|
|
Hier kiep-kiep, daar kiep-kiep op 'n (te) groot werf
(SA 2014: Onderwys, kykNET, Sondag 15 Augustus 2004 om 20:00) Die idee van 'n deeglike gesels oor toekomssake verdien lof, maar as dit geskied onder die vaandel van 'n Akademie (Sol Plaatje s'n), verwag mens diepgang. Dit het ongelukkig die afgelope Sondagaand ontbreek in die gesprek wat Van Zyl Slabbert in die Sol Plaatje Aardklop Akademie se kykNET-reeks SA 2014 oor die onderwys gelei het. Die samestelling van die paneel het mens heelwat laat verwag. Benewens Slabbert, wat self in die hoër onderwys was en ook die politiek deeglik ken, was daar drie swaargewigte: Theuns Eloff, vroeër die rektor van die PU vir CHO en nou die baas van die nuwe saamgesmelte Noordwes-universiteit; Graham Hall namens die Vereniging van Onafhanklike (Privaat-) Skole; en Jonathan Jansen, dekaan van Tukkies se fakulteit Opvoedkunde en bekende gatvlieg (neo-Afrikaans vir gadfly), veral rondom Kader Asmal, onse vorige nasionale minister van onderwys. Die teleurstellende oppervlakkigheid van die uur lange gesprek (minus seker 15 minute advertensies) kan nie voor die deelnemers se deur gelê word nie, maar eerder voor dié van die struktuur van die hele reeks. Daar kan nie in 'n enkele aflewering reg geskied aan 'n ingewikkelde onderwerp soos die toekoms van Suid-Afrika se onderwys nie. Die gevolg was dat mens uiteindelik gesit het met die vlugtige noem van enkele belangrike temas, terwyl ander sleutelkwessies (bv vaardigheidsopleiding en die hele kollegesektor) glad nie eers vermeld is nie. Konsekwentheid is in 'n gesprek van hierdie aard ook nie maklik nie, maar Theuns Eloff het hom darem aan een besonder bont sprong skuldig gemaak. Eers kom hy met 'n ondeurdagte pleidooi vir sentralisasie van skoolonderwys, want dit is te belangrik om "sommer maar net daar op provinsiale vlak" gehanteer te word. (Leer ons mense dan nooit nie?) Feitlik onmiddellik daarna betreur hy egter die huidige regering se sentraliserende instinkte wat die voordele van plaaslike inisiatiewe ondergrawe. (Terloops, kan iemand nie vir my vriend Theuns sê dat 'n breë, oop, witkleurige hempskraag liefs voor 'n TV-kamera vermy moet word nie?) Die program het geëindig met die deesdae verpligte uitspreek van toekomsvertroue. Tereg het Slabbert dr Hall se rituele optimisme as 'n bietjie lig in die broek beskryf. Dit alles maak dit moeilik om op die inhoud van die gesprek te respondeer, soos my opdrag van LitNet was. As dit wat hierna volg, ook 'n kiep-kiep-karakter het, is dit 'n refleksie van die program. Net een keer was daar amper 'n verdieping en dit is ingelei deur die persoon van wie mens dit verwag het, naamlik Jonathan Jansen. Na aanleiding van die spreuk "Transformation before education" ( wat mens laat wonder wanneer education ooit 'n beurt gaan kry), het Jansen kaalkop die amper verbode vraag gevra: Wat beteken transformasie nou eintlik? Beteken dit 'n drastiese swaai na beter onderwys, of is dit kodetaal vir politieke dominasie deur 'n heersende groepering? Wat beteken "transformasie in die volle sin, nie net ekwiteit nie", 'n frase wat teen die einde van die program opgeduik het? Voorwaar 'n nodige gesprek, wat Sondagaand ongelukkig nie verder gekom het nie. Die ander onderwerp wat 'n paar keer genoem is, was uitkomsgebaseerde onderwys (UGO). Weer eens was dit prof Jansen wat 'n duidelike, hoewel miskien oorvereenvoudigde, standpunt gestel het. Ons moet vergeet van UGO en terugkeer na die grondliggende vaardighede en kennis, sê hy. Die reaksie van die ander deelnemers was die heersende een, naamlik dat die beleid agter UGO uitstekend is, maar dat die probleem by die uitvoering daarvan in die klaskamer lê. Amper terloops het prof Eloff egter sy vinger op 'n meer fundamentele vraag gedruk: Wat help dit om 'n Rolls-Royce-beleid in 'n Derde Wêreld-omgewing te hê? 