Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

SA 2014: Die volgende 10 jaar sal leer ...

Gerrit Brand*

Ek het toe ook uiteindelik die eerste episode van SA 2014 te siene gekry. Erns van LitNet moes 'n video-opname na my huis toe bring omdat ek nie DSTV het nie en dus ook nie kykNET kan kyk nie. Dit laat my onmiddellik wonder: Wie gaan hierdie belangrike program te siene kry? Omtrent net Afrikaanssprekendes en dan nog 'n klein, welvarende groepie onder hulle. Is dit die doel van die program? Is dit die oogmerk van die Konrad Adenauer Stiftung wat die Sol Plaatje Akademie finansier? Wat sou Plaatje self daarvan dink? Dit is so belangrik dat daar in Afrikaans intelligente openbare gesprekke oor kwessies van nasionale belang gevoer word. Juis daarom is dit jammer dat so min Afrikaanssprekendes - en nog minder tweedetaalgebruikers van Afrikaans - hierdie boeiende gesprekke sal kan volg. Dit is my belangrikste kritiek teen SA 2014: dit is te gerieflik ingebed in 'n kommersiële vermaaklikheidspakket.

Verwant hieraan is die ietwat kriewelrige gevoel wat 'n mens kry oor die feit dat die borge, ABSA en Rapport, ook op die paneel saamgesels. Toegegee, Tim du Plessis weet waarvan hy praat en sou waarskynlik in elk geval as deelnemer genooi geword het, maar die man van ABSA - sou hy ook op 'n lys van voorkeurgaste verskyn het as die instansie waarvoor hy werk nie 'n borg was nie? Van Zyl Slabbert verstaan tog genoeg van wat 'n "oop samelewing" moontlik maak om agterdogtig te wees oor borge wat vir 'n spreekbeurt betaal, of hoe?

Dit sou my eintlik moet bring by die algemene ideologiese toon van die gesprek in die eerste episode, maar voordat ek daarby kom, wil ek darem eers 'n paar positiewe kante uitlig.

Ek het reeds gesê dat die eksklusiwiteit en ontoeganklikheid van dié program jammer is omdat dit 'n belangrike program is. Hoekom is dit belangrik? Omdat dit 'n forum bied aan twee voorste Afrikaanse intellektuele, Slabbert en JP Landman, om in die openbaar met kundiges en meningsvormers oor die toekoms van ons land in gesprek te tree. Let wel, nie die toekoms van Afrikaans, die Afrikaner of die Afrikaanse gemeenskap nie, maar die toekoms van ons hele land in sy volle omvang en verskeidenheid - en dit in Afrikaans! Bloot die feit dat hier in Afrikaans gepraat word, maar nie net óór Afrikaans nie, is vir my 'n belangrike kultuurpolitieke deurbraak. Op radio gebeur dié soort ding darem al geruime tyd, maar op SAUK-TV gaan dit maar moeilik. 'n Program soos Freek Robinson se Fokus op SABC 2 kry - so lyk dit - die "vergunning" om oor sake van algemene landsbelang in Afrikaans te praat slegs omdat die venster darem met Engels ook gedeel word. Op SABC 1 gaan dit nie anders nie - ook daar word Sesotho of isiZulu, indien enigsins, deurgaans saam met Engels gepraat wanneer belangrike nasionale kwessies aan die orde is. SABC Africa, Special Assignment en dergelike, daarenteen, ervaar geen ongemak met die eksklusiewe gebruik van Engels om sake te bespreek wat almal raak nie, ook al is daar ewe veel potensiële kykers wat nie dié taal verstaan nie. Die patroon op e-TV en MNet is presies dieselfde: belangrike dinge moet (ook) in Engels gesê word. Hier agter sit 'n bepaalde soort mentaliteit, naamlik dié van 'n postkoloniale elite wat Engels met universaliteit en gewigtigheid assosieer en daarom enige eg "nasionale" debat eers met Engels moet "seën" voordat hulle gemaklik daarmee kan wees. Sover is SA 2014 lekker dwars in dié opsig.

Maar dis early days - kom ons hoop dat dit so bly.

Sondagaand het Landman, in reaksie op 'n opmerking deur 'n inbeller, die versekering gegee dat daar in die toekoms darem ook "Afrikaan-Afrikane" aan die gesprek sal deelneem. Ek sou so smile - anders sou die program 'n klug wees - maar ongelukkig is daar onder Afrikaanssprekendes 'n tendens om te reken dat as daar met andertaliges gekommunikeer word, dit noodwendig in Engels moet gebeur. Daar is geen goeie rede daarvoor nie - ewe veel mense in Suid-Afrika verstaan Afrikaans as Engels - maar dit gebeur nietemin. As iemand wat nie Engels magtig is nie aan 'n Engelse program deelneem - en dit gebeur maar selde - sal daar altyd van voice-overs of onderskrifte gebruik gemaak word. Hoekom kan dieselfde nie op Afrikaanse programme gebeur nie?

Natuurlik is daar sekere mense wat nie kan saampraat as daar in Afrikaans gepraat word nie - dieselfde geld van enige taal, ook Engels - maar hulle het mos ander geleenthede om hul sê te sê. Daar is genoeg swart intellektuele wat in Afrikaans 'n goeie bydrae tot 'n gesprek kan lewer, en 'n mens kan maar net hoop dat die makers van SA 2014 dié roete sal volg. Immers, behalwe dat elke taal bepaalde mense uitsluit, het elke taal ook die voordeel dat dit bepaalde mense aan die woord stel, spesifieke stemme hoorbaarder maak, en gesigspunte wat dalk andersins nie gehoor sou word nie, in die kalklig stel. Mag SA 2014 die volle potensiaal van Afrikaans in dié verband benut. Mag dié program 'n vertoonvenster word van die kwaliteit en verskeidenheid van menings en insigte wat in die gemeenskap van Afrikaansgebruikers - swart en wit, eerste- en tweedetaalsprekers - beskikbaar is en die sêkrag wat Afrikaans as debats- en besinningstaal het.

En kyk mense, Slabbert en Landman is twee skerp bliksems. Hulle laat nie oppervlakkige opmerkings, los veralgemenings of feitefoute by hulle verbyglip nie. Tog kan hulle so vriendelik en ordentlik die snert uitwys en regstel dat 'n mens dit amper nie agterkom nie! Wat ek van dié twee here geniet, is dat hulle die land en die kontinent ken - nie net op grond van media-geïnduseerde indrukke nie, maar uit eie ervaring en wye kennis van beskikbare navorsing. Dit is dié soort realiteitsin wat van hulle sulke goeie gespreksleiers maak - hulle bring telkens die gesprek terug aarde toe. En hul geloofwaardigheid is onaantasbaar; niemand kan hulle van verskuilde agendas of vurktong-sindroom beskuldig nie. Dit, lyk my, moet programdeelnemers weet: op SA 2014 gaan daar nie mooi broodjies gebak word nie; daar gaan nugter en reguit gedink en gepraat word.

Die tema van die eerste episode was blykbaar so iets soos alles en nog wat en dit is dan ook presies waaroor gepraat is - niemand het van die onderwerp afgedwaal nie ...

Martie Meiring meen dat die grootste uitdaging wat ons land in die gesig staar, niks anders is nie as - surprise, surprise - VIGS. Ja, VIGS met hoofletters, want alleen so kan die toon van eerbied en gewydheid waarmee dit vermeld is, oorgebring word. Nou ja, gaap. Nadat die geloofsbelydenis afgehandel is, is daar, Goddank, nie juis veel verder oor vigs gesê nie. Het ek my verbeel dat Landman op 'n stadium gebrand het om iets polities inkorrek oor die onderwerp kwyt te raak? Dié kêrel weet immers waarvan hy praat; hy het die statistiek op sy vingerpunte. Nie Slabbert, Henry Jeffreys, Tim du Plessis of die ABSA-man het juis op die saak ingegaan nie. Óf hulle almal stem saam (soos almal altyd met die dominee saamstem ... "hm, en kan ons nou maar oor iets anders praat?"), óf hulle weet intussen dat ons hier met 'n krisis te doen het wat vir altyd oor die volgende horison gaan dreig. (Landman sê daar gaan in die gesprek oor die ekonomie met 'n "kundige" oor die impak van vigs gepraat word; gaan hulle die guts hê om iemand soos Anthony Brink, Rian Malan of Robert Brand ook aan dié gesprek te laat deelneem, of gaan dit by geloofsbelydenis bly?)

Meiring het in elk geval klaarblyklik haar mes lelik in vir Thabo Mbeki. Nou ja, ook dit is niks nuuts nie - dit kom in die beste families voor. Nie dat ek 'n Mbeki-bewonderaar is nie, maar ek vind dit altyd interessant dat Suid-Afrikaners die man óf bewonder óf haat. Kan 'n mens nie maar net sy uitsprake en besluite op hul meriete beoordeel nie? Wat is dit presies waarvoor Mbeki as ikon staan dat mense so die nodigheid voel om hom óf te vereer óf met die grond gelyk te smeer?

Hoe dit ook al sy, behalwe vir die verskriklike probleem van vigs wat omtrent al ons vroue gaan uitwis en ons hele samelewing gaan lamlê, is Meiring positief oor die toekoms. Die rede? Sy is 'n "positiewe mens". Gevolglik dra sy dan ook 'n hele paar soetsappighede tot die gesprek by. In haar voorafonderhoud met LitNet is sy byvoorbeeld aangenaam verras met die talent en bekwaamheid van die swartes wat nou die land regeer. Hoekom is sy verras daaroor? Ek wonder maar net ...

Maar laat ek nie te hard wees op Meiring nie. Ek geniet altyd haar koerantrubrieke (al is hulle nie altyd vry van soetsappighede nie) en sal haar altyd respekteer vir haar betrokkenheid by Vrye Weekblad in 'n tyd toe dié soort ding allermins as kosjer beskou is, never mind soetsappig. Dit lyk my Meiring is daar waar opwindende dinge in Afrikaans gebeur, en net daarom like ek haar.

Meiring het dan ook twee belangrike punte in die gesprek gemaak waarop niemand eintlik 'n bevredigende antwoord kon gee nie. Eerstens, haar kommer oor die rol wat Suid-Afrika in die kontinent speel (vergeet nou eers haar lawwe gedagte dat ander Afrikalande ons kwalik neem vir ons sagte behandeling van Zimbabwe): Kan ons rol in Afrika straks met Amerika se rol in die wêreld vergelyk word? Word ons die groot poeliesman van Afrika, die nuwe koloniseerder of (in Jeffreys se beeld) die gorilla wat "sit waar hy wil"? Sowel Slabbert as Jeffreys hou vol dat Suid-Afrika nie sy leiersrol in Afrika kan ontduik nie en dat ons net mooi moet oppas hóé ons daardie rol speel. Meiring se vraag bly egter by my spook. Gaan ons dit kan regkry om daardie rol anders as die groot gorilla te speel? Watter belange is hier op die spel? Dit lyk my as ons 'n wêreldorde aanvaar waarin daar topdogs en underdogs is, dan is dit logies dat ons daarna sal streef om eersgenoemde eerder as laasgenoemde te wees, of hoe? Is daar 'n alternatief vir kapitalisme? Indien nie, wat gaan mooi praatjies oor "hoe ons ons leiersrol speel" uiteindelik help?

Ook oor die interne armoedeprobleem het Meiring 'n besonder skerp opmerking gemaak: ons moet die informele ekonomie laat groei. Die ander deelnemers aan die gesprek koop blykbaar in by die heersende opvatting onder elites dat die probleem van "twee ekonomieë" opgelos moet word deur die eerste of formele ekonomie soveel as moontlik te laat groei sodat die tweede, informele ekonomie mettertyd kan verdwyn. Enigste probleem is - hulle meen self blykbaar dat dit nie gaan werk nie. Soos Jeffreys tereg opmerk: "Die bietjie groei wat daar is, skep nie werk nie." Hoe nou gemaak? Lyk my die strategie bly voorlopig nog om op dieselfde pad voort te foeter - hou aan medisyne gee, ook al bly die pasiënt siek. Meiring verstaan die problematiek beter as die ander paneellede - of dalk sien sy dit net eerliker onder oë: die mense in die plakkerskampe bly arm, omdat goedere van buite af inkom en kapitaal van binne af uitvloei. Anders gesê: dié mense leef op die rand van 'n ekonomie wat deur hulle verryk word, maar hulle nie verryk nie.

'n Vriend vra onlangs vir my: Watter soort oplossing vir die armoedeprobleem voorsien ortodokse ekonome as hulle voor hul siel weet dat die wêreld uit 'n ekologiese oogpunt nie die soort ekonomiese groei kan dra wat nodig sal wees om al daardie mense op 'n eerstewêreld-standaard te bring nie, en as hulle net so goed weet dat dit buitendien onmoontlik is omdat ekonomiese groei slegs moontlik is solank arbeid êrens in die wêreld goedkoop bly en mense dus iewers arm is? Ek weet wragtig nie, maar ek weet dat ons sal moet begin kyk na maniere om die tweede ekonomie self te herstruktureer om beter in mense se behoeftes te voorsien, eerder as om teen hoop in te bly hoop dat dit deur die eerste ekonomie ingesluk kan word. Dit lyk vir my as die eerste ekonomie die tweede insluk, is dit ook sy einde, byna soos die slang wat sy eie stert vreet. Oral in die wêreld het mense vir millennia oorleef - en soms selfs floreer - sonder 'n moderne, formele ekonomie. Hoe kan plaaslike gemeenskappe weer ekonomies selfstandig word, minder uitgelewer aan 'n logika en dinamiek wat vere vir hulle voel? Soos Meiring, vra ek maar net; ek weet nie wat die antwoord is nie.

Meiring is kennelik die enigste in die paneel wat nie die onsigbare hand van die mark as alvoorsiener en verlosser beskou nie. Veral die ABSA-man is baie optimisties oor die nuwe markte, die "nuwe kliëntebasis" wat kan oopgaan namate "ons" meer in die res van Afrika betrokke raak. Slabbert het sy twyfel oor laasgenoemde - Angola se ekonomie is kleiner as Gauteng s'n en Namibië s'n kleiner as Dobsonville s'n, so wat is daar nou eintlik vir ons om in te voer? - maar dat die mark die meganisme is wat sake in orde moet kry, is vir hom net so duidelik soos die res. Hy en Jeffreys beklemtoon in dié verband die belang van leierskap en Jeffreys is veral optimisties oor nuwe leiers in Afrika, soos Mbeki, Obasanjo en Bouteflika wat almal aangenaam verras het deur 'n "liberale markekonomie" te bedryf en demokratiese prosesse met "gesonde finansiële bestuur" kombineer.

Daar is 'n ongemaklike oomblik as Slabbert wonder of sterk ekonomiese groei met demokrasie versoenbaar is - maar Slabbert bied nie juis 'n oplossing aan nie. Interessant is hoekom dié twee dinge volgens hom moeilik saamgaan: 'n ekonomiese beleid wat sterk groei stimuleer, het "dikwels 'n politieke prys" - soos die verlies van die neofascistiese regering (my adjektief) in Indië se onlangse stofbytery illustreer. Dis 'n mooi manier om dit te sê - "'n politieke prys" - maar wat beteken dit? Beteken dit nie dat mense die moer in raak as hulle swaarkry en dan die regering wat dit veroorsaak, uitstem nie? Lê die probleem dan by die demokrasie of by die ekonomiese beleid wat hulle laat swaarkry? As die ekonomiese beleid hulle lewe soveel slegter maak dat hulle summier van die regering wil ontslae raak, hoekom is dit dan dan nog belangrik om daardie soort beleid deur te voer? Anders gestel: In wie se belang is dit om 'n ekonomiese beleid te voer wat groei über alles nastreef, en in wie se belang is demokrasie? En belangriker nog: Wie se belange moet die botoon voer?

Hoe dit ook al sy, almal stem saam dat armoede een van ons grootste uitdagings oor die volgende tien jaar gaan wees. Veral Du Plessis bring die gesprek telkens daarheen terug, ook in sy redaksionele artikels in Rapport. Op 'n stadium vra Landman hom (of was dit andersom?): "Meen jy dat daar 'n populistiese politiek kan ontstaan as ons dié probleem nie oplos nie?" Die antwoord: "Nee, ek sê nie dit nie, maar ..." Maar wat? Dit is die miljoendollar-vraag wat niemand blykbaar wil deurdink nie: Wat gaan gebeur as ons die armoede en walglike ongelykhede in ons samelewing laat voortduur? Natuurlik gaan dit tot 'n "populistiese politiek" lei! My vraag is: Is dit so 'n slegte ding? Is dit nie hoog tyd dat die "populasie" wakker skrik en iets beters begin opeis nie? In die ou dae was die meeste blankes skytbang vir 'n swart regering; vandag kom hulle oraait reg daarmee. Nou is hulle (en die nuwe swart elite) weer bang vir daardie byna onnoembare "populisme". Ek sê: Bring it on! Ek hoop in elk geval dat lekker Afrikaanspraters soos Sampie Terreblanche en Neville Alexander ook op 'n stadium aan SA 2014 gaan deelneem - die absolute geloof wat so baie van ons denkers en meningsvormers blykbaar in markliberalisme het, moet darem ook uitgedaag word, of wat praat ek?

Du Plessis het ook die belang daarvan beklemtoon dat ons instellings oor die volgende tien jaar stand moet hou. Vanoggend luister ek op Cape Talk/Radio 702 hoe wit en bruin inbellers ons regstelsel bevraagteken omdat Winnie Madikizela se vonnis deur die appèlhof opgeskort is. Swart inbellers reageer deur daarop te wys dat Wouter Basson verkeerdelik vrygespreek en Eugene Terre'Blanche verkeerdelik begenadig is. Dit maak 'n mens bekommerd as almal die regstelsel bevraagteken, maar dan om botsende redes wat mooi netjies met ras saamval. Daarby kom dan nog dat rykes geregtigheid in die hof kan bekostig, maar armes nie. En intussen wil mense nou nog Afrikaans as hoftaal ook skrap, in plaas daarvan om van tweetaligheid na meertaligheid te beweeg - dit kan die gewone mense net nog meer van ons howe vervreem.

Iets soortgelyks geld van al ons belangrike instellings, van die onderwysstelsel tot die sakewêreld. Mense voel ver van hulle af en ervaar dit nie as "hulle s'n" nie. Die groot uitsondering is, miskien vreemd genoeg, die kerk. En raai watter instelling praat die mense se tale? Wat Du Plessis oor die belang van sterk instellings sê, is baie waar, maar instellings kan sterk word of bly slegs as hulle mense se ondersteuning en lojaliteit kan behou - en dan moet hulle na die mense toe gaan en hulle tale praat. Gaan SA 2014 ook oor die taalproblematiek praat - en dan nie as 'n Afrikaans-versus-Engels kwessie nie en ook nie in die terme van 'n kultuurbewaringsdiskoers nie, maar as 'n indringende gesprek oor dekolonisering, sinvolle ontwikkeling en ware bemagtiging, en die rol van die inheemse tale daarin? Afrikaanssprekendes kan vanuit hul eie geskiedenis belangrike insigte hieroor op die tafel lê.

Jeffreys het 'n ander belangrike tema gelug: die rol van die media. Hy voel dat die media mense beter moet inlig oor dit wat Afrikaleiers soos Mbeki op die internasionale front beding. Jeffreys vra nie dat die media alles "deur pienk brille" bekyk nie (sy woorde), maar bloot dat hulle mense beter in staat stel om oor sake te oordeel. Dit is in elk geval duidelik dat hy 'n broertjie dood het aan Afropessimisme. Ek ook, maar ek sukkel ewe veel met ... nou ja, Afro-optimiste - mense wat sê: "Nee wat, dit sal goed gaan", maar sonder om duidelik te kan maak hoekom hulle so dink.

Hier is dit al weer die kapitalisme wat sy kop uitsteek. Jeffreys het kennelik baie vertroue in NEPAD se vernuwingspotensiaal in die kontinent. My eie indruk is dat intellektuele in ander Afrikalande nouliks kennis neem van NEPAD. Wat word presies met NEPAD en die "Afrika Renaissance" beoog? Ongelukkig wil dit vir my lyk of dit met 'n herrysenis van Afrika weinig te doen het en eerder daarop uit is om die ekonomieë van Afrika globaal te oriënteer en die hegemonie van Westerse stelsels en tale verder in die kontinent te vestig. As dit so is, dan is die probleem nie dat NEPAD dalk gaan misluk nie, maar dat dit dalk gaan slaag. Jeffreys is beïndruk met die G8-leiers wat so sterk hul steun vir NEPAD uitspreek. Die vraag is natuurlik: Hoekom steun hulle dit? Omdat hulle so lief en gaaf is?

Iets van hierdie uitsigloosheid rondom kapitalisme as "enigste opsie" (wat in elk geval nie gaan werk nie) kom ook tot uiting in die paneel se menings oor swart ekonomiese bemagtiging (SEB). Sowel Slabbert as Jeffreys erken dat daar probleme is met die manier waarop dié bemagtiging toegepas word, maar dit is dan veral probleme wat betref potensiële buitelandse beleggers se persepsies. Jeffreys meen dan ook dat ons die idee van SEB net beter moet verkoop - mense beter moet laat verstaan - en dit lyk asof die ander paneellede saamstem. Almal is dit in elk geval hartlik eens dat SEB "onvermydelik" is. Maar wat word presies daarmee bedoel? Wat my in die gesprek opgeval het, is dat daardie "onvermydelikheid" nie juis in morele terme verstaan word nie, maar bloot pragmaties: die regering gaan nie van koers verander nie en basta. Nou goed, dié soort realisme is belangrik, maar intellektuele moet tog krities ook wees, nie waar nie?

Wat is fout met SEB soos dit tans toegepas word? Volgens my nie in die eerste plek dat dit soms "misluk" of dat oorsese beleggers dit met wantroue bejeën nie (soos die ABSA-man sê, ons is op 'n "leerkurwe" en sal dit mettertyd al hoe beter regkry). Nee, die groot probleem is die een wat die President se broer 'n tyd gelede aangestip het: SEB bemagtig oor en oor dieselfde klein groepie - hulle is later so bemagtig dat hulle kort duskant almagtig omdraai - maar vir die oorgrote meerderheid voorheen benadeeldes maak dit presies, tot op die laaste desimaalpunt, nul verskil. Werkloosheid en reële armoede neem toe. Die nuwe swart sterre aan die hemelruim - en die wittes wat soos altyd lekker saamskitter - maak die ongelykheid net groter en dit is nog erger, want hulle sê mos lae lewensverwagting korreleer beter met groot ongelykheid as met absolute armoede. Egte bemagtiging sal beteken sistematiese bevoordeling van mense wat arm is (ongeag kleur), beter onderwys (onder meer deur moedertaalonderrig) en 'n fokus op gemeenskappe (om hulle ekonomies selfstandig te kry). Is dit nie ongelooflik nie dat soveel mense in die absurde teorie glo dat as die rykes net toegelaat word om teen elke prys ryker te word, almal uiteindelik daaruit voordeel sal trek? En is dit nie verstommend nie dat "SEB" binne so 'n paradigma nagestreef word - bemagtiging deur ontmagtiging, by wyse van spreke?

Behalwe vir 'n enkele welkome wanklank hier en daar van die kant van Meiring was daar dus in hierdie eerste gesprek 'n mooi harmonie tussen die stemme van die verskillende paneellede, gebaseer op dieselfde toonaard: die vaste oortuiging dat ons heil op elke moontlike terrein uiteindelik net op een plek lê: enorme ekonomiese groei ... o ja - en dat dit nie gaan realiseer nie.

Verder was daar eenstemmigheid oor die feit dat ons nie werklik 'n ander keuse het as om in Afrika betrokke te bly nie. Daarmee kan nie fout gevind word nie. Miskien moet ons net meer ag slaan op wat Landman te sê het: Is ons bereid om "anders te leer dink" in ons pogings om "deel van Afrika" te wees? Dalk verg daardie nuut-leer-dink veel meer as wat selfs Landman vermoed?

Kortom, aan die kritiekkant is die program te gemaklik tuis in 'n eksklusiewe, kommersiële nis wat groot vrede met die neoliberale ideologie het. Gevolglik is daar 'n bietjie te veel eensgesindheid onder die saampraters. Dit sal goed wees as daar meer skerp meningsverskille kan wees, en veral ook deelnemers wat nie skroom om radikale vrae te vra nie.

Aan die positiewe kant is dit goed om 'n intelligente gesprek in Afrikaans oor gewigtige landsake te kan hoor. Ek het self onlangs op LitNet betoog dat dit tyd vir Afrikaansgebruikers is om slim te word - SA 2014 kan dalk net daarmee help.

Die volgende tien jaar sal leer …



*Gerrit Brand is verbonde aan die Taalsekretariaat, i-MAG en die Universiteit van Stellenbosch se Departement Filosofie. Hy is ’n gepubliseerde skrywer en neem gereeld deel aan debatte in koerante en die elektroniese media.


LitNet: 5 Julie 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.