![]() |
|
Al’astair van My hond Fanie-faamDeborah Steinmair
Eet dadelik drie Bob Martin’s-pille as voorbehoedmiddel teen die hondbyt. MP3's is beskikbaar op www.musiek.co.za. Kliek op “My Hond Fanie” of “Al'astair”, of stuur 'n e-pos na amvh@mweb.co.za vir 'n direktebestelling-prosedure. Dit sal ook later vanjaar in die musiekwinkels wees. Maar bestel maar intussen. Ek het die geld nodig vir hondekos. • Ek het gelees dat jy as ‘n soort Afrikaanse Leonard Cohen bestempel word. Dit laat my regop sit. Watter musikante het jou beïnvloed? Ek dink hoofsaaklik Riaan Cruywagen op 8-uur TV-nuus en Julie Andrews in Mary Poppins. (Ek sal dit regtig verkies as jy nou weer sal gaan lê.) • Ek lei af dat jy in ‘n waas van geheimsinnigheid gehul is, soos ‘n Greta Garbo. Dit sal seker nie help om uit te vra oor herkoms, adres, kind of kraai nie. Het jy ‘n day job? Daar is 'n day job. Ek het 'n baie groot skaamte daaroor. Ek verkies om as 'n soort homeopatiese tydsmous bekend te staan. Daar is wel 'n klompie kinders daar buite vir wie ek pa staan. Hulle is almal by my eie vrou, wat ek ook nog het. Ek hou van my vrou en kinders, en sy en die kinders hou snaaks genoeg nog van my. • Vertel ons van die shows op kunstefeeste. KKNK 1998, 1999 en 2001, Velddrif-Fees, Woordfees Stellenbosch (met Karen Zoid as my pre-show), Kaapse Draai Fees en ook 'n paar ander vleeste. Tydens 1999-KKNK het my voet tydens 'n show in Kliphuis aan die mike se draad vasgehaak, en die draad het die mike en die musiekstand omgetrek. Helse geraas. Net toe die stilte ook weer lawaai, gaan 'n besemkas op die verhoog oop, en 'n lang verestoffer val stadig uit. Toe is ons famous. Net daar. In ons eie klein wêreldjie. In 2001 was die show se naam Neuk, wat te make het met 'n reverse-environmental song op die CD. In die shows is die neuk-woord verrof afhangende van die gehoor. Daar was ook Vlaamse mense op Oudtshoorn. Hulle verstaan iets anders onder neuk. • Skryf jy al jou musiek self? Hoe sou jy jou klank beskryf? Ek het altyd gedink ek skryf dit self, tot Loit Sols my eendag vertel het dat ek en niemand nog ooit 'n song gemaak het nie. “Die songs is daar buite in die bome en in die wind en in die blare,” sê hy toe. Hy is nogal reg. Dié wat jy self skryf, is nie songs nie. Die klank op die CD wissel tussen rock en soul. Ek is 'n Gemini, so ek swing maar heeltyd tussen my dubbele siel. Ek wens soms ek het nie net 'n dubbele siel gehad nie. • Skryf jy uitsluitlik in Afrikaans? Hoe voel jy oor die taalstryd? Net in Afrikaans. My hart is Afrikaans. Ek kyk nie baie TV nie. Ek is ook bang Maretta Bellingan van Rapport sê iets oor my CD (ek is die erevoorsitter van die Klitgras Ondersteuningsklub, Wes-Kaap-streek), dus lees ek ook nie koerante nie. So ek het nie geweet daar is 'n taalstryd nie. Afrikaans sal seker aangaan solank as wat dit moet. Ek het vir omtrent vyftien jaar in 'n totaal Engelse plek gewerk. Ek het daarvandaan teruggekyk na Afrikaans. Dit is 'n emosioneel eerlike taal en werk lekker glad deur my hart. Ek is mal oor Afrikaans, maar dink nie 'n stryd-ding is nodig nie. Solank mense in 'n taal kan vloek en lag, dink ek nie daar is eintlik strydosse nodig nie. Maar as ouens en vrouens wil baklei en raas oor Afrikaans of wat ook al, is dit ook OK. Almal benodig tantrums, seks en kos. En tantrums en seks verhoed oorloë. Kos help ook daarvoor. • Vertel my van die hondehalsband wat jy op die verhoog dra. Dis ter ere van my hond Fanie. In die song op