'n Suksesvolle ontplooiing van UGO sou 'n totale kultuurverandering in ons skole (en samelewing) verg. Kinders sou die verantwoordelikheid vir hulle eie vordering moet aanvaar en die gemeenskap sal dit nie meer op die skouers van die onderwysers kan afskuif nie. Onderwysers sal as toegewyde fasiliteerders en nie meer as voorskrywers nie moet optree. Op hoër vlakke sou dit in eenvoudige terme beteken dat ons sou moet aanvaar dat dit nie Meneer se taak is om Boetie deur matriek te kry nie, maar Boetie s'n. Skole sal dus veel meer soos ons universiteite moet funksioneer, met al die implikasies daarvan. Een daarvan sou wees dat ook die openbare skole veel groter beweegruimte sal moet kry as wat die huidige staatlike keurslyf hulle laat. Ek twyfel of Suid-Afrika in die afsienbare toekoms hiervoor reg gaan wees. Hierdie kwessie het in die program ter sprake gekom na aanleiding van 'n vraag oor die relatiewe gehalte van staat- en privaatskole. Hall was heeltemal reg met sy stelling dat privaatskole nie noodwendig beter is nie en dat daar uitstekende staatskole is. Ek sou wil byvoeg dat heelwat van die ou gevestigde Engelstalige privaatskole eerder 'n etos van algemene persoonlikheidsontwikkeling as van suiwer akademiese voortreflikheid het. Laasgenoemde is eerder te vinde by die sterk Afrikaanstalige en enkele Engelstalige staatskole. Die grootste bedreiging vir hierdie sterk openbare skole is die toenemende beheer wat van staatsweë onder die leiding van Asmal uitgeoefen word. Hulle beheerliggame word ontman, terwyl dit juis hierdie liggame is wat veel groter ouerbetrokkenheid as voor 1991 bewerkstellig het. Om te beweer dat hulle onwillig is om te verander, is net nie waar nie. Jonathan Jansen het juis 'n hele lys van Pretoriase skole met Afrikaanse name soos CR Swart uitgesonder as voorbeelde van staatskole wat hulle nog bestaande ruimte ten bate van minder bevoorregtes aangegryp het. Hoe moeilik dit ook al mag wees, behoort die toekomsmodel vir die vele disfunksionele staatskole, veral in die swart buurtes, eerder die groter speelruimte en ouerbetrokkenheid van hierdie wenners te wees as die gediskrediteerde totale beheer van Bantoe-onderwys. Politici skep egter graag die indruk dat hulle "iets" doen, en dit beteken byna altyd groter staatsingryping, eerder as die bemagtiging van die mense wat dinge op grondvlak moet laat gebeur. Laasgenoemde is 'n veel moeiliker Smal Weg as die Breë Weg se wette-maak, maar die uiteindelike beloning sal veel hemelser wees. Die huidige gedestabiliseerde stelsel moet eers weer tot rus terug gebring word. Om in die huidige omstandighede met simplistiese gedagtes oor die herstel van dissipline in die skole te kom, is soos 'n dokter wat hom met groot gesag oor die simptome van 'n siekte uitlaat sonder om iets aan die siekte te doen. Gelukkig is die eerste aanduidings dat die nuwe nasionale minister van onderwys, Naledi Pandor, wyser as haar voorganger is. Hier was 'n goeie voorbeeld van 'n deurlopende vreemde hiaat in die deelnemers se denke (met Jansen as 'n gedeeltelike uitsondering), wat moontlik aan politieke korrektheid toegeskryf moet word. Telkemale toe probleme geopper is, is dit onmiddellik opgevolg met die stelling dat daar niks met die betrokke huidige beleid verkeerd is nie, maar dat die toepassing daarvan haper. Lê die oorsaak van vele van die huidige probleme nie juis in verkeerde beleid nie? En hoekom word dit dan nie gesê nie? Kom ons neem enkele voorbeelde. Van Zyl Slabbert het tereg verwys na die geweldige uitdagings wat globalisering in die sin van die snelle beweeglikheid van inligting vir ons hoër onderwys geskep het. Verskeie van ons residensiële universiteite het meer as tien jaar gelede al daarop begin reageer deur moderne tegnologie vir afstandsonderrig in te span, waardeur die regeringsprioriteit van groter toeganklikheid ook aangespreek is. Dit het ook meer kompetisie in die stelsel meegebring en die moontlikheid van noue samewerking met die sakewêreld geskep. Omdat hierdie inisiatiewe nie aan Asmal se vooroordeel ten gunste van 'n staatsbetaalde Ierse Gamaliël met studente fisies aan sy voete voldoen het nie, is hulle deur die nasionale plan vir hoër onderwys tot die land se nadeel gesink. Slabbert het as verdere voorbeeld die uiters vloeibare mark vir verpleegsters vermeld. Die staat se reaksie op hierdie moderne verskynsel was pogings tot groter kontrole, wat by voorbaat gedoem is. Geen wonder dat maatskappye toenemend hulle eie opleiding begin hanteer nie. As laaste voorbeeld mag die Nasionale Kwalifikasieraamwerk en SAKO nie oorgeslaan word nie, hoewel hierdie burokratiese paradys nooit in die program vermeld is nie. In navolging van Nieu-Seeland is 'n raamwerk geskep waarbinne alle opvoedkundige kwalifikasies soos stukkies in 'n legkaart moet inpas. Daar is selfs verder as in Nieu-Seeland gegaan deurdat ook hoër onderwys ingetrek is, terwyl ervaring daar bewys het dat dit op daardie vlak net nie werk om kennis in stukkies te probeer opsny nie. Die lofwaardige doel is om mobiliteit in ons onderwysstelsel en lewenslange leer te bevorder - om nou die modieuse opvoedkundige jargon te pleeg. In stede daarvan om hierdie doel met 'n buigsame en eenvoudige beleid na te strewe, gemik op die land se dringende behoefte aan vaardighede, veral op die laer vlakke, is berge beleidsraamwerke in verstommende besonderhede geproduseer. Dit is eenvoudig nie goeie beleid nie. Dan swyg mens nog oor die toepassing daarvan, wat geskied deur 'n Kafka-agtige burokrasie met die naam Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-Owerheid (SAKO/SAQA). SAKO sit aan die bopunt van 'n spinneweb van SETAs, ens, ens met hoogs betaalde voorsitters, aanvanklik deur R80 miljoen van die Europese Unie gefinansier en nou deur die Suid-Afrikaanse belastingbetaler. Dit is moeilik om enige SAKO-uitsette wat Suid-Afrika al bevoordeel het, te vind. Oplossings gaan allesbehalwe eenvoudig en vinnig wees, dit moet ons aanvaar. Vir die lang trek vorentoe het ons egter die regte beleidskompasse nodig. Ek is nie so seker soos Van Zyl Slabbert se gespreksgenote dat ons hulle wel het nie. Ten slotte 'n terloopse langerige afdwaling. Wil iemand ons nie probeer red van die wederkoms van die gestorwe gewaande term visekanselier nie? Slegs die Engelse en hulle afstammelinge in die Stille Oseaan ken en verstaan dit as 'n titel vir die hoof uitvoerende beampte van 'n universiteit. Tot in die laat Middeleeue was elke universiteit in Engeland onder die toesig van 'n magtige adellike of geestelike, genoem die kanselier (chancellor). Toe hierdie besige here later nie meer hierdie funksie self kon hanteer nie, het hulle plaasvervangers aangestel, dus: vice-chancellors, met die kanselierskap net 'n ere-amp. By hulle noordelike Skotse bure het hierdie visekanselierstitel onbekend gebly en is daar met die meer beskeie prinsipaal volstaan. In die afvallige Noord-Amerikaanse kolonies het die republikeinse president ingeburger geraak. In die res van die Westerse wêreld is die baas van die akademiese plaas 'n rektor (rector, recteur, rettore, ens). In Suid-Afrika het mettertyd 'n tipiese kompromis ontwikkel. Onder Nederlandse invloed gebruik die Afrikaanstalige universiteite rektor as die primêre benaming en onder Skotse invloed het die Engelstaliges principal benut. Vir 'n bietjie meer status is die Engelse vice-chancellor agteraangeflans om die man/vrou met die deftige toga tot "rektor en visekanselier" of "principal and vice-chancellor" te verhef. In die agterban van die "exiles", van wie so vele aan nuwer universiteite in Engeland studeer het, het die grênd agtervoegsel die afgelope tien jaar na die voorgrond begin skuif. So is die lekker beskeie ou Komitee van Universiteitshoofde herdoop na SAUVCA: South African University Vice-Chancellors Association - deftig, maar voorwaar nie elegant nie. By veral die Engelstalige instellings is verwysings na vice-chancellors nou de rigueur, hoewel dit by die Afrikaanstaliges tot dusver darem nog by rektore gebly het. Kan ons kwansuis egalitêre "nuwe Suid-Afrika" nie maar met rektore of prinsipale volstaan nie?
Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |