|
|
n Terloopse paneel praat oor misdaad ...
Na aanleiding van kykNET se program getiteld SA 2014 soos gebeeldsend op Sondag, 8 Augustus 2004 om 20h00. Agtergrond Die paneel 1. Die fasiliteerder (Francois) is bloot 'n kliniese sielkundige van Kaapstad. 2. Fanie het, anders as vele van sy studentemaats, in Suid-Afrika agtergebly met die geloof dat daar wel 'n plekkie vir hom hier is. Hy is 'n seun van Suid-Afrika en Afrika. Hy hou van rugby en krieket, die weer, braai en 'n kleinerige huisie in die suburbs met honde en 'n gesin. Hy bestuur 'n tweedehandse bakkie, het vriende van uiteenlopende agtergronde en praat Engels met petroljoggies. 3. Floors sien homself as deel van die Suid-Afrikaanse X-generasie - hy voel dat, hoewel hy deur die apartheidsbestel bepaalde voordele geniet het, hy nooit die kans gehad het om dit óf te ondersteun, óf te verwerp nie. Hy weet nie of hy skuldig of trots moet voel op sy geslag, velkleur, geloofsoortuigings, belangstellings, taal, geskiedenis, voertuig of die lengte van sy hare nie. Hy is deel van die laaste geslag wat diensplig gedoen het, maar sal dit nie sommer erken nie. 4. Hoewel 'n bietjie sinies, beskou Ferdie homself as 'n "alternative optimist". Hy glo in demokrasie en die African Rennaisance en werk vir die staat omdat hy (so glo hy) as gevolg van sy demografiese profiel nie 'n meer paslike pos kon kry nie. Eerder as om bloot verswelg te word te midde van die mooi van Suid-Afrika se diversiteit en menserykdom, staar hy na die naderende oorheersing van 'n wêreldkultuur en hy vrees dat alle jongmense in die afsienbare toekoms met lospassende jeans, baseball caps en sneakers gaan rondloop. Die bespreking Francois: Ons gesels oor Sondagaand se kykNET-program SA 2014 wat gehandel het oor Misdaad en Suid-Afrika in die jaar 2014 … Ferdie: Ek't ongelukkig die eerste tien minute van die program gemis, maar die eerste ding wat my gestrike het, was die vraag: Wie is hierdie ouens wat hulle gekies het vir die bespreking? Fanie: Ek het self nogal gewonder, maar dit was 'n interessante keuse, albeit 'n bietjie bleek. Floors: Miskien moet ons eerder oor misdaad en 2014 gesels … Ek het gehou van die deel van die bespreking wat gehandel het oor die moontlike oorsake van misdaad. Ferdie: Wat, soos die storie van Kain en Abel? Floors: Dink jy dit was letterlik bedoel? Ferdie: Maak nie saak nie - dit sê anyway niks van die oorsake van misdaad nie, dis bloot 'n narrow en hasty remark oor die kwansuise oorsprong daarvan. Francois: Hoe sou ons onderskeid tref tussen oorsprong en oorsake? Fanie: Miskien gaan ons meer bereik deur te gesels oor moontlike oorsake - dinge wat misdaad tot gevolg kan hê, eerder as om te spekuleer oor wie die eerste misdadiger was. Ek het gehou van die idees dat armoede, die groot gaping tussen ryk en arm, en 'n gebrek aan voorsienbare negatiewe gevolge gekoppel was aan dryfvere vir misdaad. Ferdie: Misdaad is soos water - dit volg die pad van die minste weerstand. Francois: Ehm-mmh? Ferdie: Moenie daai shrink-stunts op my pull nie. Wat ek probeer sê, is dat daar geleentheid is vir misdaad. Misdadigers doen dit omdat hulle kan. En hulle het oorgenoeg geleentheid daarvoor. Die storie van 'n gebrek aan consequences is een voorbeeld van min weerstand. As ek weet die polisie is slack, sal ek makliker 'n kans vat as wanneer ek dink hulle is paraat. Of ek sal eerder by die huis met die lae muur en sonder armed response inbreek as by die een met die pit-bulls en electric fence. Fanie: Min weerstand, soos jy dit noem (ek neem aan dit sluit byvoorbeeld nalatigheid, swak sekuriteit en gebrekkige polisiëring in), kan sekerlik lei tot die verhoogde incidence, maar tog verklaar dit nie waarom dit in die eerste plek voorkom nie. Floors: Die ou in die leerbaadjie het gesê party mense is maar net boos van aard. Francois: Glo ons dit? Floors: Moeilike vraag … Is dit nie maar deel van die menslike manier van dink om dinge in terme van teenpole soos goed en kwaad te beskou nie? Ferdie: Is ons "beyond good and evil"? Fanie: Dis 'n gevaarlike filosofiese debat waarheen jy stuur. Of ons nou daarin glo of nie, mense maak daardie skeiding omdat dit vir ons die lewe, op die oog af, vergemaklik. Dit is net soos die aanvaarding van kousaliteit - dít lei tot dát. Ons hele regsstelsel en, gevolglik, wette en wetstoepassing, is daarop geskoei. Ferdie: Sure, maar dis 'n bietjie deterministic. Hoe kan jy sê iemand is inherently goed of boos en sal derhalwe blinded wees vir al sy of haar teenstrydige gedrag? Dan gaan jy tot die conclusion kom dat Hansie maar die heeltyd 'n slinkse bliksem was, maar sê nou daai vliegtuig het 'n paar jaar vroeër gecrash, dan sou hy vir altyd onthou gewees het as een van die beste krieketkapteins en die personification van 'n goeie, oopgesig jong man … Floors: Dalk was hy beide … Ferdie: Sê jy dit uit conviction of omdat jy alewig 'n draadsitter is? Fanie: Miskien verander mense as gevolg van omstandighede. Of miskien is daar wel iets blywends, maar met matige fluctuations. Dis dalk soos die verskil tussen klimaat en weer: ons almal verstaan min of meer wat bedoel word met "'n regte tropiese klimaat" ten spyte daarvan dat daar gereeld skommelings in temperatuur van daardie streek is. Miskien is daar die een of ander konstantheid in persoonlikheid, of geneigdheid tot misdadige optrede, wat tot 'n minder of meerdere mate ietwat kan wissel met betrekking tot tyd en omstandigheid. Ferdie: So, was Hansie van tropiese of arctic klimaat? Floors: Al kan jy maar partykeer erg dwars wees, sien ek jou punt … Ons is weer terug by goed en kwaad … Maar tog hou ek van die metafoor. Groter, minder wisselvallige dinge beïnvloed klimaat, soos hoogte bo seespieël en afstand van die ewenaar - of nabyheid aan die son met betrekking tot die aarde se as, terwyl meer onmiddellike invloede wisselvallighede op 'n kleiner skaal tot gevolg kan hê. Fanie: Presies. Ek glo daar is meer fundamentele invloede op persoonlikheid, soos genetiese vatbaarheid, biologiese faktore en sosiokulturele opvoeding, wat 'n rol speel in die vorming van persoonlikheid - of geneigdheid tot afwykende gedrag. Dan is daar meer onmiddellike dinge, soos daaglikse stressore, wat bepaalde gedrag in tyd en ruimte kan beïnvloed. Ferdie: So wat julle eintlik sê, is dat misdaad gepleeg kan word deur bose én goeie ouens - én deur draadsitters soos Floors. Party ouens doen dit net makliker en op meer gewelddadige maniere, soos ouens wie se hele familie 'n klomp hooligans was, of wat 'n harde hou teen die voorkop gekry het, of wat gewelddadig grootgeword het. Die res, soos ons goeie ouens, ons sal nou nie noodwendig moord pleeg nie, maar met 'n bietjie road rage of rationalisation of 'n paar doppe agter die blad sal ons maklik 'n Bloubulondersteuner 'n oorveeg gee … Fanie: Jy't alkohol genoem. Dis iets waaraan ek nie gedink het nie. Ek wonder hoe lyk die stats van alkohol- en dwelmmisbruik in Suid-Afrika en hoe staan dit in korrelasie met die incidence van misdaad. Floors: Wat van individualisme? Of nee, kom ons noem dit eerder egosentrisme … Miskien speel selfverknogtheid 'n groot rol, soos wanneer elke ou dink dat wat hy doen, nie so erg is soos dit wat die ander ou doen nie. Neem byvoorbeeld versuim om verkeersboetes te betaal - of belastingontduiking. Ferdie: Met genoeg rationalisation kan 'n ou enige iets justify, soos "Jy sit die hele dag agter 'n desk met airconditioning en ry 'n beamer, terwyl ek heeldag in die wind en weer manual labour doen, daarom is dit OK as ek …" Fanie: …of "… diamante behoort aan niemand nie, die Liewe Vader het dit vir ons almal gegee soos brame wat wild groei … finders keepers …" Floors: Miskien is ons te selfbehep en materialisties en te goed met redenering. Ferdie: Sê jy ons sal minder misdaad hê as ons operate from the heart, rather from the head? Floors: Ek weet nie, ek dink sommer maar net. Fanie: Soos 'n ethic of care, eerder as 'n law of reason? Floors: Ek wonder … Francois: Wonder is nie noodwendig 'n slegte ding nie. Miskien moet ons 'n bietjie meer prakties begin gesels oor misdaad in Suid-Afrika - beide tans, en hoe dit daar uitsien in die toekoms. Fanie: Ek stem. Maak nie saak hoe lank ons spekuleer oor waar dit vandaan kom nie (al is dit 'n interessante - en sekerlik nimmereindige debat), die feit bly staan: daar is baie misdaad in Suid-Afrika en ons moet daarmee deal. Ferdie: Daar's hopeloos te veel en veral geweldsmisdade en obviously deal ons nie baie goed daarmee nie. Floors: Wie deal daarmee? Jan Alleman, die politici, die regstelsel en die polisie … Ferdie: Het jy opgelet hoe het hulle op die program bly praat oor die polisiemag? Sover ek weet is dit lankal nie meer 'n mag nie, maar 'n diens. Suid-Afrikaanse Polisiediens - SAPD, as ek dit nie mis het nie. Fanie: What's in a name? Ferdie: Wel, 'n kleinhuisie vol geld om die badges en briefhoofde te reprint, for one. Obviously, en ek ken die staat, gaan hulle dit nie sommer willy-nilly doen nie. Soos ek hulle ken, het dit gepaardgegaan met 'n moerse change in policy en massas nuwe regulasies en papiere. Fanie: Bespeur ek 'n snars sonskyn rondom die donker wolk van kritiek? Ferdie: As jy gaan kyk na die stats, sal jy sien daar's bitter weinig sonskyn, maar ek glo daar is 'n belofte, of miskien bloot 'n suggestie, van 'n verandering in die weer. Onthou net, die wiel draai partykeer maar stadig. Floors: Dis een ding om grondwetveranderinge op papier te hê, maar om dit te implementeer is 'n ander saak. Ferdie: Ek sien waarheen hierdie gesprek op pad is: ek's die outjie van die staatsdiens en julle gaan my nou bly bombardeer met dinge soos "Kyk hoe het dinge agteruitgegaan"; "Toe ek klein was, was dit honourable om 'n stable job in die staatsdiens te hê" - byvoordele en so - career, as opposed to job, ensovoorts; of "Wat van al die korrupsie?" So ek spaar julle daai. Ek weet, ek weet, dis waar, maar onthou: met al sy gebreke is daar nogtans baie meer transparency deesdae. Korrupsie was altyd daar, nou is daar net meer ouens wat dit raaksien en iets daaromtrent probeer doen. Dieselfde met die stats - dis nes die panel op die program gesê het - ons kan nie nou se stats met dié van voor '94 vergelyk nie, want die rapportering van misdaad en die tuislande en al daai goed maak dat ons appels met spykers vergelyk. Fanie: En tog dra 'n pos in die staatsdiens nie meer dieselfde konnotasies as in die verlede nie … Daar is nie meer daardie trots en sout-van-die-aarde "feel" nie. Ferdie: Sure, want die ouens in die staatsdiens het 'n slegte job om te doen. Dis anders as om 'n slegte job te doen. Fair enough, daar is baie chancers, maar daar is nog net so baie sout-van-die-aarde. Vat jou average polisieman - daar's net so 'n goeie kans dat hy óf bekwaam óf onbevoeg is as enige ou in die privaat sektor. Fanie: Obviously kyk jy nie 3rd Degree nie. Floors: Ek ook nie. Hier klim ek van die draad af: daar's 'n verskil tussen investigative journalism en ouens die heeltyd probeer afkraak of provoke om sensational stories te verkoop. Ek kyk liewer iets soos Special Assignment, waar hulle vir jou wys wat skort, maar ten minste die moontlike oplossings ook oorweeg. Ferdie: Dis feite. Ek mind nie dat die ou in die charge office nuut, maar hulpvaardig is nie. Daai storie van ongeletterde polisie is snert - een van die toelatingsvereistes is matriek (onthou toe jy klein was, was dit net standerd agt). Obviously is daar 'n groot drive om massas nuwe mense te werf en dis te verstane dat 'n groot groep onder opleiding sal wees. Solank die ou my net probeer help en weet hoe om sy job te doen, of om kers op te steek by iemand wat weet. Dis soos outcomes-based education - dinge gaan nie oornag verander nie. Die houding, in hierdie tyd van verandering, is belangriker as die skyn van competence. Gee my eerder 'n genuine ou wat nog kan leer as een wat "volleerd" is en my gerus stel sonder om te deliver. Fanie: Maar is daar genoegsame dienslewering? Floors: Dis moeilik om te sê. Ek dink dis net so belangrik vir die polisie om te kyk na hulle ervare lede as wat dit is om massas nuwe ouens aan te stel. As dit 'n diens eerder as 'n mag is, dan moet mens mooi kyk na die menslike aspek as hulpbron. Die polisie se grootste bate is sy mense, eerder as sy fire power. Miskien staar ons ons blind teen misdaadbekamping ('n korttermyn-strategie) eerder as misdaadvoorkoming. Fanie: Al twee is belangrik. Ferdie: Sure, maar dit vat tyd. Dis soos daai storie van om tyd te vat om die byl te slyp, eerder as om vinniger te probeer kap. Fanie: Of stroomop te loop en uit te vind wie stamp die ouens in die rivier, eerder as om elke keer in te spring en mense te probeer red? Ferdie: Presies. En dieselfde geld vir die regsstelsel en die globale strategie om misdaadvoorkoming. In die program het hulle daarop gesinspeel: misdaadvoorkoming is net soveel die verantwoordelikheid van die onderwysstelsel as wat dit betrekking het op die polisie en die regsstelsel. Floors: En dit sluit die gesin net soveel in as die skole, die hart net soveel as die brein. Miskien iets in die lyn van 'n kultuur van antimisdaad, soos ouens wat hulle verkeersboetes betyds betaal … Vee voor jou eie deur en so … Fanie: Maar is ons nie besig om die polisie en regsstelsel te verontskuldig of om die verantwoordelikheid af te water nie? Ferdie: Nee. Om te gaan kyk na die lewe van die gemiddelde polisieman (of -vrou) - die karige salaris, die traumatiese werksomstandighede, die grinding red tape van die staatsdiens, tekort aan bevorderingsgeleenthede en swak byvoordele, die skofte en die gebrek aan resources om hulle werk te verrig - selfs nie dit sal 'n verontskuldiging wees nie. Dis 'n miserable job, but someone has to do it. Ek haal my hoed af vir daai mense, want ek weet dis thankless en die publiek hou aan moan. Maar ek sal ook nie ophou om krities te wees en te kyk na maniere hoe om dienslewering te verbeter nie. Floors: … soos Special Assignment eerder as 3rd Degree? Fanie: Ek stem. Ek het nou die dag gesien hoe 'n ou tannie 'n poliesman, wat bloot net verbygestap het, aangepraat het omdat "die misdaad so hoog is en julle niks daaraan doen nie". Hy het homself nie probeer verontskuldig of regverdig nie. Hy het ook nie gestry en vir haar gesê sy moet nie veralgemeen nie - net weggestap. Floors: Ons is nie almal so nie. Dit gee my daardie nare gevoel wat ek kry as ek sien watter Afrikaanse musiek die beste verkoop … Net so graag as wat ek my daarvan wil distansieer, net so besef ek dat ek die een of ander gemene menslikheid deel met ouens wat luister na Jurie Els of Bles of Battery 9 of Karen Zoid. Ferdie: Eina. Maar waar. Waar anders in die wêreld? Wie het so 'n kleurvolle toekoms … Of verlede? Daar is nêrens anders vir my nie. Dis ons, hier, nou. As jy dit nie like nie, waai. As jy terugkom, dan's dit cool, ons gaan dit nie teen jou hou nie. As jy bly, dan's dit ook cool. As jy 'n lange gooi en 'n bleeksiel met 'n dik beursie daar anderkant trou, dan's dit jou keuse. Moet net nie moan nie. Floors: Soos wanneer die Springbokke jou kinders se span se gatte skop? Fanie: Of moenie moan dat jy verskriklik homesick is nie. Ferdie: En as jy hier bly, moenie bly moan as die Sri Lankane óns gatte skop nie. Of wag, laat ek rephrase: moenie net moan nie. Ja, dis beter as om te sê: moet net nie moan nie. Francois: Mmm, ek hou nogal daarvan ... Krities, dog ondersteunend … Kort, peinsende stilte. Francois: En wat van Misdaad in Suid-Afrika teen 2014? Floors: Sit skouer aan die wiel en kyk hoe hy draai, al buckle hy partykeer (in die woorde van Valiant). Moenie net moan nie. Einde van gesprek. Paneel stap uit vir 'n sigaret-breek en gesels oor rugby.
Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |