Zani BotesArchive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Evita praat oor bobotie, Bambi, Pieter-Dirk

Deborah Steinmair

Evita Bezuidenhout … Mag ek maar "Tannie" sê?

Ja skat.

Ek is al aan die verkeerde kant van veertig, maar jy is vir my 'n moederfiguur en rolmodel.

Baie dankie.

Ek lees met groot geesdrif dat die bekendste wit vrou in Suid-Afrika haar buiging op die verhoog maak, in 'n regte toneelstuk, Pieter-Dirk Uys se legendariese Selle ou storie. Het jou kop nog altyd teater toe gestaan?

Nee, alhoewel ek in die 1950-er jare films gemaak het by Killarney in Johannesburg. My lewe was mos altyd politiek, maar nou ja, wat is so anders – politiek is mos teater, en maak meer geld vir die akteurs daaraan verbonde!!

Was dit 'n groot stap van die diplomatiek na die verhoog?

My seun De Kock het vir my gesê, nadat Marthinus die Nasionale Party vir 'n Nasionale Park verruil het: "Mamma, los die politiek waar jy net altyd leuens moet oorvertel; gaan na die teater waar die waarheid seëvier."

Jy het wel al opgetree in films soos Boggel en die akkedis. Vertel ons iets oor jou jare op die silwerdoek.

Ek was jonk, wit en Afrikaans. Ek was wragtig die Charlize Theron van die Broederbond. Films in daardie dae het niks met talent te doen gehad nie; net mag. Politieke mag. Ek was te dom om dit te verstaan, anders het ek voltyds aktrise geword. Maar ek kyk soms op KykNet na my ou films, en hulle was oulik, hoor.

Wanneer begin julle produksie van Selle ou storie / Same old story in die Civic en hoe lank loop dit?

Selle ou storie open 2 September, Donderdag tot Vrydag 8.15 en Saterdag 9.00 by die Civic-teater in Johannesburg. Same old story het niks met my te doen nie. Dis in Engels en my suster Bambi Kellermann speel daarin die hoofrol. Moet dit nie gaan kyk nie.

Gaan Selle ou storie ook Kaap toe kom?

Ek weet nie. As die stuk hier in Gauteng gehore lok, nou ja, enigiets is moontlik. Kaapstad, Orania, Bloemfontein ...

Mag ek uitvra oor jou suster Bambi met die fleksibiele pelvis? Hoe het die tweespalt tussen julle ontstaan?

Skattie, my suster is in 1956 dood. Hierdie skepsel wat haarself familie noem, het kaal gedans in Europa en is 'n vuil uil. Ek is naar om te dink dat julle aan my dink as haar naam genoem word. En hoe minder ek weet van haar pelvis hoe beter!

Dis heerlik opwindend! Is daar 'n moontlikheid dat die bittere twis tussen jou en Bambi die donder kan steel van die drama op die verhoog?

Ek het 'n waterdigte kontrak: my kleedkamer is op 'n ander vloer en met pienk muurpapier. Ons speel op verskillende dae. As ek haar moet raakloop, sal die hel losbars, glo my.

Is daar iemand aangestel om julle uitmekaar te hou?

Ek het 'n groep jong oud-NP-manne wat saamstaan om my te beskerm. Sy het blykbaar 'n toyboy – speelseun. Sies.

Hoekom is Selle ou storie destyds verbied?

Dit was vieslik, onwelvoeglik, vuil en godslasterlik in 1975. Vandag is dit seker minder aanstootlik danksy demokrasie ens, alhoewel ek nog gril vir vloekwoorde. Maar ek is 'n professionele mens: ek sal daardie woorde sê en aan ander woorde dink terwyl ek hulle sê!

Ek het 'n voëltjie hoor fluit dat jy en jou suster astronomiese salarisse vir julle Sos-rolle gaan kry. Hoeveel syfers?

Dit kan ek nie beaam nie. Ek weet my fooi gaan oor die R10 000 per dag wees. Ek hoop die ander vrou kry net helfte daarvan, want sy's groot geld nie werd nie.

Van die os op die jas. Ek wonder nog altyd: Hoe het oom Hasie aan sy bynaam gekom?

Hy't sulke snaakse tande gehad wat voor uitgesteek het, voordat hy aan sy mond laat werk het. “Hasie, hoekom is jou stert so kort?” was een van die liedjies waarvoor ons gedans het in Laagerfontein toe ek hom ontmoet het.

As jy jou lewe kon oor hê, sou jy weer trou en kinders kry?

Natuurlik. Die lewe is volmaak met kinders en kleinkinders. Ek sou miskien met iemand anders getrou het, maar met apartheid was daar geen keuse buite die Calvinistiese Christelike sirkel nie – maw Hasie Bezuidenhout en nie Nelson Mandela nie.

Wat was jou grootste triomf tot dusver?

Codesa 1 en 2. Dis danksy my bobotie en malva-poeding dat almal gebly het en die Grondwet geskryf het.

Wat is jou verhouding met Pieter-Dirk Uys, die skrywer van Sos?

Nul. Hy's nog steeds volgens my 'n derderangse komediant wat geld maak deur my swak na te boots op die verhoog. Ek dink nie hy's snaaks nie, maar hulle se hy't ten minste mooi bene. Die Boeremag behoort hom op te blaas en los vir Casper de Vries alleen, foeitog.

 

 

LitNet: 6 September 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.