Taaldebat - Language debateArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Taal en globalisering: Wat van Nederlands en Afrikaans?

dr Piet Muller

Daar word algemeen geglo dat teen die begin van die 21ste eeu minstens die helfte van die wÍreld se 6 000 tale reeds uitgesterf sal wees — en dit is waarskynlik die heel gunstigste scenario. Die werklikheid lyk veel grimmiger: Volgens die Amerikaanse skryfster Rosemarie Ostler sterf tale twee keer vinniger uit as bedreigde soogdierspesies en vier keer vinniger as bedreigde voŽlspesies.

Boonop sterf tale uit weens dieselfde redes as voŽl- en dierespesies: hul lewensruimte word bedreig. In die geval van tale gebeur dit deur kommersieel, polities en tegnologies meer aggressiewe tale.

Geen deel van die aardbol is immuun teen hierdie bedreiging nie: in AustraliŽ het 100 van die 250 inheemse tale wat eenmaal daar gepraat is, reeds uitgesterf, terwyl nog 70 ernstig bedreig word en die res waarskynlik nie oor genoeg politieke en kulturele energie beskik om te oorleef nie.

Die meeste van die sowat 40 tale in die Kaukasus-gebergte word bedreig deur Russies, ondanks sterk plaaslike lojaliteite. En in China verloor selfs gevestigde tale veld weens die aggressiewe imperialisme van Mandaryns.

In Afrika is die nasionale grense deur koloniale moondhede getrek, sonder inagneming van taal en kultuur. Daarom probeer die huidige geslag heersers dikwels hul posisie konsolideer deur etnisiteit te ondergrawe met die gebruik van tale soos Engels, Frans, Portugees en Swahili as ampstale.

Suid-Afrika het 11 ampstale, maar kleiner tale soos Venda en Tsonga voel hulle nog steeds ernstig bedreig weens amptelike verwaarlosing. Selfs Afrikaans voer tans ’n stryd om sy hoŽr funksies te behou.

Oor die situasie van minderheidstale in Wes-Europa hoef ek u nie in te lig nie — hoewel daar natuurlik ook ligpunte is: dink maar aan die merkwaardige “herlewing” van Occitaans, wat sedert die kruistog teen die Kathare in die dertiende eeu deur vele dood verklaar is. Of aan Wallies, wat tans ’n bloeiperiode ondervind, weens ’n mengsel van kulturele nasionalisme en die sg “immersion schools”, waar kinders heeldag lank net hul moedertaal gebruik.

Deur die eeue was taal ’n middel wat heersers en ryke gebruik het om stabiliteit mee te bereik. Wanneer ’n ryk een taal en een godsdiens het, is dit polities meer stabiel as ’n gebied waarin verskeie tale gepraat en verskeie godsdienste beoefen word. Daarom dat heersers en veroweraars dikwels soveel druk op die sprekers van kleiner tale plaas. Belonings word aangebied vir moedertaalsprekers wat hulle tot die meerderheidskultuur “bekeer” en hul kinders in daardie taal laat onderrig. Net so word dit doelbewus moeilik gemaak vir sprekers van minderheidstale om ekonomies te kan oorleef. “Praat my taal en aanvaar my kultuur en ek sal julle as gelykes aanvaar” is nog steeds die belofte wat heersers en oorwinnaars na minderheidsgroepe uithou.

Tog is dit merkwaardig hoeveel groot “globaliserende” beskawings van die verlede in werklikheid veeltalig was. In die Bybelse Babilon is vier tale gepraat, sodat die Semitiese landvolk die verhaal van die Toring van Babel vertel het in ’n poging om die veeltaligheid te verklaar. Ook die ryk van die Mede en Perse het politieke stabiliteit bewaar deur die regte van minderheidstale te erken en te beskerm.

Die Hellenistiese ryk, die naaste wat die wÍreld voorheen aan ’n geglobaliseerde wÍreldkultuur gekom het, het dieselfde gedoen. In die Persiese en Hellenistiese ryke was kulturele hoogbloei volkome versoenbaar met veeltaligheid, hoewel daar altyd een of meer dominante tale was. Vyandigheid teenoor kleiner tale volg gewoonlik in die voetspore van ’n godsdienstige en kommersiŽle hegemonie. So het kerk en politiek saamgewerk om Latyn oor Europa uit te brei. Dieselfde tendens merk ’n mens ook duidelik uit die geskiedenis van die Spaanse, Engelse, Franse en Portugese ryke.

Aangesien ’n mens vele van die kenmerke van die Hellenisme ook in die 21ste eeu aantref, is dit ook nie verbasend nie dat daar selfs ’n “amptelike” goedgesindheid teenoor kleiner tale bestaan. Die Verenigde Nasies het die reg om ’n eie taal te handhaaf tot universele mensereg verklaar en UNESCO het selfs sy eie “Rooilys” van bedreigde tale. FiloloŽ is gewikkel in die wedloop teen tyd om soveel klein tale as moontlik op te teken voordat hulle uitsterf.

Ongelukkig is die nuwe toegeneentheid teenoor kleiner tale nie altyd uit altruÔsme nie, maar gewoonlik uit kommersiŽle oorwegings. Soos wat bome vernietig word, neem die belangstelling in klein tale toe — gewoon omdat die sprekers daarvan dikwels ook kennis besit van watter bedreigde plante moontlik kommersiŽle en medisinale waarde het!

Ondanks die nuwe toegeneentheid teenoor kleine tale bring globalisering en tegnologiese ontwikkeling bepaalde probleme mee wat die oorlewing van klein tale dikwels onmoontlik maak. So, byvoorbeeld, word die sg “tegnosfeer” gedomineer deur groot en tegnologies sterk tale.

Boonop is die wÍreld se kennis besig om teen ’n koers van elke 18 tot 36 maande te verdubbel. Die oorvloed van kennis en inligting waaroor ons vandag beskik, sal reeds in die derde dekade van ons eeu skaars 1% van die wÍreld se totale kennispoel uitmaak. Hierdie feit alleen het die definisie van kennis dramaties verander. Kennis het geen “ewigheidswaarde” meer nie. Dit is gereduseer tot informasie wat verpak kan word as ’n verkoopbare kommoditeit.

Dit beteken ook dat tale waarin die meeste navorsing gedoen word, ook oor die meeste nuwe informasie en verkoopbare kennis sal beskik. Daarteenoor word tale waarin minder navorsing gedoen word en wat nie nuwe kennis skep nie, gemarginaliseer en deur uitwissing bedreig — ’n faktor wat die gaping tussen die Eerste en die Derde WÍreld net nog groter sal maak.

Die inligtingstegnologie het ook die aard van werk verander. Daar word al minder werksgeleenthede vir die tradisionele arbeider geskep, maar meer en meer vir die nuwe elite, die kenniswerkers. Binnekort sal ’n nuwe geslag fabrieke volkome deur robotte bedryf en bestuur word, met hoogstens ’n elektroniese ingenieur en ’n aantal rekenaartegnoloŽ om die gladde werking van alles te verseker.

So ’n ernstige tekort heers daar reeds aan hooggeskoolde kenniswerkers dat hierdie elite-groep by wyse van spreke sonder visum deur die wÍreld kan reis en oral kan werk — mits hulle vlot is in die lingua franca van die inligtingstegnologie — Engels. Hierdie globalisering van arbeid en kennis sal die sprekers van kleiner tale oor die wÍreld versprei en die handhawing van kleiner tale nog moeiliker maak — tensy daar natuurlik ’n manier gevind kan word om sprekers van sulke tale globaal saam te snoer en van ondersteuning en dienste te voorsien, iets wat deur middel van die nuwe inligtingstegnologie reeds moontlik geword het.

Die eise van die inligtingsekonomie is ook vinnig besig om skole en tersiÍre instellings dramaties te omvorm. As kennis elke 18 maande verdubbel, is daar weinig sin in om “feite” aan studente oor te dra. Hulle moet hulle liefs leer hoe om inligting te bekom en dit te manipuleer. Hierdie tendens kan die illusie laat posvat dat die nuwe intrinsiek beter is as die bestaande; en dat die opgegaarde wysheid en kultuur van die verlede geen praktiese waarde het nie.

Boonop hou die ontwikkeling van stemgeaktiveerde rekenaars implikasies in vir die lees- en skryfkuns. In die VSA word daar reeds ’n ernstige debat gevoer oor die vraag of kennis van lees en skryf oor 50 jaar nog noodsaaklik sal wees vir die verwerwing van ’n doktorsgraad aan ’n universiteit.

Die gevaar bestaan gevolglik dat daar hiate in gemeenskappe se kennis oor die verlede kan ontstaan, wat die oordrag van kultuur vanaf die een na die ander geslag ernstig kan bemoeilik.

Tot sover dan die negatiewe kant van globalisering. Daar bestaan egter ook ’n positiewe kant.

Een van die mees positiewe aspekte is dat in dieselfde mate waarin die “global village” vorm aanneem, die nasionale staat soos ons dit sedert die Vrede van Wesfale leer ken het, besig is om vervang te word deur supranasionale eenhede wat, ironies genoeg, meer ruimte laat vir streekskulture en weer ’n hoogbloei in die belangrikheid van stede ingelui het.

Dink maar aan hoe die totstandkoming van die Europese Unie ruimte geskep het vir bedreigde minderheidstale. En hoedat die ou Hansa-stede in vele gevalle weer na mekaar uitreik.

’n Mens vind dieselfde verskynsel ook in die VSA, waar die state Oregon en Washington saam met die Kanadese provinsie British Columbia reeds een ekonomiese en kulturele gebied vorm wat gewoon bestaande landsgrense ignoreer. Op dieselfde manier kan ’n mens verwag dat die totstandkoming van ’n Afrika-unie ook streke sal bevoordeel ten koste van bestaande state, en op hierdie manier leefruimte sal skep vir bedreigde tale waarvan die sprekers dikwels deur landsgrense verdeel word.

Veel is al geskryf oor die metaterritoriale gebiede wat tans tot stand kom weens ontwikkeling op die terrein van telekommunikasie. Virtuele gemeenskappe is reeds besig om heelwat van die prerogatiewe van bestaande soewereine state te verwerf. Die internet is by uitstek die ruimte waar metaterritoriale gemeenskappe tot stand kom. Dit hou enorme potensiaal in vir samewerking tussen streke en tale, maar ook vir konflik.

Teen 2010, so voorspel British Telecom se Time Line, sal die totale kubergemeenskap reeds meer as 100 miljoen in getal wees. Op sigself al ’n “superstaat”.

Die totstandkoming van ’n oneindige aantal virtuele gemeenskappe kan tot chaos lei as dit nie op die een of ander manier gereguleer word nie. En omdat dit vir state prakties onmoontlik is om alles op die internet te kontroleer en te beheer, voorspel sommige futuroloŽ reeds dat die Verenigde Nasies teen ongeveer 2020 dieselfde soort regte aan sommige virtuele gemeenskappe sal moet toeken as wat vandag uitsluitlik die prerogatief van soewereine state is. Die Amerikaanse tegnologie-kenners Mike Dillard en Janet Hennard beskryf die opkoms van kubergemeenskappe as die belangrikste sosiopolitieke ontwikkeling sedert die totstandkoming van stede en state. Hulle voorspel dat dit aanleiding sal gee tot die totstandkoming van virtuele nasies oftewel v-nasies:

Individue, verbind deur ’n gemeenskaplike stel doelwitte of oortuigings, kan v-nasies vorm. Omdat dit tyd en ruimte oorspan, bied die Internet die ideale geleentheid vir lede van ’n v-nasie om waar ook al ter wÍreld hul ideologie te verfyn en planne ten uitvoer te bring vir die toekoms van hulle gemeenskap. Uiteindelik kan hulle daarna strewe om al die elemente van nasieskap te verwerf, insluitend leierskap, regering, mag, sekuriteit, beheer, aksie, en lojaliteit. V-nasies mag selfs eienaarskap oor landmassas opeis om hul teenwoordigheid te vergroot. (In The Futurist van Julie-Augustus 2002.)

Verderaan sÍ hulle:

V-nasies kan ’n direkte bedreiging word vir die wÍreld se bestaande nasies en kan sowel die oorsaak as die gevolg wees van ’n monumentale verskuiwing in globale politieke, ekonomiese en maatskaplike strukture. Hierdie nuwe nasies kan die hoop op wÍreldwye samewerking, sekuriteit en die verdeling van hulpbronne sowel bevorder as bedreig.

