Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

SA 2014: Sport is al lankal nie meer 'n spel nie

Henk Steenkamp

is Sportredakteur van Die Burger Oos-Kaap in Port Elizabeth. Hy het oor verskeie internasionale sportgebeure vir die Media24-groep verslag gedoen wat heelparty binnelandse en buitelandse rugby- en kriekettoere insluit.
  Henk Steenkamp

Ná 'n mens Sondagaand na SA 2014 gekyk het toe die tema sport was, kon 'n mens nou nie juis met optimisme in jou hart gaan slaap nie. Ja, daar is baie positiewe aspekte rondom Suid-Afrikaanse sport, maar soos een van die lede op die besprekingspaneel, prof Denver Hendricks, gesê het, die gevaarligte flikker.

Daar moet kommer wees oor die deelnemers wat al hoe minder raak, en daar moet kommer wees oor die gebrek aan vordering onder ons elite sportlui. Nog 'n Olimpiese Spele is verby waar medaljes skaars was en Suid-Afrika sleg afgesteek het teen sekere van sy teenstanders in die mark.

Kom ons kyk eers na wie op die paneel was wat na die toekoms gekyk het voordat ons verder gaan.

Hendricks is die direkteur-generaal van die nasionale departement van sport en ontspanning, dan was daar die president van die Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie, Brian van Rooyen, die voormalige Olimpiese swemster Penny Heyns, en prof Tim Noakes, hoof van die instituut vir sportwetenskap aan die Universiteit van Kaapstad. 'n Goeie, verteenwoordige paneel, hoewel ek graag iemand uit sokker se geledere daar sou wou gesien het. Veral met die oog daarop dat Suid-Afrika in 2010 die Wêreldbeker-sokkertoernooi sal aanbied, sou dit interessant wees om te hoor wat iemand soos Danny Jordaan sou sê. Rugby kon ook bevoorreg voel dat sy sake meer as enige ander sport bespreek is - dalk 'n raps te veel.

Die programleier, dr Van Zyl Slabbert, was soos gewoonlik vlymskerp en het deurgaans die regte vrae gevra, vrae wat nie altyd prontuit deur die paneellede beantwoord kon of wou word nie. Daarom kan Slabbert se stukkie toe hy sy kans benut het om te vertel dat hy ook 'n goeie rugbyspeler in sy jong dae was, hom vergewe word.

'n Interessantheid wat na vore gekom het, was die paneellede se dikwelse verwysing na Australië as 'n land om na te volg. Dit lyk of ons sportlui Australië as 'n rolmodel in baie opsigte gebruik, en heel tereg ook, maar dit is nogtans kommerwekkend. Australië kon net sowel na ons vir die antwoorde gekyk het, en dat dit nie so is nie, is maar 'n bitter pil om te sluk.

Kom ons kyk na die kwessies wat duidelik uit die besprekings as sleutelaspekte na vore getree het en wat sal bepaal hoe ons sportsake oor tien jaar sal lyk.

Die paneel was dit eens dat daar te veel oorkoepelende sportorganisasies is wat oor SA sport probeer baas speel en dit nie goed doen nie. Dit veroorsaak grootskaalse verwarring. Een oorkoepelende beheerliggaam van SA sport word deur die paneel voorgestel en niemand behoort daaroor te twyfel nie. Dat dit egter 'n geveg sou afgee om verteenwoordiging op so 'n liggaam te verkry, is natuurlik seker. Die omgewing vir so 'n liggaam moet so geskep word dat jou beste beskikbare administrateurs bereid sal wees om daarop te dien. Tans is daar te veel kundiges wat nie bereid is om die moue op te rol nie, omdat die strukture dit volgens hulle onmoontlik maak.

Een van die aspekte wat sommiges afskrik om betrokke te raak, is politiek. Politiek en sport kan maar vir jare nou eenvoudig nie in Suid-Afrika geskei word nie. Dat ons sekerlik een of ander tyd verby ons politieke erfenis moet kom, is so, maar dit lyk nie of dit teen 2014 al sou gebeur het nie. Suid-Afrika se verlede kan nie sommer oornag verander nie.

Nogtans moet die bevordering van sport die doelwit wees en moet politieke agendas opsygeskuif word. Dit is 'n balanseringstoertjie waarvoor die beste ingespan moet word - nie maklik nie.