die CD gaan Fanie dood, maar hy is eintlik nog in die ou lewe. Hy is eintlik 'n soort mens op vier bene. Die hondehalsband is darem ook veronderstel om my kuis te hou. • Hou jy ook van katte? Ja. Maar ek wil nie baie graag in die openbaar op katte ingaan nie. • Ek sien dat jy al saam met deurwinterde musikante gewerk het. Wie is jou gunsteling Afrikaanse musikante? Ek is mal oor die hele spul, van boeremusikante, deur Karen Zoid tot by Jannie Moolman en Fanie Kruger. Dis dalk omdat ek in Junie gebore is en meer as een siel het dat ek van alles hou. Lochner de Kock (ek noem hom Logaritme), Richard van der Westhuizen (ek noem hom Ritgert) en Andrew Roos (ek noem hom Aandraai) was my eerste bekende Afrikaanse musikantevriende en as dit nie vir hulle was nie, sou ek seker nooit 'n CD gemaak het nie. Hulle noem my Alles-daar (maar hulle sê die meeste goed verkeerd om). Ek het deesdae baie ander goeie Afrikaanse musikantevriende, soos die bekende sanger André Swarts van Brackenfell wat saam met oorle’ Tolla opgetree het, en die befaamde boeremusikant Kassie van Zyl. Ek is ook trots dat ek vir Danie Niehaus ontmoet het, ens. Die hele spul het my lewe baie beïnvloed, ook buite musiek. • Wie is jou gunsteling Afrikaanse skrywers? Die ouens wat die cartoons in Afrikaanse koerante skryf. • Wat is die volgende move? Gaan jy op Aardklop wees? Ek beplan baie min dinge, en is dom met vorms. So ek wag eerder vir moves om self te gebeur Ek hoop Aardklop lees hierdie onderhoud en nooi my om op hulle onkoste soontoe te kom sonder dat ek 'n vorm moet invul. Of dat iemand anders alreeds onder my naam aansoek gedoen het en vir my sal laat weet dat ek daar moet wees. Miskien moet ek 'n agent aanstel. • ‘n Agent klink na ‘n goeie idee. Is jy besig met ‘n volgende CD? Sal jy iets daaroor verklap? Ja. Baie dankie weer dat jy vra. Die songs is klaar. Dit moet net opgeneem word. Die CD se naam sal dalk My Kat Karien wees, of iets anders wat met soul te make het. Dit sal afhang van watter een van my siele uitspring as ons die dag moet besluit. • Waar is jou gunstelingplek op aarde? Langebaan. ![]() • Wanneer het jy begin musiek maak? Op skool. As dit OK is met jou, gaan ek nie se presies wanneer dít was nie. Ek het klavier gespeel op skool, in die skoolkoor gesing en was ook in die kadetorkes. In die Weermag het ek ook in 'n koor gesing, en ook op Stellenbosch. Later het ek en ’n goeie buddy ’n sangfees op Stellenbosch met 'n duo opgemors (of verbeter – ons is vandag nog nie seker nie). In 1995 het ek tussen tienuur die aand en vieruur in die oggend my eerste song neergeskryf. Dit was 'n omgewing-song oor die stryd rondom die staalfabriek by Langebaan. Die greenies het dit die volgende oggend gehoor en gevra dat ek dit opneem as 'n campaign song. Toe het ek dit in Barry Marais se studio in Goodwood opgeneem, en hy het my met een sin gemotiveer om nog te skryf. Logaritme, Ritgert en Aandraai het vir die verdere motivering gesorg. • Waarin glo jy? Nie in logika nie. Wel in die Universe, wat dit ook al mag wees. Nogal in die liefde ook. • Wat is jou definisie van kabaret? Nou vra jy my vas. Ek dink dit is wat ek doen, maar die mense by die konserte moet maar self besluit. By die KKNK het hulle my show 'n kabaret genoem. Ons was in die Banketsaal. So kabaret is seker 'n soort bang-bang-kettery. • Wanneer kom jy Dorpstraat Teaterkafee toe? Sodra hulle my vra.
LitNet: 30 Junie 2004 Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||