|
|
SA 2014: Praatprogram oor toekoms het merieteAmanda Gouws*Hierdie program is geskoei op die lees van Dwarsklap, wat n politieke praatprogram was met n paneel van deskundiges, weer eens gelei deur dr Frederik Van Zyl Slabbert. JP Landman is die ander aanbieder. Die paneel het bestaan uit Tim du Plessis, Martie Meiring, Louis von Zeuner en Henry Jeffries. Die idee van die program is om te praat oor Suid-Afrika tien jaar van nou af, maar dit was moeilik om van die eerste program te oordeel of die paneel daarin gaan slaag. Soos Van Zyl self opgemerk het, is daar nog te veel oor die hede gepraat. Maar n mens moet seker in die hede begin om by die toekoms uit te kom. En n praatprogram oor die toekoms het definitief meriete. Al die gewone verdagtes was daar in terme was vraagstukke wat belangrik is vir die toekoms: armoede, volhoubare funksionele instellings, werkbare onderwys, die twee ekonomieë, MIV/VIGS, leierskap en Suid-Afrika se plek in Afrika. Maar die paneel het die meeste tyd aan laasgenoemde afgestaan. Voorspelbaar was die beginpunt Suid-Afrika se uitsonderlikheid in Afrika en ons verpligting om die res van Afrika te help (sou mens dit n koloniale mentaliteit kon noem, of n slaafse navolging van die President se Afrika-renaissance-visie?). Tim was die enigste paneellid wat daarop gewys het dat wit Afrikane hul houding sal moet verander om n beter begrip van Afrika te kweek. Die gesprek het in n soort vakuum plaas gevind asóf ons nie reeds handelsbande met Afrika het nie, asóf die weermag se betrokkenheid in die res van Afrika n toevalligheid is, asóf mense nie reis en kapasiteitsbou in Afrika doen nie. Hoekom word hierdie inisiatiewe nie uitgepak nie? Wat van Suid-Afrikaners se etnosentrisme teenoor Afrikane van ander Afrikalande? Martie se sogenaamde ontsteltenis oor die onderskeid tussen wit en swart Afrikane was totaal onvanpas, soos die eerste inbeller se oproep tereg uitgewys het. n So te sê leliewit paneel van aanbieders staan onmiddellik onder verdenking. Dit is immers so dat wit en swart Afrikane verskillende belewenisse van Afrika het en moontlik verskillende visies van die toekoms het. (Ons kan nie die rasse-identitiet ontsnap nie dit is die las wat die geskiedenis op ons geplaas het.) Maar dit gaan ook oor verteenwoordigendheid. n Paneel waarvan die lede min of meer almal wit (en manlik) is, is nie verteenwoordigend van die bevolking van die land nie. Is dit dan so moeilik om swart Afrikane te vind wat Afrikaans kan praat? Ek twyfel. Nou word die indruk geskep dat dit n groep uitsonderlike Afrikaners is wat oor die toekoms wil praat van daar die vrae van die inbellers, soos die een oor die plek van die wit Afrikaan in Afrika, nadat die paneel heel moontlik gedink het daardie vraag is passé. Maar waarom die fokus op Afrika sentraal stel in die eerste program? Dit is maar net één aspek van n toekomsvisie. Hoekom sou Suid-Afrika gedoem wees teen 2014 as ons nie Afrika help nie? Vir die vorige 300 jaar was ons nie gedoem nie hoekom sal tien jaar nou so n verskil maak? Dit is die vraagstukke wat gedebatteer moet word, wat uitgepak en geproblematiseer moet word. Die blote konstatering van feite help nie. En daar is belangriker en dringender vraagstukke vir die toekoms. Wat my betref is MIV/VIGS sentraal (en slegs Martie het dit genoem). As ons dan oor Afrika wíl praat, dan is hierdie presies die beleid waar ons slegter vaar as die res van Afrika. Wat van die ekonomiese impak van VIGS weens verlies aan produktiwiteit, die groter impak op vrouens weens n groter versorgingslas, ens? Waar is die bespreking van groter globalisering en die rimpeleffek van die oorlog in Irak en die globale oorlog op terreur? Wat van die toenemende druk wat die ontwikkeling van informasietegnologie op ontwikkelende ekonomieë plaas? Hierdie is almal baie belangrike en komplekse vraagstukke vir die toekoms wat verdwyn het in die agtergrondgeruis van die program, en dit is toe te skryf aan die dilemma van praatprogramme met groot panele: omdat almal iets moet sê en daar min tyd is, eindig ons op met soundbites. Dit skep die indruk dat die gesprek oppervlakkig is en die deelnemers nie hul huiswerk gedoen het nie. Dit is jammer, want hierdie paneellede kan almal n interessante bydrae maak. Miskien sal die toekomstige programme vraagstukke in meer diepte behandel wanneer daar ook kundiges betrek word wat n direkte belang by die onderwerp het. Vir die leek was die eerste program dalk interessant; vir die ingeligte persoon was dit bra vervelig. Miskien moet Max du Preez teruggebring word hy het ten minste die vermoë om n sprankel in die gesprek te sit.
Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |