Het daghet in den oosten?
Waar boeke was en 'n kultuur
hoor jy bedags die winde skuur
oor vlaktes grysland, wolke asse:
die son-embleem het nie geduur.
- Hennie Aucamp,
Gedagte vir die dag,
LitNet, 6 Februarie 2004
I
As dosent werk ek mee aan die opleiding van 'n nuwe generasie uitgewers en is ek betrokke by navorsing oor die plaaslike boekuitgeebedryf. My bydrae tot hierdie beraad is dus vanuit 'n baie spesifieke invalshoek: nie as uitgewer wat self Afrikaanse fiksie uitgee nie, maar as waarnemer en karteerder van produksietendense binne die uitgeesisteem. Ek sal poog om 'n persoonlike beskouing, in die vorm van 'n standbeskrywing, van die uitgeetoneel (en spesifiek die uitgeetoneel en boekkultuur rondom die Afrikaanse fiksieboek) te gee.
Sedert die demokratisering van Suid-Afrika gedurende die vroeë
1990's kan die Afrikaanse taal, kultuur en letterkunde nie meer
staatmaak op institusionele bevoordeling nie. Vir sommiges is Afrikaans
onder druk; ander sien die huidige situasie as 'n opwindende uitdaging
op die weg na standhoudende onafhanklikheid van Afrikaanse taal,
kultuur en letterkunde. Reeds sedert die 1990's word die toekoms
van Afrikaans beredeneer. Die mees onlangse voorbeeld daarvan is
die Afrikaanse Taalberaad wat op Stellenbosch gehou is (Martie
Meiring skryf slim en skerp daaroor). Die debat oor die voortbestaan
van die Afrikaanse boek word ook reeds vir 'n geruime tyd hewig
en hitsig gevoer. In 2002 word ontevredenheid
vanuit skrywers geledere verwoord toe Afrikaanse skrywers uitgewers
verwyt dat hul minder fiksie (veral poësie) uitgee. Aan die begin
van die debat
word die bestaande Afrikaanse Skrywersvereniging (die ASV - wie
se ledetal grotendeels uit swart Afrikaanse skrywers bestaan) hoofsaaklik
geïgnoreer en gaan stemme op vir 'n nuwe skrywersorganisasie (só
op die patroon van die destydse Afrikaanse Skrywersgilde). Een ding
wat deur die debat na die oppervlak kom, is die (steeds bestaande)
verdeeldheid en gebrek aan integrasie tussen swart en wit skrywers.
In 2003 trek afvaardigings van beide groepe op na die Verteenwoordigende
Afrikaanse Beraad oor skrywers- en boekesake op Nooitgedacht
en word besluit dat die ASV as inklusiewe skrywersorganisasie aanvaar
word, en dat alle Afrikaanse skrywers daarby moet aansluit en 'n
werkskomitee is aangewys om hul te beywer vir die Afrikaanse skrywer
en instandhouding en bevordering van die Afrikaanse boek. Intussen
kon daar nie vordering gemaak word nie omdat die komitee self nie
verby verdeeldheid kon kom nie en het die ASV se ledeprofiel nie
verander nie. Onder leiding van Dan Roodt word 'n
Afrikaanse tak van PEN in 2004 gestig waaraan hoofsaaklik gevestigde
skrywers hul steun toegesê het. Die amptelike aansluiting van die
Afrikaanse PEN by die internasionale PEN is (voorlopig) gestuit
as gevolg van besware deur Nadine
Gordimer in 'n brief aan die internasionale organisasie.
En terwyl daar druk gepraat, beraad gehou, gestig en ontstig word,
word 'n beperkte aantal Afrikaanse fiksietitels uitgegee. In haar
literêre jaaroorsig noem Sonja
Loots 2003 "'n vaal jaar vir Afrikaanse fiksie, veral literêre
fiksie", en Helize
van Vuuren beskou die toekoms van die Afrikaanse letterkunde
as duister: "'n oorsigtelike blik op die tendense in Afrikaanse
letterkunde (resepmatigheid soos in die jongste bosboek van Dalene
Matthee, 'n steeds groterwordende lys ligte, populêre boeke, die
afwering van uitgewers van hoë, ernstige literêre tekste ten gunste
van blitsverkopers en geldmakers soos die populêre, avontuurlike
en sensasionele, die inkrimping van boekeblaaie) laat die vermoede
ontstaan dat 'n soortgelyke regressie as waaroor [NP van Wyk] Louw
dit had gaande is." Joan
Hambidge, haar polemiese self, huldig 'n omstrede opinie oor
die "impasse in ons letterkunde": "daar het waarskynlik vroeër te
veel boeke verskyn en ja, die Afrikaanse letterkunde was oorbemark
en dit was 'n media-spel wat later so leeg soos 'n penneblikkie
was. Inderdaad is dit goed dat daar min(der) verskyn, dat daar strenger
gekyk en gekeur word, maar dit moet nie ten koste van belangrike
en grensverskuiwende tekste gebeur nie". Dan
Roodt voer 'n aantal redes aan vir die kwyning van die Afrikaanse
letterkunde: (i) in die verlede het akademici van skrywers verwag
om polities en ideologies veilige boeke te skryf, vol simbole of
verwysings, wat gerig was op die voorskryfmark, en dié mark het
verdwyn; (ii) die meeste Afrikaanse uitgewerye was "verbonde aan
die groot persgroepe vir wie die uitgee van boeke 'n soort gesubsidieerde
prestige-bedrywigheid was" en hulle het nie voldoende aan boekwinkels
bemark nie en het op die voorskryfmark staatgemaak; (iii) "Afrikaanse
koerante is nie meer lojaal teenoor die Afrikaanse boek nie"; en
(iv) Afrikaanse skrywers weet vandag nie "hoe om sin te kry uit
die politieke veranderings in Suid-Afrika nie", skryf nie vernuwend
en met waagmoed nie, en lewer gevolglik produkte wat die Afrikaanse
leser verveel. Ten spyte van hierdie omstandighede voel Roodt steeds
dat "ons aan die vooraand van 'n bloeityd vir Afrikaanse boeke"
is en maak hy voorbrand vir die Afrikaans boek. Volgens Kirby
van der Merwe het uitgewers, skrywers en boekeredakteurs juis
oor die afgelope dekade "bemoeienis gemaak [...] met die taal en
die voortbestaan van die boek". Van der Merwe beskou Roodt se "oproep"
as 'n beklemmende vorm van laer trek en wonder of "die heil van
en die oorlewing van die taal en die Afrikaanse letterkunde nie
juis in die natuurlike dood daarvan lê nie". Hy gee toe dat daar
"wesenlike aanslagte op die taal" is, maar weier om mee te doen
aan die "dodedans rondom Afrikaans".
Ek is deel van 'n generasie wat moeilik definieerbaar is, juis omdat dit 'n heterogene en veelsydige groep jong mense insluit wat wegskram van 'n groepsidentiteit en besig is om hul individuele identiteite te vind en gestalte daaraan te gee binne die milieu van 'n multikulturele en multitalige samelewing. Die sogenaamde Generasie Z wat deur sommige meningvormers as 'n onpartydige draadsitter-generasie beskou word en selfs al as "vrotsig" bestempel is. Al sit ons op die draad, weet my generasie-genote wat aangaan en van ons is kreatief en aktief betrokke en aan die werk - want vir ons is die voortbestaan van 'n gesofistikeerde Afrikaanse taal, kultuur en letterkunde ook belangrik. Oor een ding stem 'n klomp van ons wel saam: die tyd vir praat (hoe nodig dit ook al is) is verby, ons sal moet moue oprol want daar is baie om te doen. Ek interesseer my spesifiek in die standhoudende voortbestaan van 'n boeiende boekkultuur waarbinne mense sal aanhou om Afrikaanse fiksieboeke te koop en te lees en uitgewers voort sal gaan om interessante, grensverskuiwende en wêreldklas letterkunde uit te gee - boeke wat waarheid, wysheid, waagmoed en egtheid oor die Suid-Afrikaanse gegewe bevat, waardeur identiteit gevind en uitgedruk kan word, boeke wat vir lesers 'n kultuurproduk bied wat hulle sal aanhou boei, op een of ander manier sal verryk en waarvan die taalmedium waarin dit geskryf is irrelevant is.
II
Vir my magisternavorsing oor die uitgee van Afrikaanse fiksie het ek 'n databasis ontwikkel van Afrikaanse fiksieboeke wat sedert 1990 tot 2003 geproduseer is (ek beperk dit tot fiksie gerig op die volwasse mark). Die Produksie Databasis van Afrikaanse Fiksie (PDAF - 'n komponent van die PTD) maak dit moontlik om op 'n gesistematiseerde wyse na te gaan watter soorte en hoeveel Afrikaanse fiksie uitgegee word en deur watter uitgewerye dit geproduseer word. Daardeur kan die produksielandskap van Afrikaanse fiksie gekarteer en gedokumenteer word. Soos toonaangewende internasionale boekhistorici (onder andere Simon Eliot, Robert Darnton, Priya Joshi en Wendy Griswold), beskou ek kwantitatiewe navorsing (die epistemologie van produksiestatistiek) as die absolute beginpunt om 'n spesifieke produksiekategorie (in hierdie geval Afrikaanse fiksie) vanuit 'n boekhistografiese perspektief te ondersoek. Wanneer produksiepatrone uit die statistiek bepaal is, kan na moontlike verklarings daarvoor gesoek word, daarna kan uitdagings en tekortkominge na die oppervlak gebring word, en deur verdere navorsing kan oplossings en strategieë bedink word vir die standhoudende voortbestaan daarvan.
Met die samewerking van die Nasionale Biblioteek (NLSA)
en die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
(NALN),
wat die mees volledige boekversamelings huisves, het ek bibliografiese
data van Afrikaanse fiksieboeke versamel. In 'n poging om die produksielandskap
in meer diepte te karteer het ek die rekords geverifieer aan die
hand van uitgewerye se katalogusse en/of die fisiese boeke. Daarna
is dit gekategoriseer binne 'n komplekse kategoriseringsisteem bestaande
uit 116 onderskeibare subkategorieë, volgens spesifieke onderskeidingsfaktore,
byvoorbeeld: Dewey-nommer; genre; die aantal outeurs; die samestellingsformaat
(enkelvolumes versus bloemlesings en bundels); oorspronklike Afrikaanse
werke versus vertalings; die fisiese formaat van die teks (standaard
puntgrootte versus grootdruk); en die uitgeekanaal (self-uitgegee
versus deur 'n uitgewery uitgegee).
Voorbeelde van die 116 subkategorieë sluit in:
- literêre drama - enkeltoneelteks - enkelouteur - vertaal in Afrikaans - Mamma Medea;
- literêre poësie - saamgestelde bundel - meerdere outeurs - Groot verseboek 2000;
- literêre poësie - enkelbundel - enkelouteur - self-uitgegee - Carl Boplaas kraai douvoordag;
- literêre prosa - roman - Vergenoeg;
- grootdruk - liefdesroman - vertaal in Afrikaans - Flikkers vir dokter Cade;
- humoristiese prosa - enkelkortverhaalbundel - enkelouteur - Spreekkamerstories: met 'n lepel vol lag; en
- inspirerende prosa - saamgestelde essaybundel - enkelouteur - Hillbrow is nie vir sissies nie.
Ek wil dit benadruk dat die kategorisering van die rekords nié 'n poging was tot 'n kunsmatige onderskeid tussen "hoë"en "lae" letterkunde nie. Dit is gedoen om diepgaande produksiepatrone van die volledige landskap te bepaal - en wel op grond van "etikette" wat uitgewerye sélf in die bemarking en "branding" van hul produkte gebruik.
III
Die PDAF toon aan dat daar gedurende die periode 1990-2003 altesaam 4 419 Afrikaanse
fiksietitels uitgegee is: 2 647 as eerste-uitgawes en 1 660 as heruitgawes
(waarvan slegs 219 een of meer keer herdruk is); en die oorblywende
112 as een of meer herdrukke van titels wat oorspronklik vóór 1990
uitgegee is. Die kurwe van die totale produksie (sien die grafiek
hieronder) toon 'n geleidelike styging tussen 1991 en 1995. Die
eerste helfte van die 1990's is deur bedryfkenners
beskryf as "'n renaissance van die Afrikaanse boek" (Afrikaanse
lesers het meer boeke begin koop toe Afrikaans op televisie en ander
platforms onder druk gekom het, stewige romans soos onder andere
Ons is nie almal so nie en Triomf het verskyn; en
die boekebedryf het meegedoen aan die optimisme rondom die "nuwe
Suid-Afrika"). Hierdie tussenperiode was egter 'n tydelike opflikkering
en die einde van die goue era vir die Afrikaanse boek - dié era
waarin mediamaatskappye die uitgee van fiksie gekruissubsidieer
het deur die winste wat deur voorgeskrewe boeke op skoolvlak en
niefiksieboeke gemaak is.
