![]() |
|
Bra Anton: "Ek worry nie meer oor eksistensialisme of enige ander ismes nie. Nie eens spelling nie, want my beroep gaan oor verbale kommunikasie. Om te verf met die klanke in my kop."Deborah Steinmair
Wat was sy naam, en prof in wat? Hê hê. Wil dit op my website sit want dit sal goed lyk. Beter as Jurie Els altans. • Sy naam was Willie Prinsloo. Hy is ongelukkig al dood, maar jy kan dit op jou website sit. Hoe het dit begin? Hoe het dit gebeur dat jy Afrikaanse songs begin skryf het? Ek het eers – soos die meeste van ons – in Engels geskryf. Toe ek skoolgehou het, het ek “Jantjie” geskryf vir 'n musiekblyspel wat by die skool opgevoer is. Die hoof destyds was voorsitter van die Transvaalse Krieketunie en het gesê ek moet iemand kry om die song op te neem want dis 'n hit. Toe ek in die middel-sewentigs resensent vir Beeld en Huisgenoot was, moes ek 'n interview met Sonja Heroldt doen. Sy het toe so pas 'n treffer met haar eerste opname, “Ek verlang na jou”, gehad. En sy het genoem dat sy songs nodig het vir 'n album. Toe krap ons in my songbook en kom op “Jantjie” en ander stuff af. • Was jy 'n cool onderwyser?
• Het jy daarvan gehou? Ja, selfs nadat ek gefire is (waaroor ek baie trots is) oa omdat ek finale eksamenbegripstoetse vir st 5 oor Cat Stevens gegee het. En die gewone langhaar-issue natuurlik ook. • Gepraat van langhaar-issues: Watter musikante het jou in jou prille jeug beïnvloed? Die Rolling Stones, Beatles, Chuck Berry en later Dylan. • Na wie luister jy nou? Die jongste is Mahube. ‘n Wonderlike projek waarop ‘n verskeidenheid musikante, soos George Phiri (wat ghitaarspeel op Vis innie bos) en Louis Mhlanga, optree. Dis moderne maar inheemse African musiek. Ek is ook redelik op hoogte met die nuwe cd’s wat in Afrikaans uitgereik word, soos Gian Groen, Klopjag, ddiselblom, Jan Blohm, Hugo en dies meer. • Is jy besig om 'n boek te skryf? Nog nie, maar ek begin al hoe meer daaraan dink. • Wie is jou gunsteling poets?
Dylan, L Cohen, Breyten Breytenbach, Ingrid Jonker, DJ Opperman, Antjie Krog … • Kook jy graag, behalwe nou vir potjiekos op Blonde Ambisie? Hê hê … Ek kan omtrent net tjops gaarmaak en eiers bak. • Op watter song is jy die trotsste? Dis baie moeilik om te antwoord, want die jongste babas is gewoonlik die gunstelinge. • Kom die wysie of die lirieke van 'n song gewoonlik eerste by jou op? Dis ‘n gesamentlike proses. Ek weet nie hoe werk ander songwriters nie. By my werk dit nogal holisties. Dikwels die tema en openingsmusieklyne. En dan broei dit soms lank voor ek dit voltooi. Dikwels haak ‘n mens vas en dan is dit dalk die beste dat dit net eers lê. “Pampoene op die dak” is so ‘n voorbeeld: die versies het ek basies in 1990 geskryf. En in 2002, toe ek by Tom’s Trading Store sit en breakfast eet en die pampoene op die dak raaksien, toe kom die koor … • 'n SêNet-skrywer het onlangs opgemerk dat jou songs so tydloos is omdat hulle oor mense handel. Word dit moeiliker om mense dop te hou as 'n mens se gesig oral herken word? Ek is baie lief vir mense. Ek bekyk hulle vanuit die perspektief van herkenning en hoe hul dan teenoor my optree. Dit is soms ‘n hassle, maar dikwels kom ‘n mens met spreekwoordelike moord weg met die bekende gesig. Mense identifiseer graag met bekendes. Lucky Dube vertel my dat hy in die Vrystaat weggekom het met ‘n speedfine omdat die cop hom herken het as die ou wat saam met Anton op Dancer sing! Hê hê. • Glo jy nog in ware liefde? Ja, seker maar omdat ek ‘n romantiese songwriter is. Ek moet bieg dat ek al soms in eensydige verbeeldingsvlugte ingegaan het om die song(s) wat daaruit kan kom uit te wurg. Ek is al jare single en happy so. Dit beteken dat ek wel kan “fall in and out of love” – dit help regtig vir songs. Maar liefde is ‘n wye begrip … ek is lief vir my kinders en honde en die natuur ook. • Vir my is die uitstaande kenmerke van jou musiek intelligensie en humor. Stoei jy ooit met die swart hond en hoe behou jy jou humorsin in die Afrikaanse musiekbedryf? Die swart hond het ek jare gelede weggejaag. Dit het lank geneem en ek moes hard stoei, maar ek het dit reggekry. En dit hou nou al meer as ‘n dekade en ‘n half. Ek dink balans is belangrik. ’n Skrywer moet nie net met ander skrywers meng nie. Dis nodig om die volledige spektrum te bevriend. Dit is nie goed om net in jou eie kop te leef nie. Of net oor jouself te praat nie. Ek worry nie meer oor eksistensialisme of enige ander ismes nie. Nie eens spelling nie, want my beroep gaan oor verbale kommunikasie. Om te verf met die klanke in my kop. Die Afrikaanse musiekbedryf is raar en humorvol op sigself. Goedige spot is nodig, want anders dink sommige mense hulle is god. En niemand is nie. • Wat lees jy en wie is jou gunsteling Afrikaanse skrywers? Die mees onlangse is Jeanette Ferreira se oorlogromans. • Errrm. Debatte oor teater en kunstefeeste woed op LitNet. Ek weet jy is nogal 'n musiek- of kulturele snob of wat mens dit ook al noem (ek is ook!). Hoe voel jy oor kunstefeeste? Ek dink nie ek is ‘n musieksnob nie. Ollie Viljoen het eenkeer gesê daar is net twee soorte musiek: goeie musiek en swak musiek. Wat elitisme betref, is dit wel so dat ek eerder van regte rotse hou as van dié wat by Sun City uit sement of veselglas gemaak is; dat ek meer van inheemse bome hou as van indringerplante; en dat ek meer van regte musiek as geblikte musiek hou. Ek dink ek is eerder musiekpatrioties. Dit som my gevoel oor die teater en die kunstefeeste ook op. Ek het nie krag vir die Afrikaner-sindroom van “die meeste” nie. Dit het niks met kuns te doene nie. Kuns kompeteer nie. Dit kommunikeer. Kuns is alles. Kuns is nie hol binne nie. Kuns is soos Pelindabaklip: indien jy jou vuis teen dit slaan, is jou kneukel veronderstel om seer te wees. Dit is definitief nie veronderstel om net “doing” te makie. En allermins die vervlakking van sement. Pelindaba beteken in elk geval “die einde van die argument”. Die geblikte klomp “kulstenaars” met hul
backtrax maak dikwels die beskuldiging dat ek nie ander genres toelaat nie.
Dis miskien tyd om hulle daarop te wys dat backtrax nie ‘n “genre”,
maw ‘n kunsvorm, is nie, maar slegs ‘n hulpmiddel. Ek kan nie glo
dat sommige van hulle die cheek het om aan ‘n kunstedebat deel te neem
nie. O wel, publisiteit is publisiteit. Al lag almal vir jou. Ja, ons het ‘n opvoedingstaak, maar dikwels is dit dat ons ‘n leeftyd lank teen die prikkels skop. Of halfpad soontoe uitverkoop, soos wat nou weer met ‘n sanger of twee gebeur het. Mammon se tiete is goud. Lag. Die Afrikaner wil graag lag en dis goed, maar dikwels is dit vir die verkeerde ding. En ongelukkig vir die seksuele en rassistiese. Dit is ‘n veralgemening, maar wel geldig op die mediaan. En ons het maar ongelukkig met ons humorsin net nooit dié van die Britte nagevolg nie, maar eerder die vlak weergawe van die Amerikaner (indien daar so iets is). Ons lag vir ander mense se misery. En dis betreurenswaardig. Ons is nie diep nie. • Dis diep. Ek het nou die aand per ongeluk vir Kurt Darren gecheck op Noot vir noot. Hy't gesê hy gee omtrent 24 shows per maand. Hoe dikwels doen jy shows? Hoe belangrik is dit?
Janis Joplin het gesê: “What’s the point in making love to 20 000 people a night and going to your hotel room alone at night”? Dis baie geldig en moet heeltyd teëgewerk word. Maar tereg ook: “Art is a very jealous lady”! • Geniet jy dit om op te tree? Het jy ooit stage fright? is dit opwindend of soms 'n drag? Nee, drag is nie eintlik my scene nie! Hê hê. Ja, elke optrede is vir my lekker. Dis lekker om my songs te sing en my ghitare te speel. En om die audience dop te hou. En te weet ek manipuleer hul emosies – op ‘n mooi manier. Want dis hoekom hulle betaal en kom luister het: om die inheemse songs te hoor. SA songs uit eie bodem. Ek het altyd stage fright. Wanneer ‘n mens lewend optree, hetsy solo of met ‘n band, is daar spanning, want enigiets kan verkeerdloop. Ek is alyd bang vir snare wat breek. En dit is vir my ‘n kwessie van dat ek graag aan die mense in die gehoor se verwagtinge wil voldoen. Dit is ‘n drag in die sin daarvan dat ek senuagtig is voor vertonings en dat daar altyd iemand is wat ‘n gesprekkie wil aanknoop oomblikke voordat ek op die verhoog moet gaan. Maar die chicks na die shows is nice! “Chicks like me 4 free” het iemand eenkeer gesê nav die Dire Straits-opmerking.
Ek luister om my. Ek werk met jong mense en die inligting kom vanself. Ek is nogal oop vir nuwe invloede en sinvolle idees. Na vertonings het ek al van die stimulerendste gesprekke met jong mense gehad. “Young and ready to think.” Met ouer mense ook, maar hulle is dikwels dronk deur die lewe geslaan. Ek het dit vermy en my hardeskyf gereeld geupdate. Maar ek sê nie dis reg of verkeerd nie. Miskien was die regte antwoord in my loopbaan om vandag op ‘n Saterdagmiddag voor die rugby en die braai langs die karavaan en die visdam met sy sementrotse ‘n grassnyer in die jaart te stoot … wat ‘n aaklige gedagte! • Nee wat. Sing liewer daaroor. Ek het in die koerant gelees daar's nou 'n nuwe sanger wat nes Theuns Jordaan klink. Hoe kry 'n mens dit reg om jou eie stem te hê? Deur nie soos Theuns Jordaan te klink nie! • Het jy al baie geld gemaak uit songs van jou wat deur ander kunstenaars gecover word? Ja. • Het jy stokperdjies? Indien wel, watter? Ek ry vir kwaadgeld met my Jeep Wrangler Sahara 4x 4 rond en speel klipharde music van Pearl Jam of Green Day oor die sewe speakers. In die proses kry ek baie aandag, want die ander mense in die land is besig om na Stamp-cd’s te luister. • Dit het my opgeval by die laaste show van jou wat ek gesien het (in Dorpstraat), met hoeveel oorgawe jy stokou songs waarop die gehoor aandring, sing asof dit die eerste keer is. Word jy ooit moeg om sekere songs te sing? Nee, hoe word ‘n mens nou moeg vir enige van jou kinders? Allermins die eersgeborenes! • Waarmee is jy op die oomblik besig? Om hierdie vrae te beantwoord. En met ‘n Porterville chiraz wat ek en Gian op ons toer daar gescore het. O ja, ek het ook al amper drie nuwe songs geskryf. Een daarvan saam met Gian Groen. Op toer. Dit is vir my ‘n eerste. Maar nou staan alles eers weer stil. Dis mos hoe kreatiwiteit werk: soos ‘n girl wat flikkers gooi en weghardloop as jy kyk. Die Loreleifaktor. • As jy jou lewe kon oorhê, sou jy weer doen wat jy doen? Ja, ek sou. Sou beter beplan het. En sekere situasies beter hanteer het. Maar ek dink my geboorte was ‘n fout. Ek voel nie altyd dat ek in hierdie leeftyd inpas nie. En ook nie altyd by my tydgenote nie. Maar aangesien ek nie ‘n keuse het / gehad het nie, speel ek maar soms akkoorde op my ghitaar. Ek is eintlik net ‘n rhythm ghitaarspeler. • Wie is na jou mening die sexyste vrou in SA (behalwe ek)? Net jy. Maar Jurie Els is ‘n close second! • Hoe sê mens dankie. Ly jy aan slaaploosheid? Ek het agtergekom dat baie kreatiewe mense, soos Andries Bezuidenhout, insomniakke is. Dit gee mens baie meer tyd om te dink, of hoe? Dit is ‘n drag. En veral noudat die regstellende komitee so ses maande gelede ingebreek het en my TV en DVD ens kom haal het. (En boonop het ek vergeet om die koerante te bel en te sê!) Insomnia is nie ‘n goeie vriend nie. Op ernstige noot: ná shows kom ‘n mens baie laat tuis en is dit vir my uiters belangrik om dan genoeg uit te rus die volgende dag. Indien die liewe buurman dan agtuur met sy angle grinder begin, of die lentevoëltjies agtuur aan die venster begin pik, is dit ‘n probleem. Die groot ding van toer en optredes is om genoeg te rus en baie water te drink. Om in die middel van die nag kreatief te wees is seker tweede natuur by kunstenaars. Maar wanneer ‘n mens dan uiteindelik tot ruste kom, is dit nie regtig rus nie. Staan moeër op as voor die slaap. Kreatiwiteit is ‘n kruis.
Ja, en dit verskyn vanjaar nog by Protea Uitgewers met chords en foto’s. • Voel dit vir jou of jy meer antwoorde het as toe jy twintig was? Of minder? Ek het al die antwoorde, maar dis die vrae waarmee ek sukkel. Nee. • Waarin glo jy? Jy mag kies om nie te antwoord nie. Ek glo aan lewe, hoop, liefde, die kosmos: die tao. • Dankie vir jou tyd. Ek is nou nie meer webmeester van SêNet nie, so ek kan my onpartydigheid oorboord gooi en vir jou sê dat jy my gunsteling is en soos Leonard Cohen elke jaar sexier word. Keep on rocking! O, ja ek gaan dit doen! LitNet: 27 September 2004 Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||