Dillard en Hennard voorspel dat die openheid en relatiewe vryheid van aanlyn-netwerke v-nasies in staat sal stel om iets veel meer kompleks te ontwikkel as die normale aanlyn-gemeenskappe en -gebruikersgroepe wat tans op die internet bestaan. Hulle sal ook meer ambisieus wees en enkelinge saamsnoer ter wille van die verkryging van mag en invloed. V-nasies sal poog om hul burgers te verdedig en te versorg en om na hul welvaart en gesondheid om te sien. Dit kan selfs ’n monetÍre stelsel in werking stel om hul ekonomiese, maatskaplike, politieke en/of godsdienstige doelstellings mee te ondersteun.

Dillard en Hennard grond hul hipotese op die geskiedenis van Lifecast, ’n haas onbekende handelsmaatskappy van Dallas, VSA, wat ’n groep invloedryke en vermoŽnde mense in 1999 saamgesnoer het. Onder hulle was daar politici, akademici, atlete en leiers uit die sakewÍreld, militÍre sfeer en regeringskringe. Binne 14 maande het Lifecast se aanlyn-lidmaatskap gegroei tot 1,4 miljoen mense. Oor dieselfde periode is hul aanvanklike bedryfskapitaal van $10 miljoen vergroot tot ’n ontsaglike $240 miljard, met ’n gesamentlike persoonlike netto waarde van $1,28 triljoen. Ekonomies sou Lifecast die 23ste plek onder die wÍreld se rykste state kon inneem.

Indien hierdie groep dit so verkies het, kon hulle met gemak hul eie aandelebeurs, navorsingsentra en universiteite gevestig het. Dit kon ’n eie veiligheidsmag gestig en eie versekeringsmaatskappye, gesondheidsentra en finansiŽle instellings bedryf het. Aangesien Lifecast se lede jaarliks gesamentlik 32 miljard myl gevlieg het, sou hulle met gemak ook ’n eie lugredery kon bedryf.

Lifecast en sy lede het egter nooit verandering probeer teweeg bring nie. Sy lede was tevrede om hul virtuele gemeenskap te gebruik vir sosiale doeleindes en die insameling van inligting. Sonder ’n gemeenskaplike doel om te bevorder was daar ook geen nodigheid vir ’n sterk leier om na vore te tree nie.

Lifecast dien egter as voorbeeld van die soort alternatief vir bestaande state wat die toekoms kan oplewer. Dit is duidelik dat ’n v-nasie slegs aan twee vereistes hoef te voldoen om lewensvatbaar te wees: betroubare kommunikasie en ’n duidelike gesamentlike doelstelling. As ’n mens nog sterk leierskap daarby voeg, bied Lifecast se voorbeeld aan ons ’n goeie model om te verstaan waarom ’n fundamentalistiese organisasie soos Al Qaeda so buitengewoon suksesvol kan wees.

Lifecast bied natuurlik ook die model waarvolgens kleiner tale en kultuurgemeenskappe hul eie v-state kan stig om hul sprekers globaal in een gemeenskap te betrek. Terselfdertyd kan dit ’n omvattende verskeidenheid dienste aan hulle lewer as beloning vir taalgetrouheid. Sulke dienste sal veral van nut wees vir kenniswerkers wat ver van hul geboorteland af hul inkomste verdien. Ons staan op die drumpel van ’n nuwe wÍreldorde waarin virtuele gemeenskappe hul eie leiers, wette, burgers en monetÍre stelsel kan hÍ.

Voorsitter, ek wil eindig met hierdie gedagte: Het dit nie tyd geword dat die Afrikaanse en Nederlandse taalgemeenskappe futuristies dink en hierdie model ondersoek as ’n moontlike wyse om hul sprekers saam wÍreldwyd binne een virtuele struktuur te betrek nie? So kan ’n mens immers die nadele van globalisering — wat normaalweg tťťn kleiner tale werk — in ’n enorme voordeel omskep.

Dit spyt my dat ek nie teenwoordig kan wees om self aan die debat deel te neem nie. Ek verneem egter graag u mening. Belangstellendes kan met my per e-pos korrespondeer deur te skryf aan pietmul@icon.co.za.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.