|
|
Die US se Fischer-eretoekenning: Glips of aspris?
Die debat rondom die US se postume eregraadtoekening in die regte aan wyle mnr Abraham Fischer begin nou gestalte kry. Argumente wat gebruik word, is bekend, en bekendes kies kant. Daar kan met redelike sekerheid vooraf geraai word aan watter kant die verskillende deelnemers sou staan. 1. Die "Ten Gunste"-kant Die lede van hierdie groep is lede van die SAKP of is naby die SAKP. Almal van hierdie groep steun die toekenning entoesiasties, want die positiewe publisiteit wat hulle vir hul saak vanuit die hartkamer van Afrikanerdom kry, is vir hulle soos manna uit die hemel. Die Brekers het hul eie agenda. Hul doel is om Stellenbosch te breek, om te dop en te omskep in 'n nuwe gedaante. Hulle wil wegkom van die verfoeilike behoudendheid wat Stellenbosch so demp, dompig, verkramp en agteraf maak. Hul grootste ambisie is om Stellenbosch los te ruk van alles waarvoor die US in die verlede gestaan het. Hul doelwit is om Stellenbosch van Afrikaans te red, nader aan markkragte te bring, meer modern en internasionaal aanvaarbaar te maak. Stellenbosch moet diensbaar wees vir die groter Suid-Afrika en daar moet derhalwe afstand geplaas word tussen die US en die Afrikaner-minderheid. Lede van hierdie groep fokus nie op die meriete van die toekenning nie. Hul steun vir die toekenning kom vanuit 'n heel ander hoek, omdat hulle alles en enigiets met oorgawe steun wat die "behoudendes" in die bek ruk. Hulle verlekker hulle daarin dat die US-Raad se Fischer-besluit so goed daarin geslaag het om baie oud-Maties te skok en te kneus. Hulle weet dat hulle self op 'n tyd verkramp was, maar jubel van blydskap omdat hulle nou "die lig gesien het". Hulle voel vroom omdat hulle daarin kon slaag om te verbeter, terwyl die armes van gees wat die toekenning afkeur, nog verdwaald in die verlede rondploeter. Hulle sien daarna uit dat die "behoudendes" tot bekering moet kom. Hulle vra dat die behoudendes moet bieg en sonder ophou om vergifnis moet pleit. Dit is diegene wat dit hul lewenstyl gemaak het om altyd onderdanig aan die heersers van die dag te wees. Omdat die regering van die dag die toekenning sal loof, dien dit vir die dienstiges as 'n rigtingwyser. Hulle is oortuig dat dit onnodiglik stroomop is om die wense van die owerheid teen te gaan want dit is ongeskik, ongevraag en onaangenaam. Hul vermoë om saam met die gety te dein en om ondergeskik en onderdanig te wees het hulle tot 'n fyn kuns ontwikkel. Hulle oordeel dat hulle nog altyd suksesvol was om dienstig te wees en dat dit nie nou die tyd is om van hierdie wenresep af te wyk nie. Die wegers argumenteer dat aangesien Stellenbosch in die verlede eredoktorsgrade aan mense gegee wat dit nie verdien het nie, dit reg en regverdig is om dit aan te hou doen en op daardie patroon voort te borduur. Om nou aan Fischer 'n eregraad te gee is verkeerd, maar dit bring ten minste ewewig, gesien hoeveel fossiele in die verlede vereer was. Hierdie toekenning is, wat hulle betref, in wese slegs 'n joernaalinskrywing wat alles uitbalanseer en daarom in orde is. Hulle is diegene wat objektief na die toekenning kyk, die feite tot hul beskikking in geheel beoordeel, en dan tot die slotsom kom dat hulle die toekenning aan Fischer, onderhewig aan sekere voorbehoude, steun.1 2. Die "Teen"-kant Daar is oud-Maties wat uit 'n ver regse groepering kom en wat enige verandering by die US sterk sal teenstaan. Die nuwe Suid-Afrika is nie vir hulle aanvaarbaar nie en hulle hunker terug na "die goeie ou dae". Omdat Fischer in die verre verlede nooit 'n eredoktorsgraad op Stellenbosch sou gekry het nie, is dit ook nou ewe taboe. Dis diegene wat dink dat Stellenbosch vir 'n idee staan en dat Stellenbosch as bakermat vir die Afrikaanse taal en die Afrikaanse gemeenskap moet dien en behoue moet bly;2 dat die US nie sonder moeite en stryd tot stand gekom het nie, en om die US in stand te hou steeds moeite sal verg, maar dat moeite nie ontsien moet word nie. Hulle glo dat die US bo "markkragte" verhewe is en groter as enige individu is, en dat die verskillende dele van die universiteitsgemeenskap mekaar nie aanstoot moet gee nie. Hulle oordeel dat niks gedoen moet word wat die vriende en alumni van die US onnodiglik vervreem nie, en verwag dat eredoktorsgrade met goeie oordeel binne die trefwydte van die US se riglyne toegeken moet word. 3. Die verloop van die debat 4. Die argumente van die "Ten Gunste"-kant Hulle wys heeltemal tereg op al Fischer se baie voortreflike eienskappe, soos byvoorbeeld sy groot moed; sy afkoms uit 'n prominente Afrikaner-familie; die feit dat hy 'n uitmuntende student en 'n Rhodes-beurswenner was; dat hy vir die Vrystaat rugby gespeel het; dat hy 'n begaafde advokaat was; hoe hy as wit Afrikaanssprekende Afrikaner nooit sy identiteit ontken het nie, teen apartheid gekant was en vir sy stryd teen apartheid lewenslank tronk toe gestuur is; hoe hy oudpresident Nelson Mandela verdedig het en dat dit "algemeen aanvaar" word dat hy Mandela van die galg gered het;6 ook dat hy 'n menseregte-advokaat was lank voordat hierdie konsep bestaan het.7 Dit word deur Malan aanbeveel dat Fischer se bydrae ("erflating") vereer moet word omdat dit so groot was dat hy verdien om vereer te word; dat uit sy ryk erflating die belangrikste sy ryk en inklusiewe begrip van identiteit is; dat hy bereid was om vreesloos aan 'n groter Suid-Afrika deel te neem en om alles prys te gegee om 'n toekoms moontlik te maak wat hy self nooit beleef het nie; dat dit die plig van die jonger generasie is, die bevoordeeldes van sy erflating, om Fischer te eien - as 'n simbool van ryk begrip van identiteit, van integriteit en morele moed, van wat (Suid-) Afrikaners kan en behoort te wees;8 ook omdat hy 'n briljante loopbaan opgeoffer het om apartheid teen te staan.9 Malan praat van 'n "erflating" wat ons van Fischer ontvang het. Van haar tierlantyntjies gestroop wil sy hom eer omdat hy teen rassediskriminasie gekant was en dus teen apartheid was. Sy konsentreer op sy ligkant. 5. Halwe relaas 6. Kern van die dispuut Die voorstanders van die eretoekenning wil keer dat die volle relaas van Fischer se lewe en werk onder die loep kom, omdat dit vir hulle groot ongemak bring. Hulle besef dat as die volle relaas ter sprake kom, Fischer as leier van die SAKP beoordeel moet word, en dit wil hulle ten alle koste vermy. Hulle probeer so hard as hulle kan keer dat die volle relaas ter tafel gelê word. Slaag hulle nie daarin om die volle relaas te onderdruk nie, poog hulle om die nadeel te temper.10 Maar voordat na die volle relaas gekyk word en wat dit vir Suid-Afrika sou ingehou het as Fischer sy plan tot uitvoering gebring het (wat hier onder gedoen word), is dit nodig om eers sekere wanvoorstellings reg te stel. 7. Opvyseling en wanvoorstelling Spesiale aandag moet dus gegee word aan Malan se stellings, want sy was immers die voorsteller en die motiveerder van die kandidaat by die US-Senaat en die US-Raad. Haar doel was om die besluitnemers se ondersteuning te kry en sy het seker geweet dat hulle haar stellings te goeder trou sou aanvaar. Het sy vir die Raad en Senaat voorgehou wat sy in Die Burger aangebied het? In Die Burger maak sy enkele growwe wanvoorstellings. Fischer was byvoorbeeld nié verkies tot president van die Johannesburgse Balieraad vir 'n rekord aantal kere nie. Hy het slegs vir een jaar (1961) as voorsitter gedien.11 Fischer het hom nié by die SAKP aangesluit omdat dit een van die min nierassige groepe was nie. Hy was sedert 1931 alreeds 'n oortuigde kommunis en dit het niks te doen gehad met sy toegang of gebrek aan toegang tot lidmaatskap van nierassige groepe nie. Hy was toe in Oxford. Malan skryf hoe onkreukbaar sy integriteit was en gebruik as voorbeeld hoe Fischer die hof verseker het dat hy sy borgvoorwaardes sou nakom en dit toe nougeset nagekom het. Die teendeel was waar. Fischer het sy borgvoorwaardes en ere-onderneming12 verbreek en gevlug voordat hy gevonnis kon word. Malan skryf hoe Fischer in die tronk pynlike kanker opgedoen het en die owerheid toe mediese behandeling van hom weerhou het.13 Feit is dat Fischer gedurende Mei 1974 in 'n hospitaal opgeneem is vir 'n maagsweer. In Julie daardie jaar is sy prostaat, wat kankeragtig was, verwyder. Hy is mettertyd ontslaan en is daarna weer hospitaal toe geneem. Daar was wel klagtes oor die behandeling wat Fischer gekry het, maar dr Tim Wilson het later 'n volledige ondersoek daaromtrent gedoen en bevind dat daar geen verwytbare optrede was nie. Dat daar "algemeen aanvaar" word dat dit deur Fischer se toedoen is dat Mandela en ander medebeskuldigdes nie die doodstraf gekry het nie, is hoogs aanvegbaar. 