|
|
SA 2014: Leerkultuur moet gevestig word
Goed, kom ons gee toe: die onderwysstelsel in Suid-Afrika is binne 'n dekade op 'n wentelbaan wat inherent gesonder is, geplaas. Met stampe en stote, en heelwat foute en strategiese glipse, maar ten minste het ons daarin geslaag om die stelsel van onderwys in ons land te begin belyn met werklik demokratiese waardes en met grondige menseregte. Die paneel het tereg daaroor ooreenstemming bereik dat genoegsame en deeglike beleid tot dusver in die onderwys bestaan en geskep is. Wat dit swaar maak om dié toegewing te maak, is die prys wat onderwysers, leerders en skole moes betaal om dit te vermag. Die paneel het maar na enkele van die opofferings verwys, soos die lae vlakke van letter- en syfervaardigheid in verskillende grade, die laerkwaliteit-kandidate vir hoër onderwys, die nuwe en besonder hoë eise aan opvoeders en die aantal spesialis-onderwysers wat die stelsel verlaat (het). Wat 'n toegewing soos eersgenoemde verder bemoeilik, is dat teenkanting teen die bestaande stelsel, of bedrewe en ingrypende kritiek daarop, binne regerings- en politieke kringe dikwels met rassisme en 'n ongeneentheid met transformasie gelyk gestel word. Op dié manier is die diskoers aangaande beleid en implementering daarvan in die verlede dikwels met goeie politieke vernuf weggeneem uit die hande van bepaalde omgewings of gemeenskappe wat ook gespesialiseerde insette kon maak. En die verhaal van onderwys in Suid-Afrika is 'n verhaal van verskillende gemeenskappe: oa kultureel, godsdienstig, taal, welvaart, ligging en sosiopolities. Die paneel het egter nie die gemeenskappe verteenwoordig waar die leerder:onderwyser-ratio 100:1 is nie - die swart gemeenskappe in die "townships", waar merendeels ook die grootste nood is aan die "basiese geriewe" vir onderwys. Dit beteken nie dat ons deskundige paneel nie inligting, kennis en insig in die plaaslike situasie van só 'n skool en die onderliggende kwessies van só 'n gemeenskap het nie. Maar my vermoede is dat bepaalde perspektiewe aangaande die onderwysbeleid en byvoorbeeld 'n kwessie soos subsidies nie gelug is nie. Nog 'n stem wat nie op die paneel teenwoordig was nie, was die stem van vroue-akademici. Punt is: vele van die beleidstandpunte, soos byvoorbeeld die verskillende standpunte aangaande moedertaalonderrig in omloop, is gebore en het gegroei uit gemeenskappe wat nie deelgeneem het aan die paneelbespreking nie. Die feit dat 'n groot tekort aan moedertaalonderwysers in die tradisioneel "swart" tale bestaan, is nie aangeraak nie, terwyl dit direk verband hou met letter- en syfervaardigheid in vele gemeenskappe. Die paneelbespreking het egter daarin geslaag om kwessies wat die hele stelsel en alle gemeenskappe raak, aan die orde te stel, naamlik transformasie en die klem op kwaliteit. Die harde kwessies van gebrekkige basiese geriewe, die vestig van 'n insluitende kultuur by skole en instellings, die opleiding van onderwysers en onderwysbestuurders en die hervestiging van dissipline, is uitgewys. Aan die hart van transformasie in die onderwys lê die kwessie van toeganklikheid in baie omgewings en vele vlakke van die hele stelsel. Die gesprek aangaande openbare en onafhanklike opleiding het bepaalde relevansie ten opsigte hiervan. Die paneel het opgemerk dat 'n huiwerigheid in regeringskringe jeens instansies wat onafhanklik opleiding wil doen, aangevoel kan word. Dit sou egter sinvol wees om die denke en politieke dryfvere vir 'n moontlike agterdog jeens "private" opleiding te ondersoek. Alhoewel ISASA hulle reeds by verskillende geleenthede daartoe verbind het om die agenda van transformasie te dien, bestaan die persepsie steeds in vele omgewings dat dié instansies eksklusiwiteit voorstaan. In informele gesprekke word die vinger gou gewys na onafhanklike skole met 'n etos wat nie 'n nasionale identiteit dien nie, en na onafhanklike instansies wat naskoolse opleiding bied wat nie in pas is met die kwalitatiewe eise van die ekonomie nie. Onafhanklike instansies se bestaansreg word geregverdig en gemeet deur die insette wat dit maak tot die breër sosiale en ekonomiese werklikheid van die land - meer as bloot die regstegniese en demokratiese moontlikheid daarvan. Dié skole en instansies het 'n dringende taak om persepsies