Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Repliek op ekonomiese knelpunte/pluspunte in 2014

Stan du Plessis

is makroekonoom en mede-professor by die Departement Ekonomie aan die Universiteit van Stellenbosch. Behalwe vir formele skryfwerk lewer hy gereeld ekonomiese artikels in die Suid-Afrikaanse media.
  Stan du Plessis

Die gesprek oor die Suid-Afrikaanse ekonomie in 2014 het geëindig met 'n opmerking van Andrew Donaldson wat die voorafgaande debat - en die soms moeilike openbare gesprek oor Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsigte - treffend in perspektief gestel het, naamlik dat sommige gespreksgenote (in hierdie geval Christi van der Westhuizen) na 'n wonderwerk soek, terwyl ekonome en die ekonomiese geskiedenis ons aanmoedig om eerder oor bestendige maar volgehoue vordering langs die weg van ekonomiese ontwikkeling te dink.

Hierdie is 'n fundamentele onderskeid tussen dié wat sistemiese kritiek wil lewer en na sosiale revolusie verlang aan die een kant, en aan die ander kant, hulle wat meen dat die markekonomie self belowend is en eerder gesprek wil voer oor besonderhede wat die evolusie van die stelsel beïnvloed, soos die juiste rol van die staat, die mate en wyse van deregulering, arbeidswetgewing en so meer.

Sondagaand se forum, onder die bekwame leiding van JP Landman, was meestal 'n voorbeeld van laasgenoemde gesprek oor "besonderhede" en ek gaan in die hieropvolgende paragrawe die een en ander oor die kwessies skryf wat ter tafel gekom het. Maar daar was ook pogings tot sistemiese kritiek in die debat, meestal deur Christi van der Westhuizen, soos die verwysings na die "huidige groeimodel" wat na bewering ontoereikend sou wees en die sogenaamde "neoliberale" ekonomiese beleid wat na haar mening werksgeleenthede sou vernietig.

Omdat sistemiese kritiek afstand doen van wetenskaplikheid, gaan ek nie daarby talm nie, behalwe om op te merk dat hierdie afwysings van die huidige bestel telkens gebaseer was op 'n onskuldige gebruik van uiters problematiese ekonomiese gegewens, byvoorbeeld die inkomste-en-uitgawe-opnames van 1995 en 2000 en die menslike-ontwikkelingsindeks.

Laat ek my eerder bepaal by die spesifieke kwessies wat teen die agtergrond van die markekonomie geopper is. Chez Milani het telkens die gesprek na die arbeidsmark teruggestuur, en JP Landman het self na verhoogde werkskepping as die basiese probleem vir die ekonomie verwys. Die drie ekonome, Cees Bruggemens, Andrew Donaldson en John Loos, het aan hierdie aas gebyt en elk met 'n eie perspektief.

Bruggemans het voorspel dat formele indiensname na sy verwagting 'n beskeie toename sal toon ten spyte van bestendige ekonomiese groei oor die volgende dekade. Sy argument was dat vinniger werkskepping teruggehou word deur arbeidsmarkwetgewing en menslikekapitaalbeperkings wat 'n eenheid arbeid óf duur maak vir die produksie wat dit lewer óf lae produksie lewer vir die loon- (én nieloon-) kostes wat dit vra.

John Loos was enigsins meer pessimisties, veral weens onvoldoende menslike kapitaal (insluitend sy kommer oor die breinverlies aan die buiteland), en sy argument dat die onderwyssisteem hierdie probleem nie die hoof sal bied met 'n tienjaar-horison nie.

Donaldson was meer positief, en om 'n interessante rede, naamlik sy argument dat die formele sektor as sulks kan uitbrei om heelwat (veral dienste-) aktiwiteit wat tans informeel plaasvind, in die hoofstroom-ekonomie in te trek en sodoende formele indiensneming verbasend vinnig te laat groei. Bruggemans se pessimisme oor werkskepping is dus versoenbaar met Donaldson se optimisme as die formele sektor op laasgenoemde se voorstel herdefinieer word.

Natuurlik veronderstel Donaldson se visie ook dat die informele sektor toenemend met die formele sektor skakel, en dit is 'n tema wat ons deesdae heelwat in die beleidsgesprek en die media hoor onder die "eerste ekonomie, tweede ekonomie"-opskrif. Ek dink daar is 'n risiko dat hierdie metafoor te letterlik opgeneem word. Nietemin, daar is waarskynlik ruimte in Suid-Afrika om die transaksiekoste vir deelname aan die formele sektor te verlaag - beide Bruggemans en Loos het op verskillende maniere hierna verwys - en daar is heelwat ruimte om menslike kapitaal te help bou wat bemagtigend kan wees met die oog op formelesektor-indiensneming. Dit was nietemin billik van Milani om kapsie te maak teen die gemak waarmee vroom bedoelings hieroor verkondig kan word (neem nou maar die "jobs summit") sonder konkrete aanduidings van implementering.

Investering, veral deur die owerheid, is deel van ieder se plan om die formele sektor uit te bou. Dit is algemeen bekend dat Suid-Afrika se investeringskoers laag is, en Bruggemans het ten sterkste ontken dat laasgenoemde aan lae beleggersvertroue toegeskryf kan word. Volgens Bruggemans het die staat min geïnvesteer sedert die tagtigs - en dit had ook 'n langtermyn-implikasie vir die doeltreffendheid van privaatsektor-investering.

In reaksie het Donaldson gewys op die stygende tendens van investering op alle vlakke van die owerheid, hoewel hy uiters versigtig was om staatsinvestering nie te verromantiseer nie. Hierdie was sleutelopmerkings deur Donaldson, met die uiters bemoedigende boodskap dat die Suid-Afrikaanse owerheid deurentyd bekommerd is oor die kwaliteit en doeltreffendheid van owerheidsbesteding. Sy afwysing van die voorgestelde basiese inkomstetoelaag was op dieselfde trant: die owerheid kry beter waarde vir geld uit geteikende owerheidsondersteuning, byvoorbeeld die kindertoelaag. Hierdie argument is oortuigend en wys dat die Suid-Afrikaanse regering besef dat hulle ook 'n begrotingsbeperking het, iets wat Van der Westhuizen nie wou toegee nie.

Swart bemagtiging en regstellende aksie was dié groot ekonomiese onderwerpe waarvoor Landman nie in hierdie gesprek plek wou inruim nie. Dit is sonder twyfel 'n groot genoeg onderwerp om 'n eie program te regverdig, maar met hierdie verdeling loop die program die gevaar dat swart bemagtiging en regstellende aksie sonder die nodige ekonomiese dissipline bespreek gaan word. Ekonome het uit die ondervinding van die afgelope twee eeue geleer dat daar geen voldoende voorwaardes is vir ekonomiese groei en ontwikkeling nie, maar ons het geleer dat daar noodsaaklike voorwaardes bestaan, byvoorbeeld die beskerming van eiendoms- en kontraktereg, makro-ekonomiese stabiliteit, die aanmoediging van 'n gedesentraliseerde markekonomie, en insentiewe wat produktiewe gebruik van bronne (veral ook tyd) aanmoedig eerder as pogings om bronne van ander Suid-Afrikaners te verkry (sg "rent-seeking"). Daar is 'n beduidende gevaar dat swart bemagtiging soos dit tans ontwikkel, 'n voorbeeld van laasgenoemde kan word, wat die ekonomiese ontwikkeling van Suid-Afrika kan strem.

Ek wil opsommenderwys sê dat die gesprek tussen Bruggemans, Donaldson en Loos 'n fassinerende blik gebied het op van die belangrikste knelpunte oor die Suid-Afrikaanse ekonomie. Maar daar was nie net knelpunte in hierdie gesprek nie - veral Bruggemans en Donaldson het op eie manier 'n optimistiese ontplooiing van die Suid-Afrikaanse ekonomie teen 2014 voorsien, en ek stem grootliks met hulle saam: die toekoms beloof 'n bestendige ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse ekonomie. Nietemin, ons kan van hierdie optimistiese baan afgestamp word, en die sekerste manier om dit te doen sou wees om romantiese gedagtes oor die moontlikheid van sentrale beplanning in die ekonomie te koester.



LitNet: 21 Julie 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.