Die politieke sy van die bespreking het natuurlik 'n ou gunsteling, die kwotastelsel, opgediep. Hendricks en Van Rooyen het hulle sterk teen kwotas uitgespreek. As alternatief stel Hendricks die skep van geleenthede, die ontwikkeling van vaardighede en 'n groter mate van toegang tot sport voor. Dit lyk of die kwotastelsel uitgedien is, maar dit moet onthou word dat dit sekere groepe gedwing het om iets vir sportontwikkeling te doen wat andersins nie sou gebeur het nie. Moet ook nie vergeet dat Makhaya Ntini en Herschelle Gibbs aanvanklik die Suid-Afrikaanse krieketspan as kwotaspelers gehaal het nie. Vandag is hulle sterre, maar sou dit so gewees het as van ons keurders nie gedwing is om hul oë oop te maak nie?

Van Rooyen meen mense se denkwyse moet verander word, maar dit is nie so maklik nie. Hoe lank transformasie nog moet plaasvind, kon nie deur die paneel beantwoord word nie. Inderdaad kan 'n mens nie 'n tyd daarop plaas nie, maar een of ander tyd sal ons daar verby moet beweeg.

Hendricks vertel die regering sien die gevaarligte, maar hoe dúidelik sien hulle dit? Volgens hom moet die privaatsektor maar uithaal en wys om sport te bevorder, omdat die regering nie genoeg geld het om in al die sportbehoeftes te voorsien nie. Ek is egter seker daar kan êrens nog 'n paar rand uitgekrap word. Sport se rol in dié land kan nie onderskat word nie. Vir 'n fisies en geestelik gesonde land is dit broodnodig en dan is dit absoluut noodsaaklik dat ons elite-sportmanne se talent tot die maksimum ontgin moet word. Kyk maar net wat het sport al vir nasiebou gedoen.

Massadeelname is deur almal as 'n absolute noodsaaklikheid uitgewys. Hiervan kan ons nie wegkom nie. Ons beskryf onsself dikwels as 'n sportmal land, maar as toeskouers, nie as deelnemers nie. Getalle het drasties afgeneem en eerstens moet dit op skolevlak aangespreek word, waar die geleenthede vir deelname geskep moet word. Meer kundige sportafrigters by ons skole is noodsaaklik om die talent te ontgin, want dit gebeur te veel dat onderwysers wat geen benul het van sportafrigting nie, talentvolle spelers onder hande moet neem. Ons televisiekykersgetal het natuurlik drasties gestyg. Mense wil om verskeie redes nie eers meer na sport gaan kyk nie, wat nog van speel. Misdaad is een rede, maar die geweldig uitgebreide sportdekking op televisie is dalk die belangrikste rede. Dalk moet daar weer na die uitdoof van televisie-uitsendings gekyk word - soos byvoorbeeld om, wanneer 'n rugbytoets op Nuweland gespeel word, die sein in Kaapstad en omgewing uit te doof en die toets eers later te vertoon.

Heyns voel duidelik dat die kleiner sportsoorte afgeskeep word. Ek kry die indruk dat die regering die kleiner sportsoorte as 'n lastigheid beskou en wil hê dat die kodes maar op hulle eie moet regkom. Sulke sportsoorte kan egter van onskatbare waarde wees as hulle talent behoorlik ontgin word. Ons nasie sal ewe veel mal gaan as iemand 'n goue medalje wen of dit nou in boogskiet of in atletiek is.

Sportwetenskap en -tegnologie is in die program nie heeltemal fyngetrap nie, maar volgens Noakes is ons op die regte pad om ons sport van dwelms skoon te hou.

Korrupsie en die kook van wedstryde kom inderdaad oral voor, en of dit in 2014 minder sal wees, is sterk te betwyfel.

Hoe gaan ons sport in 2014 lyk? Ons is 'n postitiewe nasie en daarom glo ek ons sal terugkeer na massadeelname, ons sal die eindpunt van ons politieke erfenis bereik en ons administrateurs sal die deelnemers se belange eerste stel.

Om dit te vermag sal sport soos 'n besigheid bestuur moet word deur sakemanne met 'n sporthart. Daar is te veel op die spel, want sport is lankal nie meer net 'n spel nie.



LitNet: 7 September 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.