© 2004 Rudi MR Venter, Program in Uitgewerswese, Universiteit
van Pretoria, Suid-Afrika
Maar toe stort die eens stabiele voorskryfmark in 1997/1998 ineen: die nuwe Departement van Onderwys het in 1998 85% minder op skoolboeke spandeer as in die vorige jaar, en boeke is selfs (tydelik) as oortollige leermiddels in die nuwe uitkomsgebaseerde skoolkurrikulum beskou. Dit het verreikende gevolge vir die hele uitgeebedryf gehad, aangesien die skoolboeksektor die ruggraat van dié bedryf vorm. Die begrotings van openbare biblioteke is sedert die middel 1990's besnoei en in 2000 is 'n befondsingstekort van R 184,9 miljoen ondervind; boonop moes die aankoopbeleid nou voorsiening maak vir regstellende aksie rondom elf amptelike tale en die nuwe rol van biblioteke as gemeenskapsinligtingsentrums.
Die daling tussen 1995 en 1997 in die produksiekurwe van Afrikaanse fiksie toon die impak van hierdie faktore duidelik - die produksie van Afrikaanse fiksie was immers in die verlede sterk aangewese op die standhoudendheid van die voorskryf- en biblioteekmark. Hoofstroom-uitgewerye is uit hul gemaksone geruk en was ewe skielik aangewese op die (onderontwikkelde) algemene kopersmark. Die periode sedert 1998 is 'n tyd van grootskaalse herstrukturering in die uitgeebedryf - alles terwille van oorlewing en stabilisering (op die produksiekurwe word dit deur min of meer 'n plato vergestalt).
Die produksielandskap van Afrikaanse fiksie is divers, gevarieerd en uniek (plaaslike fiksieproduksie in Engels en Afrikatale toon nie dieselfde diversifikasie nie). Die grafiek hieronder toon die produksie-aandeel van die verskeie produksiekategorieë tot die totale landskap (die 116 subkategorieë is hergroepeer in 11 oorhoofse kategorieë).
© 2004 Rudi MR Venter, Program in Uitgewerswese, Universiteit
van Pretoria, Suid-Afrika
Dit is duidelik dat Afrikaanse fiksie, soos Afrikaanse musiek, grotendeels uit "populêre" produkte bestaan. En dit is nie noodwendig goed of sleg nie, dit is bloot hoe dit is. Soos reeds gebeur het in die Afrikaanse musiekwêreld, behoort vrae oor die groot en klein happe uit die spreekwoordelike appel egter gevra te word. Word 'n toekomstige en standhoudende boekkultuur gebou deur grotendeels te voorsien in die aanvraag na kooiromans (wat heerlike ontspanning is en volop geproduseer, gekoop en gelees word, maar wat nie noodwendig die leser verryk of verder laat dink nie)? Of word aannames gemaak oor die breë publiek se behoefte (al dan nie?) aan meer uitdagende leesstof? Word daar genoegsaam voorsien in die behoeftes van nismarklesers? Uitgewers se argument dat 'n markbehoefte nie geskép kan word nie, oortuig my nie heeltemal nie - dalk nie deur die uitgewers alléén nie, maar wel in samewerking met ander rolspelers as deel van 'n groter inisiatief? Soos reeds gebeur het met die lesersprofiel van liefdesromanlesers, behoort deeglike navorsing oor die lesersprofiele van ook ander produksiekategorieë gedoen te word.
In die onlangse debat oor die stand van die Afrikaanse boek is veral gefokus op die inkrimping van poësieproduksie. Maar die produksie van poësie, wat wêreldwyd 'n nismark is, is nog lank nie dood nie - daarvoor het die verskyning van Protea Boekhuis op die uitgeetoneel, die volgehoue (alhoewel verminderde) produksie deur NB-Uitgewers en die 99 digbundels wat deur digters self-uitgegee is, gesorg.
Die uitgee van dramas, wat in die verlede sterk gegrond was op voorskryfmoontlikhede, het opgedroog. Vandag sien 'n drama in gedrukte formaat die lig slegs wanneer dit prestige waarde vir die uitgewer (en skrywer) inhou, soos om vir 'n literêre prys in aanmerking te kom.
Die produksie van verskeie prosakategorieë (behalwe van liefdesromans) het skerp ingekrimp tussen 1998 (98 titels daarvan) en 2003 (55 titels). Die vermindering in literêre romans, riller-/spanning-/speurromans, kortverhaalbundels en ander kortprosa titels behoort (dalk eerder as poësieproduksie) aandag in die openbare diskoers te kry.
Die uitgeweryprofiel, soos afgelei uit die produksieprofiel, toon belangrike
verskuiwings ten opsigte van beskikbare produsente en hul produksiebydrae.
Perskor en HAUM-Literêr, die eertydse kompetisie vir Naspers se
uitgewerye/drukname wat fiksie produseer, is onderskeidelik in 1994
en 1997 deur Kagiso ('n swart bemagtigingsorganisasie) oorgeneem.
Kagiso is op sy beurt deur die multinasionale Maskew Miller Longman
oorgeneem en dit het tot die einde van fiksieproduksie deur hierdie
uitgewery gelei. As gevolg van die ineenstorting van die voorskryfmark
is Naspers se onderskeie algemene boekuitgewerye (Tafelberg, Human
& Rousseau, Kwela Boeke en Queillerie wat fiksie uitgee) as drukname
van slegs een algemene uitgewery (NB-Uitgewers) in 2001 geherstruktureer.
Kleiner drukname se fiksieproduksie is gestaak of afgeskaal: die
eens baie produktiewe, onafhanklike Queillerie gee vandag slegs
enkele titels (hoofsaaklik vertalings) per jaar uit; Homeros se
fokus op gayletterkunde was van korte duur (Gay@LitNet
het tot die redding gekom); en J.L. van Schaik (as algemene uitgewery
- dus onderskeibaar van die akademiese Van Schaik) is nou deel van
die geskiedenis. Naspers se elektroniese uitgewery, ContentLot.com,
het slegs 'n handvol Afrikaanse elektroniese fiksieprodukte opgelewer
- dit blyk nie winsgewend genoeg te wees nie. Van innoverende fiksieprodukte
wat oor die grense van genres en verpakkingsformate beweeg en waardeur
fiksie by 'n nuwe geslag lesers uitkom, byvoorbeeld die poësie-CD's
van Breyten Breytenbach en Laurinda Hofmeyr en die CD-ROM Verswêreld,
het slegs enkele titels verskyn.
Ook produsente van hoofsaaklik populêre fiksie soos Benedic Boeke, Makro, Daan Retief en Kennis Onbeperk, moes hul deure sluit as gevolg van veranderde markomstandighede. Jacklin Enterprises het nuut op die toneel verskyn en produseer 'n groot aantal vertaalde Mills & Boon-romans vir wat oorgebly het van die biblioteekmark. J.P. van der Walt is deur die ATKV gered (dit het gelei tot die naamsverandering na LAPA) en hulle kon deur middel van hul gevestigde verspreidingsisteem (vyf eie boekklubs) aanhou om liefdesromans uit te gee (ook enkele literêre fiksietitels het onlangs by hulle verskyn). CUM en Lux Verbi fokus uitsluitlik op inspirerende fiksie en niefiksie.
Die voormalige polities-alternatiewe uitgewery Taurus en die anti-establishment-uitgewery Hond is nou dormant en hul publikasielyste is deur Human & Rousseau oorgeneem. Ook Domestica en Prog (uitgewerye wat bedryf is deur en vir swart digters) is nou saliger. Dit is 'n jammerte dat hierdie onafhanklike uitgewerye verdwyn het, want die werklik innoverende, avant-garde en eksperimentele produkte word gewoonlik deur hierdie soort uitgewerye gewaag - só is dit wêreldwyd.
Bent, Suider Kollege en Fenomeen (al drie met 'n spesifieke fokus op grotendeels poësieproduksie) en Litera, Praag en Genugtig! is sedert die tweede helfte van die jare negentig (en veral in die vroeë 2000's) nuwe groeipunte buite die hoofstroom. As kleinskaalse en eenman-uitgewerye is hul produksiebydrae (tot dusver) egter beperk. Protea Boekhuis is tans die produktiefste kommersiële onafhanklike uitgewery van Afrikaanse literêre fiksie. Hulle bydrae tot poësieproduksie, en later ook (literêre) prosaproduksie, was 'n draaipunt binne die eietydse uitgeegeskiedenis van Afrikaanse fiksie. Informele uitgeekanale word ook in stand gehou, onder andere deur 114 outeurs wat sedert 1990 self hul manuskripte uitgegee het; 67,81% van dié publikasies was poësietitels.
Uit die produksielandskap en uitgeweryprofiel blyk dit duidelik dat daar deur die invloed van transformasieverskuiwings (politiese, ekonomiese, sosio-kulturele, institusionele en tegnologiese verandering binne die uitgeesisteem) 'n nuwe era vir die Afrikaanse boek aangebreek het. Die inkrimping in Afrikaanse fiksieproduksie oor die algemeen kan nie slegs voor die deur van die oorblywende uitgewerye gelê word nie - die gevestigde uitgewerye het immers oor jare die Afrikaanse letterkunde help opbou en uitgewers gee steeds gehalteboeke met passie uit.
Die verhouding tussen markaanvraag en markaanbod behoort nog deeglik nagevors
te word. Uitgewers én skrywers het die plig om aan te hou voorsien
in 'n breë spektrum en ook 'n aanvraag en 'n boekkultuur te skep;
aan die ander kant behoort lesers oorreed te word om hulle kant
te bring deur entoesiasties en voortdurend Afrikaanse fiksie te
koop en te lees. Soos Hannes
van Zyl gesê het, die uitgee van die boek in Afrikaans het 'n
"veeleisende vreugde" geraak - goedkoper om te produseer, maar al
moeiliker en duurder om te bemark.
IV
Wanneer die situasie rondom die produksie van Afrikaanse fiksie realisties beskou
word, blyk dit verband te hou met die algemene posisie van die boek
as kultuurproduk (Johann
Rossouw skryf boeiend oor die plek van boeke binne die huidige
videosfeer waarin ons leef). Groot teater-komplekse wat voorheen
spilpunte van Afrikaanse kultuur was, het hul deure oopgegooi vir
Suid-Afrikaanse teater en op dié verhoë sien mens vandag min Afrikaanse
produksies. Ten spyte van die debatte oor die verhouding kuns en
vermaak in die aanbod van kunstefeeste, behoort mens dankbaar te
wees vir hierdie platforms waar kultuurprodukte bemark word. Afrikaanse
televisie het vir kykNET bygekry en, ten spyte van die deel kommersiële
en "realistiese" "vermaak-sonder-smaak", is ook 'n klomp byderwetse
programme van gehalte vervaardig. Afrikaanse radio op RSG hou soms
tred met die tyd. Afrikaanse reklame is opwindend en gesond soos
dit onlangs weer bewys is met die Pendoring-pryse. Afrikaanse musiek
beleef ongekende groei. Die Afrikaanse boek staan agter in die kultuurtou
- dit is daardie rare kultuurproduk wat net nou en dan in die nuus
of op 'n platform is en selfs dán trek dit nie genoegsaam die aandag
van die jonger generasie nie. Ons leef in 'n tyd wat Charlize Theron
se Oscar by verre die kollig steel van JM Coetzee se Nobelprys.
Boeke het onaantreklik geword. Ek bedoel nie visueel nie, inteendeel,
die boekontwerp van kontemporêre Afrikaanse fiksieboeke het 'n ver
pad gekom. Ek bedoel daar is nie genoeg van 'n "hype" rondom Afrikaanse
fiksie onder Generasie Z nie.
'n Beginpunt om Afrikaanse boeke onder 'n jonger generasie op 'n vars manier bekend te maak, is om die hoogs bemarkbare personae van Afrikaanse skrywers te beklemtoon: die eksotiese Marita van der Vyver, die bosgees Dalene Matthee, die yuppie Etienne van Heerden, die ewige anargis Breyten Breytenbach, die ghoeroe André Brink, die voorloper Antjie Krog, die ewige tiener Joan Hambidge, die esteet Hennie Aucamp, die Engfrikaanse Jackie Nagtegaal, die perfeksionis Marlene van Niekerk (en daar is nog vele meer). Hoekom word Afrikaanse skrywers (en veral die jongeres onder hulle) nie só bemark dat hulle méér sigbaar is onder die jonger generasie nie? Die eksperimentele en opwindende Sestigers en grensverskuiwende Tagtigers het veel meer openbare aandag gekry (en veroorsaak!) as die skrywers van vandag. Die mate waartoe Afrikaanse musiekkunstenaars (en hul platemaatskappye) betrokke is by die uitbouing van hul openbare beeld behoort as voorbeeld te dien vir skrywers (en uitgewers). Skrywers moet besef dat die mededinging om lesers se besteebare inkomste versterk het. Hulle kan nie meer bekostig om ongemaklik te voel om by die bemarking van hul boeke betrokke te wees nie. Dalk het ons 'n Voëlvrytoer vir die Afrikaanse boek nodig om mededingende ikone en kultusfigure te skep. Dit gaan immers so goed met Afrikaanse musiek omdat dit deur verskeie kanale en op verskillende platforms sigbaar is.
Waar is Afrikaanse boeke en skrywers op 'n deurlopende grondslag sigbaar? Ek het groot waardering vir Elfra Erasmus, Francois Smith, Jaco Jacobs en Sonja Loots se boekeblad (een keer per week / 'n enkelblad / slegs gedeeltelik gewy aan Afrikaanse fiksie) in onderskeidelik Beeld, Die Burger, Volksblad en Rapport. Insig se boekeblad (met Elmari Rautenbach en Kirby van der Merwe) is al bestempel as die beste in Suid-Afrika op die oomblik - maar daar is net twaalf daarvan per jaar. Die een bladsy oor boeke in die Taalgenoot verskyn slegs maandeliks; De Kat se boekeblad kwartaalliks; Huisgenoot troos met 'n halwe bladsy per week (die klem is op liefdesromans); en Sarie, Rooi Rose en Vrouekeur is gerig op die vrouemark. Ek glo egter dat resensies en boekeblaaie, soos boekbekendstellings, boeke sigbaar maak aan hoofsaaklik reeds-ingelyfde lesers en dat hul "platform-effek" derhalwe beperk is. Boonop het boekbekendstellings patroonmatig geraak en lok dit nie jonger en nuwe belangstellendes nie. Akademiese tydskrifte soos Tydskrif vir Letterkunde, Literator, Stilet en die nuwe Spilpunt bring hul kant vir die akademiese gesprek, maar dit bring nie boeke by "gewone" lesers uit nie.
Behalwe vir Pasella se rare onderhoud met 'n skrywer of
oor 'n boek, bestaan Afrikaanse boeke nie op SABC se televisiekanale
nie. Vir dié wat toegang het tot die betaalkanaal kykNET, was daar
programme met die kollig op boeke en skrywers (reekse soos Boeksusters
(Madeleine van Biljon en Cecile Cilliers), Ja-Nee Poësie
(Breyten Breytenbach) en Sandra op 'n Drafstap); tans kan
ons eenmaal per maand kyk na Hettie Scholtz se boekerubriek op Kunskafee.
Op RSG kan mens nog luister na Leeskring deur Daniël Hugo
en Bettie Kemp se interessante pas afgelope reeks Daar's ink
in ons are oor ons Afrikaanse skrywersfamilies was groot bederf.
Die Boekeparadys en Boeke-Oase by kunstefeeste en die Woordfees
op Stellenbosch is opwindend en maak boeke en skrywers sigbaar,
maar dit is plekgebonde en gebeur een maal per jaar. Die elektroniese
media is die opwindendste platform vir 'n deurlopende gesprek rondom
boeke, skrywers en lees; webwerwe soos LitNet en Boekwurm
lewer 'n enorme bydrae en lok ook die jonger generasie.
Daar bestaan verder slegs enkele georganiseerde inisiatiewe rondom boeke en lees. 'n Voorbeeld is Miemie du Plessis van LAPA en Carina Diedericks-Hugo van Human & Rousseau (saam met skrywers) se vroegtydige "bekeringswerk" om met behulp van kreatiewe programme by skole jong leerders van boeke bewus te maak. Hopelik hou daardie lesers aan met lees en koop en vorm hulle die volgende generasie. Hopelik word hulle nie vir altyd van die Afrikaanse letterkunde vervreem deur stokou voorgeskrewe boeke wat geen relevansie vir die hedendaagse situasie meer het nie.
Ook die Sentrum vir die Boek in Kaapstad bou deur hul First
Words in Print-projek aan 'n nuwe geslag deelnemers aan 'n boekkultuur.
7de Laan se produksiespan verdien 'n pluimpie vir hul idee
om Marita van der Vyver by die boekbekendstelling
in die boekwinkel op stel te betrek (dit is egter 'n interessant
feit dat dié voorstel vanaf 7de Laan gekom het en nie van
die uitgewers nie). Soos Hettie
Scholtz gesê het, ons het ons siele aan 7de Laan verkoop
- dan is dit mos 'n perfekte geleentheid om die "gewone" Afrikaanses
weer van boeke te laat onthou.
Tussen die groep jong lesers wat op skool bereik word, die gevestigde
(ouer) liefdesromanlesers wat deur boekklubs, CNA en Leserskring
ingelig en bedien word, en die reeds ingelyfde lesers (en hul is
óók ouer) wat in leeskringe vergader (volgens NALN bestaan daar
ongeveer 600 daarvan in die land), boekbekendstellings bywoon en
gereeld boekwinkels besoek, val Generasie Z vir wie boeke elitisties
en onsigbaar is en wat nie daarmee in aanraking kom nie. Is dié
jong generasie, dié wat ná skool nie verder iets met die letterkunde
te doen wil hê nie (dalk omdat dit onkreatief en onstimulerend aangebied
word op skool?), totaal verlore vir die Afrikaanse fiksieboek? Wat
kan gedoen word om studente en jong mense by 'n boekkultuur te betrek?
Waar is die interessante, "cutting edge"-onderhoude met skrywers
waardeur hulle aan 'n publiek voorgestel kan word - veral op televisie,
in koerante en oor die radio (Paneelklopper
en Heupvuur
op LitNet is uitsonderings)? Hoekom word ander celebrity-figure
nie meer gereeld uitgevra oor hulle boekrakke, leesgewoontes en
gunsteling boeke op byvoorbeeld Pasella en in JIP
nie? Hoekom is daar nie 'n byderwetse televisieprogram en radioprogram,
gerig op jong mense, waar die fokus (al is dit net gedeeltelik)
op boeke val nie? Hoekom vind daar nie gereelde boekvoorlesing-aande
oor die hele land plaas nie? Wanneer en waarvandaan gaan die organisasievermoë
kom om 'n landswye skrywerskaravaan te organiseer waardeur skrywers
kan toer en kan meehelp met die bemarking van hul boeke en die vestiging
van 'n boekkultuur? Wat 'n mooie dag sal dit nie wees as ons ook
- soos in Europa - "billboard"-advertensies langs paaie van boeke
kan sien nie?
Ek begryp dat uitgewers daar is om boeke te produseer en nie te verkoop nie; dat hulle aan boekwinkels (waarvan daar min oor die geografiese wye land versprei is, en dan boonop hoofsaaklik in die groot winkelsentrums in die groot stede) en ander handelaars bemark. Skrywers, uitgewers, boekhandelaars, kultuurorganisasies (soos die ATKV en die FAK) en almal anders wat 'n belang het by die boek, behoort 'n konsortium te vorm en gesamentlik te onderhandel met die Departement van Kuns en Kultuur én potensiële beleggers in die korporatiewe sektor om die bewustheid rondom boeke en lees 'n hupstoot te gee. Die bestaande inisiatiewe behoort oorkoepelend gekoördineer te word en daar is meer daarvan nodig.
Die scène rondom Afrikaanse fiksieboeke lyk op die oomblik ietwat eentonig en stowwerig. Dit is voortydig om óf 'n naderende dood óf 'n bloeityd te voorspel. Niks keer ons egter om groot en nuut te dink oor die Afrikaanse fiksieboek en dit in 'n verbeeldingryke, mededingende en onmisbare kultuurproduk te omskep nie.
|