Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Media speel groot rol by persepsies oor misdaad

Elna de Beer

is werksaam by die SAPD Kommunikasie en Skakeling in die Wes-Kaap. Die opinie geopper in die kommentaar is dié van die skrywer en nie noodwendig dié van die polisiëringsgesag nie.
  Elna de Beer

SA 2014: Misdaad, uitgesaai op 8 Augustus om 20:00 op kykNET.

Aanbieder: JP Landman

Gaste: Die gaste vir hierdie program was Jan Henning (Nasionale Vervolgingsgesag), Lisa Vetten (Sentrum vir die Studie van Geweld en Versoening) en Anton du Plessis (Instituut vir Sekerheidstudies).

Kommentaar:

Samestelling van die gesprekspaneel, om mee af te skop

Die eerste aspek omtrent die program wat opgeval het, was die afwesigheid van 'n verteenwoordiger vanuit die geledere van die polisiëringsomgewing, met spesifieke verwysing na 'n kundige op die gebied van statistiek. Hier sou 'n statistikus met bepaalde kundigheid op die gebied van misdaad beslis 'n waardevolle bydrae kon lewer, aangesien heelwat gespekuleer is oor hierdie onderwerp. Dit is 'n kontroversiële saak waaroor baie min mense met gesag kan praat. 'n Persoon wat 'n produk van die agtergeblewe gemeenskappe is, sou ook die gebrek aan verteenwoordiging van alle landsburgers kon help oorbrug.

Werklikheid teenoor persepsies

Die insette van Anton du Plessis oor hierdie onderwerp was verfrissend gebalanseerd en nugter, en was hy dikwels die gespreksgenoot wat die saak gered het. Veral sy siening oor persepsies teenoor werklikhede was raak en sy argumente was deurentyd op die man af en wetenskaplik. Hy het ook die behandelde inligting in perspektief met die res van die wêreld geplaas, wat progressief was. Deurgaans het hy die meeste insig in die vertolking van statistiek getoon. Sy positiewe benadering en klem op 'n geïntegreerde aanslag op misdaad en sy oorsake, deur verskillende staatsdepartemente, het ook aangedui dat hy goed ingelig is ten opsigte van programme wat van owerheidsweë beplan en geïmplementeer word.

Fokus op misdaad teen vroue

Lisa Vetten het uit die staanspoor duidelik aangetoon dat haar insette beperk sou wees tot misdaad teen vroue, wat jammer genoeg 'n groot gaping gelaat het in die gesprek. Dit het die driehoek van gesprekvoering verswak en haar insette was deurgaans beperk tot, en duidelik gekleur met, vooropgestelde idees omtrent armoede, ongelykhede en die histories agtergeblewe groepe. Haar inset dat misdaadtendense gekoppel moet word aan 'n land in 'n oorgangsfase was egter insiggewend.

Oorsake van misdaad in Kain en Abel verhaal te vinde

Die bydrae van Jan Henning het goed ingelig rakende die vervolgingsomgewing. Dit was ook verblydend om te verneem van die positiewe tendense wat in hierdie sektor van die staatsmasjien te bespeur is. Daarom was dit des te meer teleurstellend om op te merk dat daar steeds 'n neiging onder die Afrikaner-intelligentsia bestaan om met onwetenskaplike argumente vorendag te kom wat op mites, soos in die Bybel vervat, gefundeer word. In die moderne wêreld gaan die argument van die oorsake van misdaad wat sy oorsprong in die Kain en Abel verhaal sou hê, net nie meer op nie. Dit is 'n simplistiese benadering wat hoegenaamd nie kant of wal raak in 'n hoogs komplekse historiese en sosiale situasie soos dié in Suid-Afrika nie. Die uitlating dat daar mense sou wees wat "inherent sleg" is, maak deel uit van hierdie eng soort sienswyse.

Respek en dissipline in SA

Dit is jammer dat die gebrek aan respek en dissipline alewig in dieselfde konteks as die sogenaamde "sagte" benadering teenoor misdadigers geplaas word. Sulke redenasies dui op oningeligtheid ten opsigte van die konsep van gemeenskap-polisiëring en dienslewering aan alle bevolkingsgroepe in ons samelewing deur middel van 'n mensgeoriënteerde strategie. In hierdie verband sou 'n persoon wat direk aan die misdaadbestrydingsomgewing blootgestel is, 'n ingeligte en waardevolle bydrae kon lewer tot 'n stimulerende gesprek.

Jan Publiek bel in

Die lede van die publiek wat ingebel en tot die debat toegetree het, het tog die indruk geskep dat daar groot kundigheid en nugter denke bestaan in ons gemeenskappe. Mnr Roy During se argument dat misdaad 'n produk van geleentheid sou wees eerder as een van armoede was uiters skerpsinnig.

Misdaadvoorkoming die antwoord

'n Aspek wat verskeie kere aangeroer is deur Anton du Plessis is dié van misdaadvoorkoming. Dit dien hier genoem te word dat misdaadvoorkoming 'n nasionale prioriteit is en dat dit nie alleen vir die kabinet en departemente gemoeid met sekuriteit en justisie belangrik is nie, maar ook vir alle ander nasionale departemente wat 'n bydrae behoort te lewer tot die vermindering van misdaad. Om hierin te slaag is dit nodig om die regering te transformeer en te herorganiseer en om ware gemeenskapdeelname te fasiliteer. Ons moet 'n nuwe sosiale orde bou wat sterk genoeg is om die spanning van versnelde verandering te weerstaan. Om te verwag dat dit oornag sal gebeur, sal die resultaat hê dat behoorlike beplanning en die stewige konstruksie van 'n nuwe kriminele vervolgingsmasjinerie in die wiele gery word.

Beweeg weg van reaktiewe bestuur na proaktiewe maatreëls

So 'n misdaadvoorkomingstrategie vereis dat die regering verder beweeg as blote krisisbestuur en reaktiewe maatreëls. Die regering sal moet verseker dat behoorlike beplanning en volhoubare sukses in misdaadvermindering ver in die millennium in voortduur. Die verskuiwing van die klem weg van reaktiewe misdaadbeheer, waardeur meer bronne aangewend word om te reageer op misdaad wat alreeds plaasgevind het, na 'n proaktiewe benadering wat daarop gemik is om misdaad te voorkom voor dit gebeur, het tot gevolg dat die verantwoordelikheid rakende misdaad verbreed word. Hierin is die versameling van betroubare misdaadinligting waarop 'n doeltreffende kommunikasiestrategie gebaseer is, van die uiterste belang om die publiek se mening te vorm in sy stryd teen misdaad.

Faktore in SA wat aanleiding gee tot misdaad

Ons unieke situasie in Suid-Afrika en ons geskiedenis het bygedra tot 'n reeks faktore wat aanleiding tot misdaad gee:

  • Vergelykende navorsing dui daarop dat misdaad vermeerder gedurende periodes van politieke oorgang.

  • Die oorerwing van 'n publieke sektor wat op ras gebaseer was, het gelei tot 'n gefragmenteerde stelsel wat nie kan tred hou met die eise om aan alle mense in Suid-Afrika 'n diens te lewer nie.

  • Ons politieke oorgangsfase het aansienlike materiële verwagtings geskep, wat grotendeels buite die vermoë van die onmiddellike leweringskapasiteit van die nuwe regering is.

  • Suid-Afrika se gewelddadige geskiedenis het 'n nalatenskap van 'n geweldskultuur waarin die persepsie bestaan dat geweld aanvaarbaar is om sosiale, politiese en selfs huislike konflik op te los.

  • Histories gesproke het armoede en onderontwikkeling die sleutelfaktore geword in die vorming van sindikate en bendes.

  • Die marginalisering van die jeug, tesame met 'n stadige groei in die werkmark, het gelei tot 'n groot aantal hoërisiko-jongmense.

  • Ekonomiese groei en ontwikkeling is belangrik in die stryd teen misdaad, maar swak bestuur hiervan kan misdaad verhoog.

  • Politieke leiers gebruik die hoë misdaadvlakke soos 'n politieke speelbal, wat aanleiding gee tot 'n vereenvoudigde benadering tot misdaad en geweld.

  • Die afwesigheid van, of gebrek aan, dienste om slagoffers van misdaad by te staan gee aanleiding tot herhaalde viktimisasie en die pleeg van verplaaste misdaad in ander arenas.

  • Die aantal en maklike toegang tot vuurwapens dra by tot verhoogde misdaad.

  • Geslagsongelykheid dra by tot meer misdaad teen vroue.

    Die rol van die Suid-Afrikaanse media

    Ten slotte was die program interessant en het dit aanleiding gegee tot gesonde gesprekvoering en debat in vele kringe. Baie belangrik in die stryd teen misdaad is die rol van die Suid-Afrikaanse media, wat op 'n deurlopende basis persepsies skep by die publiek. Hierin lê groot verantwoordelikheid, wat deurgaans opgeweeg moet word teenoor die najaag van finansiële gewin deur middel van sensasionele verslaggewing. Die media maak dikwels die stelling dat hy optree as die waghond van Jan Publiek, wat 'n reg het om ingelig te word. In hierdie posisie is die media se skakeling met polisiëringsliggame kritiek, aangesien die fokus van lg organisasies lê op die gebied van misdaadvoorkoming en die ondersoek van misdaad. Hierdie twee rolspelers kan vrugtevol saamwerk om die Suid-Afrikaanse publiek te dien.



    LitNet 20 Augustus 2004

    Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.