Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Groot Kunstefees- en Teaterindaba
Moontlik gemaak deur/Supported by:
Klik hier vir Aardklop se tuisblad
Klik hier vir Sanlam se tuisblad
Klik hier vir die KKNK se tuisblad
Kobus Burger
Kobus Burger
Klik hier vir jou daaglikse Beeld
  • Klik hier vir die nuutste Plus!
  • Klik hier vir jou daaglikse Volksblad
  • Klik hier vir kunsnuus en hope vermaak!
  • Skryf vir ons/ Write to us: webvoet@litnet.co.za

    Kunstejoernalistiek is besig om 'n stille dood te sterf

    Kobus Burger* trek sy rougewaad aan

    As daar een ding is wat baie duidelik na vore gekom het uit LitNet se Teaterindaba, is dit hoe die meeste bydraers teater (spesifiek Afrikaanse teater!) gelykstel aan die Afrikaanse kunstefeeste. Vir my is dit een van die min sinvolle gevolgtrekkings wat 'n mens uit die spataar-indaba kan maak.

    Teken 'n mens dus vir jouself 'n mooi prentjie waarin die twee een word (feeste = teater), is dit glad nie so rooskleurig nie.

    Ek is bekommerd, want die kunste suffer. En ja, ek stem saam met Steve Hofmeyr. Die kunstejoernalistiek in ons land - veral Afrikaanse kunstejoernalistiek - is dreigend na aan die afgrond.

    Vergeet van daai voorval en die debatte en mense wat aanstoot neem oor die kloof tussen kuns en vermaak. Kyk eerder na die inhoud, na die vlak van Afrikaanse kunsteverslaggewing in ons land en hoe dit dan onder andere tydens kunstefeeste deur pseudokenners gepleeg word.

    Dit mag dalk vreeslik alarmisties klink en asof ek soos 'n wafferse kulkunstenaar probeer om die tafeldoek onder die breekware uit te pluk. Maar dit is duidelik, weens verskeie faktore, dat goeie, uitdagende kunsjoernalistiek besig is om te taan.

    Kyk 'n mens byvoorbeeld na die Afrikaanse feespublikasies, wonder 'n mens hoeveel van die kunstefeesborge, uitgewers van feespublikasies, en "joernaliste" wat tydens die Afrikaanse feeste berig en resenseer, al 'n jaar of wat die Nasionale Kunstefees in Grahamstad bygewoon het. Hoeveel van hulle het al 'n Cue (die Nasionale Kunstefees se feeskoerant) of twee onder oë gehad?

    Nou hoor ek hulle sê dit is soos om Maria Callas met Britney Spears te vergelyk. Daar sit ons weer in die warm plek en blaas gifborrels in mekaar se rigting ...

    "Kom tot die punt," hoor ek Amanda Strydom sing.

    "Mene mene tekel ..." Kunstejoernalistiek is besig om 'n stille dood te sterf.

    Dis jammer, maar dis op ons. Die dood het stadig by die agterdeur ingesluip en sy muwwe reuk tydsaam deur die vertrekke laat luier. Byvoorbeeld, Rapport (wat bestempel word as die grootste Afrikaanse koerant in Suid-Afrika op grond van sy leserstal) het eers sy kunsblad toegemaak. En toe is wyle Barrie Hough, Rapport se kunstekenner, vort. G'n plaasvervanger nie, net vervlakking.

    Vanjaar was daar nie 'n kunstejoernalis wat vir Rapport oor die KKNK vanuit Oudtshoorn berig het nie. Wel, behalwe 'n ene Karin Burger wat in 'n diepte-artikel in Rapport vir Saartjie Botha aanhaal en beskryf as die dramaturg van Maria (sic). Indien Burger wel by die fees was en wel met Botha gepraat het, moes sy seker iewers gehoor of gelees het dat Maria eintlik 'n tango-operita is wat in Spaans by die fees op die planke gebring is as Astor Piazzolla se Maria de Buenos Aires. Of het sy nie 'n feesgids ontvang of gekoop nie? Nou ja, 'n mens kan seker skouerophalend sê dit is die drukkersduiwel of 'n klein feitefout. Goed en wel.

    Maar sou die Afrikaanse mediabase 'n politieke verslaggewer aanstel wat berig dat Bheki Khumalo die amptelike woordvoerder van Mangosuthu Buthelezi is?

    Dan praat 'n mens nie eens van die algemene nuusdekking by die feeste nie. Kunstenaars en hul nuwe werk moet plek maak vir sensasionele berigte oor watter sepiester verwagtend is of 'n paar koddige mense wat 'n volstruis op 'n spit gebraai het. Of die twee ontstelde mense wat weens beweerde godslastering by Aardklop uit 'n vertoning van Maria de Buenos Aires gestorm het. Groot nuus, lekker nuus!

    Waarskynlik sal 'n groot gros van die kunsteskrywers hulself sien as brugbouers tussen die kunstenaar en sy/haar gehoor. 'n Soort tussenganger wat die kunstenaar se eintlike boodskap kan oordra in meer as net die taal en emosie wat die kunstenaar gebruik. Maar daardie rol word nou vinnig uitgedien. Dit gaan nou oor vinnig en kort en vermaaklik. Die taak van opvoed, inlig, kontekstualiseer, geskiedskrywing, dokumentasie en brugbou is nie meer belangrik nie.

    Dit gebeur nie net in Afrikaans nie. The Star Tonight het al 'n paar jaar gelede sy kundige resensente begin afskaal en die ruimte begin vul met beriggies oor dobbel en uiteet - groot sirkulasiebouers!

    Die tendens strek selfs wyer as net die kunsblaaie. Kunstejoernalistiek word afgewater tot niks minder nie as "hype". Of sappige skinderbrokkies. Ja, hel, 'n mens wonder tog of mej Sepiester inderdaad Revlon gebruik. En watter publikasie wil nou betaal vir 'n kunsteskrywer se kundigheid as jy net lekker hoorsê of iets met 'n reukie van seks kan publiseer?

    Kom dit by die kunstejoernalistiek, wonder 'n mens: Wie gee regtig om? Wie gee om wie oor die kunste berig as skindernuus oor sokkerspelers of "has been"-rocksterre kwansuis meer lesers lok op bladsy drie as die hele kunsteblad of -bylae met sy beweerde hoogdrawendheid wat niemand verstaan nie?

    Die handjievol kunstejoernaliste word dan op die koop toe bygesleep as daar teen kadetjoernaliste se resensiepogings by die feeste kapsie gemaak word. Skielik word ALMAL sommer met een veeg van die hand van die tafel gevee en afgemaak as "oningeligte media".

    So wie de hel gee regtig om vir goeie kunstejoernalistiek? Wie lobby daarvoor? Beslis nie die groter publiek nie, en nog minder die meeste kunstenaars of ander weetgieriges wat kunstekenners gou afmaak as te ingelig, negatief of hoogdrawend. (Kunsjoernalistiek is die een plek waar ingeligtheid en kundigheid later téén jou begin tel.) Die meeste kunsteskrywers sal eendag hul werkplek vaarwel toeroep met 'n dik pak vol haat- en uitskelbriewe as enigste (?) of finale bewys van 'n hele paar produktiewe jare.

    Dalk is dit 'n goeie ding dat kunsjoernaliste nie almal se pêl word en belange het by eensydig-positiewe dekking nie. Maar dit beteken nie veel vir die voortbestaan van kunsjoernalistiek nie.

    Want wie beskerm en bevorder goeie kunsjoernalistiek? Kunsjoernalistiek is immers 'n gewaarborgde doodloopstraat in 'n mediaklimaat waarin die sukses van 'n kunstepublikasie in goeie advertensie-inkomste gemeet word.

    Hoekom doen die meeste kunsjoernaliste wat hulle doen? Vir 'n "byline"? Om Barry Ronge na die kroon te steek as Suid-Afrika se no. 1 celebrity skrywer? Om 'n akademikus of publisiteitsbeampte te word vir 'n bietjie meer geld om darem 'n huis te kan koop? (Dit is nou as jy een van die talle ongelukkiges is wat nie payola ontvang nie ...) Om eendag 'n uitgewer te oorrreed om 'n boekie kortverhale uit te gee waarvan so honderd eksemplare gaan verkoop, want danksy jou beriggewing weet so 'n paar mensies darem wie jy is?

    Nee, daar is nie eens 'n beskermliggaam vir kunsjoernaliste nie, terwyl kunstenaars deesdae kan staat maak op die Performing Arts Network of South Africa (Pansa) wat hul belange bevorder.

    Ekself is al vir langer as tien jaar 'n kunstejoernalis en -resensent. Ek kon my tande slyp op groot geeste soos Coenie Slabber en Johan van Rooyen; myself verloor in stet of Vrye Weekblad se dekking van die literatuur en kunste. Ja, in soveel opsigte was ek 'n bevoorregte. Ek kon my verdiep en ingrawe in 'n "eksklusiewe" wêreld, maar moes ook iewers begin, foute maak en 'n soort vakmanskap slyp.

    Ek besef terdeë dat daardie bevoorregte dae verby is en dat kunstejoernalistiek (of wat nog daarvan oor is) nou as 'n luukse beskou word.

    In die jaarlikse Mondi-pryse vir koerant- en tydskrifjoernalistiek is daar nie eens 'n kategorie vir kunstejoernalistiek of die skryf van resensies nie. Eervolle vermelding en bekroning is slegs 'n klein aspek van die groter prentjie, maar in hierdie geval 'n bewys dat kunstejoernalistiek vir die koerantbase en -bedryf bittermin (indien enige) gewig of waarde het.

    Hoe inspireer 'n mens dus honderde skoolkoerantjoernaliste wat daarvan droom om kunstejoernaliste te word? Watter standaarde kan jy daarstel as enigiemand binne 'n japtrap 'n oorsese resensie van die internet kan trek en onder hul eie naam kan publiseer?

    In verlede jaar se Nasionale Skoolkoerantkompetisie het 'n spogskool een van sy leerlinge se resensies ingeskryf sonder om te besef die resensie is woord vir woord plagiaat - die resensie wat in die skoolkoerant gepubliseer is, was presies dieselfde resensie wat kort tevore in die Amerikaanse musiektydskrif Rolling Stone gepubliseer is.

    So, Steve, jy's reg. Die kunstenaars verdien beter as dit. Die kunstebedryf verdien 'n diverse span bedrewe kunstejoernaliste wat weet waarvan hulle praat. Die koerante, radiostasies en TV-kanale (Afrikaans en Engels en en en ...) is verplig om te belê in die ontwikkeling, behoorlike betaling (wat oortyd insluit) en uitbou van kunstejoernaliste, nes hulle hul politieke verslaggewers en misdaadverslaggewers pamperlang en oormerk vir "groot dinge".

    Die ongesonde fokus op leefstyl, tuinbou, modes en ander onderwerpe wat na bewering groter advertensie-inkomste lok, is ook besig om kunstejoernalistiek in die hoek te druk as niks minder nie as 'n intellektuele speletjie vir 'n klomp uitgelese mense. Die groeiende druk om skindernuus oor sterre se mallighede te publiseer voed hierdie wanpersepsie in 'n waansinnige gejaag na winsgrense en die grootste gemene deler.

    As ek nou 'n akademikus was, sou ek seker tot 'n soort slotsom moes kom. Dalk 'n paar aanbevelings maak op grond van die paar indrukke waarmee ek vorendag kon kom.

    Eintlik het ek geen oplossing nie en staan ek seker reeds te na aan die vuur om die groter prentjie te sien. Vandaar dan seker die noodsaaklikheid dat die mense wat werklik 'n belang het in goeie kunsjoernalistiek hul stemme moet dik maak. Dit sluit al die lesers, kunstefeesgangers, kunstenaars en kenners in.

    En tog sal dit meer as net sê, praat, briewe skryf en debatte voer moet wees. Daar sal drukgroepe moet wees wat ook kan help om ruimte en hulpbronne te voorsien.

    Anders kan die kunsblaaie maar die een na die ander sluit en ons tydskrifte afwater tot Vanity Fair-klone met 'n lieflike fokus op die visuele. Dan kan kunstenaars (diegene wat die geld het om te bemark) hul pad letterlik oop koop na hul gehore met kleurvolle advertensies. En dis al. Die top 10-lysies sal steeds daar wees en ons herinner aan wie werklik 'n verskil maak, meer as genoeg geld maak en wat die meeste mense se voorkeure is.

    Dan sal ek en Marguerite Robinson nie hoef te soek na solar plexus-teater nie. Dit sal so eenvoudig wees: spits die ore en hoor waar die geldlaaie klingel.

    En dan kan almal weer volgende jaar gaan kunstefees hou en na 'n lekker gesprekkie gaan luister met die titel Moenie in die water mors nie oor die voortbestaan van Suid-Afrika se waterbronne, want die kunste en kunstejoernalistiek floreer. Halleluja!







    *Kobus Burger is 'n diepteverslaggewer en toneelresensent vir die kunstepublikasie Beeld Plus. Hy het die afgelope meer as tien jaar berig oor onder andere popmusiek, televisie, radio, kabaret en kunstekwessies. Tussendeur sy joernalistieke wedervaringe was hy bestuurder: interne kommunikasie vir M-Net en Multichoice. Van sy gedigte is al in Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer en onder meer 'n toneelteks in die versamelbundel Party van ons. Hy fasiliteer Artist's Way-slypskole, skryf artikels vir die SielsNetwerk en spesialiseer in Rebirthing Breathwork. Hy is ook die stigter van die Beeld Plus Aartvark-prys vir innoverende werk, wat die afgelope ses jaar tydens Aardklop toegeken word, en was 'n beoordelaar vir die ENB Suid-Afrikaanse Musiekpryse (Samas). Hy was vir lank die noordelike koördineerder van die Nasionale Skoolkoerantprojek en beoordelaar in die Nasionale Skoolkoerantkompetisie. Sy grootste droom is om vir Mma Ramotswe te ontmoet en 'n koppie bossietee saam met haar te nuttig.



    LitNet: 14 Oktober 2004

    Have your say! To comment on this piece write to webvoet@litnet.co.za, and become a part of our interactive opinion page.

    Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe / to the top


    © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.