Ekstra-ordinêrArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Op die highway van die lewe

Riana Wiechers

"Man, my pa speel ook kitaar. Hy speel 'Pale toe' en hy speel dit al vir die afgelope sewentig jaar. En daar het hy opgehou. Maar dalk was dit die begin van ons gewees." Wynand, van Wynand en Francois - The Last Cowboy Song.

Ek was goed op pad om, soos afgespreek, nege-uur die oggend op te daag vir my afspraak met Wynand en Francois Kershoff, ook bekend as Wynand en Francois - The Last Cowboy Song. Maar net duskant die Yzerfonteinafdraai het 'n pap wiel my plan in die wiele gery. "Ek ry nou en sal oor so halfuur daar by jou wees," sê Wynand toe hy van my teëspoed hoor. "Ek ry 'n wit bakkie. Dit sê Ferroland so op die sykant."

Wynand en Francois

En daar, op die skouer van die Weskuspad, ontmoet ek en Wynand Kershoff - beesboer, gesinsman en helfte van 'n pa-en-seun-countrymusiek-duo - mekaar.

"Jy moet die bolts losdraai voor jy hom opjack," verduidelik Wynand terwyl hy my verslete band omruil. Ek voel soos 'n simpel stadsjapie, probeer verskoning maak vir my onverantwoordelikhed, maar Wynand het geen oordeel nie. "Ek weet, mens vergeet hulle is daar. My vrou het ook nou die dag 'n band gebars. Sy't hom sommer self omgeruil."

Na 'n vinnige inspeksie van my ander bande val ek en Wynand, in konvooi, weer in die mooie vroegoggendpad. Witborskraaie draai langsaam in die wit en pienk lug, dun slierte mis lê nog laag aan die seekant, en Weskusbossiegeure meng met dié van vis en seewier.

Net duskant die Langebaanafdraai draai ons regs. Op die plaaspaadjie hou Wynand se bakkie skielik stil. Links van ons staan 'n ou murasie. Op die horison merk ek rook by die Saldanha-staalaanleg se skoorstene uitborrel.

"Dis nie rook nie, dis stoom," sê Wynand. "Die Iskoraanleg op Saldanha is een van die modernstes ter wêreld. Dis alles stoom wat jy daar sien. Maar kom ek wys jou gou wat ek met hierdie murasie wil doen."

Ek volg Wynand die bouval binne en hy beduie waar die verhoog, die kombuis en die gehoor in die musiekteater van sy drome sal wees. "Hierdie plekkie moet so wees dat Anton Goosen en daai ouens hier sal wil kom optree. Maar dis groot drome. Baie geld. Ek sal met my base moet praat, want hulle sal die grootste deel van die kapitaal moet voorsien." Wynand verduidelik dat hy die plase rondom die Saldanha-staalaanleg vir Iskor bestuur. "Iskor koop mos al die grond rondom hulle aanlegte op."

Hy streel oor die hobbelrige klipmuur. "Dit sal 'n duur storie wees. Maar met die teerpad van die Kaap kom heelwat mense vir naweke Langebaan toe. Hy staan 'n paar treë terug. "Jy weet, toe ek agt jaar gelede hier begin boer het, het ek al die murasies laat platstoot vir veiligheid. Om een of ander rede het ek hierdie een laat bly staan. Laat mens dink. Partykeer gebeur goed vir 'n rede."

Ons kom op die plaaswerf aan, waar een van twee keffende foksies gereed vir 'n maagkrappie aan my voete gaan lê. "Nee, ek weet nie wat haar naam is nie," sê Wynand. "Tipsie of Topsie. Jy moet maar vir Carla vra, dis haar kinders."

Voor die hek staan 'n wit Venter-sleepwaentjie met die woorde "Wynand en Francois - The Last Cowboy Song" in groot rooi letters opgeplak. Ek wonder hardop waar die naam vandaan kom.

"Dit was net vir my 'n mooi liedjie van ou Willie Nelson," verduidelik Wynand. Hy grynslag. "Of Wheely Nelson, soos hulle mos sê. Ek was gaande oor die liedjie en wou dit die heeltyd oefen. Toe sê oom Tienie, ons afrigter, nou maar hy dink dit moet ons naam wees. Hy het vir my baie geleer, oom Tienie. Ek vra hom raad soos: "Sê nou maar iemand kom na my toe en sê 'Speel Rooi Rok Bokkie' en ek weet nie hoe nie?" Oom Tienie het my geleer om dan iets te sê soos: "Nou maar goed ou maat, maar jy sal in die ry moet gaan staan - en die ry is donners lank."

CarlaIn die warm plaaskombuis ontmoet ek Wynand se gesin. "Verskoon maar hoe dit lyk," groet Carin, Wynand se vrou en regterhand met boerdery-administrasie. Ek probeer my heimwee-aanval vinnig wegsluk - die groot tafel en reuk van koffie laat my keel toetrek met herinneringe aan plaasvakansies en oggende rondom my oupa en ouma se groot kombuistafel. 'n Skamerige Francois en Carla, sy gouelokkies-sussie, kom groet, en oor 'n koppie koffie word ek aan Wynand en Carin se naweekgaste voorgestel.

Ons skop af met 'n video-opname van 'n vertoning wat swaer Chris opgeneem het die vorige aand in die lugmagbasis se Impalasaal. "Die klank was nie te watwonders nie," maak Wynand verskoning. "Die saal kan tot 'n duisend mense vat, maar dit was nie baie vol gisteraand nie." Daarna volg 'n lewende vertoning in die sitkamer, waar luidsprekers, 'n klankmenger en musiekstaanders gereedstaan. Pa en seun sing lekker, stetsonhoede op die kop, mikrofoontjies rondom die oor en voor die mond. Al die liedjies in Wynand se repertoire is noukeurig uitgeskryf op pastelkleurige A4-kartonne. Tussendeur nommers vertel hy van sy wye musieksmaak en sy eerste liefde - country. "Ek is 'n country ou. 'n Mens wat in die natuur lewe. Ek kom by 'n bos wat so effens skeef staan, dan wil ek sommer 'n liedjie oor die bos skryf. Of 'n kat wat uit die bos spring - sulke goed."

The Last Cowboy Song speel 'n liedjie wat Wynand geskryf het vir Carla, wat nou soos 'n feetjie op die maat van die musiek tussen haar pa en broer ronddans. 'n Gemmerkat met wilde strepe brei sy naels in my bobene terwyl Wynand sing oor die "Highway van die lewe", dan 'n liedjie vir Francois genaamd "Kolle op die maan". Wynand vertel dat liedjies dikwels sy kop inval en blitsig gestalte neem. "Ek en Francois het een aand so buite gestaan, toe vra hy: 'Pa, daai kolle op die maan. Wat is dit?' Ek kon hom nie antwoord nie, maar daai nag het die woorde 'Kolle op die maan' in my kop bly draai. 'Kronkelspoortjies' het sommer net gekom. Dit het ek vir Carla in twee minute geskryf."

DuiweNa die vertoning is dit tyd vir die onderhoud. "Ons kan sommer in die studeerkamer praat," sê Wynand. "Ek wil net êrens sit waar ek my duiwehokke kan dophou." En so leer ken ek nog een van Wynand se groot liefdes en iets waarvan ek boonop tot dusver net mooi niks geweet het nie - renduiwe. Wynand loer deur die venster na die twee hokke in die hoek van die werf. "My duiwe het vanoggend van Touwsrivier af gevlieg. So van twaalfuur se kant kan ons iets verwag."

Maar eers praat ons oor musiekinvloede. "Neil Diamond. Hy is vir my country. Ek kan ure na hom sit en luister. Hy maak baie goed in my wakker. Anton Goosen …" Wynand beduie so vyf bakstene hoog. "Ek was só klein toe ek na hom begin luister het. As ek net sy stem gehoor het, het ek gehardloop om te gaan luister. Dis wat my geïnspireer het om te doen wat ek doen." Hy kyk na Francois. "En my bede is dat hierdie kind dinge verder sal vat."

Francois, onderhoofseun van sy skool, het onlangs 90 persent behaal in die ATKV se Crescendo-kompetisie, en sy trotse pa vertel dat die twee van hulle al ver draaie met hulle vertoning gaan gooi het. "Thabazimbi is die verste waar ons al gaan draai het, so ons kitare het al vliegtuig ook gery! Is daar 'n musikale streep in sy familie? Man, my pa speel ook kitaar. Hy speel (singend) 'Pale toe' en hy speel dit al vir die afgelope sewentig jaar. En daar het hy opgehou. Maar dit was dalk die begin van ons gewees. My familie praat nie eintlik oor my musiek nie. Ek dink hulle is bietjie onkant gevang. Maar ek glo hulle sal nog berusting kry."

Ons het op 'n ongewone wyse met mekaar in aanraking gekom nadat 'n epos van Wynand met 'n draai of twee in my inbox beland het. Ek vra of hy 'n gereelde besoeker aan LitNet is.

"Weet jy, ek is nie 'n rekenaarliefhebber nie. Al wat ek op 'n rekenaar doen is ek lees my emails. Maar ek het 'n email uitgestuur waarin ek sommer net vertel het oor wie ons is en wat ons doen, sommer so aan 'wie dit ook al mag aangaan'. En so het dit seker by LitNet uitgekom. En toe hoor ek van jou! Ek was bietjie verbaas, want dis maar net so goed soos jy gooi 'n brief in die pos sonder 'n adres op. So daar moes 'n rede gewees het. Hoekom het daai email by jou uitgekom en jou tot hier gebring? Dit voel maar net vir my asof al die stukkies nou bymekaar kom."

Wynand loer weer vinnig na sy duiwehokke, draai dan na Francois. "Gaan haal gou vir die tannie ons plakboek." In die blou kartonplakboek is 'n sorgvuldige versameling foto's, koerantberiggies, pamflette en eposse. Wynand sit sy wysvinger op 'n epos-uitknipsel. "Ek het drie, vier maande terug 'n email aan Koos Kombuis gestuur. En net nou die dag toe antwoord die man. En hy wens ons alle voorspoed toe, en sê hy hoop ons maak sakke vol geld! Weet jy hoe vinnig is hierdie plakboek besig om vol te raak? Ek plak alles daarin, sommer die emails van jou af ook." Hy lag lekker. "Die mense raak lekker jaloers! Hulle sê: 'Ja, jy's nou windgat', en ek sê: 'Man, ek is nie windgat nie, maar dit ís lekker.'"

Ons gesels oor die plaaslike musiekberyf wat soms maar brutaal kan wees teenoor beginners, en ek noem dat die meeste kunstenaars begin deur oop te maak vir die groter name. Wynand se benadering is egter anders. "Weet jy, ek wil dit nie doen nie. Mense het vir my gesê: 'Jy vat 'n chance as jy dink jy gaan by Danielle Pascal inkom.' Maar ek het hulle gebel en gesê: 'Luister, ek gaan by my ma-hulle kuier op Stellenbosch, en op pad terug, hoelykit?' En hulle het gesê: 'Maar hel man, ons ken jou nie eers nie; het jy 'n cd waarna ons kan luister?' En ek het gesê: 'Man, gee my 'n kans. Gee my 'n gap en hoor net wat ek doen.' En toe doen ons twaalf songs daai aand in plaas van twee. As mense net bereid is om te luister. Ek het al by plekke ingeloop waar die eienaars so groot geskrik het vir die geld wat musikante vra dat hulle nie eers na jou as beginner wil luister nie. Hulle sê sommer vir jou: 'Nee, julle ouens is darem te duur.' En ja, daar is 'n fight tussen die ou manne en die nuwe manne, want die ou manne sê: 'Nee, julle is te goedkoop, ons kry nie die jop nie.' Ons sê - en na 'n jaar en 'n half is ek nie bang om dit te sê nie - 'Julle is te duur, en julle maak dit weer moeilik vir ons.' Sonder om te fight. Ek wil nie met Anton Goosen fight nie. Ek wil sy pel wees. Ek wil sê: 'Man, ek is ook 'n musikant, hel, hoezit!' Ek voel daar's plek vir ons almal."

Wynand loer weer na die grys lug bo sy duiwehokke, en ons begin praat oor sy ander groot passie. "O nee, ek het grootgeword met duiwe. Dit lê diep in die familie. Dis maar 'n liefde wat vasgroei in jou. Ek het perdgery al die jare, baie perde ingebreek." Hy hou 'n krom vinger in die lug. "Party dae speel ek bietjie moeilik kitaar. Hy's op drie plekke gebreek en dit alles van perde. Maar dit was lekker. Ons het hierdie week nog weer so 'n jong perdjie gelaai. Toe sê ek vir die ander ou: 'Luister, ek moet Vrydagaand kitaar speel, gaan jy maar aan.' Iewers sal jy seerkry, want jy baklei met 'n sterk ding. En iewers moet mens kies: musiek, perde, duiwe? Dis seker nie die einde van perdry nie, maar ons is regtig ernstig met ons musiek. Ons gaan iets maak met hierdie storie."

Wynand kyk na sy horlosie, dan weer stip na die duiwehok. "Ek dink ons moet nou maar buitentoe gaan. Ons kan nou enige tyd iets verwag."

Beeste vir 'n beesboerNa 'n hotdog saam met Carin en haar vriendin gaan staan ek buite by Wynand en sy swaer. Die beesboer vertel hy is oorspronklik van die Worcester/Rawsonville-omgewing. "Ek het maar grootgeword met diere. Ons het 'n wingerdplaas gehad, maar my oupa, wat ek nooit geken het nie, was 'n groot Afrikanerbeesteler. Ek was na die landbouskool op Riversdal en het vir vyf jaar Stellenbosch-universiteit se melkery bestuur. Daarvandaan het ons hiernatoe gekom. Ons is nou al agt jaar hier. Sal seker hier oud word."

Ek bely my totale onkunde oor die duiwesport, en Wynand verduidelik geduldig. "Kyk, jy't jou wedvlugduiwe. Dan's daar 'n klub op die dorp. So jy vat jou duiwe en jy oefen hulle. Jou duif weet waar hy bly. Jou voeding en hokke moet reg wees. Jou oefening moet reg wees. Jy moet 'n duif ken. Dan't jy 'n vliegseisoen vanaf nou einde Mei tot hier in Oktobermaand toe. As jou duiwe reg is vir die eerste wedvlug, dan vat jy hulle klub toe. Daar word hulle ingeskrywe. Jy vat ook jou klok saam; die horlosie waarmee jy jou duiwe time, het 'n rolletjie papier in. Jou duiwe word dan vervoer na die punt waar hulle losgelaat word, en dan kyk mens wie se duif kom eerste weer by die hok aan. Vanoggend se resies het op Touwsrivier begin. Maar ek het al 'n renduif nege-uur die oggend op Victoria-Wes gelos en twee-uur die middag toe klok ek hom hier by ons. Daai duif het meer as een en 'n half kilometer per minuut gevlieg oor 'n afstand van oor die 600 km. So, ja. Jou duif moet wil terugkom. Dan kan dit met jou goed gaan in die duiwesport."

Ek vra of daar darem geld te maak is uit die storie.

"Daar's twee groot wedvlugte in Suid-Afrika: die Sun City en die Olimpiade. Die wenprys vir die Sun City verlede jaar was R2 miljoen. Dan kom die prysgeld vir die eerste honderd nou so af. Die wenduiwe self word opgeveil na die wedvlug; hulle kan maklik sommer 'n paar honderd duisend haal. As Boet Troskie by is, dan slaat hy hom hoog."

Ek vra of sy duiwe name het, en Wynand vertel hy noem hulle sommer so by die nommer. "Maar party ouens gee hulle duiwe name. Daar was eens op 'n tyd 'n Miss Forty. Sy het altyd vir so 40 minute op die hok se dak gesit voor sy inspring - en dan't sy nog steeds gewen! Daar was nog 'n duif, sy naam was Shoprite. Ek dink hulle het hom in 'n Shoprite gevang." Wynand verduidelik dat dit meer algemeen is vir duiwe om stoettelers se vanne te dra. "As ek nou sewe, agt jaar met dieselfde groep duiwe sou teel, sal ek hulle mos darem nou later die Kershoffs kan noem. Die Jansens-duiwe kom uit die oorlogtyd uit. As jý nou met duiwe begin teel, kan daar eendag Wiecherse ook wees!"

Wynand kyk uit oor die plaas, verby die windpomp, garingbome en aalwyne wat net duskant die draad groei. Hy is tevrede - en gelukkig om hier te kan boer. "Daar het 351 mense aansoek gedoen vir hierdie werk. Ek teel Bonsmaras hier uit baie goeie stoetbloedlyne uit. Ek wil graag 'n boerbokboerdery ook beginne - die veld gee hom nou goed uit daarvoor. Maar jou drade moet reg wees. 'n Bok is 'n bliksem."

Francois kom sluit weer by ons aan, en ek vra of ek nog 'n paar foto's van hulle mag neem. Ons is pas klaar, toe Wynand opgewonde sy eerste duif gewaar. "Daar's hy, daar's hy nou!" Die duif land op die hok se dak, pik ongeërgd en tydsaam rond. Wynand sluip nader, verduidelik fluisterend dat die duif binne-in die hok moet klim voordat hy die tyd kan klok. "Kom, kom … koer, koerrr," moedig hy haar vaderlik aan. Dit blyk te werk, en kort voor lank hop sy in, met Wynand agterna om die klokwerk te doen.

"Wil jy nie 'n glasie wyn drink nie?" vra swaer Chris, maar die gedagte aan die terugpad en paranoia oor 'n afgeryde voorwiel oortref my lus vir 'n dop.

murasieSoos ek uitry, verby die ou murasie, koeie, kalfies en Iskor se spierwit stoomborrels teen die grys lug, dink ek aan die toevalligheid van my en Wynand en Francois - The Last Cowboy Song se ontmoeting. Ek dink aan my pap wiel, alles wat ek vandag beleef het, en die woorde van Wynand se liedjie vir Carin:

Op die highway van die lewe
Ballades en gebeure
Ek en jy

Uitgestrekte vlaktes
Net met my gedagtes
ek en jy

Op die highway van die lewe
Meet ek maar my treë
ek en jy

Ou geverfde borde
Wat aantoon waar's die dorpe
Hou stil en soek die rigting
ek en jy.
Die Maandagoggend na die onderhoud stuur ek vir Wynand 'n epos, sê dankie vir die gasvryheid en vertel hom wat vier nuwe bande my uit die sak gejaag het. Ek vra uit oor hoe sy duiwe toe gevaar het, en hy laat weet:
Die eerste duif was toe nie die wenduif nie. het maar swak gevaar. moet sê die ander manne vlieg 2-jr-oud duiwe ook. maar die seisoen het nou eers begin.

Lekker werk en hou ons op hoogte en sê vir die mense ons is lief vir hulle. Sommer so vir almal.

Groete

Wynand en Francois - The Last Cowboy Song




LitNet: 29 Julie 2005

Wil jy reageer op hierdie "ekstraordinêr"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

to the top / boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.