|
|
Danie Botha: Steeds bly die hoop op 'n volledige liefdesverhouding opspuit.Deborah Steinmair
Die Soft Rock Klub, Danie Botha se bundel kortverhale oor gay ervarings,
het in 1995 verskyn. Verhale vir kinders en volwassenes het in tydskrifte soos
Sarie, Tydskrif vir Letterkunde en New Contrast, en in bloemlesings
soos Vrede op aarde, Goue fluit, my storie is uit, Wisselstroom en
Soort soek soort verskyn. Die jongste is “Iemand by die deur”
in Uit
die kontreie vandaan (samesteller: Abraham H. de Vries). Hy het as
boekeredakteur by Tafelberg-Uitgewers uitgetree. As vryskut het hy tot twee
jaar gelede gay skrywers se werk vir die uitgewersafdeling Homeros versorg.
Tans is hy onder andere ruimteredakteur van LitNet se gay@litnet. Ek lees die voorspellings af en toe; trek nie peil daarop nie. Lees die strokies meer gereeld. Ek glo wel aan persoonliksheidskenmerke volgens die sterre: pas jou voortdurend aan by 'n ander persoon se wense en verwagtinge, want jy wil aanvaar word deur jou diensbaarheid; ambivalent en soms besluitloos; kommerkous; kunssinnig; sensitieeeef. • In jou ope brief aan die sanger Danie Botha sê jy dat jou leefstyl sekere gaykenmerke toon, maar dat gays individualisties is, mense wat van mekaar verskil in doen en late. Amen. Hoekom is groepvorming hoegenaamd nodig? (Vra ek as iemand wat nog altyd tussen die krake van enige afbakening val.) Moeilike vraag. Ek kan my moeilik uitspreek oor die wenslikheid van gaygroepvorming, want ek het min ondervinding daarvan. Toe ek in die jare neëntig 'n draadtrekklub in my Hofstraatse woonstel bestuur het, was vyftien die meeste gay mans wat ek nog ooit bymekaar gesien het. My gratis massering het my wel op Hustler.com laat beland – sonder my toestemming. Ek dink dat ek in my diepste wese nie 'n kuddemens is, maar aan die ander kant is daar tog ook die vrees vir verwerping en die drang tot diensbaarheid. My lewe lank is ek nog 'n verenigingsmens-teen-wil-en-dank. (Maar dit klink nou weer te veel asof ek dit geensins geniet en daardeur bevoordeel is nie.) Destyds kerkjeugvereniging, katkisasie vyf en twintig jaar lank, amateurtoneelverenigings, eisteddfodkomitees, optredes by boekbekendstellings en leeskringe; deesdae Fleur du Cap-toneelbeoordelaarspaneel, toneelbeoordeling, omroeperswerk en dan my geliefde Gay@Litnet. Miskien is dit organiseerwerk wat ek vrees. Op die gayterrein: jy sal my nie in 'n gaykroeg of -klub kry nie; ek sterf
voor ek fopdos; ek voel my nie tot gaytrotsparades gedrewe nie. Maar ek staan
nie veroordelend daarteenoor nie. Jy sal my wel by Adult World se "video
lounges" of die minder "prissy" gaystoomaddens aantref. In die
ou dae op Sandy Bay en Graaff
se Poel.
Dis deel van die opwinding van Gay@Litnet: om al hierdie fasette van die gaylewe
onder woorde te kry. Ons is in sekere opsigte nes die straights, maar in ander
opsigte beslis anders, of vermoedelik anders. En as ons dan in groepsverband
optree, kan jy die saligheid van ondersteuning, identifisering en geesgenootskap
ervaar. Maar, og, soms kan 'n mens ook baie "uit" voel tussen die
klomp. As hulle jou eers met daardie harde visoë aankyk, as jou soort humor
in kille stilte ontvang word ... As uitgewer van die Homeros-boeke tot so twee jaar gelede en nou weer met Gay@Litnet, is dié vraag al dikwels vir my gevra. Soms byna as 'n beskuldiging dat so 'n etikettering bv. die bemarkbaarheid van die boek juis sal belemmer. Om dit redelik ongenuanseerd te stel: Die etiket sein oor dis letterkunde en moet as sulks beoordeel word (asseblief genregewys); gays sal hulle denkpatrone en ervarings daarin weerspieël sien; wat vir hulle byvoorbeeld eroties is, sal hulle daarin vind; van die gegewe in hierdie boeke sal nie maklik of presies só in die ander boeke voorkom nie. Die etiket kan homofobe waarsku/aanlok; dit kan gays en ander belangstellendes help met die soektog na leesstof waarmee hulle kan identifiseer en wat hulle sal inlig. Soms word 'n boek gereklameer en bemark sonder die woordjie "gay" uit vrees dat die groot, magtige straight koperspubliek die boek sal vermy; aan die ander kant verloor jy daarmee die potensiële gaykopers. Dis dalk op die oomblik die geval met die wonderlike boek van Francois Loots, Lente in Beijing. Die ideaal is dat boeke met 'n gaytema op die rak vir gays moet staan én op die algemene rak; maar ek is bevrees dis wensdenkery. • Iemand het eenkeer vir my gesê gays moet ophou vry na die aanvaarding van hetero’s, dat hulle eerder trots moet wees op hul andersheid, op hul status as gemarginaliseerdes en dekadentes. Wat dink jy van hierdie stelling, is dit oorvereenvoudigend? Ek praat namens myself. By sommige hetero's voel ek heel tuis. Sekere dinge in hulle leefstyl bewonder en begeer ek. Hulle het ervarings wat ek van tyd tot tyd mis: ouerskap, huislikheid, kameraadskap, wedersydse aanmoediging, sorgsaamheid, hoewel hulle my verseker hulle smag weer na my onafhanklikheid, dekadensie en redelike gebrek aan emosionele trauma. Natuurlik bewonder ek ook die manlikheid – fisiek en geestelik – van die hetero, hoewel ek manlike chauvinisme wat op seksisme neerkom, hinderlik vind. In 'n pornovideo kyk ek graag hoe die man die vrou hanteer en slaan die gebruiklike lesbiese toneel oor. Een van die vreemdhede van homoseksualiteit waaroor ek al baie gedink het, is: Ek is fisiek 'n man en is aangetrokke tot 'n man in die volheid van sy manlikheid, maar om in 'n seksuele verhouding tot hom te kom, moet ek op 'n manier "vroulik" word en ek wil nie vroulik wees nie. Ek funksioneer goed met bi-seksuele mans, seker omdat ons gewoonlik net vir albei se gerief optree. En tog ... Steeds bly die hoop op 'n volledige liefdesverhouding opspuit. Maar "daeliks" kry die ouderdom sy "vervulling"... • Jy is reeds lank in die uitgewersbedryf. In Muriel Spark se roman A far cry from Kensington, sê sy “Everybody wants to be in publishing”, en vertel dat die salarisse beroerd was omdat die beroep soveel status gehad het. Is dit by ons ook so? Voor ek 'n pakket geneem het en my fantastiese vryskuttyd begin het, het ek dikwels teen die twaalfde van die maand van hawermout en droë brood gelewe. Ou Topolino in Kloofstraat het uit die goedheid van sy Griekse hart my skuld op sy stukkies sigaretkarton neergeskryf. Maar die jare se diens aan my ou firma het beteken dat ek nou stukke beter lewe. Die stres van lang ure se geestelike inspanning met manuskripte en proewe en van kantoorpolitiek, gekoppel aan seksuele gedrewenheid en driftige amateurtoneelspelery, het my in 'n stadium by 'n wonderlike kliniese sielkundige weens uitbranding gebring. Dit is 'n voorreg om die vertroue van skrywendes te verkry. My ondersteuningskring bestaan hoofsaaklik uit skrywers, uitgewers, joernaliste, letterkundiges en taal-onderwysers. Vanweë die werksbevrediging is ek 'n werkholis. Gay@Litnet sluit ook deeglik by die avontuur van keuring, skryfleiding en redigering aan. Hoe heerlik kring die netwerk van gayskrywers nie uit nie! • Wat is, naas gayletterkunde, jou belangstellings? Toneelkuns; geskiedenis; biografiese werk; radiowerk; erotiek; Nederland; sou graag meer plaaslik en oorsee wou reis – daarvoor is ek afhanklik van prof. John Kannemeyer en Wium van Zyl se heerlike literêre toere, en van 'n man met 'n motor (ek kan nie bestuur nie) en geduld met my lae selfbeeld wat soms opdoem. • Wie is jou gunsteling Afrikaanse skrywers? En internasionaal? As boekeredakteur durf ek nie Afrikaanse skrywers uitsonder nie. Buitendien lees ek min buite my werk om. My lees uit vrye wil is gewoonlik net op Sondae en dan's dit biografieë en boeke oor die teater wat dikwels 'n skrywer se enigste boek is. Wag, ek gaan nie kies tussen die mense wie se werk ek gekeur en geredigeer het nie, met wie ek al baie saamgewerk het nie. Ek kies uit dié wat ek geproeflees het. In geen rangorde nie: Elsa Joubert met Die swerfjare van Poppie Nongena, Die reise van Isobelle en Missionaris; Dan Sleigh (Eilande); Engela van Rooyen (Vuur op die horison). En digters met wie se publikasies ek nie gemoeid is nie: Ina Rousseau, Lucas Malan en Elisabeth Eybers. Internasionaal: In my jonkheid was ek baie leeg en moeg ná nagte saam met Gordon Merrick, Phil Andros en John Coriolan se seksuele eksesse. Sedertdien het videos by hulle oorgeneem. Ek lees hoofsaaklik biografiese werk oor toneelkunstenaars: Ian McIntyre oor David Garrivk, Anthony Holden oor William Shakespeare, en Nigel Hawthorne en Patrick Mynhardt se outobiografieë.