te verander. Die paneel het nie daarin geslaag om dit te doen nie. Die vestiging van 'n nasionale identiteit moet onderliggend tot hierdie agterdog jeens onafhanklike onderwys ondersoek word. Ten einde te verseker dat alle gemeenskappe, omgewings en samelewingsinstansies uiteindelik deurspek is van demokratiese waardes en 'n kultuur van menseregte, is dit nodig om elke en die hele stelsel te belyn met die sentrale beleid. Dit gaan oor beheer, magsverhoudinge, daarop gemik om enige oorblyfsel van die ongeregtigheid van die vorige stelsel uit te roei. Alhoewel vele denkers 'n groeiende agterdog jeens die agenda van 'n nasionale identiteit verwoord, is die politieke werklikheid egter presies dit - nasionalisties. Toeganklikheid en transformasie is ononderhandelbaar, soos die paneel tereg bevestig het. Dit is daarom noodwendig dat sentralisasie voorop sal staan en regulering 'n groter rol sal speel. Ek deel dus die mening van die paneel dat meer desentralisasie met die oog op 2014 kan plaasvind, alhoewel beleid reeds ruimte daarvoor laat. Die teenwig vir die sentraliserende aard van die stelsel is die groot mate van onafhanklikheid wat vir skole en ander instellings in beleid en wetgewing verskans is. Die paneel het hierna verwys met opmerkings aangaande die magte van die beheerliggame van skole. Veral in plaaslike gemeenskappe is daar egter nie 'n begrip van hierdie magte nie, met die gevolg dat die volle potensiaal van die plaaslike openbare skool of instansie nie ontsluit kan word nie. Dit laat die gesprek weer met die warm patat van "opleiding" in die hand - opleiding van opvoeders en bestuurspersoneel, waarin die belangrike faktor "modellering" is. 'n Belangrike komponent van opleiding op plaaslike vlak behels die inskakeling van beheerrade van skole in die proses. Skole is in vele plaaslike gemeenskappe die enigste werklike sentrum van opvoeding vir die gemeenskap as geheel, en die breëre rol daarvan op plaaslike vlak kan dus uitgebrei word. Die as van die wiel waarmee ons die onderwys gaan vorentoe neem na 2014, is dissipline op alle vlakke, wat eerstens verwys na die vestiging van 'n kultuur van gedissiplineerde leer in skole en instansies, en nie na die hantering van leerders in die klaskamer nie. 'n Gebrek aan dissipline is heel dikwels deel van die leemte van die stelsel. Die paneel het "implementering" as die leemte en "beleid" as die krag van ons onderwysstelsel beskryf. Implementering moet dus met die oog op 2014 voorop staan, soos dit ook doen in alle sektore. Daar is egter 'n belangrike en dringende leemte in die algehele stelsel, wat veral in sekondêre onderwys sigbaar is, en wat 'n beduidende bydrae kan maak tot die vestiging van 'n kultuur van dissipline by skole, en van 'n demokratiese institusionele kultuur by tersiêre instellings. 'n Leemte bestaan aan die betrokkenheid van studentestrukture in die formulering en uitvoering van onderwysbeleid. Die gedagte van deelname van leerders en studente aan dié prosesse van regering is 'n gevestigde beginsel in verskeie stelsels en ook in Suid-Afrika, maar dit word nie naastenby genoegsaam in die praktyk ingevoer nie. Alhoewel deelname van leerders en studente in besluitnemingsprosesse veral op tersiêre vlak meer aandag geniet, is dit egter dikwels steeds beperk en nie beduidend nie. Die leemte aan deelname van dié belangegroepe in die onderwys is ook die gevolg van 'n groot gebrek aan organisasie van die studentebeweging op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak. Dié bewegings het in die verlede 'n noodsaaklike bydrae gelewer daartoe om 'n leierskap en 'n kultuur van verantwoordelikheid in plaaslike gemeenskappe te vestig. Die tyd is ryp dat die netwerke en strukture van studente en leerders weer gevestig en gemobiliseer word ten einde kwessies soos dissipline, koste en ander dienste van die stelsel aan te spreek. Hierin gaan dit nie eerstens oor 'n fasilitering van strukture sodat die jongmense van die land georganiseerd is nie. Dit behoort spesifiek en duidelik te gaan oor die deelname van leerders en studente aan besluitnemende prosesse. Langs dié weg sal die vestiging van 'n leerkultuur en die herstel van onderwys in vele gemeenskappe verhaas kan word.
Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |