Zani BotesArchive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.


“Real life is hartseer en skokkend” — Anoeschka von Meck in die spervuur ...

Deborah Steinmair

Heupvuur vs Anoeschka von Meck width=

 

Anoeschka von Meck is die skrywer van Anderkant die Longdrop en onlangs Vaselinetjie, ’n grinterige jeugroman met skop en hart.


Klik op boek om te bestel

’n Google-soektog het onder meer die volgende beskrywings van Anoeschka uitgespoeg:

Minette Brink, ’n voormalige kollega: ’n Enigma wat nooit wortelskiet nie, maklik haar goed kan pak en aanbeweeg na ’n volgende plek, land, avontuur. Wat soggens en saans die honde langs die pad na haar huis toe polonie gevoer het, gestap het waar sy wou wees en nooit bang was vir die donker nie. Die enigste mens wat ek ken wat onvoorwaardelik lief is vir die mensdom. Met al sy geite.

Jaco Botha en Tom Dreyer op LitNet: ’n Uitbundige blonde, ’n weird kettle of fish, ’n girl wat daarvan hou om dinge op haar eie manier te doen. Gut wat skrik vir niks.

1. Jou lewe het al interessante draaie geloop?

Hoewel ek al ’n paar nice en not so nice goed in die verlede meegemaak het, verkies ek om dit nie aanhoudend oor te vertel nie. Mens loop vinnig die gevaar om te begin klink soos iemand wat heeltyd net in die verlede lewe en niks nuut vir hulle toekoms beplan nie.

2. Jy is tans joernalis aan die Weskus. Vir watter koerant werk jy en oor watter dorpe en distrikte skryf jy?

Ek werk vir ’n plattelandse koerant en dek die dorpe vanaf Langebaan tot Dwarskersbos, maar woon op Paternoster met ’n Jack Russel (nie myne nie) wat hom snags voor my kaggel kom tuis maak.

3. Sal jy ons een en ander vertel van jou avonture as joernalis in die Wilde Weste?

Is ’n tydjie terug amper gearresteer by ’n visfabriek omdat daar weens ’n misverstand gemeen is dat ek met die Skerpioene saamwerk! Voor verlede week was ek besig om ’n stryery tussen taxiverenigings af te neem toe iemand ’n skietding uitpluk en sewe skote in ons rigting skiet. Hoewel ek gekoes het, was dit baie surrealisties met ouens wat hier langs jou skree terwyl hierdie pop-pop-geluide oor die veld weergalm. Jy staan by ’ n bebloede persoon en jy voel net niks behalwe die opwinding nie. Dis slegs ’n “prentjie” deur jou lens en jy soek eenvoudig net die beste angle vir die shot. Eers na die tyd, wanneer jy agterkom jou knie wil nie ophou spring nie, kom jy effens tot jou sinne.

4. Ek en my kind was dol oor jou jeugroman, Vaselinetjie. Is Vaselinetjie op ware ervarings gebaseer?

Dankie dat jy die boek gelees het. Vaselinetjie is waarna Koos Prinsloo sou verwys as “faksie”. Werk waarin die grenslyne tussen feite en fiksie redelik onseker is. Hoewel die storielyn soos in die verhaal uiteengesit is, fiktief is, is ’n groot deel van die gebeurtenisse verwerkinge van insidente wat regtig plaasgevind het. (Ek het nie alles self meegemaak nie; sommige is oorvertelde goed wat ek van ander personeellede en kinders gehoor het.)

Die oorspronklike idee is gebaseer op ’n babadogtertjie wat jare gelede buite Swakopmund naby die treinspoor vir dood gelos is. Sy was erg deur die son verbrand, miere het haar gevreet en vlieë het eiers in haar ore gelê. Daar kon nie met sekerheid vasgestel word van watter kultuurafkoms sy is nie en dus was daar probleme met haar aanneming. Die kinderhuis en personeel in die boek is fiktiewe vermengings van ware plekke en mense.

Ek is verbaas om oproepe van vriende te kry, veral twee manspels wat my gebel het om te sê dat hulle ’n traan moes wegpink omdat Vaselinetjie so hartseer en skokkend is. Vir my is dit “real life” en dit is vir my eerder vreemd om te besef nie almal weet dat hierdie lewe in ons gemeenskap bestaan nie. Boonop is Vaselinetjie met omtrent ’n derde gesny en heelwat “ligter” gemaak. Ek het byvoorbeeld glad nie onderwerpe soos verkragting, sodomie, mishandeling, en wanbestuur BINNE kinderhuise aangeraak nie.

 

5. Waarmee hou jy jouself besig as jy nie skryf of werk nie?

Ek is versot op grondpad ry, want dit gee my so ’n I-have-a-farm-in-Africa-gevoel, ha! Dan tel ek bokkies, uile en langjasbakoor-jakkalse langs die pad.

Een van die ergste ondervindinge wat ek al in my lewe gehad het, het ’n paar weke gelede gebeur. Ongelukkig ry die mense baie jakkalse raak en een aand kom ek toe wragtag op een af wat nog lewe!! Noodgedwonge moes ek toe omdraai en die arme ding uit sy lyding verlos. Maar aangesien ek nie ’n rewolwer aan my gehad het nie, was dit toe baie moeiliker om reg te kry as wat ek gedink het. Op die einde het dit ’n hele ruk geneem voor ek die verminkte jakkals dood gekry het, maar teen daardie tyd was ek al berserk van smart. Ooo, die tjankies!!

Dit was VERSKRIKLIK. Ek het sommer my bakkie in die veld in gestuur en net daar op my knieë in die omgeploegde grond voor die Here my hart uitgeSKROU. Die mens se wreedheid is een van die moeilikste dinge vir my om te hanteer sonder om heeltemal my kop te verloor.

6. Na watter musiek luister jy?

Ek besit nie ’n radio of televisie nie. Musiek affekteer my meestal te sterk. Voel ontbloot aan die sanger se wroeging terwyl ek steeds met my eie swoeg. Sou wel graag soos Norah Jones wou kon sing.

7. Wie lees jy?

Lees oor die algemeen nie fiksie nie, maar probeer deesdae ander Afrikaanse skrywers ook te lees. Lees meestal net geestelike boeke soos Watchman Nee en Andrew Murray. Dink die beste boek wat ek sover gelees het, is die driekwart van Triomf deur Marlene van Niekerk wat ek klaar gemaak het. Dis uitstekend. Verder hou ek hier en daar van dele van Koos Kombuis se nuwe goed, maar verreweg die beste skrywer (alas!) is Nataniël. Daar is niemand wat die ordinêre so absurd soos hy kan aanbied of karakters in een kortverhaal so goed uitbeeld dat hulle vir ’n leeftyd in jou kop aanhou voortbestaan nie.

LitNet: 25 Mei 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.