In die jare sestig en sewentig van die twintigste eeu toe ek nog lekker patrioties kon raak met 'n volkslied, landsvlag en die FAK-sangbundel, met geestelike oorgawe na die dienste van die NG Kerk kon gaan, toe dit makliker was om wit, manlik en Afrikaans te wees, sonder die huidige gewetenskwessies en die ontstellende sedelike en politieke toestande. Maar, ja, ek moet terselfdertyd vra vir 'n rekenaar, e-posse en seksvideos. En DSTV om sawends na Nederland toe te ontsnap. • Na watter Afrikaanse musiek luister jy? Die sang van Marica Otto, Laurinda Hofmeyr, Laurika Rauch, Randall Wicomb en Philip de Vos. • Wat laat jou uit die bed opstaan? Allerlei drange. Soos om 'n Aiden Shaw-video teen slaaploosheid in te span. • Watter vier historiese of lewende persone sou jy vir ete wou uitnooi? Tennessee Williams, Anton Tsjechof, Stef Bos en die bleskop-weervoorspeller op BVN. As van hulle nie kan kom nie: Kenneth Tynan, Lucas Malan of Daniel Hugo. • Het jy ‘n Zen-agtige plato van innerlike vrede bereik? Is jou lewe meer uitgesorteer as bv tien jaar gelede? Indien wel, hoe het jy daarby uitgekom? Onseker. Kan maar steeds soms hel-uit depressief raak. Kan 'n LYS opstel van dinge wat my grensloos irriteer. Vroeër was ek vol verlangens, vrese, inhibisies, stres; deesdae raak ek doodgewoon kwaad, gee my bv. oor aan e-pos-woede. Fisieke veroudering, tanende libido, die feit dat ek as afgetredene en vryskut dinge doen waarvan ek hou – ja, dit dra heelwat by tot gemoedsrus. My ideaal is om weg te kom uit die middestadwoonstel en saam met 'n stabiele, redelik gekultiveerde en Afrikaanssprekende ou in 'n voorstadhuis te gaan woon. Wag aansoeke in. Hulle sal moet kom vir oudisies soos destyds met die draadtrekklub. • Wat laat jou lag? Iemand wat iets uit eie ervaring vertel en dan die karakters veral stemgewys naboots. Haat toilet- en selfs seksgrappe. • Ek sien jy is onder andere ook akteur en regisseur. Wat verskaf jou die grootste mate van werksbevrediging? Ek wás dit en hoofsaaklik op amateurvlak. Is moeilik om te besluit. Dalk regie? Maar die adrenaliensituasies van self speel? Maar hoe goed was ek werklik met albei? Sedert 1986 geniet ek dit om toneelkritiek te lewer. Tans dra ek graag my ervaring oor in 'n rubriek vir amateurtoneelspelers, en bevorder ek teater met onderhoude in die FMR-radioprogram, Kaapse dagboek. Sedert 1977 is ek ook 'n radiospeler. Ek voel dat ek as ouer man tans beter werk lewer omdat ek minder gespanne is. Ek is altyd skurke of karakters met baie fisieke aksie. Sal so graag sensitiewe oujongkêrels of dominees wil speel. Ek aanbid die grond waarop regisseurs Cruywagen en Rademan trap. • Waaraan werk jy op die oomblik, privaat-kreatief gesproke? My "liefdeswerk" oor die eerste professionele Afrikaanse toneelspelers (Wena Naudé-hulle) daar uit die jare twintig tot veertig is tans in die hande van die uitgewer in Pretoria. Ek sou graag weer kortverhale wil skryf. Skryfleiding aan Gay@Litnet-skrywers, die opstel van Kaapse Dagboek en al die toneelopvoerings wat ek as resensent en Fleur du Cap-paneellid bywoon, hou my besig, maar dis opwindend.
Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |