waar tree jy deesdae op?

Cool Runnings Centurion elke Donderdag en Sidewalk Café in Gerard Moerdyk Straat Sunnyside elke Sondag.

15) Jy tree meestal anderkant die Vaal op. Gaan Kapenaars jou binnekort in lewende lywe sien?

14, 16 en 17 Augustus by Dorpstraat-teater in Stellies.

16) Vertel ons van die band wat die verhoog met jou deel.

Wayne Davidson aka Kaptein Smoef op dromme en Johan Willemse aka Basspeler Faber op baskitaar.

17) Het daar al iets vreemd met jou op die verhoog gebeur? Of dalk backstage?

Eenkeer het 'n blond vir my gevra of die outjie met die vier snare nog leer om kitaar te speel en eendag soos ek ook 'n ses-snaar sal kan speel. Sy is later saam met die basspeler huis toe.

18) Watter drie Suid-Afrikaanse cd's sou jy saam met jou neem na 'n verlate eiland?

Beaufortwes se beautiful woorde, Roof se solo-album en Piet Botha se nuwe album.

19) Hoe sien jy die pad vorentoe vir die Afrikaanse musiekbedryf?

Die mense wat ek na opkyk probeer die skryf van die taal bevorder veel eerder as die programmering en sing daarvan. As jy kniediep in die struggle is om te wees waarin jy glo, is dit moeilik om te kyk rondom jou.

20) Wat in die Afrikaanse musiekbedryf maak jou opgewonde?

Dat meer kunstenaars begin bands aanskaf. Alle eer aan die Liedjieboer :)

21) Wat in die Afrikaanse musiekbedryf maak jou die bliksem in?

Mensies wat kak praat terwyl ek sweet en bloei en vir hulle huil op 'n stage. Dan wanneer ek leeg is, terwyl hulle hande klap, vra hulle wat van "Ou Ryperd". Dan figure ek, hey, oom Chris is dood, en speel 9 mm blues so hard as wat ek kan. Ook dat briljante skrywers soos Gian Groen, Christo Strauss, AD de Vos en Bacchus Nel so min airtime kry. Die mense praat ons taal, huil, kots en verlei daarin, maar as hulle "Play" druk is dit Smokey of Jurie Els.

22) Hoe werk Afrikaanse mense se koppe?

Dit voel of hulle altyd wil veilig voel. Ek sê so want baie min sal na my toe kom en sê jislaaik ek hoor 'n bietjie Karoo Goth daar, maar eerder sal hulle alles altyd vergelyk met dit wat hulle ken. Dit smaak my soms hulle is baie bang vir die (1) ongewone (2) onbekende (3) onbeminde (4) dit wat hulle nie verstaan nie. Hulle moet in groepe besluit.

23) Sou jy in debatte en geskille oor iets soos backtracks betrokke wil raak?

Nee, Anton en Piet het alles klaar gesê.

24) Waarom het jy op die titel Melkstraat Confessions besluit?

Melkstraat is die klein studio in Brooklyn Pretoria waar ek Afrikaans en my taalgenote voor my aangestel het as 'n priester om baie dinge voor te bieg.

25) Jou cd: ideale geskenk vir Moedersdag of die morning after? Dalk albei?

Ek het nie die album geskryf vir 'n teikengroep mense nie, dis my eerste poging en ek het so true aan myself probeer bly as moontlik; almal wat hou van bluesy tunes en Afrikaans sal dit kan besit.

26) As jy moet kies tussen rock en blues, wat sou dit wees?

Harde rocking fokken blues.

27) Jy sing oor "die son in Breyten se brief". Ek neem aan dit verwys na Breyten Breytenbach, of sit ek die pot mis? Indien wel, na watter spesifieke teks verwys dit?

Daardie dag het ek gesit op 'n stoepie wat oor Kerkstraat se hoere en McDonalds se slawe en koue gom-happy hawelose kinders uitkyk. Ek het gewens ek kon vir haar beskryf wat die klanke uit die klein kombuisie vir my sing, wat haar onselfsugtige vuilmaak en skoonmaak van cheap stukkende eetgerei op daardie Sondag vir my gekomponeer het. Maar ek kon nie. Toe skryf ek 'n brief vir Breyten en vertel hom dat ek 'n painter is en hoe meer ek haar gesig op 'n doek wil sit hoe minder sien ek haar. Dat haar vorm vir ewig op my siel lê, maar so eg geraak het dat ek my uiterlike oë moet toemaak sodat haar gesig gestalte kan aanneem. Daar was baie dinge in daai brief maar ek onthou ek het gesluit deur te sê "Jan sy is die son as sy my wals."

28) Kan mens 'n "boere cinderella" na twaalf in die aand nog trakteer?

Dan verander sy juis in haarself in, na twaalf, as haar oor so vlerk vlerk, haar ken in jou nek in werk.

29) Hoe maak mens seker 'n "sondag lover" se Maandag is nie blou nie?

As sy in haar kamer sit, en die oggend soen haar deur die appelkoos curtain shade, sê vir haar dat vanoggend weet jy, God is waarlik die grootste kunstenaar.

30) Is daar iets wat jou snags wakker hou?

Gertjie se beautiful woorde.



13 Augustus 2004

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.