Zani BotesArchive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Eloise Wessels, die nuwe Besturende Direkteur van NB Uitgewers, skiet sekuur terug.

Zani Botes

Heupvuur vs Eloise Wessels

1. Beteken die nuwe aanstelling dat jy gaan af trek Kaapstad toe?
Ja, ek trek af Kaap toe. My man Andries bly egter voorlopig in Pretoria waar hy professor in die Departement Engels by Tukkies is. Ons sal naweke en vakansietye heen en weer pendel. Daar was onlangs ’n interessante artikel oor pendelhuwelike in die Sarie wat my oog gevang het omdat dit verskyn het in die tyd wat ek moes besluit of ek die pos wou aanvaar. Ons het nie kinders nie, dus is daar nie dié bykomende kompliserende faktor nie.

2. Hoe gaan jy voel om afskeid te neem van jou Van Schaik-familie?
Dis om verskeie redes ’n bittersoet afskeid. Die mense by Van Schaik-uitgewers is inderdaad een en elk soos my familie. Toe ek vier en ’n half jaar gelede by VSU begin werk het, was die sake-eenheid in alle opsigte op ’n laagtepunt: finansieel, wat die moreel van die personeel betref het en ook was die reputasie van die maatskappy in die akademiese uitgewersbedryf nie wonderlik nie. Ons het dus deur swaar tye gekom om te wees waar ons nou is: ’n besonder winsgewende, hegte, rats en lenige eenheid wat bekend is in die mark vir die uitnemende diens wat ons lewer en die goeie boeke wat ons produseer. Dit is alles bereik met die goeie wil, harde werk, lojaliteit en steun van my Van Schaik-familie. Gelukkig weet ek dat die eenheid so sal kan voortgaan onder die uiters bekwame senior personeel wat ons by VSU het. ’n Tweede geluk is dat ek net effens verder beweeg in die groter Via Afrika (née Nasboek) familie in. Dit is dus nie “vaarwel” nie, maar net ’n geval van “ ’sien julle in die Kaap”!

3. Hoe skakel jy af en vergeet van werk?
Tuinmaak, reis, lees “chicklit”, lees kookboeke soos storieboeke, gesels ure lank met my man, slaap.

4. Waar het jou liefde vir boeke ontstaan?
Toe ek klein was het my ouers vir my stories voorgelees uit boeke waarvan ek nou nog sommige op my rak het: Kasper se wêreldreis, Katrientjie van Keerweder, Huppelkind, Stories uit Afrika, Stories van Andersen (in Afrikaans vertaal). Laasgenoemde twee boeke is beide deur Nasionale Boekhandel Beperk uitgegee en het nie net goeie stories nie, maar ook die wonderbaarlikste mooi prentjies - ek verlustig my nog altyd in kleure en teksture; dis vir my belangrik dat goed moet mooi wees, ook boeke.

My eie liefde vir lees het begin toe ons gesin in 1968 in Ierland (Dublin) - waar my pa die navorsing vir sy doktorale studie gedoen het - gaan woon het. Ek het bevriend geraak met ’n dogtertjie oorkant die straat en sy het vir my gevra: “Have you ever heard of Enid Blyton?” Net daar, met dié veel-verguisde kinderskryfster, het my passie vir lees begin. Nie eintlik die Noddy-boeke nie, ek was al te oud daarvoor, maar ek het die Famous Five reeks verslind en dadelik vir Enid ’n lang bewonderaarsbrief geskryf. Groot was die tranedal toe my ma, kort na die brief gepos is, een aand terwyl ek in die bad sit, vir my kom vertel het dat daar ’n berig oor die radio was dat Enid Blyton oorlede is … ek het nooit gehoor of sy die brief ontvang en gelees het nie! Ek het dus begin deur Engels te lees, daarna het ek Afrikaanse kinderboeke soos die Maasdorp-reeks (wat NB nou weer herpubliseer met die mooiste bandontwerpe) en ander gelees. Uiteindelik sou ek letterkunde op universiteit bestudeer.

Sommer terloops, ek is byna vier dekades later steeds bevriend met die Dublin-dogtertjie en ons skryf nog altyd vir mekaar oor wat ons besig is om te lees. Sy is ’n groot bewonderaar van André Brink. Ek het pas vir haar eksemplare van die Engelse vertaling van Marlene se Triomf en Antjie se Change of Tongue gepos (laasgenoemde spesiaal deur Antjie geteken “for Kathryn”). Sy sou natuurlik beide boeke in Waterstones in Dublin kon koop - ons Afrikaanse (nie net Suid-Afrikaanse skrywers nie) begin nou al meer aandag trek in die res van die wêreld. Het julle die wonderlike resensie gesien wat Marlene se boek in die New York Times gekry het? Ek het skoon tranerig van opwinding geraak toe ek dit lees.

5. Hoe het jou beroepspad geloop?
Op ’t Ingels sou ’n mens dit ’n “chequered career” noem; ek is egter oor baie min daarvan spyt. My eerste deeltydse joppie was studente-assistent in die Departement Engels by Tukkies (waar ek toe my man ontmoet het). Na ek klaar studeer het, het ek ’n lugwaardin geword (ek en Busisiwe Mahlaba van True Love het iets in gemeen!) by SAL - dit was beslis as gevolg van Kasper se wêreldreis! Daarna het ek vir ’n kort rukkie Engels doseer by die Pretoria Technikon (nou TUT, Tshwane University of Technology) en toe ek en Andries getroud is, is ons direk na sy eerste pos as diplomaat in Parys. (Andries het destyds sy akademiese loopbaan onderbreek en ’n paar jaar as Suid-Afrikaanse diplomaat gedien.) Indertyd mog die gades van diplomate nie gewerk het nie. Ek het dus ’n paar jaar terwyl ons in Frankryk gewoon het net onthaal en as informele toergids vir ons aanhoudende stroom (baie welkom) gaste opgetree. Toe ons teruggekeer het uit die buiteland, het ek as ’n tegniese taalversorger en opleidingsbeampte by ’n rekenaaringenieurswese-maatskappy gewerk. Daarna het ek vir ’n jaar as tegniese skrywer vir McDonnell Douglas se rekenaargebaseerde opleidingseenheid in die Kanadese lugmag in Kingston, Ontario gewerk terwyl my man sy sabbatsverlof in Queens Universiteit se biblioteek deurgebring het. Met ons terugkeer na Suid-Afrika, het ek vir my man gesê: “nou wil ek iets doen wat ek geniet - ek wil ’n uitgewer word.” Die plesier en gevoel van tuiskoms wat ek ervaar het toe ek by International Thomson Publishing in Midrand begin werk het, herinner my aan die beskrywing wat Coetzee in sy boek Youth gee van ’n keer wat hy met sy niggie wat in die hospitaal in Londen was, begin Afrikaans praat het, nadat hy dit vir lank nie gepraat het nie; hy skryf dat dit was soos om in ’n warm bad te ontspan. Van ITP het ek na Oxford University Press oorgegaan waar ek ook as akademiese uitgewer gewerk het en toe het Van Schaik-uitgewers my genader om as uitgewersbestuurder by hulle aan te sluit. Binne enkele maande het die vorige hoofbestuurder van VSU bedank en is ek op 1 April 2000 in sy plek aangestel … en nou ’n paar jaar later, is ek vir die tweede keer in my loopbaan ’n Aprilgek, want ek begin op 1 April by NB-uitgewers.

6. Waar het jy groot geword en studeer?
Ek het in Irene (net buite Pretoria) grootgeword en by Tukkies studeer. Ek het eers ’n BA (tale) voltooi en daarna honneursgrade in beide Afrikaans en Engels. Ek het in 1994, sommer vir die lekkerte, deeltyds die loodskursus in uitgewerswese - ook by Tukkies - gedoen en dis daar wat ek besluit het dat ek ’n uitgewer wou word. Terwyl ons in Frankryk gewoon het, het ek ook ’n Franse kursus by die Université Catholique de Paris voltooi, maar my Frans is nou taamlik verroes!

7. Watter boeke inspireer steeds?
’n Jaar of wat gelede het ek The Corrections gelees en kon ek nie uitgepraat raak oor dié boek nie. Hettie Scholtz het ’n baie besonderse resensie daaroor geskryf, onthou ek. ’n Mens mag seker nie een boek uitsonder as ’n mees-geliefkoosde boek nie, maar myne sou waarskynlik Waugh se Brideshead Revisited wees. Karel Schoeman se Die Hemeltuin is een van my groot gunstelinge in Afrikaans, ook Hennie Aucamp se kortverhale. Ek is byna klaar gelees aan Life of Pi - wat ’n vreugde om te lees. Skielik dink ek oor hoe ek, toe ek nog vir SAL gewerk het, in ’n hotel in Madrid my lê en uithuil het oor Fiela se Kind. Op die oomblik lê Toorbos langs my bed en wag. Daar is te veel om op te noem.

8. Wie is jou geliefkoosde buitelandse skrywers?
Ek is ’n groot bewonderaar van Graham Greene en Margaret Drabble en my “favourite” “chicklit”-skrywers is Marian Keyes wat onder andere Sushi for Beginners geskryf het (sy was ’n ruk gelede in Suid-Afrika en is net so snaaks in lewende lywe as in haar boeke) en Allison Pearson van I don’t know how she does it. Laasgenoemde boek - wat gaan oor hoe ’n vrou die korporatiewe lewe hanteer - het ’n heerlike resensie in, van alle plekke, die Financial Times gekry pas nadat dit verskyn het!

9. Gaan daar ’n herlewing van die tradisie van uitgebreide noenmale met skrywers wees?
Uitgebreide noenmale … ek hou van eet en ek hou van gesels.

LitNet: 16 Maart 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.