8. Die effek van die wanvoorstellings 9. Die proses van besluitneming Het iemand byvoorbeeld aan die lede van die Raad en Senaat genoem dat Fischer aangekla was vir dade van sabotasie wat ontploffings veroorsaak het, wat staatseiendom en geboue beskadig het en woonplekke aan die brand gesteek het en dat Fischer daaraan skuldig bevind is? Was dit onder hul aandag gebring dat die staat beweer het, en die hof ook so bo redelike twyfel bevind het, dat Fischer dade gepleeg het wat bereken was om die oogmerke van die kommunisme te bevorder wat onder meer die instelling in die Republiek van 'n despotiese regeringstelsel ingesluit het? Is die feit openbaar dat die hof bo redelike twyfel bevind het dat die despotiese regeringstelsel wat Fischer met geweld wou afdwing, gebaseer sou wees op die diktatorskap van die proletariaat waaronder slegs een politieke organisasie erken en alle ander politieke organisasies onderdruk of uitgeskakel sou word? Was lede ingelig dat Fischer geweier het om getuienis af te lê, omdat hy bang was om onder eed te getuig en die risiko wat kruisondervraging vir hom sou inhou, wou vermy? Dat hy slegs vanuit die bank, waar hy immuun was teen vrae, 'n verklaring gemaak het en gesê het: "As its immediate and foremost task, the South African Communist Party works for a united front of national liberation. It strives to unite all sections and classes of oppressed and democratic people for a national democratic revolution to destroy white domination. The revolution will restore the land and wealth of the country to the people and guarantee democracy, freedom and equality of rights and opportunities to all", maar dat regter WG Boshoff bo redelike twyfel bevind het dat Fischer inderdaad nie 'n demokratiese revolusie beplan het nie, maar dat hy persoonlik betrokke was by dade gemik op die stig van 'n gewelddadige revolusie in die Republiek? Niemand betwis die korrektheid van hierdie feitebevindings deur die hof nie en Fischer het geen appèl aangeteken nie. Hoe kan enigeen die ongetoetste getuienis van 'n beskuldigde aanvaar waar die hof sy stellings verwerp het en die staat sy saak bo enige redelike twyfel bewys het? Dit moet ook in ag geneem word dat die regter oor 'n tydperk van twee maande talle getuies se relaas gehoor het. Het die Raad en die Senaat hulle afgevra of dit raadsaam sou gewees het om in Suid-Afrika 'n despotiese stelsel te gehad het? Of 'n eenpartystaat gewens was? Of die vryemark verbied moes word? Of Stalinisme, wat Fischer so bewonder het, bevorder moes gewees het? Of 'n gewelddadige revolusie in 1960 beter sou gewees het as 'n geweldlose oordrag van mag in 1994? Of die nalatenskap van apartheid nie straks beter is as die nalatenskap van Stalinisme nie? Indien daar wel 'n debat was en die korrekte feite aangebied was en die volle relaas openbaar was, hoe kon daar beslis gewees het dat Fischer 'n rolmodel vir Stellenbosch is? Hoe op aarde is besluit dat Stellenbosch die bydrae van Fischer moet vereer omdat dit ingevolge die eredoktorsgraad-riglyne "met die Universiteit se strewes en strategiese doelstellings versoenbaar is"? Die enigste redelike afleiding is dat die US se Raad en Senaat óf mislei is, óf nie al die relevante feite voor hulle gehad het toe hulle die beslissing gemaak het nie. Indien hulle wel volledig en korrek ingelig was en nogtans besluit het om die eredokorsgraad toe te ken, is daar 'n groot skroef los op Stellenbosch. Die oordeel van die US om die toekenning te maak kan ook om 'n ander rede bevraagteken word. Die riglyne stel dit pertinent dat "postume toekennings slegs in hoogs uitsonderlike gevalle gemaak word en dat 'n eregraad normaalweg slegs toegeken word op grond van prestasies of bydraes wat nog steeds van aktuele belang is". Aangesien Stellenbosch nog nooit vantevore 'n postume toekenning gemaak het nie, wat maak hierdie geval so uitsonderlik? Waarom is dit wat Fischer in 1960 gedoen het, nou in 2004 van aktuele belang? Die Raad en Senaat het al by twee vorige kere, toe Fischer as kandidaat deur Malan vir so 'n toekenning voorgestel is, dit afgekeur. Wat het verander? 