Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Kuns en teater in 2014: Meer om oor te jubel as om oor te treur

Reinet Nagtegaal

is 'n bekende skrywer en het die debuutprys in Sanlam/INSIG/Kwêla se Romanwedstryd gewen met Voorvaders kan vlieg, sê Delores. Sy is met die Nagtegaal-teksprys (saam met haar man, Dirk) baie betrokke by kunstefeeste en teater.
  Reinet Nagtegaal

Onder leiding van JP Landman is daar Sondagaand op SA 2014 gekyk na die huidige stand van kuns in Suid-Afrika en die potensiële verloop daarvan binne die volgende 10 jaar. Teen die agtergrond van die huidige teaterindaba op LitNet het hierdie bespreking, met enkele verwysings na kuns in die algemeen, hoofsaaklik gedraai om die uitvoerende kunste en die stand van teater in die besonder.

Die paneel het bestaan uit die joernalis en kunstefeesdirekteur Martie Meiring, dramaturg en sakeman Deon Opperman en prof Andries Oliphant van die Departement Lettere aan UNISA, digter, skrywer, en voorsitter van die Kuns- en Kultuurtrust, wat hom onder andere daarvoor beywer om die regte van kunstenaars en kulturele diversiteit te bevorder.

Stellings waaroor daar, met enkele kwalifikasies hier en daar, algemene konsensus blyk te wees:

1. Dat elke Suid-Afrikaner se reg op kuns en kultuur in die Grondwet verskans is.

2. Dat kultuuropvoeding die plig van die staat is, welke plig verwaarloos word.

3. Dat die huidige regering ook nie genoegsame befondsing daarstel om kuns na die minder gegoedes te bring nie.

4. Dat die National Arts Council geen bydrae lewer nie en as verleentheid gesien word.

5. Dat daar geen vordering gemaak word met die regering se reeds bestaande witskrifbeleid oor kuns en kultuur nie.

6. Dat ook die woordkuns onder gebrek aan beleid ly en dat daar byvoorbeeld nie meer geredelik digbundels gepubliseer word nie.

7. Dat daar, danksy die verskillende kunstefeeste, ten spyte van bovermelde tekortkominge steeds gunstige groei in die vraag na kuns is.

8. Dat daar goeie vordering gemaak is met die leerskool van privaat administraie en beplanning van die verskillende feeste.

9. Dat die politieke verandering en subsidienood tot gevolg het dat daar 'n verskuiwing van protesteater na kommersiële teater was.

10. Kuns skep werk.

Dispute:

  • Befondsing deur regering en borge

    Deon Opperman stem nie saam dat daar 'n plig op die regering of privaatsektor moet wees om kuns te befonds nie. Hy stel dit dat kuns en teater se enigste oorlewing berus in gesonde besigheidsbeginsels, wat hoofsaaklik neerkom op entrepreneurskap, tegnologie en produktiwiteit, sonder enige regeringsubsidie.

    Martie Meiring wys daarop dat groot orkeste en balletgeselskappe nie deur die burgery onderhou kan word nie en dus nie sonder subsidie kan voortbestaan nie.

    Deon Opperman verwys weer na besigheidsbeginsels wat vereis dat baked beans van die winkelrak gehaal moet word sodra die vraag daarna taan.

    Andries Oliphant vat dit netjies saam dat gesonde besigheidsbeginsels noodsaaklik is, maar verder dat 'n publieke stelsel onontbeerlik is omdat 'n groot deel van die bevolking brandarm is, en dat dit dus nodig is om balans te hou tussen die twee stelsels. Verder brei Andries Oliphant uit dat gesonde besigheidsbeginsels immers ook vereis dat daar fondse teruggeploeg word in die verbruikersomgewing en ontwikkeling van hierdie bronne.

  • Drastiese rasionalisering

    Opperman glo dat baie meer met baie minder bereik kan word. Hy brei uit oor die geweldige vermorsing met administrasie en lomp strukture binne die vorige bestel en waarsku teen die voortsetting daarvan.

    Oliphant glo dat rasionalisering nodig is, maar dat alles nie oor dieselfde kam geskeer kan word nie en dat opleiding byvoorbeeld groter administratiewe strukture vereis waarvoor die staat geld moet beskikbaar stel vir subsidiëring.

    Voorstelle vir die pad na 2014:

    1. Dit is nie moontlik vir die staat om die hele infrastruktuur van die uitvoerende kunste te dra nie en verskeie taakgroepe moet geskep word om daaraan uitvoering te gee.

    2. Daar moet maniere gevind word om ook dié wat nie geld het nie, aan teater bloot te stel.

    3. Daar moet 'n nuwe kunsteraad genomineer word met 'n beperkte ampstermyn van net drie jaar.

    4. Gehore moet opgevoed word om ernstige teater te waardeer.

    5. Kwaliteit van produksies moet verhoog word.

    6. Daar is 'n beleid oor boeke nodig, wat subsidie aan biblioteke sou insluit.

    7. Kunstenaars moet opgelei word as entrepreneurs om die ekonomiese gedeelte van hul beroep beter te verstaan.

    8. Omdat tegnologie teen 'n verbysterende spoed ontwikkel, moet daar meer gefokus word op tegnologiese vaardigheid en opleiding.

    9. Daar moet gewaak word teen die isolasie van kuns.

    My kommentaar:

    Daar mag diegene wees wat my as naïef beskou, maar ek glo daar is meer om oor te jubel as om oor te treur wat die stand van kuns en teater in Suid-Afrika betref. Juis die afwesigheid van die staat maak plek vir die jong entrepreneur om al hierdie geleenthede op te raap en 'n lewe uit kuns te maak, uitvoerend sowel as beeldend of woordkuns. Die jeug staar hulle nie blind teen waarskuwings dat daar geen toekoms in kuns in hierdie land is nie; hulle neem steeds die vakke op skool, droom drome oor roem, en skape kreatiewe werklikhede wat die oueres dikwels sinies soos seepbelle probeer bars.

    Gee in hemelsnaam meer mediablootstelling aan mense soos Deon Opperman, wat werklik insien hoedat daar uit kuns 'n lewe gemaak kan word. Hy staan soos 'n toring van hoop, want hy praat meestal die waarheid en ek neem hom nie kwalik dat hy soms in sy oorywerige entoesiasme soos 'n stoomroller klink nie. Die man weet sy resep werk en dit maak hom moedeloos as ander dit nie instinktief snap nie. Die grootste probleem is dat kunstenaars vas glo dat hul kuns hul bo 'n aardse bestaan verhef en dat iemand anders dus oor die materiële sy van hul kuns moet bekommerd wees. Vandaar miskien die logiese bakhand na die staat se beursie. Dit was nog nooit anders nie, en om hierdie denkpatroon te verander sal baie opleiding verg. As Deon se sakebeginsels nie reeds deel uitmaak van alle kunssillabusse nie, is dit miskien hoog tyd dat dit bygewerk word.

    In dieselfde asem wil ek egter met Andries Oliphant se kalm redenasies saamstem, nl dat befondsing nie heeltemal weggedink kan word nie. Om kuns as besigheid te bemark, kos opleiding en aanvangskapitaal in 'n oorgangstydperk waar die samelewing nog nie vertroue in die materiële oorlewing van kuns as besigheid opgebou het nie. Tot so min as 10 jaar gelede het kuns nog aan die staat behoort. Watter soort kuns opgevoer of ten toon gestel word, is ferm deur die staatsbeheerde media voorgeskryf. Die jonges beleef vandag 'n veel groter vryheid as in my jeug, juis omdat die regering in sy afwesigheid ook versuim om benouende riglyne neer te lê. Dit het verruimende, kreatiewe vryheid tot gevolg.

    Dan is daar nog 'n saak wat Deon Opperman aangeroer het en my na aan die hart lê, nl tegnologiese ontwikkeling, en veral die uitwerking daarvan op kuns van 2004 tot 2014. Die nuwe wêreld van tegnologie wat voor ons oopgaan, kan beslis die dood beteken van kuns soos ons dit nou ken (video killed the radio stars …), of miskien juis sorg vir 'n totale transformasie daarvan. Hoe gaan digbundels, teater of musiekuitvoerings in die toekoms lyk? Gaan ons dit as dood of transformasie ervaar?

    Wat ek wel weet, is dat die dramaverhoog en die boek klaar nie meer vir die jonger geslag opweeg teen die virtuele werklikheid van tegnologie nie. En ons moet hiervoor beplan en kunstenaars oplei om tegnologie as noodsaaklike verlengstuk van hul kreatiewe vermoëns te gebruik. En die gehoor om 'n smaak daarvoor te ontwikkel.

    Die grootste troos bly steeds dat niks nog ooit die mens se behoefte aan uiting van sy kreatiewe vermoëns kon stuit nie - nie oorlog, onderdrukking, natuurrampe of fisiese gebreke hou die siel van die kunstenaar gevange nie.

    En solank as wat daar uiting is, sal daar 'n gehoor wees.



    LitNet: 22 September 2004

    Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.