Taaldebat - Language debateArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
Senior watch slim, Jaeger Le Coulter Masters Series must not replica watches miss. Jaeger Le Coulter's master series is swiss replica watches an entry - level series in the brand, but it replica watches sale also has a complex style to replica watches online the sky.

DIE OORLEGPLATFORM / THE CONSULTATIVE FORUM

Dennerand 5
Stellenbosch
7600
Tel 021 8832964

DIE OORLEGPLATFORM se Voorstelle vir ’n Taalbeleid vir die Universiteit van Stellenbosch.

Vir Afrikaans, kliek hier



Proposals by THE CONSULTATIVE FORUM for a language policy for Stellenbosch University


Translation

The following people support the REQUEST and PROPOSALS. Although some of the signatories have qualifications about one or more of the points of the MOTIVATION or want the argument of some of the points to be elaborated they agree its broad thrust.

André P Brink
Johan Degenaar
Abraham H de Vries
Ampie Coetzee
Jannie Gagiano
Hermann Giliomee
Kathleen Heugh
Rhoda Kadalie
Jan Sadie
Charles van Onselen
Lawrence Schlemmer
Frederik Van Zyl Slabbert
Richard van der Ross
Christo Viljoen
Ton Vosloo
David Welsh

Contact Person: Hermann Giliomee 021-8832964, e-mail: Consultative Forum

The Consultative Forum, in a spirit of cultural pluralism, requests

  • The Council of Stellenbosch University (SU) to resolve that SU will remain an Afrikaans institution with Afrikaans as anchor language. We believe that in a democracy a minority language and culture has a right to maintain the academic status of that language and to prevent its erosion by a universal language at an institution. Such steps are necessary to preserve the language as public language and for general social maintenance. Such language maintenance in the case of Afrikaans represents hope for the survival and elaboration of other indigenous languages in South Africa.

  • In making the call for Afrikaans as anchor language at US we take the stand that the medium of instruction at undergraduate level must be in Afrikaans with exceptions that can be made only on first year level, with the approval of Council on the recommendation of Senate and only when it is economically feasible. For post-graduate studies a policy has to be adopted with regards to medium of instruction that gives to Afrikaans its legitimate place, one that will facilitate the development of Afrikaans as academic language and technological and scientific medium.

  • The Council of SU is asked that, much more than in the past, SU will take responsibility for the university education for the Afrikaans language group in all its diversity. A special obligation will rest on US to help redress the academic disabilities of brown and black Afrikaans-speakers and that a plan with specific targets to achieve this be published as soon as possible.

  • That SU much more than in the past provides adequate facilities to students and lecturers who do not understand Afrikaans to become proficient in the language. Where necessary test and examinations should be set in both Afrikaans and English and students should be permitted to reply in either Afrikaans or English.

  • Alumni are asked to contribute to a special fund to attract students and lecturers who are not mother-tongue Afrikaans speakers to US to enable them to become proficient in Afrikaans as soon as possible.

  • That SU continues offering its classes in Health Sciences and Engineering only in Afrikaans since it does not make sense to cut back on Afrikaans while spare capacity in the medium of English exists elsewhere.

  • The Minister of National Education is kindly requested to observe the principle of university autonomy and to refrain from exerting pressure on US to introduce English-medium classes.

    The full text of the memorandum with motivation (at present in Afrikaans only) is available by clicking here. (An English translation will be made available as soon as possible). Comments on the proposals are invited, and organizations and individuals who wish to add their names to the list of supporters of this document are asked to do so in an an e-mail message to the Consultative Forum.



    AFRIKAANSE WEERGAWE


    DIE OORLEGPLATFORM se Voorstelle vir ’n Taalbeleid vir die Universiteit van Stellenbosch.

    Die volgende persone ondersteun die VERSOEK en VOORSTELLE. Hoewel sommige van die ondertekenaars sekere formulerings van die MOTIVERING sou wil kwalifiseer of verder uitbrei, stem hulle saam met die breë strekking daarvan.

    André P Brink
    Johan Degenaar
    Abraham H de Vries
    Ampie Coetzee
    Jannie Gagiano
    Hermann Giliomee
    Kathleen Heugh
    Rhoda Kadalie
    Jan Sadie
    Charles van Onselen
    Lawrence Schlemmer
    Frederik Van Zyl Slabbert
    Richard van der Ross
    Christo Viljoen
    Ton Vosloo
    David Welsh

    Kontakpersoon: Hermann Giliomee 021 8832964, E-pos: Oorlegplatform.

    Die volle memorandum met motivering volg hieronder. Kommentaar op die voorstelle word ingewag, en organisasies en individue wat hulle met die inhoud van hierdie dokument vereenselwig en hul naam by die lys van ondersteuners wil voeg, word versoek om ’n E-pos boodskap te stuur aan die Oorlegplatform.

    1. Versoek

    Die Oorlegplatform vra in die gees van kulturele pluralisme:

  • Dat die Raad van die Universiteit van Stellenbosch (US) besluit dat US ’n Afrikaanse instelling sal wees met Afrikaans as ankertaal. Die ondergetekendes glo dat onder ’n demokrasie minderheidstale die reg het om hul akademiese status te bewaar en stappe te neem om te verhoed dat dit aan inrigtings waar dit gevestig is deur ’n universele taal erodeer word. So ’n stap is ook nodig vir die bevordering van die taal as publieke taal. Al hierdie beginsels geld vir Afrikaans. Bowendien bied die voortgesette gebruik van Afrikaans as publieke taal aan die ander inheemse tale in Suid-Afrika die hoop om te oorleef.

  • Onder Afrikaans as ankertaal word verstaan dat die voertaal op voorgraadse vlak Afrikaans sal wees met uitsonderings wat op eerstejaarvlak, met toestemming van die Raad, gemaak kan word en dat op nagraadse vlak die nodige besluite geneem word om aan Afrikaans sy regmatige plek as voertaal te gee.

  • Die US raad word gevra dat US veel meer as in die verlede verantwoordelikheid moet neem vir die Afrikaanssprekende taalgroep in al sy diversiteit. Daar is in die verband ’ spesiale verantwoordelikheid om agterstande op akademiese gebied van bruin en swart Afrikaanssprekendes te help uitwis. US word gevra om ’n plan, met spesifieke mikpunte om laasgenoemde te bereik, so gou moontlik te publiseer.

  • Dat US veel ruimer as in die verlede daarvoor voorsiening maak dat aan studente en dosente wat nie goed Afrikaans magtig is nie die nodige geriewe verskaf word om Afrikaans magtig te word sodat hulle daarin klas kan loop of klas kan gee. Ter wille van taalvriendelikheid sal alle dosente versoek word om tweetalige vraestelle op te stel en studente toe te laat om hulle in Afrikaans of Engels te beantwoord.

  • Dat die US Raad besluit dat US voortgaan om sy klasse in Ingenieurswese en Gesondheidswetenskappe in Afrikaans alleen aan te bied. Dit maak nie sin om Afrikaans terug te snoei ten einde klasse in Engels aan te bied nie terwyl daar nog plekke aan ander universiteite deur medium van Engels beskikbaar is en aan US weinig of geen spaarkapasiteite aan hierdie fakulteite is.

  • Die Minister van Nasionale Onderwys word vriendelik gevra om die universiteite se outonomie in ag te neem en geen druk op US uit te oefen om Engels as voertaal in sekere fakulteite in te voer nie.

    Motivering

    Inleiding

    Die saak vir ’n inklusiewe Afrikaanse universiteit op Stellenbosch berus op die volgende argumente: die reg van kulturele en taalgroepedemografie, die prosesse van taalverplasing, toeganklikheid tot verskillende amptelike tale, opvoedkundige oorwegings (kennis-oordrag effektiwiteit), finansiële oorwegings, en die bestaansreg van partikuliere universiteite.

    Ons spreek ons kommer uit oor die sterk tendens in die regerende party om transformasie en bemagtiging eerder as die Grondwet die hoeksteen van beleid te maak.

    2 Taaldemografie en taalrealiteite

    2.1 Taalverspreiding

    Die bevolking kan op grond van huistaal in 4 hoof-taalgroeperings verdeel word, wat 93,4% van die bevolking uitmaak:

    Nguni (hoofsaaklik Zulu en Xhosa): 20,5 miljoen (45,2%)
    Sotho-Tswana: 11,5 miljoen (25,4%)
    Afrikaans: 6,4 miljoen (14,2%)
    Engels: 3,9 miljoen (8,6%).

    Volgens projeksies vir 2006 sal daar oënskynlik geen dramatiese verandering plaasvind wat die relatiewe grootte van die onderskeie huistaalgroepe aanbetref nie. Die Nguni-groep sal dan ietwat groter wees, naamlik 45,6% en die Sotho-groep 25,6%. Afrikaans met 13,9% en Engels met 8,2% dui op ’n effense daling in getalle.

    Wat betref die taalverspreiding is Afrikaans hooftaalsprekers volgens die 1999 syfers die grootste taalgroep in die Wes-Kaap (58,6% van die bevolking), die Noord-Kaap (69,7%) en Gauteng met 16,8% van die totale bevolking van die onderskeie provinsies. In die Wes-Kaap is daar drie universiteite waarvan twee slegs van Engels as voertaal gebruik maak.

    Afrikaans is volgens die 1996 sensus die dominante taal in die Metropolitaanse gebied Kaapstad, en in die metropolitaanse gebiede van Groter Oos-Rand. In teenstelling met die praktyk en algemene persepsies dat Engels die enigste lingua franca van Suid-Afrika is, weerspieël die gegewens vir die statistiese grootte en verspreiding van moedertaalgroepe ’n totaal ander beeld.

    In geen van die provinsies vorm mense wat Engels as eerste taal praat die grootste taalgroep nie. In die Oos-Kaap vorm Afrikaanssprekendes volgens die projeksies vir 2006 met 9,6%, inderdaad ’n groter huistaalgroep as Engelssprekendes.

    Geprojekteerde syfers tot die jaar 2006 dui daarop dat die taalgroeperings relatief tot die totale bevolking en volgens etniese/rasse groepe min of meer dieselfde sal bly, met die sterkste groei in Afrikaanssprekers onder die Kleurlingbevolking van Wes-Kaap provinsie.

    ’n Al groter proporsie van Afrikaanssprekendes is nie wit nie. Tans word Afrikaans landswyd as huistaal deur 48,8% blankes teenoor 51,2% bruin of swart mense gepraat. In 2006 sal die proporsies volgens projeksies 48% blank en 52% bruin of swart sprekers wees.

    Engels is nie die enigste gemene deler-taal van Suid-Afrika nie. Die proporsies van swartmense wat Afrikaans en Engels as tweede of derde taal praat is ongeveer ewe groot. Engels is wel die taal wat die meeste in die publiek as lingua franca gebruik word. Ten opsigte van veeltaligheid en die kwessie van ’n lingua franca vir Suid-Afrika kan volstaan word met die volgende opmerking van Kathleen Heugh van die Sentrum vir Alternatiewe Onderwys aan die Universiteit van Kaapstad:

    We do not have, nor are we likely to have, a single language which can function as a viable lingua franca in this country. The fact of the matter is that 80% of the population is proficient in languages other than English, and is unable to use English as a useful tool for communication for anything other than very limited communicative functions. In other words, no more than 20% has an adequate proficiency of English for communicative purposes in the workplace, for accessing services, for deriving meaning from the education system, or for participating in provincial and national tiers of government. Yet, the leadership of the country, by which I mean those in senior positions both within government and civil society, persist in one-directional communicative activities through a language that has little meaning for the majority. Thus, the apparently inexorable drive toward a reliance on English as the predominant language for communication means quite simply that we are leaving 80% of people on the fringe, beyond the borders of democratic participation.

    2.2 Nie-verstaanbaarheid van tale

    Dit is nie slegs die vlak van verstaanbaarheid van ’n bepaalde taal wat van belang in die onderwys is nie, maar ook die vlak van onverstaanbaarheid van ’n bepaalde taal. Die mite dat Engels die lingua franca vir opvoedkundige doeleindes in Suid-Afrika kan wees, word weerspreek deur die feit dat dit onverstaanbaar is vir 42% van die totale Suid-Afrikaanse bevolking. Onder die bruin bevolkingsgroep word Engels nie verstaan (op ’n vlak wat voldoende is vir opvoedkundige doeleindes) deur 39% van die groep nie. Moedertaalonderrig is nie iets wat slegs op skoolvlak van belang is nie, maar inderdaad ook op tersiêre onderwysvlak.

    2.3 Die bemagtiging van nie-dominante tale: ’n meerderheidseis

    Dit is ’n mite dat die aandrang op Afrikaans as publieke taal, wat die beskerming van Afrikaans as onderrigmedium insluit, ’n minderheidskwessie is. Volgens ’n opname gedoen in 2000 vir Pansat wil 70% van die totale bevolking in hul eie taal deur die owerheid en die private sektor bedien word. Meer as 60% verlang die ontwikkeling van nie-dominante tale. Net 12% dink dat leerders op skool eerder in Engels as in ander tale onderrig word. Net 13% van alle jongmense verkies Engels as enigste onderrigtaal.

    Die aandrang op Engels en die ander universele/koloniale tale in Afrika kom omtrent uitsluitlik van die elite in die sakewereld en van die politieke klas (politici en amptenare). Dit gee aan hierdie elite en hul kinders die voorsprong in die wedloop om werksgeleenthede, plaaslik en in die buiteland. Dit skeel hulle min dat die massas benadeel word deur onderrig in ander tale as hul moedertaal en deur die feit dat al die ontwikkelingsplanne van internasionale agentskappe in die koloniale tale opgestel word. Sommige kenners argumenteer dat die verheffing van die koloniale taal tot die dominante, en soms enigste, publieke taal een van die vernaamste faktore in Afrika se agterstand op ontwikkelingsgebied is.

    In die jongste tye kom die kritiek op die afdwing van Engels en ander koloniale tale op universiteite en selfs sekondêre skole ook van ’n jong geslag radikale skrywers. Een van hulle skryf: “In essence the World Bank’s recommendations for the language of instruction [as part of Structural Adjustment Programmes] demonstrates its continued commitment for Euro-languages which create and maintain social divisions serving an economy dominated primarily by foreign economic interests and, secondly, by a small, aspiring African bourgeoisie.”

    2.4 Taalkeuses

    Empiriese bevindinge oor die reaksies van Afrikaanssprekende studente en ouers op onderrigtale op tersiere vlak kan baie maklik eensydig vertolk word en tot misleidende gevolgtrekkings aanleiding gee. Lawrence Schlemmer, in sy hoedanigheid as ’n direkteur by the navorsingsmaatskappy MarkData (Edms) Bpk, was al by verskeie ondersoeke oor taalgebruik betrokke, onder andere vir PANSAT, die Taalkomitee van die Wes-Kaapse Provisiale Administrasie en private belangegroepe (sien ook hoofstuk 5 in Kruispad: die toekoms van Afrikaans as openbare taal).

    Hy som sy gevolgtrekkings uit die verskeie studies soos volg op:

  • Enersyds beskou meeste Afrikaanssprekendes moedertaal-onderrig as ’n basiese reg; die toewyding hieraan is selfs hoër onder bruin Afrikaanssprekendes as by hul blanke taalgenote: 90% teenoor 80%.

  • Hulle is egter ook terdeë van die voordele van die wereldtaal Engels bewus, veral ten opsigte van loopbaanvooruitsigte.

  • Wanneer hulle gevra word om ’n ideale keuse oor tersiêre onderrigtaal te maak, sal oor die 40% dubbel medium, parallel medium of Engels verkies, by blankes sowel as by bruin Afrikaanssprekendes.

    Hierdie laasgenoemde bevinding kan tot die gevolgtrekking lei dat Afrikaanssprekendes redelik buigsaam is oor voertaal en dat hulle nie juis sal omgee indien parallel- of dubbelmedium-onderrig by Afrikaanse universiteite en technikons ingestel sou word nie. Dit is ook in ’n sekere sin waar. Die meeste Afrikaanssprekende studente is redelik tweetalig en kan klasse in Engels volg, alhoewel die gehalte van sowel die oordrag as inname van die materiaal heelwat laer is as dit in die tweede taal geskied veral in die geval van studente wat van kleiner dorpe kom. (Sien die afdeling oor die verstaanbaarheid van tale hierbo). Nietemin geniet ’n aansienlike persentasie van studente dit om hul vermoëns in Engels te kan demonstreer en inderdaad ook om te wys dat hulle nie van Afrikaans afhanklik is en nie daarvan ’n strydpunt maak nie.

    Hierdie plooibaarheid is egter hoogs misleidend. Die keuses word gemaak met die veronderstelling dat die toekoms van Afrikaans gewaarborg is en dat dit altyd as ’n keuse beskikbaar sal wees, ook vir ’n volgende geslag. Trouens, op die huidige stadium is daar feitlik geen bewustheid van die feit dat die gebruik van Afrikaans redelik vinnig en drasties by the meeste Afrikaanse opvoedkundige instellings afgeskaal word nie. In die persepsies van die meeste studente aan sulke instellings is Afrikaans nog steeds die leidende taal en hulle het hoegenaamd geen benul dat Afrikaans as universiteitstaal in die gedrang is nie en selfs in die nie te verre toekoms as onderrigtaal uitgewis kan word.

    Studente se toewyding aan hul huistaal en aan die voortbestaan van Afrikaans moet egter nie onderskat word nie. In die bevindinge is hierdie toewyding sterker by Afrikaanssprekende bruinmense as by blankes. Sou hulle besef dat die gelykstelling van Afrikaans en Engels op Afrikaanse universiteite mettertyd tot die uitfasering van baie Afrikaanse kursusse sal lei, sou hulle reaksies veel minder toegeeflik teenoor Engels wees.

    ’n Mens kan met ander woorde nie op hierdie stadium die reaksies onder studente en hul ouers op ’n verengelsing van universiteite voorspel nie. Die aanduidings is dat daar ’n vertraagde verset sal wees. Wat tans vir hulle as ’n redelike kompromis voorkom sal later by baie van hulle as ’n aanslag op hul taal gesien word. Die reaksie van die meeste ouers en alumni sal waarskynlik baie negatief wees as die indruk posvat dat die proses van taalverplasing onomkeerbaar is.

    3 Taalsosiologiese argumente

    3.1 Taaldiversiteit op een kampus: ’n Aantreklike ideaal?

    Min mense bepleit die uitfasering van Afrikaans aan US of enige van die ander historiese Afrikaanse universiteite. Kader Asmal, Minister van Nasionale Onderwys, het al verskeie kere opgemerk dat hy geen taal, insluitende Afrikaans, wil afskaf nie. Op Stellenbosch en ander kampusse van die histories Afrikaanse universiteite voel diegene wat parallel- of dubbelmedium bepleit, aangetrokke tot die ideaal van ’n nuwe globale gemeenskap waarin taal-, etniese en nasionale verskille ’n al kleiner rol speel namate meer en meer Engels as lingua franca aanvaar. In die Suid-Afrikaans konteks begeer hulle dat die verdeeldheid en geskeidenheid van apartheid vervang moet word met kosmopolitiese kampusse waar Afrikaans en Engels onproblematies saam met mekaar bestaan in die klas, komitees, studentepublikasies en op die sportvelde.

    Taaldiversiteit is ’n aantreklike ideaal, veral as die verlede gesien word as een waarin taal saam met ras gebruik is om mense te verdeel en die totstandkoming van ’n gemeenskaplike Suid-Afrikaanse lojaliteit te verhoed. Tegemoetkomendheid op die gebied van taal soos wat dit op die US kampus bestaan, vorm ’n gunstige kontras met die kampusse van die ou liberale universiteite waar Engels rigied as die enigste publieke taal gebruik word.

    Min van die mense wat parallel- of dubblemedium aan US bepleit, is gewillig om openlik te verklaar dat as Afrikaans in die proses in die stof byt daar nie juis lang trane oor gehuil hoef te word nie. Hul argument is eerder dat Afrikaans so sterk is dat daar geen gevaar is dat Afrikaans in ’n stelsel van parallel- of dubbelmedium met verloop van tyd sal sneuwel nie. Hulle wys dan na die opbloei van Afrikaanse kuns- en taalfeeste, die reg om Afrikaans in die Parlement te praat en die gesonde posisie van Afrikaans in die koerantwêreld.

    Hierdie standpunt ignoreer die feit dat hierdie opbloei geskied het danksy die taalinvestering wat in die vorige bedeling van enkelmedium-onderwys gedoen is. As meer en meer Afrikaanse studente aan US en ander universiteite hul kursusse in Engels volg, sal meer en meer oorskakel na Engelse koerante en Engelse kunstefeeste. As hulle hul nagraadse werk in Engels doen, sal hulle geneig wees om wetenskaplike artikels en romans in Engels te skryf. Hoërskole in die Wes-Kaap sal oorskakel na parallelmedium om hul kinders vir Engels op universiteit voor te berei.

    Mnr Kader Asmal, Minister van Nasionale Onderwys, sluit aan by die voorstanders van die vrye gebruik van Engels aan alle kampusse in die land. Hy dring aan op toegang deur middel van Engels aan elke universiteit. Hy verklaar dat hy ’n nuwe Suid-Afrikaanse stelsel op die been wil bring wat nie “mense op grond van ras of taal skei nie.” Binne die raamwerk van die nuwe stelsel wil die regering “Afrikaans in die hoër onderwysstelsel beskerm en koester.”

    Asmal het egter geen begeerte om Afrikaans toegang tot enige van die histories liberale universiteite te verleen nie of om die toenemende hegemonie van Engels enigsins aan bande te lê nie. Indien Afrikaans as onderrigtaal aan universiteite sneuwel, sal die Minister se verweer wees dat die mark, en nie regeringsbeleid nie, die deurslag gegee het. Hy het teenoor ’n afvaardiging van die Aksie vir Hoër Onderwys verklaar dat dit nie die regering se taak is om tale te beskerm nie.

    In werklikheid stel die Minister ’n toets vir die oorlewing van Afrikaans as onderrigtaal op universiteitsvlak wat sprekers van veel sterker en groter tale as Afrikaans (Frans in Kanada of Nederlands in België) baie ferm van die hand wys. Hulle weet dat toegee aan hierdie eis die gewisse ondergang van hul taal as publieke taal sal beteken. Om hierdie rede kan die aantal universiteite in die Weste wat voorgraads parallelmedium toelaat op die vingers van een hand getel word.

    3.2 Die proses van taalverplasing op ’n kampus

    In abstraksie gesien is daar niks verkeerd met parallel- of dubbelmedium nie. ’n Mens sou jou ’n situasie kon voorstel waar twee tale gemaklik saam met mekaar kan bestaan as voertale aan ’n universiteit. Die vereiste is dat hulle ongeveer ewe sterk moet wees, met min of meer dieselfde toegang tot ’n eksterne voedingsbron en min of meer gelyke status. Belangriker nog: die samelewing waarin die universiteit funksioneer moet tweetaligheid of veeltaligheid deur middel van wetgewing afdwing. Albei tale moet werksgeleenthede bied vir sy/haar sprekers in die staatsdiens of in die handel.

    Jean Laponce het in sy vergelykende studie van Kanada, België, Oos-Europa en die Sowjet-Unie die volgende opgemerk:

    ‘A bi-lingual school and university system generally has only the appearance of equality. Even when it is balanced at the level of courses it is in fact unbalanced in favour of the dominant language, which dominates the environment outside the school. Bilingualism in education is thus generally a bilingualism of transition, which in the long run facilitates linguistic assimilation.’

    In Suid-Afrika was Engels voor 1994 ook ’n veel sterker taal as Afrikaans, maar die regering het tweetaligheid in die openbare sektor afgedwing, wat ’n oorspoeleffek op die private sektor gehad het. Afrikaans kon toe saam met Engels bestaan in sekere inrigtings in die Wes-Kaap, soos byvoorbeeld Paul Roos Gimnasium, maar dit het sterk afgehang van die geredelike beskikbaarheid van onderwysers wat in Afrikaans kan en wil doseer.

    Maar selfs in die ou orde moes Afrikaans teen Engels die aftog blaas aan die Universiteit van Wes-Kaapland en onlangs het Afrikaans ook aan die Unversiteit van Port Elizabeth gesneuwel.

    Na 1994 het die regering Engels vir alle praktiese doeleindes tot die enigste dominante taal verhef, alhoewel daar steeds geluide gemaak word dat dit sy begeerte is om alle tale in die staatsdiens te gebruik. Daar is geen teken dat die regering ’n meertalige staatsdiens wil hê nie. Anders sou staatsdepartemente oor wie daar suksesvol by Pansat gekla is alreeds aangepraat gewees het. Die verengelsingsproses van die private sektor het ook vinnig sedert 1994 toegeneem.

    Om Laponce se terme te gebruik: die eksterne taalomgewing waarin US hom in die nuwe orde bevind is heeltemal ongebalanseerd. As gevolg hiervan woeker die proses van taalverplasing voort.

    Hier is ’n gevalle-studie, soos opgeteken deur ’n dosent in 2000 aan een van die noordelike histories Afrikaanse universiteite wat ’n beleid van parallelmedium onderrig het:

  • My kususse is almal gedupliseer, d.w.s. dieselfde kursus in Afrikaans en Engels, wat my werk gedupliseer het, maar daar was geen finansiële bystand nie.

  • Die getal studente in die Afrikaanse kursusse het die afgelope vyf jaar vinnig gedaal.

  • Die toename in die doseerlading en die kwynende getalle in die Afrikaanse studente het vir dosente al meer ’n bron van frustrasie geword.

  • Baie dosente sal verlig wees as Afrikaanse kursusse met klein studentegetalle uitgefaseer word. Vanweë hul historiese verbintenis met die taal is die topbestuur tans nog huiwerig om dit te doen, maar daar is reeds groot onsekerheid oor die universiteit se vermoë om Afrikaans te handhaaf.

  • Afrikaanse studente skakel gou oor na die Engelse kursusse op voorwaarde dat die gehalte ten minste gelyk is. Hulle glo dat die buitewereld Engels vereis maar nie Afrikaans nie.

  • Waar die universiteit enkele jare gelede Engels geduld het, duld dit nou Afrikaans.

  • Hoërskole in die omgewing sien wat aan die universiteit gebeur en begin dubbel- of parallelmedium klasse in te voer, selfs in gevalle waar hulle nie onder druk van die regering is nie.

  • Die uitfasering van Afrikaans op nagraadse vlak is ’n ernstige terugslag vir die voortgesette ontwikkeling van ’n tegniese terminologie in Afrikaans.

    Dit gebeur nie in alle kursusse dat Afrikaans in dieselfde mate agteruit gaan nie, maar wat hierbo beskryf is, is sekerlik die tendens.

    3.3 Die Minister se aandrang dat US Ingenieurswese en Gesondheidswetenskappe ook in Engels aanbied:

    Die Minister van Onderwys stel in die vooruitsig dat Engels op ’n 50/50 basis in sleutelfakulteite soos die Fakulteit Gesondheidswetenskappe en die Fakulteit Ingenieurswese op histories Afrikaanse universiteitskampusse ingevoer moet word. Albei hierdie fakulteite aan die Universiteit van Stellenbosch pas, vanweë beperkte onderrig- en laboratoriumfasiliteite, numerus clausus toe, en aanvaar ’n beperkte getal eerstejaarstudente in elkeen van die betrokke studierigtings (150 eerstejaars vir Geneeskunde, 250 eerstejaars vir Ingenieurswese). Die Minister se aanspraak dat die betrokke twee fakulteite oor spaar-kapasiteit beskik, moet gekwalifiseer word aangesien dit in die ingenieurswese dissipline-spesifiek is, en in die gesondheidswetenskappe (vanweë beperkings opgelê deur die grootte van lesinglokale, maar veral laboratoriumfasiliteite) hoegenaamd nie moontlik is nie. Aan die US is daar bv. spaar kapasiteit in die rigtings Siviele en Meganiese ingenieurswese beskikbaar (a.g.v. ’n afname in die getal studente in dié dissiplines gedurende die afgelope dekade), maar is dit nie die geval met bv. Elektroniese en Chemiese ingenieurswese nie. In die gesondheidswetenskappe is dit hoegenaamd nie die geval in die M.B Ch.B of enige van die para-mediese rigtings (fisioterapie, arbeidsterapie, radiografie, ens.) nie.

    ’n Toename in die getal Engelstalige studente wat aandring om in Engels onderrig te word, sal slegs kan geskied ten koste van Afrikaanstalige studente vir wie daar reeds slegs beperkte fakulteite in hul moedertaal beskikbaar is. Dit kom op diskriminasie teen Afrikaanstalige studente te staan.

    Die minister se aandrang op ’n groter getal studente in die reedsvermelde fakulteite aan histories Afrikaanse universiteite en vir wie onderrig in Engels gedupliseer moet word, sal dus aansienlike addisionele fasiliteite (sowel mensekragte as laboratoriumfasiliteite) vereis waarvoor die Staat die nodige fondse sal moet voorsien. Daarteenoor beskik bestaande histories Engelstalige universiteite inderdaad oor spaar-kapasitiet in bv. Ingenieurswese, wat nie ten volle benut word nie.

    Dit is te betwyfel of die voorsiening van addisionele studiegeleenthede in Engels in die Fakulteite Ingenieurswese en Gesondheidswetenskappe in elk geval deur swart studente benut sal word, gesien in die lig van die feit dat daar gedurende 2001 slegs 3000 swart skoolleerlinge matriek geslaag het met Wiskunde as skoolvak. (’n Slaagssimbool van D of beter in Wiskunde Hoër Graad word bv vereis vir toelating tot B.Ing. graadstudie). In die Wes-Kaap is die getal swart studente wat sou kwalifiseer minder as 50.

    Die aanbieding van M.B.Ch.B en B.Ing graadstudie deur middel van Engels aan die US sal onteenseglik lei tot groot toenames in wit Engelstalige studente in dié studierigtings, tot nadeel van die histories Engelstalige universiteite.

    Min. Asmal se eis beteken dat ook die administrasie in Engels sal moet funksioneer, vir studente in bogenoemde twee falulteite wat as ’n reg daarop kan aanspraak maak en vir studente in ander fakulteite wat tans as ’n vergunning in Engels kan klas loop.

    Die Minister se versoek dat US toegang in Engels in die Fakulteite Ingenieurswese en Gesondheidswetenskappe bied, kan nie in isolasie gesien word nie. Sedert die onderhandelings oor ’n Grondwet het die ANC as regerende party dramaties die omvang van regstellende aksie uitgebrei. Daar is sterk gronde om te veronderstel dat wanneer die regering eers toegang aan twee fakulteite deur middel van Engels verkry het dit spoedig sal vra dat Engels ook in ander fakulteite gebruik sal word.

    4 Die afdwing van kulturele oorheersing

    Die regerende party bied sy eise aan as die bevordering van ‘access’ en ‘equity’, maar dit is te betwyfel of dit die eintlike rede is. Die vraag van swart studente na universiteitsopleiding het sedert 1998 skerp gedaal en daar is spaarkapasiteit aan sowel die histories swart as histories liberale universiteite. Wat waarskynlik agter die eis lê dat Stellenbosch Engels moet aanbied is ’n poging om heerskappy ook op kulturele gebied tasbaar af te dwing. Ook in ander lande is die dominate groep of staatsvolk geneig om daarop aan te dring dat mense uit sy geledere die reg het tot toegang tot enige publieke instelling op sy eie terme. Die ANC-regering definieer die swart gemeenskap as die staatsvolk.

    5 Die skep van ’n taalgemeenskap vir die toekoms

    Die aandrang op Afrikaans as enkelmedium aan een of twee instellings is nie eienaardig nie en dit is gewoon oningeligtheid om dit te wil sien as ’n vaskleef aan apartheidsvoorregte. Een van die wêreld se mees gesiene filosowe, Charles Taylor van McGill Universiteit in Montreal, verstaan die aandrang op Frans in Quebec as ’n begryplike aandrang op taaloorlewing.

    In sy Politics of Recognition skryf hy dat die oorlewing van Frans-Kanadees (’n taal veel magtiger as Afrikaans) vereis dat universiteite en skole heelwat verder gaan as om Frans aan te bied as ’n opsie vir die wat daaraan wil studeer. Taaloorlewing vereis dat die taal as publieke taal nog daar sal wees vir ’n volgende geslag wat in daardie taal wil studeer. ’n Taalbeleid van ’n universiteit moet ten doel hê om ’n taalgemeenskap vir die toekoms te skep. Dit gaan nie net daaroor om fasiliteite te bied vir ’n reeds bestaande gemeenskap nie.

    Taylor definieer liberalisme op kulturele gebied in terme van die ruimte wat dit vir minderhede skep om die oorlewing van hulle taal en kultuur te verseker. Taaldemokrasie en kulturele demokrasie beteken die skep van ’n orde waarin minderheidstale as publieke tale tot hul reg kom en oorleef.

    Wat vir Afrikaans geld, geld eweseer vir al die ander minderheidstale in die land. Soos Neville Alexander so treffend argumenteer, is die voortgesette ontwikkeling van Afrikaans en die verskansing van Afrikaans as medium van onderrig aan bepaalde tersiêre instellings ’n voorvereiste vir die soortgelyke ontwikkeling van Zulu en ander tale in die land. Die US moet hom gereed verklaar om die voortreflike werk wat dit tans op die gebied van leksiografie vir die ander minderheidstale verrig uit te brei tot ander terreine indien sprekers van hierdie gemeenskappe dit versoek. Soos Alexander verklaar, is die stryd wat tans vir Afrikaans gevoer word ’n stryd nie net vir Afrikaans nie maar in die belang van alle minderheidstale in Suid-Afrika

    6 Stellenbosch kan deur middel van Afrikaans idealisties wees

    Die taaldebat word gekenmerk deur die behoefte dat Stellenbosch iets bied vir die nuwe Suid-Afrika, iets anders as die ou Suid-Afrika waar die dominante groep aan sy voorregte vasgeklou het. Ek wil aanvoer dat die geleentheid tot idealisme daar is. US moet mense van die hele Afrikaanse taalgemeenskap, inklusief gedefinieer, bemagtig. Dit moet almal wat nie Afrikaans as moedertaal praat nie maar aan US wil studeer die kans gee om na Stellenbosch te kom.

    In 1999 het 2000 bruin studente by US ingeskryf. Dit was 42% van alle bruin studente wat aan Afrikaanstalige universiteite ingeskryf was en slegs 12% van alle bruin studente in die land.

    Bruinmense het tans die heel laagste deelname-koers in tersiêre onderwys van alle gemeenskappe. Uitgedruk as ’n proporsie van die bevolking tussen 18 en 24 was daar die volgende vlakke van deelname deur die onderskeie bevolkingsgroepe in 1999:

    Wit 28%
    Asiaat 23%
    Swart 5%
    Bruin 4%

    Bruinmense is inderdaad die mees agtergeblewe gemeenskap op die gebied van universiteitsonderrig ten spyte daarvan dat hulle effens beter as swartes vaar in Matriek-vrystelling eksamens en ’n effens groter huishoudelike inkomste het.

    Bruin kinders ontvang nog hoofskaaklik skoolonderrig in Afrikaans. Dit behoort vir US die grootste prioriteit te wees om toegang op veel groter skaal aan die bruin gemeenskap te bied wat nog so ’n groot agterstand op die gebied van universiteitsopleiding het en ook om daadwerklik bruin dosente in te bring.

    Om bruin en swart Afrikaanssprekende studente ten volle te betrek, sal US dramatiese aanpassings en opofferings moet maak. Daar sal op groot skaal oorbruggingskursusse ingestel moet word en daar sal op verskeie gebiede geleenthede geskep moet word waar mense bemagtig kan word. Ons sal die geskiedenis anders moet benader en die stiltes en stilswyes in die geskiedskrywing regstel. Daar sal dieselfde dringenheid moet wees as wat blyk uit die Carnegie Kommissieverslae oor die armblankes in die vroeë 1930s.

    Dit beteken dat US moet probeer om vir die eerste keer in sy bestaan verantwoordelikheid vir die hele Afrikaanstalige gemeenskap in al sy diversiteit en vir Afrikaans as taal in al sy funksies te aanvaar.

    Voorstelle

    Die volgende riglyne vir ’n taalbeleid aan US word voorgestel:

    1. Afrikaans is die ankertaal op voorgraadse vlak. Alle studente wie se aansoek tot toelating aanvaar word, moet ondubbelsinnig ingelig word dat die voertaal Afrikaans is behalwe in die geval van spesifieke uitsonderinge.

    2. Studente wat nie Afrikaans magtig is nie moet gratis kursusse kan volg wat hulle in staat sal stel om deur middel van die mees moderne metodes taalvaardig in Afrikaans te raak. Die US moet dit vir homself ten doel stel dat al die studente wat by hom afstudeer ten minste Afrikaans kan verstaan.

    3. Klasse met Engels as voertaal kan deur die Raad op versoek van die Senaat as uitsondering toegelaat word. Die voorwaarde wat vir uitsonderings moet geld, is dat

      (a) dit ekonomies geregverdig is en
      (b) dat studente in die loop van hul eerste jaar onomwonde ingelig moet word dat die vak in die volgende jaar nie in Engels aangebied sal word nie.

    4. Die uitoefening van die taalbeleid behoort sentraal deur die Rektor geadministreer te word en dit moet nie na die dekane of departementshoofde afgewentel word nie. Dit word aan die hand gegee dat die Rektor ter wille van deursigtigheid jaarliks met die SA Akademie vir Kuns en Wetenskap in gesprek tree oor die wyse waarop US sy taalbeleid uitvoer.

    5. Ander inheemse tale en veral Xhosa sal bevorder word deur ondersteuning op die gebied van leksiografie en die hou van gereelde konferensies oor taaldiversiteit.

    6. Studente sal steeds toegelaat word om, in die gees van taalvriendelikheid, in Engels in die klas vrae te stel en toetse, mondelinge en eksamens in Engels af te lê. Waar nodig sal vraestelle in Engels opgestel word.

    7. Die US moet daarna streef om die gebruik van Afrikaans doelgerig op nagraadse vlak te bevorder. ’n Belangrike eerste stap sal wees die stig van ’n konsortium van die Historiese Afrikaanse Universiteite (HAUs) wat:

      (a) ’n universiteitsuitgewery oprig wat dit sy prioriteit sal maak om akademiese werk in Afrikaans wat van hoogstaande gehalte is, te publiseer en
      (b) waar nodig finansiële steun sal verleen aan tydskrifte soos die Tydskrif vir Geesteswetenskappe.

      US moet onderneem om aan dosente wat in die voorgestelde pers van die HAUs in Afrikaans of ander minderheidstale publiseer dieselfde subsidie te betaal as wat dosente ontvang wat in goedgekeurde Engelse tydskrifte of perse publiseer.

      Die Departement van Nasionale Onderwys moet dringend gevra word om af te sien van sy voorneme om slegs subsidies te betaal vir wetenskaplike artikels en boeke wat in Engels gepubliseer is.

    8. Van dosente wat nie in Afrikaans kan doseer nie, maar voorgraadse kursusse moet aanbied, sal verwag word om binne twee jaar in Afrikaans vaardig te word. Die nodige taalvaardigheidskursusse sal deur die universiteit gratis voorsien word. Uitsonderings kan gemaak word in die geval van buitelandse dosente wat Afrikaans nie magtig is nie of beswaarlik magtig is. Gemotiveerde versoeke kan deur ’n spesiale komitee van die Senaat aan die Raad voorgelê word. Buitelande dosente wat van die taalkwalifikasie vrygestel word, behoort hoofsaaklik op nagraadse vlak aangewend te word.

    9. ’n Spesiale beroep moet op oudstudente gedoen word om finansieel by te dra om waar nodig studente en dosente te help om so spoedig moontlik in Afrikaans vaardig te raak. Studente moet Afrikaans kan gebruik as voertaal in die klas en studente moet dit kan volg in die klassituasie. Vir hierdie doel moet US ’n ‘Studente-vir-Afrikaans’ fonds skep waarin bydraes gestort kan word.

    10. Die universiteit moet so gou moontlik ’n konkrete plan met duidelike mikpunte bekend maak waarin dit ’n dinamiese plan uitspel hoe dit ’n toename wil bewerkstellig van bruin en swart studente en dosente wat in Afrikaans studeer en doseer.

    11. Die universiteit moet die groter diversiteit in die studentekorps wat uit die aanname van vorige punt sal vloei, bestuur deur die instel van omvangryke oorbruggingskursusse en deur die wysiging van die reëls vir opname in koshuise.

    12. Daar word aanbeveel dat die Rektor met die studenteraad raadpleeg oor die taalbeleid wat studente in hul georganiseerde aktiwiteite volg. Daar kan gedink word aan ’n taalbeleid ten opsigte van Die Matie wat soepel is, maar tog ook die Afrikaanse taalkarakter van die US weerspieël.

      boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.