BekchatArchive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Glad gebek en ruim van hart: Nina Swart

Deborah Steinmair

  • Jy het ons voorhuise betree as die vivacious Wilmien in 7de laan. Iets waaroor ek altyd wonder: lag die cast van ‘n sepie baie, terwyl dit geskiet word en tussenin? Ek meen, daar is hierdie gelaaide dramatiese momente, haat-, wraak- en passievervul, dan stol die gesigsuitdrukkings tot swanger bepeinsing en die toneel doof uit. Is dit pret?

    Natuurlik kan 'n mens dit nie té ernstig opneem nie. In sepies is die akteurs bloot middele tot die groter doel van die storie wat vertel moet word. Daar is sommige scenes wat mens so realisties moontlik probeer uitbeeld, maar meestal lag mens maar sodra die vloerbestuurder sê "cut!" Dis 'n absurde styl van toneelspel (op 'n manier), maar mens kan dit nie escape nie, want as jy dit nie met oorgawe doen nie, doen jy dit oor en oor en oor en oor ...

  • Is daar die versoeking om ‘n mens se karakter op te stuur, soort van oorboord te gaan? Is die regie streng?

    Danie Odendaal en sy span skrywers het fabulous emosionele beskrywings uitgedink wat daagliks in die scripts gebruik word … “Probeer gerus die volgende (werklike) aanwysings (veral gebruik vir die close-up aan die einde van die toneel): WILMIEN VOEL SOOS 'N GEEL SPIKKELSLANG, WILMIEN IS POPELEND, WILMIEN TOB/BROEI …” en my gunsteling: “WILMIEN/ZAC/MADEL (wie ook al) GEGOOI ...”
    Die regie is streng genoeg om, stylgewys, eenvormigheid te hê, sonder om die akteurs se kreatiwiteit aan bande te lê.

    Die antwoord op vrae 1 en 2 is dat ons die hele tyd lag en die hele tyd bewus is van wat ons doen, maar dat dit ook nogal challenging is om die acting-styl wat in soaps vereis word, onder die knie te kry.

  • Is dit aaklig om oral op straat herken te word?

    Dis hoe mens erkenning kry vir jou werk, en dis ‘n noodwendige voortsetting van jou dag op stel en mens is dankbaar vir die ondersteuning, maar … Ag … dit kom met die territory, en ek is nie besonder mal daaroor nie. Dalk omdat ek dit nie verstaan nie. Ek hanteer dit maar binne die konteks van goeie maniere (“die tannie het gegroet, so groet terug”). Ek het vroeg by 7de Laan besef dat dit nie oor my gaan nie – die mense wat my sien in Pick ‘n Pay gaan huis toe en húlle is die heroes. My funksie is om aan hulle ‘n narratief te gee. En dan probeer ek nice wees met almal – veral die kinders. Oor die algemeen is mense baie positief en chat hulle lekker, maar soms probeer ooms my soen en babas kwyl op my en vrouens vat aan my hare en jong dudes raak vatterig – asof ek hulle eiendom is – en dit maak my bietjie moeg. Ek verkies ‘n groter persoonlike space, maar besef dat ek dit nie meer mag demand nie. Ek moet bieg dat ek 7de laan gelos het deels om weer my anonimiteit terug te kry. En dit het deels gewerk … he he he.

  • Ek het jou op die KKNK in Balle gesien – baie natuurlike spel, dit was great. Is jy lief vir die verhoog? Kry jy stage fright?

    Dankie. Ek is nie geweldig gespanne voor vertonings nie. Ek probeer al die nerves in energie omsit en dit werk meestal. Ek dink nie ek is ‘n gebore verhoogaktrise nie – Nicole Holm is een – want ek sukkel met die emosionele outpouring en die fokus en die ... onherroeplikheid van die stage. TV is lekker fake in daai opsig: jy máák asof als nou en hier gebeur. Maar ek geniet die teaterproses verskriklik baie. Veral in Balle was dit great tye met my pelle in die cast en ‘n pel wat skryf en ‘n pel wat direct. Rehearsals is ‘n jol. Wat ek wel regtig geniet (en dit klink weird), is om byvoorbeeld ‘n MC te wees, en om sonder ‘n script voor 2 000 mense op ‘n verhoog te gaan en te praat/announce. Ek het dan geen stage fright nie!? Tog wens ek ek het meer ervaring gehad in die teater. Dit bly maar die maatstaf vir enige akteur.

  • Nou kyk ons Pitstop, ek en my LitNet-kollegas. Is dit baie veeleisend om ‘n aanbieder te wees? Verg dit baie improvisasie?

    Om aanbieder te wees is op verskeie maniere moeiliker as acting. Oftewel, dis ‘n ander tipe acting. Ek kry ‘n script en probeer dit soveel moontlik my eie maak. Aanvanklik het ek gesukkel, maar ek kry dit al meer reg. Dis vir my moeilik om te praat met ‘n kamera – veral as ek nie weet hoe die mense met wie ek praat, lyk nie. Pitstop het op verskeie vlakke ‘n skisofreniese gehoor: oud en jonk, wit, bruin en swart, cool en konserwatief. Ek vind dit challenging om te probeer uitfigure hoe om met almal te kommunikeer (tien teen een ‘n onbegonne taak ...), maar die hoop beskaam nie en voor in die wapad brand ‘n lig.

  • Nog steeds oor Pitstop: Is dit moeilik om stralende entoesiasme te genereer vir al Afrikaans se musikante? Toemaar, I won’t go there.

    No, let’s go there!!! Dit is vir my weekliks ‘n hoogtepunt om die verskillende, uiteenlopende kunstenaars te ontmoet. Ek enjoy hulle almal moerse. Ek het gevind dat dié wat deurloop onder die puriste se scoffing, heeltemal bewus is daarvan en hulle net eenvoudig nie daaraan steur nie. Daar’s geen ignorance onder hulle nie. Baie spot net so lekker met hulself. Hulle lag al die pad bank toe. So, om te antwoord: ek hoef nie stralende entoesiasme te fake nie, want ek hoef nie na hulle musiek te luister nie – ek hoef net die nice en articulate kwaliteite in elkeen van hulle te enjoy. En dis maklik.

  • Wat is jou volgende doelwit, of maak jy dit op soos jy aangaan?

    O, ek maak dit beslis op soos ek gaan. Ek weet ek was nou vir ‘n ruk flavour of the month, en dit gaan ook verby. Maar ek is steeds so planloos soos ‘n eendagsvlieg. Ek like van werk, en daarom sal ek dit gaan soek as ek dit nie het nie. Natuurlik bid ek soms meer franties as ander kere, maar ek panic selde daaroor. My hele lewensuitkyk is gebou rondom die idee dat als okay gaan wees.

  • Mooi rooi rose-voorblad! Het nog nie die artikel gelees nie. Is jy en jou suster na aan mekaar? Is daar nog siblings?

    Ek is baie lief vir Lise, maar ek sien haar nie genoeg nie. Ek dink sy is amazing, en sy het ‘n wisdom en ‘n sin vir humor wat my gereeld verbaas. Dis (thank goodness) net die twee van ons en sy is drie jaar jonger as ek.

  • Wie is jou gunsteling SA bands en musikante? (Ek vra dit vir almal.)

    Sex Tips For The Boys, Gert Vlok Nel, Amanda Strydom, Vusi Mahlasela, Godessa, Lize Beekman, Buckfever Underground, BVK, Laurinda Hofmeyer. Ek geniet mense se live shows meestal meer as hul studio-werk. En ek is nie seker ek hou so baie van die mid-tempo-rock-met-mondfluitjie-genre wat deedsdae deur al wat ‘n band is, opgedis word nie. Dis asof almal te veel Neil Young geluister het. Daar’s net ‘n handjievol regte Afrikaanse rockers, en hulle is almal gevestig (Valiant, Anton, Piet). Ek soek nog die SA (Afrikaanse) weergawe van Radiohead …

  • Kry jy tyd om te lees? Indien wel, wat lees jy graag?

    Ek lees elke dag al die koerante en LitNet ... (hoera!) Verder is ek nou besig met Hierdie Lewe (nou eers), en dan wag Niggie. Ek het op vliegtuie al Deon Meyer se boeke verslind. My gusteling read is Afrikaanse poësie sedert die 60’s. Ek is ‘n groot fan van veral Wilma Stockenström, Jeanne Goosen, Petra Müller, Gert Vlok Nel en Cussons.

  • Watter soort kind was jy?
    Blykbaar soet. Ek onthou net hoe ek die HELE TYD gespeel het – fietse, guns, bome, playmobile, my oumagrootjie se klere ... en nog fietse-guns-bome-fietse-guns-bome. Dis my memories tot en met laasweek.

  • Hoe hou jy jou lyf so fabuleus? Het jy ‘n baie aktiewe lewenstyl? Wat is jou gunstelingkosse?

    Um. Ek kyk gister so na Minki van der Westhuizen en ek besef dat ek nie 'n lyf het vir swemklere nie. Ek is amper 30 en ek moet die regte klere dra – anders lyk dinge maar sleg. Ek hol baie rond. Maar ek haat oefening. Ek was nog nooit in 'n gym nie, en my fiets staan en roes in die garage. My ouma is beautiful en my ma en pa is albei mooi gebou (selfs op 50-something). En ek dink ook die feit dat ek rook, help nogal met my gewig. Rook en koffie. Ek eet alles en nogal baie daarvan – veral hoender, avo, eiers en kaas. En ek is 'n Red Bull-verslaafde. Wat nog? Ek drink nie juis nie – ek raak te gou dronk en vaak. Vyf jaar terug het ek gefreelance in Kaapstad en ek het toe okay rolle gekry in advertensies. Nou is ek weer besig met die freelance ding, maar ek speel nou die ma-rolle in ads! He he he. The way of all flesh ...

  • Sal jy jou ooit weer in ‘n sepie begeef?

    Jaaa, wel. Finansiële nood breek wet. Ek sal nie gou weer vir jare lank my lewe wegteken nie, maar dalk, as ek nie geld het nie, sal ek weer vir drie maande of so terugkeer. Dis nou as hulle my sal terugneem (mens weet nooit). Ek het geen regrets nie, maar dit is ‘n uitmergelende werksproses. Alhoewel ek die mense op die stel van 7de Laan mis, is ek veel gelukkiger in Kaapstad as in Johannesburg.

  • Voel jy hartstogtelik oor Afrikaans, en indien wel, waarom?

    Ja, dit is vir my belangrik om my eie ervaring vir myself te kan verwoord in my taal. Maar dis vir my soos godsdiens: ek gaan nie my opinie in ander se keelgate afdruk nie. Ek woon tog in 'n wêreld waar ek nie juis teenkanting kry teen my taalkeuse nie. Dalk is ek net gelukkig. Ek dink ook die me Nagtegaals en die dr Roodts van die land se bydraes tot die debatte is noodsaaklik om dinge relevant te hou en op die voorgrond te plaas. Dis net nie my oorlog nie, dis al. Ek beskou my nie as 'n kampvegter nie.

  • Wat sal jy red as jou huis afbrand?

    My CD collection is al wat ek sal red. O, wag, en my kis vol ou briewe en papiere. Dalk my nuwe tandeborsel wat ek verlede week vir myself gekoop het … Nee … Net die CD’s en die briewe.

  • Watter klassieke rol sou jy graag wou vertolk?

    Bedoel jy naas Wilmien? He he he. Ek wil graag Antigone wees. Maar dis eers oor baie jare.

  • In watter eeu sou jy die graagste wou leef?

    Toe ek klein was, wou ek altyd ‘n ridder gewees het, maar ek is heel tevrede met die hier en nou – die klere is gemakliker en ek hoef nie te worry oor die feit dat ek 'n vrou is nie. Maar ek sou dalk in enige tyd wou leef waar rook nie so ‘n hectic issue was nie.

  • Wat is jou gunstelingreël van alle tye uit enige fliek?

    Ek kan lang stukke uit Silence of the Lambs aanhaal, maar my fave line (gespeel) is deur Anthony Hopkins uit ‘n ander fliek, Remains of the Day, waar hy vir Emma Thompson sê: “This house ... needs you.” My fave line om self te sê, is Al Pacino in Scent of a Woman: “I’m in the darrrrrrk here, Charlie.” My gunsteling scene uit ‘n movie is die ontmoeting tussen Omar Sharif en Peter O’Toole in Lawrence of Arabia.

  • Is dit moeilik om ’n huis met ander kunstenaars te deel?

    Nee wat. Ons is 'n paar in die huis, en al wat ek wens is dat iemand die gras sal natlei terwyl ek weg is. Ek is glad nie kompeterend nie, so dis wonderlik om almal om my op verskillende stadiums van hul onderskeie kreatiewe projekte te sien. Dit inspireer my baie.

    LitNet: 13 Julie 2004

    Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.