Jy het die onlangse Afrikaanse Taalberaad bygewoon op Stellenbosch.
Hier volg 'n paar vragies wat spesifiek verband hou met dié beraad:
a. Is daar rede tot hoop dat daar in die Afrikaanssprekende geledere
bymekaargebring sal word wat bymekaar hoort?
Sien jy hoe saggies sê, ek "ja"? Daar is maar nog 'n distel en 'n doring hier en daar. Daar is egter 'n proses aan die gang gesit wat groot belofte inhou. Ja, die beraad was 'n sukses.
b. Bestaan daar al duidelikheid oor wie Afrikaners is?
Nee, Afrikaners was daar nog nooit en sal daar ook nie wees nie. Dit leer die geskiedenis vir ons. Burgers, boere, trekkers, republikeine, ja, maar Afrikaners nee. "Afrikaners" is 'n verbeelde gemeenskap. Ek is 'n Afrikaan, ek praat Afrikaans en leef in Suid-Afrika. Die "-er" in "Afrika(a)n-er" is 'n gelaaide politieke en ideologies opvangbak. Wittes hier is Afrikane wat Engels of Afrikaans praat. Net soos 'n Skot, 'n Brit, 'n Rus, 'n Meksikaan. Kom ons sterf "Afrikaner" as noemer af en word wat ons is, Afrikane. Net nie "Afrikaanses" nie, asseblief.
c. Die verwagting was dat die Afrikaanse Taalberaad 'n strategie
vir Afrikaans vorentoe sou bepraat, beding en besluit. Het
dit gebeur?
'n Strategie is soos liefde: die ding gebeur voor jy dit geweet het, of nadat jy gedink het dit het glad nie gebeur nie. Daar is genoeg knelpunte geïdentifiseer wat in 'n gerf opgebondel kan word en 'n strategie genoem kan word. Ek sien dit as die taak van die NTLA (PANSAT-komitee wat die beraad gereel het). Die belangrikste vir my is die besluit van die beraad dat 'n "koalisie van gewilliges" die proses verder sal neem. Die "koalisie van gewilliges" is 'n suiwer gemeenskapsaksie van eerste- en tweedetaal-Afrikaanssprekers wat, in samewerking met die NTLA, die pad vorentoe sal verken. So 'n koalisie van gewilliges sal ook swart moedertaalsprekers op een of ander manier (moontlik deur projekte) moet akkommodeer. Daar is twee groot voorbehoude: een, geld sal gevind moet word om in en vir Afrikaans te belê, en twee, die koalisie moet homself/haarself nie sien asof hy/sy/dit/ Afrikaans besit of bestuur nie.
d. Hoe voel jy oor die toekoms van Afrikaans in die elektroniese
media?
Afrikaans in die elektroniese media het onbeperkte potensiaal. Kyk net na die fantastiese groei van LitNet die afgelope jaar. Die elektroniese Afrikaanse media sal eerder vroeër as later die gedrukte-dagblad-medium in 'n blik druk, by wyse van spreke. Die gedrukte-dagblad-medium gaan inboet aan lesersgetalle - die vraag is net: gaan die Engelse elektroniese media score, of is daar genoeg geld om die Afrikaanse elektroniese media te stut tot dit nie meer nodig is nie? Weer eens 'n kwessie van geld.
e. Hoe kan die kommersiële waarde van die taal ontgin word?
Die kommersiële waarde van 'n taal word ten eerste ontgin deur die taal belangrik te maak. Daarna, afgesien van kulturele en skeppingswaarde, moet enige taal inherent 'n ekonomiese-waarde-element vir homself (of haarself - soos jy wil) inhou. Hier by ons moet dit gebeur deur ten minste drietaligheid verpligtend te maak as toelatingsvereiste tot staatsinstellings en tersiêre instellings. Meertaligheid moet ook erken word in bevorderings en aanstellings. Elke onderneming moet 'n taalbeleid opstel wat die sentimente van veeltaligheid verwoord.
f. Het die soeklig tydens die beraad enigsins op die jeug geval
en/of is die jeug na jou mening voldoende verteenwoordig?
Die afwesigheid van die jeug was 'n probleem; so ook die afwesigheid van Cosatu en die ANC Jeugliga en die Departement Kuns en Kultuur. Vorentoe sal dié sake aandag moet kry.
g. Wat is na jou mening Afrikaans se verhouding tot die ander landstale?
Wat behoort die verhouding te wees?
As jy tot sover gelees het, onthou wat ek hierbo gesê het.