10. Die taktiek van vermy en temper Feit is dat Fischer 'n politikus was. Die eis wat die US se riglyne15 stel, is dat Fischer se "uitnemende" werk bekroon moet word. Fischer was die leier van die SA Kommunistiese Party wat in 1953 as 'n ondergrondse party herstig is. Hy het bekendheid verwerf toe hy aangekla is, gevlug het en in 1966 lewenslange tronkstraf opgelê is weens sabotasie, vervalsing en oortredings van bepalings die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme. Fischer se naam en gestalte is onlosmaaklik gekoppel aan sy politieke dade en aan sy ideologie en sy ywer om kommunisme te bevorder. Hoe kan mens hierdie spil waarom Fischer se lewe gedraai het, wegvee en ignoreer met die stelling dat 'n universiteit hom nie vereenselwig met die spesifieke ideologie van 'n mens vir wie hy 'n eregraad gee nie? Sommige voorstanders van die toekenning weet dat die volle relaas nie vermy kan word nie en probeer die skade temper. Verskonings van alle soorte en aard word aangebied. Een daarvan is dat Fischer 'n kommunis geword het omdat apartheid hom nie die geleentheid gebied het om vrylik met ander rassegroepe te assosieer nie. Volgens Stephen Clingman, wat die biografie Bram Fischer: Afrikaner Revolutionary geskryf het, kan dit nie met sekerheid vasgestel word wanneer Fischer 'n kommunis geword het nie. Daar word gegis dat dit kon gebeur het toe hy gedurende 1931 op Oxford student was, of toe hy vroeg in 1932 deur Rusland getoer het en 'n aanhanger van Stalin geword het. Hy was sonder twyfel 'n lid van die SAKP voor 1942. Fischer was dus al 'n kommunis lank voor apartheid in 1948 begin posvat het. Die ondersteuners van die eregraad moet ook die negatiewe beeld van kommunisme probeer temper. Die kritiek wat uitgespreek word oor kommunisme en Stalinisme word afgemaak as belaglike bangmaakstories oor 'n kamstige "rooi gevaar". Was kommunisme 'n babatjie wat mens sonder handskoene kon aanpak? Was kommunisme mak en skadeloos? Annie Gagiano is 'n eksponent van die temperbrigade. Sy verwerp blykbaar alle getuienis wat daarop dui dat die kommunistiese stelsel iets gruwelik en boos was. Sy val diegene aan wat krities na Fischer se kommunistiese verbintenis verwys en skryf: "In die loop van sy lang verklaring16 aan die hof (in Engels) het Fischer verwys na die 'unthinking and irrational hatred' (Malan-transkripsie, p 7) wat die blote woord 'kommunisme' in sy tyd opgeroep het.17 Dit is nou amper veertig jaar later, maar die rooi gevaar18 is blykbaar nog net so vreesaanjaend vir sommige as wat dit destyds was."19 Annie Gagiano se naïewe geloof in die passiewe aard van kommunisme blyk ook wanneer sy skryf: "Diegene wat die moeite wil doen om wel iets van Fischer self te lees, sou bv vind dat hy homself en sy party uitdruklik distansieer van enige plan om 'n sosialistiese rewolusie in Suid-Afrika teweeg te bring (Malan-transkripsie, p 15) en ook geweldstrategieë uitdruklik verwerp (Malan-transkripsie, p 22).20 Wat Fischer gesê het en wat hy beplan het was twee verskillende dinge. Alles wat Annie Gagiano hier bo as gesag aanhaal, is bo redelike twyfel deur die hof verwerp en as onwaar bevind. Dit moet weer eens benadruk word dat Fischer nie bereid was om sy stellings, hier bo aangehaal, onder eed of in die getuiebank te stel nie, omdat hy bang was vir kruisverhoor. Hy wou immuun bly teen vrae wat aan hom gestel sou word. Die boosheid van kommunisme, wat Annie Gagiano so gretiglik wil temper, word in die gesaghebbende werk Le livre noir du Communisme, wat ook in Engels vertaal is, in besonderhede behandel. Daar word gemeld dat die kommuniste na raming 100 miljoen mense gedurende die 1914-1990-tydperk doodgemaak het: in Sjina 65 miljoen, Sowjetunie 20 miljoen, Viëtnam een miljoen, Noord-Korea twee miljoen, Kambodja twee miljoen, Oos-Europa een miljoen, Latyns-Amerika 150 duisend; Afrika 1,7 miljoen; Afganistan 1,5 miljoen. Die kommuniste het vir die kleinste misdade omtrent een miljoen mense Siberië toe gestuur. Miljoene Tartare, Tsjetsjenners, Kambodjane en Tibettane is volskaals gedeporteer. Menseregte is oral vertrap, privaat eiendomsreg is geskend en banke, grond, besighede en alle produksiemiddele is genasionaliseer en verarming en hongersnood het ingetree. Kerke is verwoes en godsdiens is ondermyn. Brutale diktators is aan bewind gestel. Die vergrype van die kommunisme verdwerg die euwels van Nazisme en Fascisme en dit is te betwyfel of daar ooit weer 'n meer mensvernederende en ekologies verwoestende dogma tot stand sal kan kom. Dit moet ook onthou word dat toe Fischer leier van die Kommunistiese Party was, dit in die weegskaal was of Kommunisme miskien wel kapitalisme wêreldwyd sou vervang. Kommunisme het wortel geskiet deur bloedige revolusies en die plaasvind van so 'n revolusie, wat deur Fischer beplan was, was in Suid-Afrika nie uitgesluit nie en selfs 'n sterk moontlikheid. Later, na die val van die Berlynse muur, het die gevaar van kommunisme verdwyn en het die kommuniste beleid en strategie aangepas en mak geword.21 Die US-gemeenskap, wat behoudend is en oor die algemeen ook godsdienstig is, het strykdeur die vryemarkstelsel aangehang en konstant kommunisme verwerp. In direkte kontras daarmee word Fischer, wat nooit 'n student op Stellenbosch was nie, wat die vrye mark verwerp het, en wat 'n uitgesproke ateïs was, vereer. Nie net word hy as 'n rolmodel verhef nie, maar hy word ook aan ons opgedis as 'n persoon wie se dade "met die Universiteit se strewes en strategiese doelstellings versoenbaar is". Dit terwyl dit moeilik is om aan 'n enkele US-strewe of -doelstelling te dink waarmee Fischer se dade, waarvoor hy in die tronk was, versoenbaar is. 11. Die Brand-argumente Nietemin, indien Brand die riglyne vir die toekenning van eredoktorsgrade versigtig lees (iets wat hy miskien tot nog toe nie volledig ter insae gehad het nie) sal hy merk dat dit toegeken word om uitnemendheid te eer op 'n verskeidenheid van terreine en om daarmee rolmodelle te identifiseer. Wat van Fischer was uitnemend? Natuurlik sy politieke ideologie en sy vasberade ywer om kommunisme te vestig. Brand pleit deur te sê: "Kom ons vergeet 'n oomblik van Fischer se steun aan die Sowjet Unie en gee meer aandag aan sy sosialisme. Kom ons neem hul idealisme oor. Immers, Fischer en Naudé was nie dienaars van die status quo nie, maar kritiese denkers, protesteerders, dissidente." Alles goed en wel, maar mag ons by die toekenning van 'n eregraad gerieflikheidshalwe vergeet van wat Fischer se grootste lewensideaal was? Fischer was nie net teen apartheid nie, hy was onlosmaaklik verbind tot 'n groter ideaal wat hy gekoester het en dit is iets wat ons nie durf vergeet of endosseer nie. Watter ander universiteit buite Suid-Afrika sal vandag nog 'n leier van 'n kommunistiese party vereer - en dit nogal postuum? Beelde van kommuniste word op ander plekke afgebreek, nie opgerig nie! Brand gee ook te veel lof vir Fischer se bydrae tot die regsberoep. Brand skryf: "(B)ehalwe dit alles was Fischer 'n advokaat wat 'n onmeetlike bydrae tot die regsberoep in Suid-Afrika gelewer het, sy professie en die etiese eise wat daarby hoort met groot erns bejeën het en die reg - of dit wat nog daarvan oor was - baie doeltreffend gebruik het om onreg te beveg." Dit is te betwyfel of Fischer destyds, toe hy as advokaat gepraktiseer het, enige bydrae tot die regsberoep gelewer het. Hy het hom ook meer op die siviele as kriminele reg toegespits. Wat het hy, suiwer as regsgeleerde, gedoen wat so "onmeetlik" was? Toegegee, hy moes knap gewees het, anders kon hy nie 'n sy geword het nie. Dit is onwaar dat hy altyd eties opgetree het, want toe hy getoets was, het hy sy borgvoorwaardes en onderneming aan die hof verbreek. In watter opsig het hy die reg meer doeltreffend gebruik as ander advokate om onreg te beveg? Hierdie is ongelukkig algemeenhede waarmee die opvyselaars van Fischer vir Brand meevoer en hom op sleeptou neem. Die US ken die eredoktorsgraad aan Fischer toe in die naam van die US se regsfakulteit. Dit is op sy beste 'n ironiese gebaar, omdat die skade wat kommunisme, waar dit ook al wêreldwyd toegepas was, aan die regstelsels en regspraak van ander lande berokken het, enorm was. Die rede was dat eiendomsreg verdwyn het en die vrye mark verban was. Dit het daartoe gelei dat byvoorbeeld kontraktereg en handelsreg nie langer nodig was nie. Die kommuniste het die privaatreg grootliks vervang met publieke reg. Staatsamptenare, getroue lede van die kommunistiese party, het algeheel vir die regspraak verantwoordelik geword. Siviele howe soos ons dit ken, het ophou bestaan en regspraktisyns se getalle en status het drasties verminder. Om alles nou ná die val van kommunisme weer reg te stel in die Oosbloklande en in Rusland is 'n moeilike, duur en tydsame taak. Dit is paradoksaal dat Fischer nou sy eredoktorsgraad in die regte gaan ontvang, terwyl die US se Regsfakulteit, as Fischer sy sin gekry het, vandag straks nie meer sou bestaan het nie. Indien die US sy toekenning enigsins baseer op Fischer se bydrae tot die regsberoep, is dit 'n grootse mistasting. As Fischer nou eenmaal sy eregraad postuum moet kry, kan ons nie Stellenbosch se Regsfakulteit, wat so 'n goeie reputasie het, die verleentheid spaar nie? Kan die Departement van Filosofie of die Departement van Politieke Wetenskap nie liewer gebruik word nie? Dit skep immers minder verleentheid en sal die grapjasse minder plesier gee. Brand argumenteer ook ter versagting vir Fischer deur te skryf: "In 'n groot mate is Fischer se fout met betrekking tot Sowjet-kommunisme geïnspireer deur uiters edele motiewe wat ons met reg bewonder." Indien edele motiewe die maatstaf is vir eredoktorsgrade, dan kan daar heelwat kandidate uit die apartheidsdae postuum vereer word. Edele motiewe is nie die toets nie. Brand stel tereg die vraag: "Ek wonder wel hoekom mense wat nie juis die behoud van Afrikaans aan die US as belangrik beskou nie dit so belangrik vind dat die US juis Afrikanerhelde soos Fischer moet vereer - 'n taamlike inkonsistensie, lyk dit my." Brand is te diplomaties om self op sy vraag te antwoord. Brand weet dat die Brekers alles verfoei waarvoor Stellenbosch nog altyd gestaan het. Hulle wil die ou Stellenbosch begrawe en suiwer. Hulle sien die Fischer-toekenning as een van die spykers in die doodskis en 'n oorwinning op die pad wat hulle met die US wil loop. 12. Onbedagsaam 13. Konvokasie-mosie Indien die Konvokasie die mosie sou aanvaar, sou dit 'n kragtige sein aan die Raad wees om weer te besin. Doen die Raad dit nie, en minag die Raad die Konvokasie se besluit, sal die Raad met sy optrede ongekende spanning bring, omdat die besluit dan duidelik nie in harmonie met die wense van die universiteitsgemeenskap sal wees nie. Die soeke na 'n oplossing en die stel van 'n mosie by die Konvokasievergadering is die korrekte prosedure om te volg en die dwarsklap wat Annie Gagiano uitdeel deur (met verwysing na die mosie) te skryf: "Met sulke ou bokke se geblêr oor Afrikanerdom kan 'n mens vrede hê, maar die aanmatiging van 'n 'reg' om vir die Universiteit van Stellenbosch voor te skryf aan wie hulle eredoktorsgrade 'mag' toeken, is 'n ander saak", dui op haar diepe onkunde. Die voorsteller en sekondante matig hulle niks aan nie, maar vra die Konvokasie om 'n gepaste versoek te rig. Die Konvokasie sal op 11 November 2004 'n belangrike en rigtingbepalende besluit vir die US neem wanneer oor die mosie gestem word.22 Notas: 1Sien Gerrit Brand se billike ontleding, asook sy argumente in sy SêNet-brief. 2Met "die Afrikaanse gemeenskap" word bedoel almal wat Afrikaans praat en Afrikaans wil bevorder sonder enige etniese of rassekonnotasies. 3Yvonne Malan is by uitstek skuldig hieraan en daar word later na haar wanvoorstellings in meer besonderhede verwys. Malan was die persoon wat voorgestel het dat Fischer die eredoktorsgraad kry. Haar motivering is belangrik, want dit wat sy aan die US se Raad en die US se Senaat voorgehou het, moes by hulle baie gewig gedra het. 4Niels Momberg verwys na Hermann Giliomee as 'n suurgat wat deesdae 'n apartheidapologeet is. Niels Momberg kan sê wat hy wil, maar ons wat almal saam op Stellenbosch was, weet van beter. Niels se vader, Jan Momberg, wat ook tot die debat toegetree het, was destyds regs en het apartheid met 'n passie ondersteun. Terwyl die Mombergs so voluit NP was, het Giliomee destyds alreeds teen apartheid geskryf en gedebatteer. Later het Jan Momberg in PW se tyd saam met van ons verlig geword, maar toe het hy by ons verbygeseil ANC toe - tot woerts in Athene. 5Dis nou slegsê op sy lekkerste en beste! Waldo Muller steek ook nie sleg af nie; hy skryf: "Verkrampte Leopold Scholtz van Die Burger en ander gegriefdes kan kef soveel as wat hulle wil, maar hulle insette sal bly wat dit is - die oemflose blafgeluidjies van chihuahuas." 6Dit is so dat Fischer, wat eintlik 'n siviele advokaat was, in die Hoogverraad- en die Rivonia-strafsake vir die beskuldigdes opgetree het. In die Hoogverraadsaak het Fischer saam met Maisels (die leier van die span), Kentridge, Nicholas en ander opgetree en al die beskuldigdes is onskuldig bevind. Daarna het die Rivonia-saak gevolg en Fischer, Bizos, Berrange, Joffe en Chaskalson het vir die beskuldigdes opgetree. Die saak het op 9 Oktober 1963 begin. Mandela het om taktiese redes nie onder eed getuig nie, maar op 20 April 1964 sy bekende betoog "I am prepared to die" vanuit die beskuldigde-bank gelewer. Daarna het Walter Sisulu getuig en gedurende sy getuienis het regter De Wet teenoor die aanklaer, Percy Yutar, sekere opmerkings gemaak wat Fischer toe sterk laat glo het dat die doodsvonnis nie uitgespreek sal word nie. Trouens, Fischer het reeds vanaf die begin van die verhoor gedink dat die doodstraf nie uitgespreek sal word nie omdat die veiligheidsraad van die VV gedurende Oktober 1963, kort na die Rivonia-verhoor 'n aanvang geneem het, versoek het dat die beskuldigdes losgelaat moet word. Fischer het vir Bizos gesê dat niemand in die lig van so 'n versoek enige van die beskuldigdes durf hang nie. Na die beskuldigdes se saak gesluit was, het Chaskelson die betoog gelewer betreffende die sabotasie-aanklagte en Fischer het betoog dat uMkhonto en die ANC verskillende organisasies was. Mandela is op 11 Junie 1964 skuldig bevind op aanklag van onder andere sabotasie. Ter strafversagting het Alan Paton getuienis gelewer en die doodstraf is nie uitgespreek nie. Dit is nie duidelik waarom daar beweer word dat Mandela die doodstraf sou gekry het as Fischer nie daar was nie. Wie was die mense wat "algemeen aanvaar" het dat Fischer se optrede Mandela se lewe gered het? 7Waarop hierdie stelling berus is nie duidelik nie. 8Sien Malan se artikel wat in Die Burger van 8 Oktober verskyn het. 9Sien Max du Preez se brief in Die Burger van 27 Oktober 2004. 10Gerrit Brand is nie skuldig aan hierdie taktiek nie. Hy oordeel en beoordeel so objektief as hy kan. Daar is egter addisionele feite en argumente wat hy nog nie bygewerk en behandel het nie (miskien omdat hy nie bewus daarvan was nie). Indien die addisionele feite ook in sy weegskaal geplaas word, sal hy hopelik van standpunt verander. 11Sy fabriseer hierdie "feit" om aan te toon hoe hoog hy aangeslaan was deur sy kollegas by die balie. 12Die gebruik in ons howe is dat as 'n advokaat, en veral 'n senior advokaat soos wat Fischer was, 'n onderneming aan die hof gee, die regter sy onderneming moet aanvaar as genoegsame waarborg dat die onderneming gestand gedoen sal word. Indien die advokaat sy belofte verbreek, is dit onetiese gedrag aan sy kant en kan hy van die rol geskrap word. Die nienakoming van sy belofte wat hy aan die hof gegee het, is dus meer as net 'n verbreking van 'n gewone onderneming. Dit sê min van die integriteit van 'n advokaat wat so iets doen. Billikheidshalwe moet bygevoeg word dat Fischer geglo het hy is daarop geregtig om sy belofte te breek en te vlug ter wille van 'n hoër strewe en hoër roeping, naamlik die volbringing van sy lewensideaal. 13Malan probeer by die leser maksimum simpatie wek vir die swaarkry wat Fischer moes verduur. Ongelukkig met 'n onwaarheid. 14Johan Rossouw skryf hieroor soos volg wat die motivering betref: Fischer is vir die graad genomineer deur Yvonne Malan, doktorale student in die Wysbegeerte aan die Universiteit van Stellenbosch. Die motivering wat Malan vir die toekenning geskryf het, is 'n dokument van 1 471 woorde (sowat 4 bladsye), waarvan alles behalwe die laaste paragraaf van 94 woorde hoofsaaklik 'n oorsig en vertolking van Fischer se lewe is, en wat wesenlik nie veel verskil van die artikel oor Fischer wat Malan op Vrydag 24 September 2004 in Die Burger gepubliseer het nie. 15Riglyne vir die toekenning van Eregrade, op 23/06/2003 op die US-Raad goedgekeur: 1.1 Die US ken eregrade toe om uitnemendheid op 'n verskeidenheid van terreine te vereer en wil daarmee sodanige persone as rolmodelle vir die universiteitsgemeenskap identifiseer. 16Fischer het sy verklaring vanuit sy bank afgelê. Dit beteken dat hy nie vrae hoef te beantwoord het nie. Hy het dus geweier om in die getuiebank te getuig omdat hy geweet het dat hy dan onder kruisverhoor sou kom. Indien beskuldigdes nie getuig nie maar slegs 'n verklaring aflê, dra dit bitter min gewig by die hof, want wat gesê word, is ongetoets. Indien Fischer in die getuiebank gaan staan het en stellings kwytgeraak het soos hy in sy bank gedoen het, sou hy met kruisverhoor vermorsel gewees het 17Dink net wat 'n advokaat wat Fischer kon kruisverhoor met Fischer se stelling dat daar unthinking and irrational hatred"vir die blote woord "kommunisme"was, sou gedoen het. Die haat vir kommunisme was rasioneel en gefundeerd op oorweldigende getuienis van die verskriklike vergrype van die kommuniste. Was Annie Gagiano nog nie in die Oos-Blok of in Rusland om met die mense daar te gesels nie? Indien nie, skuld sy haarself so 'n verpligting. 18Was die rooi gevaar 'n versinsel? Speel Annie Gagiano die euwels van kommunisme af bloot om Fischer te beskerm of glo sy werklik dat kommunisme 'n voortreflike ideologie was en onskadelik was? 19Die kommunisme is nie langer vreesaanjaend nie omdat die stelsel gediskrediteer is, jammerlik gefaal het en behalwe vir Kuba nie meer as regeringsvorm bestaan nie. Die toets is egter nie wat die status van kommunisme vandag is nie, maar wat die status van kommunisme in Fischer se tyd was en wat met ons sou gebeur het as hy die uitvoerende mag in Suid-Afrika met geweld sou gegryp het. Smalend soos Annie Gagiano vandag oor die "rooi gevaar" mag skryf, kan sy gerus gaan uitvind wat dit beteken het om in 'n kommunistiese land te geleef het. Makliker nog, daar is honderde boeke en duisende artikels wat sy daaroor kan lees. 20Fischer was nie bereid om hierdie stelling in die getuiebank te maak nie. Weet Annie Gagiano van enige vatplek wat kommunisme in enige land ter wêreld gekry het sonder 'n revolusie en sonder geweld? Waarom sou dit in Suid-Afrika anders gewees het? Sover ek my kan herinner, het die hof op die getuienis wat voor hom afgelê was, bevind dat Fischer juis 'n revolusie beoog het en juis geweld beplan het. Buitendien het die hof bo redelike twyfel bevind dat Fischer 'n gewelddadige revolusie beplan het. 21Dit word gesê dat die enigste rooi wat die SAKP-leier Joe Slovo ten tye van sy afsterwe gehad het, sy sokkies was. 22MOSIE: Die Konvokasie van die Universiteit van Stellenbosch - 1. Onderskryf die riglyne vir die toekenning van Eregrade wat deur die US-Raad op 23 Junie 2003 goedgekeur is en vir maklike verwysing hierby aangeheg word as bylae "A". 2. Steun ook die beginsel dat die toekenning van eregrade aan die US in die nuwe inklusiewe demokrasie veel wyer moet gaan as voorheen toe die klem sterk was op figure wat Afrikaner-nasionalisme en die Afrikaanse kulturele lewe bevorder het. Sodanige inklusiewe benadering behels egter nie sonder meer dat alle waardes ewe veel gewig dra by die toekenning van eregrade nie. Stellenbosch staan steeds vir bepaalde idees en kandidate vir eregraadtoekennings "se bekroonde bydraes moet met die Universiteit se strewes en strategiese doelstellings versoenbaar wees". 3. Neem derhalwe met afkeur daarvan kennis dat die US-Raad besluit het om postuum 'n eredoktorsgraad aan Wyle Mnr Abraham Fischer toe te ken omdat so 'n toekenning nie rym met die riglyne wat die US-Raad self neergelê het vir dergelike toekennings nie en omdat - a. Fischer, wat die leier van die SA Kommuniste Party was, 'n ideologie en staatsbeskouing aangehang het wat nie met die US se strewes en strategiese doelstellings versoenbaar is nie en in elk geval tans van geen aktuele belang is nie;
4. Versoek die US-Raad om sy besluit om 'n eredoktorsgraad aan Fischer postuum toe te ken in hersiening te neem.
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |