Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

SA 2014: Opposisiepartye kef soos 'n tandlose brak

Elias Nel*

Hoe Suid-Afrika oor tien jaar daar gaan uitsien, word in 'n groot mate bepaal deur hoe dit vandag daar uitsien. Die erflating van apartheid en die gebreke van die nuwe demokrasie sal moeilik binne tien jaar uitgewis kan word. Dit is die dilemma waarmee ons sit. Voeg nog daarby die landsburgers se traak-my-nie-agtige houding en ons kan verstaan waarom die prentjie soms donker lyk.

In die afgelope Sondag se SA 2014, met Van Zyl Slabbert as gespreksleier, was die deelnemers se optrede tekenend van die politieke arena in Suid-Afrika: 'n lustelose getjommel getint met allerlei slimmighede maar geen daadwerklike oplossing vir die probleme waarmee ons daagliks gekonfronteer word nie. Volgens die paneellede bestaande uit Helen Zille, Koos van der Merwe, Bantu Holomisa en Kurt Morias is Suid-Afrika se grootste probleem die nadele van 'n eenpartystaat. Dit is juis hier waar die eersgenoemde drie jammerlik faal om 'n werkbare alternatief daar te stel. Hulle is volgens hul eie mededeling terdeë daarvan bewus dat die armstes onder die armes besig is om vertroue in die demokrasie en dus by implikasie die ANC te verloor. Tog blyk dit dat hulle nie die vermoë het om die ontnugterdes te mobiliseer om die opposisie te vergroot nie. Terwyl die opposisie voort teem en "oplossings" aanbied, stoomroller die ANC eenvoudig voort. Uiteindelik blyk die opposisie se alternatiewe nie veel meer te wees as die gekef van 'n tandlose brak nie.

As dit die trant is waarteen ons na 2014 beweeg, dan voorspel dit niks goeds vir Suid-Afrika nie. Daar is tans te veel 'n geskarrel na die beskerming van eie belange deur politieke partye, en in hierdie proses word kiesers slegs pionne wat na willekeur rondgeskuif word. Die wil om moue op te rol ontbreek by die oorgrote meerderheid, soos die inbellers op die betrokke program ook bevestig het. Die Suid-Afrikaanse kieser wat apaties teenoor die nuwe bestel staan, is hoofsaaklik, nie uitsluitlik nie, van die voorheen bevoordeelde Afrikanergemeenskap. Ons vind dat daar te veel 'n Pilatus-houding onder kiesers is wat hul hande in onskuld was met die verskoning: "Ek het nie gestem nie, dus is ek nie medeverantwoordelik vir die 'gemors' waarin ons verkeer nie." Die opposisiepartye slaag ook nie daarin om moue op te rol en aktief by die lot van die armes betrokke te raak nie. Patricia de Lille was as PAC-lid darem altyd daar om solidariteit met die arm gemeenskappe te toon. Mens hoop dat sy nie nou as OD-leier deur die see van beloftemakers verswelg word nie.

Dit wil blyk dat die meeste opposisiepartye nie juis 'n ander doel het as om die ANC te opponeer bloot omdat dit die ANC is nie. Daar is talle terreine waar die ANC sy Freedom Charter en verkiesingsbeloftes gruwelik vernalatig en kiesers onvernoegd laat. Maar die opposisie is klaarblyklik so blind omdat hulle net gekondisioneer is om die ANC te beveg dat hulle nie die geleentheid raaksien om die ontevrede kiesers by die ANC af te rokkel nie.

Toegegee, die ANC het ook baie goeie werk gedoen, en dit kan nie verontagsaam word nie. Dit sou ook onredelik wees om te verwag dat hulle binne tien of selfs twintig jaar die agterstand kan uitwis wat die Nasionale Party se skreiende beleid van onreg opgebou het. En dan stem arm mense met hul harte eerder as hul nugtere denke. En hulle sien hoedat dinge stadig begin verbeter, en hulle stem vir die party wat hulle vir die eerste keer in hul lewe van lopende water voorsien het.

Die digter Clinton V du Plessis druk hom in sy gedig "Behoefte aan gunstige sosiale en ander omstandighede" soos volg uit: "Daar is te veel deursigtigheid te min aanspreeklikheid."

Miskien is dit juis waar ons probleem lê - te veel kommissies van ondersoek, te veel konsultante, te veel beterweterige regerings- en opposisieleiers, hopeloos te veel "newwerkêr" landsburgers, te veel doellose gesprekke oor die probleme van die nuwe Suid-Afrika en eweneens te min wat die wil openbaar om 'n aktiewe rol te speel om die probleme aan te spreek en op te los. Dis te gerieflik om vanuit ons knus sitkamers en televisie-ateljees die Suid-Afrika van 2014 te visualiseer.

Die onverdraagsaamheid tussen rasse sal ook 'n negatiewe invloed op 2014 hê indien dit nie sinvol aangespreek word nie. Maar hoe doen 'n regering dit? Jy kan tog nie mense se harte en denke met wetgewing reguleer nie? En dan is daar die groeiende ontevredenheid van die nasate van die land se eerste inwoners wat kla - ten regte en ten onregte - dat hulle al hoe meer na die buitenste periferie uitgestoot word. Daar is die kwessie van grondbesit wat die paneel heel gerieflik in hul gesprek uitgelaat het.

Hoe gaan Suid-Afrika se politieke arena in 2014 daar uitsien? Hoe gaan die regering lyk en watter rol gaan opposisiepartye speel? Een van die paneellede glo dat die huidige opposisiepartye nie die grootste gevaar vir die ANC is nie, dit is eerder die opponerende denkskole binne die organisasie self. En dis tragies dat andersdenkendes binne die ANC tot stilswye gesnoer word en dat die onbetaamlike gedrag van ministers en ander ampsdraers gekondoneer word. Juis hierdeur word die goeie werk wat die ANC doen, ongedaan gemaak. Sal Suid-Afrika in 2014 al hoe meer die tuiste wees van voormalige staatshoofde wat hulle aan die gruwelike skending van menseregte skuldig gemaak het? Sal Suid-Afrika steeds oral 'n helpende hand probeer uitsteek in Afrika en die wêreld terwyl bedelaars, rowers en moordenaars die strate van Suid-Afrika regeer? Nie dat ons nie stewige buitelandse betrekkinge moet handhaaf nie, maar die prioriteite moet reg wees. Sal 2014 'n Suid-Afrika baar waar Nelson Mandela se beleid van versoening en nasiebou net vae herinneringe is?

So lank as wat opposisiepartye die ANC teëstaan sonder 'n duidelik werkbare beleid, so lank sal die idee van 'n eenpartystaat bevorder word. 'n Tweepartystaat soos die DA glo? Nie maklik nie, eerder nog meer onbeduidende opposisiepartye.

Suid-Afrika in 2014 behoort, as die belange van land bo party- en individuele belange gestel word, só daar uit te sien: 'n Regering en president wat in voeling met die mense is en nie net vir 'n elitistiese groep sorg nie. Waar probleme nie met leë beloftes verdoesel word nie en waar kritiek teen vergrype nie as rassisme afgemaak word nie. Waar Suid-Afrika werklik aan almal wat hier woon en leef sal behoort en dat dit sigbaar in die lewe van alle burgers sal wees. Waar daar minder haatspraak sal wees, minder verdagmakery, maar waar die uiteindelike doel van regering en die opposisie die welsyn van Suid-Afrika en haar mense is. En die president? Enigiemand wat die Grondwet nastreef.



*Elias Nel se bundel kortverhale, Iets goeds uit Verneukpan?, het einde 1998 verskyn. Elias is ’n voormalige voorsitter van die Afrikaanse Skrywersvereniging.



LitNet: 13 Julie 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.