|
|
Debat laat my swartgallig voel
Dis interessant om te sien hoeveel ou hande die laaste paar weke hul grondige kennis van die euwels van die Rooi Gevaar afgestof het. Ek kan sommer sien hoe lekker hulle kry om weer soos in die ou dae soos 'n vark in die modder van die Bedreigings van Internasionale Kommunisme rond te rol, maar dié keer met 'n stralekransie om die kop: dié keer doen hulle dit ter verdediging van 'n nuutgevonde steun vir 'n liberale demokrasie. Die wetenskaplike verhandelinge oor die Lewens- en Wêreldbeskouing van die Kommunis deur mense wat Bram Fischer se beoogde eregraad teenstaan, is heel oorbodig. Dis net in Noord-Korea waar daar nog sulke kommuniste is. Stellenbosch wil nie, so glo ek, die Stalinisme vereer nie. Die doodgewone feit is dat Marxisme vir 'n hele paar dekades voor die middel-1980's 'n aanloklike alternatief was vir progressiewe mense in Suid-Afrika (en die VSA, en Europa). In die teorie was dit 'n mooi ideaal van medemenslikheid, klasloosheid en geregtigheid. Dit was die teenpool van die rasgebaseerde onderdrukking hier en die ongenaaktheid van die kapitalisme internasionaal. Ek was persoonlik deur die ideale van Marxisme aangetrek en het inderdaad 'n tyd lank (in die vroeë 1980's) in Oos-Berlyn gaan bly om dit te ondersoek. My probleem was dat die teorie nie in die praktyk gewerk het soos dit moes nie: Marxistiese regimes was deur die bank ondemokraties, outoritêr en allergies vir kritiek. So het dit gekom dat ek toe nooit 'n kommunis geword het nie. Maar baie ander landgenote het hard geglo dit hoef nie so te wees nie; dat die stelsel wel die gewone mense sou dien as dit met integriteit toegepas sou word. Bram Fischer was een van die Suid-Afrikaners wat 'n diepe afkeer van Afrikanernasionalisme en sy manifestasies van apartheid en onderdrukking gehad het en hom tot Marxisme gewend het. Saam met hom in die SAKP was gerespekteerde hedendaagse Suid-Afrikaanse leiers wat regters in die Konstitusionele Hof of lede van die ANC se kabinet is. Kyk na hulle rekord die afgelope tien jaar en enige aanklag dat dié mense vasberade was om 'n bloedige klasserevolusie aan te stook en Suid-Afrika 'n provinsie van Rusland te maak verdwyn in die mis. Die SAKP was nooit jou standaard kommuniste nie, hoe sterk hulle ook al die vergrype van Moskou gekondoneer het. Onder hulle was daar altyd nasionaliste, Christene en selfs Moslems. Soos ek dit verstaan, gee 'n universiteit 'n eregraad aan mense oor wie hulle was as mense en wat hulle tot die gemeenskap bygedra het, eerder as aan watter party hulle behoort of wat hulle ideologie was. Ek het twaalf jaar gelede 'n eregraad van die Universiteit Kaapstad ontvang wat deur die destydse kanselier, Harry Oppenheimer, aan my oorhandig is. In my aanvaardingstoespraak het ek 'n skerp aanval gedoen op Oppenheimer, Anglo American, groot kapitaal en die wit Engelse establishment wat na my mening bloot simboliese teenstand teen apartheid gebied het terwyl hulle daaruit gebaat het. Bram Fischer was 'n buitengewoon talentvolle mens wat sekerlik in sy beroemde pa en oupa se voetspore sou gevolg het as hy binne die Afrikaner-laer gebly het - hy sou waarskynlik eerste minister geword het. Hy het besluit om sy gemaklike lewe op te offer vir die stryd teen wit oorheersing, wel wetende dat dit hom waarskynlik na die galg of 'n lewe in die tronk sou lei. Voor Beyers Naudé was Fischer die mees gerespekteerde wit Afrikaner onder die swart meerderheid in Suid-Afrika. Sy betrokkenheid by die SAKP en die gewapende stryd het meer bygedra as die pogings van enigiemand voor of selfs na hom om te voorkom dat die stryd teen apartheid in 'n stryd teen witmense ontaard. Nelson Mandela het self by verskeie geleenthede na Fischer as die grootste Afrikaner ooit verwys - en Mandela was sy hele lewe lank skerp krities jeens die Kommunisteparty. Hy het die méns raakgesien, en die méns se bydrae en commitment, eerder as sy amptelike ideologie. Mandela het Fischer goed geken en geweet dat wat ook al sy siening oor die ekonomie was, hy 'n demokraat was vir wie menswaardigheid en vryheid die belangrikste was. (Selfs oorlede Piet Cillié, oudredakteur van Die Burger, het 'n klompie jare gelede gloeiend oor Fischer geskryf en hulde aan hom gebring.) Eintlik moes die Vrystaatse Universiteit vir Fischer vereer het, want dit was sy alma mater en dit was die provinsie waar sy pa en oupa so 'n groot rol gespeel het. Maar die UV het vanjaar 'n ewe belangrike ding gedoen deur vir koning Moshoeshoe te vereer. Dit is goed so en baie belangrik, maar dit is ook so dat dit deels 'n poging van die universiteitsowerhede was om 'n gebaar te maak teenoor die swart meerderheid in die land en die provinsie. Daarmee vind ek niks verkeerd nie. So as die beskuldiging nou gemaak word dat Stellenbosch se beoogde verering van Bram Fischer 'n politieke gebaar is, sou ek ook sê: So what? Dit is sekerlik nie 'n rare verskynsel by die toekenning van eregrade deur gerespekteerde universiteite in Europa en Amerika nie. Maar wat, ek dink nie die debat het veel om die lyf nie. Ek dink die prominente beswaarmakers teen 'n eregraad vir Fischer gebruik dit as 'n stok om die rektor en bestuur van die Universiteit van Stellenbosch mee te slaan. Hulle is eintlik ontevrede met die universiteit se taalbeleid en politieke herposisionering. Ander briefskrywers en inbellers skel oor Fischer om hul ongelukkigheid met die politieke status quo te verwoord of weens 'n kneejerk reaksie wat gewortel is in hul sosialisering dat die kommunisme die anti-Chris was. (Een het dié week tydens 'n inbelprogram op RSG gesê ek het, nes Fischer, bloed aan my hande, want ons het die ANC aan bewind gebring en hulle probeer nou om die Afrikaner uit te wis. 'n Ander het gesê Fischer het die destydse stasiebom geplant …) Die debat laat my nogal swartgallig voel oor Afrikaners se wil en vermoë om regtig vrede met die verlede én die hede te maak.
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |