|
|
SA 2014: Heupvuur vir Program 7Erns GrundlingTheuns Eloff (TE) is rektor van die Noordwes-Universiteit. Hy was onlangs een van die televisiereeks SA 2014 (Sondae om 20:00 op kykNET) se ateljeegaste. LitNet het hom met 'n handvol vrae oor die onderwys gepeper: Theuns Eloff 1. Wat behoort die verband te wees tussen die gebruik van 'n onderwysstelsel vir 'n politiese agenda (bv Christelik-Nasionale Onderwys destyds en die nuwe geskiedeniskurrikulum deesdae) en om mense gereed te kry vir die arbeidsmark? Hoe gaan uitkomsgebaseerde onderwys hierdie verband in Suid-Afrika handhaaf? Onderwys behoort in die eerste plek nie 'n politieke agenda te dien nie, maar moet mense voorberei vir hulle verdere lewe, onder andere in die arbeidsmark. Onderwys in 'n Suid-Afrika, wat op verskillende vlakke nog in "oorgang" is, behoort verder 'n bydrae te maak om leerders en studente toe te rus om goeie landsburgers te wees, ongeag hulle eie politieke voorkeure. Die produk van 'n goeie onderwysstelsel (van graad 1 tot PhD) behoort goed-toegeruste en ekonomies aktiewe landsburgers te wees. Uitkomsgebaseerde onderwys (UGO) met sy selfverantwoordelikheid en selfinisiatief kan 'n rol in die vorming van leerders speel, maar dis in baie skole ongelukkig 'n geval van 'n "Rolls Royce"-beleid in 'n Model T-Ford-omgewing. Dit kan egter ook - afhangende van die skool - misluk of misbruik word. 2. Een van die krisisareas in ons onderwys is die tekort aan onderwysers. Is daar genoeg aansporingsmiddele vir jongmense om 'n loopbaan in die onderwys te volg? Wat kan die regering meer doen om mense aan te moedig om onderwys te gaan studeer, en hoe vaar die regering huidiglik? Nee, daar is nie genoeg aansporingsmiddels nie. Afskrikmiddels is daar egter baie: swak salarisse, swak bestuur in skole en distrikte, swak leerderdissipline, baie regeringseksperimente en die wurggreep van onderwysersvakbonde. 'n Ministeriële taakspan van opvoedkunde-dekane werk aan 'n verslag in hierdie verband en hopelik sal die aanbevelings aanvaar en toegepas word. As die regering leer van die "mark" en die werksomstandighede verbeter (waaronder salarisse, bevorderings, prerstasiebestuur), sal die posisie verbeter. Die tekort kan ook verbeter word deur die baie onderwysers wat pakkette geneem het, terug te lok na die skole. 3. Een van die klagtes is dat daar nie genoeg geld is vir onderwysrers nie. Is dit 'n elitistiese kommentaar oor die onderwysstelsel? Is die huidige salarisse vir onderwysers geregverdig? Onderwysers (en baie ander junior staatsamptenare) kry glad nie markverwante salarisse nie. Dit moet verander word, maar dan met gepaardgaande verbetering in produktiwiteit en prestasie. Die onlangse aankondiging oor die evaluering van onderwysers is 'n stap in die regte rigting. Daarby moet die swak bestuur van die meeste provinsiale onderwysdepartemente aandag kry. 4. Na bewering is dit alleen sekere belangegroepe in die onderwys wat verkies om eerder oorsee te gaan klasgee. Het ons regtig hierdie mense nodig? Moet hulle aangemoedig word om terug te kom na Suid-Afrika, of moet hulle in die buiteland bly? Met Suid-Afrika terug in die internasioanle wêreld is dit natuurlik dat baie jongmense eers 'n bietjie hulle vlerke sal sprei. Maar baie van die onderwysers kom weer terug - en ons het hulle en hulle verworwe ervaring nodig. Ten spyte van groterwordende probeleme is dissipline in baie van ons skole nog baie beter as dié in Engeland. Maar die vraag hoe welkom wit onderwysers in oorwegend swart skole en swart onderwysers in oorwegend wit skole is, verdien baie meer aandag. 5. Daar is 'n reusetekort aan moedertaalonderrig in swart tale. Is moedertaalonderrig regtig 'n haalbare en werkbare opsie, aangesien swart tale nie sterk figureer in veral die wetenskappe nie? Die bekende UNESCO-studie het getoon dat as iemand nie moedertaalonderrig tot ten minste graad 7 kry nie, so 'n persoon nooit abstrakte begrippe in ander tale onder die knie sal kry nie. Die swak vaardigheid van baie leerders in Engels (en Afrikaans) wanneer hulle universiteit toe gaan, bevestig hierdie stelling. Die Minister van Onderwys se onlangse uitsprake oor moedertaalonderrig tot op 'n sekere stadium moet dus verwelkom word. Moedertaalonderrig in van die "grootste" swart tale is haalbaar as dit oor tyd ingefaseer word. Maar dit sal van almal betrokke 'n denksprong vra. Veral swart ouers sal hulle fiksasie met Engels as enigste taal van geleenthede moet verander, veral as dit beteken dat dit te vroeg moedertaal as onderrigmedium vervang. 6. Hoe dink jy sal die onderwyssituasie in Suid-Afrika daarna uitsien in 2014? Hoe sal Kurrikulum 2014 na jou mening lyk? Wat skoolonderwys betref gaan sommige skole (met sterk ondersteuning van hulle basisgemeenskappe) al beter word, en ander al swakker - tensy iets drasties gedoen word. Die Minister se wekroep van "terug na die basiese" is 'n goeie begin, maar moet nog eers geïmplementeer word. Distrik- en skoolbestuur sal intensief verbeter moet word, en 'n werksetiek onder die meerderheid onderwysers gekweek moet word. Daarby is daar in te veel skole 'n totale gebrek aan 'n leerkultuur. 'n Positiewe scenario sal wees dat ons martiekslaagsyfer bokant 70 persent staan, maar veral dat daar meer graad 12's is wat wiskunde en wetenskap op hoër graad slaag, wat ordentlik kan lees, skryf en formuleer. En dat die klasgroottes hanteerbaar is, met goedgemotiveerde onderwysers. 'n Negatiewe scenario is te min onderwysers in staatskole (onder andere agv MIV/Vigs), swak dissipline en gepaardgaande ongemotiveerde onderwysers en swak uitslae. Die universiteite sal al hoe meer die werk van die disfunksionele skoolstelsel moet "regmaak" om hoegenaamd eerstejaars te kry wat 'n kans het om suksesvol te wees. 'n Kurrikulum in 2014 sal waarskynlik al deur 'n paar groeifases
gevorder het, en behoort taamlik gebalanseerd te wees, met die "wonder"
van 1994 en die wonde van apartheid al 20 jaar agter ons.
Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |