Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

SA 2014: Die Suid-Afrikaanse ekonomie - knelpunte en pluspunte

Rachel Jafta

is 'n senior dosent by die Departement Ekonomie aan die Universiteit van Stellenbosch en het verlede jaar haar doktorsgraad behaal. Sy is 'n trustee van oa die Helen Suzman Foundation.
  Rachel Jafta

Breyten Breytenbach het by geleentheid gesê dat Apartheid veel vroeër tot 'n val sou gekom het as dit nie was vir die feit dat Suid-Afrikaners so ordentlik is nie, bedoelende dat ons oor sekere dinge so bolangs praat en nie rêrig dit wat vir baie mense brandpunte is, oopvlek en van naderby beskou nie. Net so 'n ordentlike gesprek - 'n witwarm debat was dit nie - was Sondagaand se debat oor die SA ekonomie se knelpunte en pluspunte oor die volgende tien jaar.

Cees Bruggemans, hoofekonoom van Eerste Nasionale Bank, het begin deur 'n relatief positiewe scenario te skets van hoe Suid-Afrika se ekonomie in 2014 daar sal uitsien: 40-50 persent groter in reële terme, inflasie tussen een en drie persent, rentekoerse laer, huispryse twee tot vier persent hoër, valutabeheer afgeskaf en werkloosheid nog steeds 'n wesenlike probleem, met so ongeveer 11 tot 12 miljoen mense wat in die informele sektor werksaam is. En dit is laasgenoemde wat dan die trant van die gesprek verder bepaal. Tereg word werkloosheid as een van die belangrikste uitdagings vir die Suid-Afrikaanse ekonomie uitgelig.

Met verwysing na strukturele werkloosheid beklemtoon Andrew Donaldson (Nasionale Tesourie) dat maatskappye in die vorige dekade genoodsaak was om in vervanging van masjinerie en tegnologie te investeer, maar dat die tipe investering in die komende dekade anders sal wees. Die probleem met die investering in die vorige dekade was dat dit om verskeie redes nie ten volle benut is nie, onder andere omdat ondernemings nie tegelykertyd ook in die opleiding van werkers wat die masjinerie moet gebruik, geïnvesteer het nie, of omdat die bestuur self nie hulle eie kundigheid en organisatoriese opset so aangepas het dat hulle die beste voordeel uit die tegnologie kon haal nie. In sommige bedryfstakke van die ekonomie wat voorheen beskermd was, gaan dit ook daaroor dat hulle nog nie aangepas het by die aard van mededinging in die oop ekonomie nie. Hierdie tipe mededinging vereis veel meer as net mededingendheid tov prys - kwaliteit, styl en innovering, en volgehoue betroubaarheid met betrekking tot sperdatums is verdere vereistes vir die behoud van klante, veral in die uitvoermark.

Mense reageer op insentiewe - goed en sleg, implisiet en eksplisiet - dus, vir so lank as wat die regering die agterdeur oophou vir versoeke vir beskerming en staatshulp (soos die "reddingspakkette" aan die tekstielbedryf voor die verkiesing vroeër vanjaar), is daar nie genoeg van 'n aansporing om die vaardighede wat nodig is om in 'n mededingende ekonomie te oorleef, aan te leer nie. Maar as ons ernstig met ander ontluikende ekonomieë wil meeding, veral dié in Asie, sal ons ons bestuurs- en arbeidspraktyke aansienlik moet verbeter.

Dit bring ons by die ander faktor wat deur verskeie deelnemers, onder andere John Loos en Cees Bruggemans, as 'n belangrike struikelblok in die pad van werkskepping gesien is: die koste van arbeid. Hier gaan dit nie net oor die vlak van lone nie, maar ook oor die addisionele kostes wat die toenemende aantal wette waaraan ondernemings moet voldoen, tot gevolg het - om van die burokratiese rompslomp nie eers te praat nie. Alhoewel produktiwiteit oor die afgelope dekade toegeneem het, was dit eerstens omdat minder arbeid en meer kapitaal in diens geneem is, en tweedens nie voldoende om suksesvol met ander ontwikkelende lande se arbeidskoste mee te ding nie.

Een van die belangrikste punte van meriete van die markekonomie was vir my nog altyd dat dit vir enigiemand (ongeag jou status by geboorte) die geleentheid bied om sy of haar lewensomstandighede te verbeter. Die belangrike veronderstelling is dat daar nie beperkings op toetrede, soos monopolistiese gedrag in die privaatsektor of beperkende owerheidsbeleid en -praktyke bestaan nie. Die sleutel is deelname. In Suid-Afrika is daar baie voorbeelde van owerheidsbeleid met edele voornemens wat die uitsluiting van 'n groot deel van die bevolking uit die ekonomie tot gevolg het. Dit is dus ironies dat van die deelnemers, soos Christi van der Westhuizen van This Day, glo dat verdere owerheidsinmenging in die ekonomie die oplossing vir die werkloosheidsprobleem bied. As 'n mens vir 'n oomblik die kontroversie rondom politieke vryheid in China tersyde laat en kyk na die fenomenale ekonomiese groei wat plaasgevind het in die provinsies waar meer ekonomiese vryheid toegelaat is (gemiddeld meer as nege persent per jaar), is die oorweldigende indruk die enorme potensiaal vir groei wat verdere opheffings van beperkings op deelname kan teweegbring. Op 'n onlangse besoek aan China kon die werkywer en entrepreneursgees onder die mense kwalik misgekyk word.

Die punt is dat ons in Suid-Afrika weer sal moet dink oor die faktore wat daartoe lei dat besighede nie vinniger werksgeleenthede skep nie, en waar mense wel in diens geneem is, waarom daar in sommige gevalle so 'n onbuigsame werksverhouding tussen werkgewers en werknemers is.

Een voorbeeld om te illustreer: wanneer produsente in besige tye op hulle werkers moet kan staatmaak om bestellings betyds te lewer, is dit juis wanneer sleutelwerkers besluit om hulle siekteverlof te benut (siek ofte nie). Kan dit wees omdat die wet sê dat hulle op 21 dae siekteverlof geregtig is, en dit geïnterpreteer word as 'n reg wat uitgeoefen moet word selfs al noodsaak siekte dit nie?

Een van die voorvereistes vir werkskepping wat gestel is, is dat vaste investering sal moet groei van net onder 16 persent van BBP tans tot ongeveer 23-26 persent oor die volgende dekade. Hierin lê ook die probleem dat sulke investering gekortwiek kan word deur 'n tekort aan menslike kapitaal, soos uitgewys deur John Loos en Cees Bruggemans (as die uitset van ons onderwys- en opleidingstelsel en die breinkwyn in ag geneem word). Hiermee saam gaan ook die persepsies van potensiële investeerders ten opsigte van die risiko verbonde aan belegging in Suid-Afrika. Hier kom vrae oor regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging ter sprake, maar die onderwerp staan oor tot volgende Sondag se program (wat jammer is, want daar was 'n persoon wat ingeskakel het oor die onderwerp en geklink het of hy brand om 'n bietjie vuur in die debat te blaas ...).

Laastens, in antwoord op 'n vraag van JP Landman oor die gevolge van 'n mislukking om die werkloosheidsprobleem op te los is almal dit eens dat dit grootskaalse sosiale besteding en groter misdaad tot gevolg sal hê. En Chez Milani gebruik uiteindelik die Z-woord om te verwys na die soort van samelewing waarin ons nie wil leef nie. Volgens die paneel moet die werkloosheidsprobleem dus opgelos word deur meer investering (ook in infrastruktuur), arbeidsintensiewe produksie, groter sosiale besteding en 'n uitwissing van ongelykheid.

Dit is hier waar JP die vraag vra wat ekonome gewoonlik vra: Wat van afruiling ("trade-offs")? Byvoorbeeld, as 'n mens sou moes kies tussen meer sosiale besteding en investering, wat sou die prioriteit wees? Christi, die joernalis, weier om 'n keuse te maak en sê sy wil al twee hê. Andrew, die ekonoom, reken (tong in kies, dink ek) dat sy 'n wonderwerk verwag ...

Noem my naïef, maar ek dink om die ekonomie beter te laat werk, moet beleidsmakers en ander invloedryke mense (soos vakbondleiers) met 'n bietjie meer aandag na gewone mense luister en hulle vertrou om besluite oor hulle eie lewens te neem (soos waar om hul kinders skool toe te stuur en teen watter loon hulle bereid is om te werk, waar om swaarverdiende geld te belê, ens). Om arm of ongeletterd te wees beteken nie dat mense nie vir hulself kan dink nie ... gee hulle tog net 'n kans en die ekonomie lyk straks in 2014 baie beter as wat nou verwag word.



LitNet: 21 Julie 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.