|
|
Bram Fischer: Ons eie Ché (en meer)
Die titelsnit van Steel Pulse se 1979 reggae-langspeler Tribute to the Martyrs is net so toepaslik op Bram Fischer as op Biko of Malcolm X: It was a hard task Welkom by hierdie vryvloeiende huldeblyk aan Bram Fischer, aangebied as 'n lukrake collage van kommentaar en aanhalings - 'n antitese vir die verstokte anti-Bram-kommando wie se oortuigings dekades gelede ingedril is deur die propagandiste van apartheid, oortuigings wat ongelukkig bly talm in die troebel gemoed van te veel lede van 'n geslag wat gebreinspoel was om te glo anti-apartheid en antirassisme is pro-Kommunisme en pro-Dier, pro-Satan. Bram Fischer is dekades lank valslik voorgehou as 'n diaboliese vyand van die Afrikanervolk. Hoekom? Omdat sy demonisering die politieke agenda van die destydse apartheidsbewind gepas het. Fischer was in werklikheid 'n vyand van net een ding: ongeregtigheid. Hy was 'n selfopofferende heldfiguur wat sy talente ingespan het om menswaardigheid en menseregte te beding vir alle Suid-Afrikaners. Dit waarvoor hy gestaan het, is jare ná sy dood opgeneem in ons nuwe Grondwet se Handves van Menseregte - regte wat wêreldwyd erkenning geniet in alle demokratiese gemeenskappe. Hy was 'n visioenêre denker wat reeds in Februarie 1965 onomwonde kon verklaar: What is needed, is for white South Africans to shake themselves out of their complacency intensified by the present economic boom built upon racial discrimination. Unless this whole intolerable system is changed radically and rapidly, disaster must follow. To try to avoid this becomes a supreme duty particularly for an Afrikaner, because it is largely the representatives of my fellow Afrikaners who have been responsible for the worst of these discriminatory laws. Die feit dat hy 'n Afrikaner was, maak hom nog 'n groter held - en spesifiek ook in die oë van 'n jonger geslag Afrikaners. In vandag se postapartheid-bestel kan ons hom huldig as 'n cool martelaar - soos Ché. Laasgenoemde het, ondanks sy ideologiese kortsluitings, die afgelope jare internasionaal in 'n anti-establishment fashion statement ontpop vir jong mense, net soos Biko in Suid-Afrika 'n mega-cool modesimbool geword het vir funky, cutting-edge township jeug - aangevoer deur plaaslike klere-labels soos Stoned Cherry. Where is this heading? Wel, waar anders as na Karen Zoid, wat in 'n driekleurige (rooi, geel en groen) Bram Fischer T-shirt "Afrikaners is Plesierig" by Oppikoppi sing? Op die Pretoriase egpaar Etienne en Christa-Marié Marais se Proud to be South African-webtuiste verskyn die volgende woorde oor Bram Fischer: He was in awe of the courage of the Afrikaners who fought in the Boer War against British imperialism; his paternal grandfather had fought in that war, and his father had defended the Afrikaner rebellion of 1914. He saw himself as a successor in this tradition of rebels, working to enlarge and redefine Afrikanerness against the segregationist policies of the Nationalists. Die wyd-erkende antirassistiese bydraes van progressiewe Afrikaners soos Fischer en Beyers Naudé (en Breyten Breytenbach, André P Brink, Max du Preez, Derek Hanekom, Ingrid Jonker, Elsa Joubert, Johannes Kerkorrel, Antjie Krog, Carl Niehaus en talle ander) bemagtig die postapartheid-Afrikaner om met trots en selfrespek te kan kies om deel te wees van - en entoesiasties te help bou aan - 'n jong Afrika-demokrasie in 'n land waarvan die wette menseregte bevorder pleks van onderdruk. Hierdie mense se lewens en insette kan gevier word deur 'n nuwe generasie Afrikaners: jong mense wat hul skaam vir die skade wat aangerig is deur diegene wat eintlik die breër Suid-Afrikaanse bevolking verraai het - aanbidders van blanke baasskap soos Verwoerd, PW en (tot nie te lank gelede nie) 'n Afrikaanse pers wat kop in een mus was met bewindhebbers wat apartheid wou afdwing. Nat Nakasa het in 1964 'n artikel geskryf getitel "Afrikaner Youth get a Raw Deal". Hierin blameer hy die NG Kerk, NP, Broederbond en Afrikaanse pers vir 'n gebrek aan "new and vigorous thinking" onder destydse jong Afrikaners. Nakasa sê onder meer: South Africa has been even more cruel to them than to their counterparts in other sections of the community. The institutions I have listed above have drilled Afrikaner youth to a point where they are without the will or desire to see the stamp of their youth on the programmes and projects that this country undertakes. In my view, my Afrikaner contemporaries are getting a raw deal. The grip of authority on the minds of the black youth is not as tight as it is on theirs. Dit was gister. Vandag benodig jong Afrikaners vrydenkende ikone uit ons landsgeskiedenis om 'n positiewe, postapartheid-identiteit te konsolideer - ikoniese martelaars soos Fischer, wat in die vorige bedeling uit eie geledere verrys het om vir menseregte te veg en onderdrukking teen te staan. Jong Afrikaners het 'n dringende behoefte aan relevante helde wat hulle in staat kan stel om 'n groter gevoel van geborgenheid in die nuwe Suid-Afrika te hê, want hulle is - in die woorde van Fokofpolisiekar - "verlore gebore". Die land se swart jeug het Biko en andere om as fondamente van selftrots te dien. En jonges elders kan opkyk na cool martelaars soos Fela Kuti, Patrice Lumumba of Malcolm X. 'n Mens dink aan Bram as Kuti, die legendariese Nigeriese musiekrebel, soos volg antwoord wanneer hy in 'n 1983-onderhoud gevra word of hy dit vreemd vind dat jong mense in Europa hom as 'n held beskou: Every human being wants good for himself. If somebody's propagating good for humanity, people will look towards him and react to him in a positive manner. Dit is hoekom 'n nuwe geslag Afrikaners positief reageer op eerbetoon aan mense soos Fischer en Naudé. Want hierdie figure het, anders as die meeste van hul mede-Afrikaners uit die apartheidsera, die oordeel van die wêreld se hoofstroom-geskiedskrywers oorleef en ongeskonde anderkant uitgekom as fakkeldraers van medemenslikheid, selfopoffering en rasseharmonie. Party verwerp 'n positiewe siening van Fischer bloot omdat so 'n waardasie ooreenstem met hoe hy uitgebeeld word in struggle-vriendelike geskiedenisse, soos herskryf ter ondersteuning van die land se nuwe maghebbers. Maar is dit genoeg rede om 'n nuwe generasie Afrikaners die geleentheid te ontsê om struggle-figure uit eie geledere as helde te beskou? Wat het mense soos Fischer en Naudé nou eintlik verraai - Afrikanerskap, of 'n rassistiese ideologie van blanke meerderwaardigheid? Vir baie mense regoor die wêreld is die begrippe Afrikanerskap en rassisme in elk geval keersye van dieselfde munt. Sulke vooroordele word teengewerk deur die geskiedkundige nalatenskap van iemand soos Fischer as vegter teen apartheid. Bram was 'n patriot van Suid-Afrika en Afrika, een wat - soos baie ander - met ongenaakbare felheid vervolg is weens dit waarin hy geglo het, 'n kombinasie van kommunisme en die verwerping van rassisme. Dit is in laasgenoemde rol dat die meeste mense hom onthou en huldig. Die Universiteit van Stellenbosh gaan hom hiervoor vereer, nie vir sy kommunisme nie. Hierdie Oxford-gegradueerde seun van 'n regterpresident en kleinseun van 'n eerste minister is vandag 'n prototipe van hoe tuis 'n Afrikaner in 'n oorwegend swart Suid-Afrika kan wees. Die Fischer-gesin het hegte vriendskapsbande aangeknoop met die swart mense wat op dieselfde Vrystaatse plaasgrond as hulle gewoon het. En hulle het dit gedoen in 'n tydsgleuf toe swart en wit bitter selde as gelykes gekommunikeer het of vriendskapsbande aangeknoop het. As regsman het Fischer tallose armes pro deo (gratis) verdedig, veral in pasboekvervolgings. Tussendeur het hy vir lang tye as onbetaalde vrywilliger klas gegee in niewit buurte, spesifiek Indiër-dele van Johannesburg. Hy en sy vrou het in die vroeë sestigs 'n swart dogtertjie as hul eie, inwonende kind aangeneem. So iets was vir die meeste apartheidsera-Afrikaners 'n uiters grillerige scenario. So grillerig dat die Verwoerd-regering weldra wetgewing deurgevoer het waarmee interrassige aannemings verbied is. Dit was deel van die Groot Plan dat rasse-interaksie tot die minimum beperk moes word deur die meeste vorme daarvan onwettig te verklaar - van veelrassige musiekkonserte tot interrassige liefdesverhoudings tot saam sit en koerant lees op 'n bankie in die park. Bram Fischer was, ondanks sy kommunisme, 'n visioênere menseregte-aktivis wat sy tyd ver vooruit was. Sy gesaghebbende, oortuigende aandrang daarop dat die gelykwaardige menslikheid en politieke versugtinge van niewit Suid-Afrikaners deur die NP-bewindhebbers erken moet word, is wat hom so gevaarlik gemaak het vir die destydse status quo. Hy is gedemoniseer as kommunistiese terroris om wit kiesers se aandag af te lei van die boodskap wat hy bly predik het: apartheid is verkeerd en Suid-Afrika benodig nierassige vryheid, gelykheid en broederskap. As 'n mens iets soos Heidi Klein se No Logo lees, Michael Moore-rolprente kyk of terugdink aan die skynbaar meer onskuldige, pre-9/11-era van die Koue Oorlog, dan wil jy amper wens dat kommunisme vandag sterker gestaan het in die wêreld, dat dit as 'n teenvoeter kon dien vir die onversadigbare gierigheid van kapitalisme en die eerstewêreldse uitbuiting van derdewêreldse lande. Kommunisme in sy oorspronklike vorm, al het dit hoe rampspoedig uitgedraai, wás 'n bewonderenswaardige (maar inherent mislukte) plan om die wêreld 'n beter plek te maak vir almal wat daarin woon. Fischer het dit aangehang op 'n wyse waarvoor 'n mens vandag jou hoed kan afhaal. Want sy steun daarvoor was 'n reaksie teen die rasgebaseerde ekonomiese onreg wat deur middel van apartheid gepleeg is toe wette en howe en polisie en soldate 'n stelsel in stand gehou het wat wit mense die ryk besittersklas gemaak het en swartes die arm werkersklas. Die geweldsplanne wat hy en ander in die sestigs gesmee het om die wit bewind omver te werp, is uit noodweer gebore - nadat, en éérs nádat, die ANC en PAC en SAKP se vreedsame, ongewapende pogings om 'n nuwe bestel te beding, deur die staat begroet is met drakoniese wetgewing en militêre geweld. Ongelukkig haak baie breine nog vas by kommunisme as die duiwel self, as iets wat altyd soos 'n vlek aan die struggle sal kleef, as 'n rede om nooit die struggle te vier nie. En so praat talle aan die regterkant van die politieke spektrum nog steeds van hoe die "ANC/Kommunistiese regime" die land die afgrond in stuur - terwyl ons 'n ekonomiese opbloei beleef onder 'n skaamteloos kapitalistiese ANC. Ja, breine haak vas. En dit lyk nie of die skryf van dik boeke altyd help om 'n stowwerige ou naald uit sy groef te lig nie. Maar dalk is dit verstaanbaar - mense is oor dekades gebreinspoel om te glo, soos die ou bedeling se propagandamasjien jaar in en jaar uit verkondig het, dat Suid-Afrikaanse kommuniste (die swartes, maar veral die wittes) die onderdrukte massas se sug na bevryding wou kaap - in opdrag van Moskou - om 'n ateïstiese tirannie tot stand te bring, 'n skrikbewind waarin daar, gruwel der gruwels, geen onderskeid tussen die rasse sou wees nie. Dit sal net billik wees om hier toe te gee dat die huidige ANC-regering ongelukkig ook sy eie posisie probeer versterk met propaganda en 'n Groot Verhaal waarin almal moet glo, een waarin die ANC 'n vlekkelose messias is wat nooit strafkampe gehad het of menseregtevergrype gepleeg het nie. In die ANC se Groot (Struggle-) Verhaal word alles wat wit regerings in die pre-1994-jare gedoen het, afgemaak as wreed en boos - al was daar af en toe opreg goeie bedoelings. Wat veral weersinwekkend is, is die hedendaagse neiging om wit kritici van ANC beleidsrigtings en optrede as rassiste af te maak. As jy wit is en die ANC kritiseer, word jy te maklik gereduseer tot 'n rassis - selfs al is jy getroud met 'n swart vrou en al woon jy dalk al jare in 'n township waar jy jou pyp met bure deel sonder om ooit hul spoeg af te vee voor jy 'n trek vat. Die waarheid is nooit so eenvoudig as wat die regering van die dag sy onderdane wil laat glo nie. Wat egter nog meer onverdedigbaar as die ANC se rassekaart is, is die manier waarop die wit bewindhebbers in die apartheidsera spoke opgejaag en vyande geamplifiseer het in diens van die eng politieke doelwitte van hul minderheidsregime - die Rooi Gevaar, die Swart Gevaar ... Daar was altyd die saai van vrees onder wit mense, die beklemtoning van bedreigings en gevare, die postulering en instandhouding van 'n vyand, kommunisme teen die Christendom, hulle teen ons, swart teen wit, boos teen goed. Sulke uitgediende digotomieë besoedel steeds te veel mense se denke. Veral die denke van diegene wat in die sestigs en sewentigs geleef het toe die Totale (Propaganda-) Aanslag hoogty gevier het. Die verering van Bram Fischer met 'n eredoktorsgraad kan hierdie beskouings help teenwerk, help dekonstrueer. Breyten Breytenbach praat in The True Confessions of an Albino Terrorist (geskryf toe hy in die tronk was) van die "siege mentality" in die ou Suid-Afrika en hoe dit ingespan is ter regverdiging van die onmenslike behandeling en onderdrukking van die land se niewit inwoners, asook die wittes wat die vryheidstryd gesteun het: These attitudes and actions are exacerbated by a siege mentality having to oppose a "total response" to what they paint (and at least some of the painters must know that the picture is false) as a "total onslaught" against South Africa. They furthermore justify these actions in terms of a crusade against communism, Marxism, nihilism, atheism, permissiveness, liberalism, immorality and pornography. In die ou Suid-Afrika is mense soos Fischer voorgehou as inkarnasies van Satan self. En Satanisme was groot in die apartheidsera. Uit owerheidsweë is ons aanhoudend daaraan herinner. Net soos aan die Rooi Gevaar en Swart Gevaar. Baie mense onthou nog hoe kaptein Kobus Jonker vrye teuels gegee is om landwyd kruistogte uit te voer teen sinistere selle duiwelsaanbidders, iets wat eers in die vroeë negentigs end gekry het. Wat Satanisme betref, beskryf Breyten 'n bisarre insident in The True Confessions wanneer hy verwys na die man wat die regterhand was van Percy Yutar, staatsaanklaer in die Rivonia-verhoor: His senior assistant was a tall supercilious man called Dennis Rothwell … Long after the trial Rothwell came to visit me in my cell ... He then admitted to being a Satanist - seriously! - and felt we might have something in common there as he sensed, he said, an admiration for the Devil in me too! Daar bestaan vandag geen twyfel nie: 'n anti-apartheidshouding en kommunisme en duiwelsaanbidding is deur die apartheidsregering as sinonieme voorgehou. Oor en oor en oor. Tot die meeste wit kiesers dit geglo het. So onlangs as die middel-tagtigs - in die dae van noodtoestande, pantservoertuie in die townships, verdwynings, martelings, talle sterftes in aanhouding en hanging judges - het PW herhaaldelik die Rooi Gevaar ingespan ter regverdiging van sy onderdrukkende bewind, 'n minderheidsdiktatuur wat met geweld en propaganda in stand gehou is. En voor hom het Verwoerd dieselfde gedagtes verkondig. In 1964 het Lauritz Strydom 'n besonder giftige stukkie propaganda getitel Rivonia - Masker Af! namens die apartheidsregering gepubliseer. In die laaste hoofstuk, onder die opskrif "God verhoed dit!" is Verwoerd self aan die woord om die hoogverraadverhoor van Nelson Mandela en ander vir die volk in perspektief te plaas. En nogmaals word die "wêreldkommunisme" - eerder as die regering se rassistiese wette - die skuld gegee vir die probleme in Suid-Afrika: Ek wil dus duidelik en ondubbelsinnig die verklaring doen dat ons in hierdie geval nie te doen het met 'n opstand teen die Regering se beleid, of met 'n voorspraak vir die vryheid en regte van mense nie; ons het hier te doen met 'n Kommunistiese opstand wat bewerkstellig sou word. Dit is kaalkop Kommunisme in die wêreldbetekenis van die woord. Diegene wat hierdie opstand probeer organiseer het, is òf self Kommuniste òf het willens en wetens in die nouste samewerking gewerk met mense wat Kommuniste is en deur die Kommunisme beïnvloed word ... Wanneer dus (in daardie kringe) gesê word hulle is bly dat Mandela 'n lewenslange straf en nie 'n doodstraf gekry het nie - want hy mag nog die leier van die toekoms word - dan sê ek: God verhoed dit! Sou dit gebeur, dan is nie net Suid-Afrika daarmee heen en Kommunisties nie, maar dan sal die wêreld mettertyd deur die Kommunisme verower word. Want daarna sal val, die een na die ander, die enigste forte wat van ver die blanke beskawing nog beskerm teen daardie verderflike ideologie. In die tyd waarin PW hom so graag beroep het op die Totale Aanslag uit Moskou, het die kommunisme - ironies genoeg - reeds 'n noodlottige bestaanskrisis beleef en in duie begin stort. Moskou het teen die middel-tagtigs baie minder tyd en energie gehad om planne teen die blanke Christendom in Suid-Afrika se sit en uitdink as wat die apartheidsleiers ons laat glo het. Rusland was op krisisbestuur en in chaos. Maar om die NP-regering se posisie te versterk moes die kommunisme voorgehou word as 'n doelgerigte bose mag wat 24/7 in Moskou sit en strategieë uitwerk het om Suid-Afrika te omskep in 'n hel op aarde. In 1985 publiseer Piet Meiring, oudhoof van Staatsinligting, 'n semi-koffietafelboek met die titel Waagmoed Beloon. Dit is vol foto's van PW en hy word voorgehou as "die argitek van die nuwe Suid-Afrika". Dit het pikante hoofstuktitels soos "Die aanslag op Suid-Afrika gaan toeneem", "Die plek wat aan die Swartman toegesê word", "Die pers se plek in ons politiek", "Hoe die sterkste weermag in Afrika opgebou is" en "Mev. Elize Botha gesels oor haar man". In hierdie boek maan PW dat die veldtog "teen ons" Marxisties in sy oorsprong is: Die aanslag op Suid-Afrika gaan nog steeds toeneem. Dit gaan vererger in omvang in intensiteit na mate ons vorder met die oplossing van ons probleme. So vreemd is dit. En die rede? Moskou het sy hart daarop gesit om Suid-Afrika in beroering te bring, totdat hier 'n volskaalse konflik ontstaan en 'n regering aan bewind kom wat Moskou goedgesind is. Iemand wat hierdie woorde geloofwaardig vind, stem seker ook 'n klompie hoofstukke later saam wanneer genl Magnus Malan en die boek se skrywer die volgende rasbehepte, patroniserende oneerlikhede kwyt raak: Die Kleurling is geen tweedeklas-offisier nie. Hy is van dieselfde kwaliteit as die blanke, sê die Generaal. Ons sit voorwaar met puik Bruinmense in die verdedigingsmag. Met die Indiërs is daar nog probleme vanweë die verskillende kastes, maar genl. Malan meen dat dit te bowe gekom sal word. Wat die Swartmense betref, is daar ook goeie vooruitsigte, hoewel sommiges soos die Zoeloes nie langer as drie jaar wil dien voordat hulle eers weer wil huis toe gaan nie. Maar daar is nietemin uitstekende Swart eenhede, byvoorbeeld aan die grens in Suidwes. Al die bevolkingsgroepe staan skouer aan skouer in die Weermag. Op die ou einde was dit PW se kompromislose houding teenoor die swart meerderheid en die kragdadige, macho rassisme van sy polisie en weermag wat Suid-Afrika in die tagtigs in vlamme gehad het, en nie ingrypings deur sinistere samesweerders uit Moskou nie. Fischer-biograaf Stephen Clingman noem in 'n onderhoud met Wilhelm Snyman op die webtuiste van die Legal Resources Centre: In the week after Bram's death, each newspaper in South Africa was permitted to publish one photograph of him, with the proviso that the picture had been taken before his period underground. Die Burger, which missed the deadline, printed a whited-out silhouette, presenting a ghostly and vacant image, replete with hat. Vir meer as twee dekades was hierdie gesiglose foto van Fischer die enigste amptelik toelaatbare uitbeelding van hom. 'n Mens vind dit selfs, 20 jaar nadat hy gevonnis is, in Trewhella Cameron se verfrissend objektiewe - vir die tagtigs - baanbrekersboek Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika in Woord en Beeld (Human & Rousseau, 1986). Mense soos Fischer en Joe Slovo is dekades lank sleggesê en beswadder in propagandaveldtogte van dieselfde regering wat hulle gesigloos gemaak en gemuilband het, wat dit 'n misdaad gemaak het om hulle woorde aan te haal of om selfs net T-shirts te dra met hul gesigte op. Oor die apartheidsregerings se "campaigns of slander and misinformation" wat Fischer-hulle as bloeddorstige terroriste uitgebeeld het, skryf Slovo soos volg in sy onvoltooide outobiografie: The "journalist" Gerard Ludi was used to spread the same innuendo about me in the press - an act all the more cowardly since bans imposed upon me prevented the press from publishing any responses from me. Die ongedaan maak van sulke verdraaiings en verhullings of verswygings, die openbaar maak van iemand soos Fischer se idees en motiewe wat so lank amptelik gesmoor is uit vrees dat dit te veel gewone Suid-Afrikaners kon laat besef daar is alternatiewe vir apartheid, hierdie oopmaakproses word soos volg deur Wilhelm Snyman beskryf wanneer hy Clingman se Bram Fischer: Afrikaner Revolutionary resenseer: "lifting the veil over the vast body of previously suppressed local history". Clingman vertel van die gesprekke wat hy met Nelson Mandela gevoer het as deel van die navorsing vir sy boek: Mandela said to me, "look when I started in the '40's, I really wasn't interested in working with whites or with Indians." But it was because of people like Fischer and Yusuf Dadoo that he came to realize that "others felt as passionately as we did about these things" and were prepared to make the sacrifices. As Mandela said, they came to understand that they could work across these colour lines. Non-racialism wasn't a given at the beginning. It was worked for. That vision came to fruition in 1994 and Fischer had set a precedent. That spirit of reconciliation ran very deeply in his life. Because his family had been through the Boer War he knew what it meant when nationalism clashed. He really wanted to avoid a civil war in South Africa ... Fischer is in hegtenis geneem betreklik kort nadat hy as verdedigingsadvokaat suksesvol verhoed het dat Mandela en ander in die Rivonia-verhoor (1963-64) die doodstraf opgelê is. 'n Paar jaar tevore - tussen 1956 en 1961 - het hy 156 anti-apartheidaktiviste teen die Staat verdedig. In 1966 is Bram Fischer op 58-jarige ouderdom lewenslank tronk toe gestuur omdat hy aan die verbode Kommunistiese Party behoort het en sabotasieplanne gesmee het teen die apartheidsregering. Dit is belangrik om hier in gedagte te hou dat destydse wetgewing sabotasie so wyd gedefinieer het dat selfs die blote verf van 'n anti-apartheidslagspreuk op 'n muur as 'n sabotasiedaad beskou is waarvoor jy jare lank tronk toe gestuur kon word. In sy finale hofrede voor hy tronk toe is (gelewer te Pretoria, 28 Maart 1966) het Fischer gereageer op die aantygings dat hy 'n kommunistiese eenparty-skrikbewind in Suid-Afrika wou help tot stand bring: We have never aimed at a despotic system of government. Nor were any efforts ever directed to establishing a dictatorship of the proletariat in this country. We have never put forward socialism as our immediate solution. What we have said is that immediate dangers can be avoided by what we always refer to as a national democratic revolution, that is by bringing our state at this stage into line with the needs of today, by abolishing discrimination, extending political rights and then allowing our peoples to settle their own future. Teen 1974, toe hy 66 was, was Fischer ná agt jaar in die tronk so siek van kanker dat hy vir geruime tyd met krukke moes loop. Op Etienne en Christa-Marié Marais se Proud to be South African-webtuiste word soos volg oor Fischer se dood geskryf:
In 2002 het Suid-Afrika se Hoërhof, onder leiding van die Regterpresident, 'n aansoek toegestaan wat deur Fischer se dogters gebring is dat sy naam herstel moet word op die advokaatrol nadat dit in die sestigs geskrap is weens sy weerstand teen apartheid. Die toekenning van 'n eredoktorsgraad aan Fischer deur die Universiteit van Stellenbosch sal 'n natuurlike volgende stap wees. Verwoerd, Vorster en PW het almal in die ou bedeling eregrade van Stellenbosch gekry. Dit kan tog net 'n versoenende regstelling wees om in die nuwe bedeling ook 'n eregraad aan Fischer toe te ken. Prof Sampie Terreblanche se onlangse uitspraak in hierdie verband maak baie sin: "Ek het empatie met die universiteit wat ná sy dwalinge in die apartheidstydperk 'n ander ideologiese beeld met die verering van Bram Fischer wil uitdra."
Bronne, agtergrondmateriaal en dryfvere Boeke Koerantartikels Musiekalbums Webtuistes |
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |