Taaldebat - Language debateArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Is tale uitruilbaar? Tarski, semantiek en politiek


Gerrit Brand


Daar word dikwels in die politieke debat oor taal geïmpliseer dat tale uitruilbaar is:

“Wat maak dit saak watter taal ons praat, solank ons die inhoud oorbring?”

“Taal is maar net ’n kommunikasiemiddel — een is so goed soos ’n ander.”

“Dit maak tog nie saak in watter taal ons praat nie, solank ons net praat!”

Agter hierdie populêre opvatting sit die gedagte dat alle natuurlike tale onderlê word deur ’n universele taal. As ons maar net diep genoeg in ’n taal se grammatika delf, sal ons telkens op dieselfde basistaal afkom. In ’n ietwat meer genuanseerde vorm word die uitruilbaarheid van tale verbind aan die gedagte dat tale, ook al deel hulle nie dieselfde universele basis nie, in elk geval volledig onderling vertaalbaar is — presiese vertaling sonder verlies of wins aan betekenis is (ten minste teoreties) altyd moontlik. Daarom maak dit dan ook nie saak as taalverplasing plaasvind of as een taal in ’n bepaalde domein deur ’n ander vervang word nie. “A rose by any other name …”

Kom ons noem hierdie siening die “uitruilbaarheidstese”.

My doel in hierdie skrywe is om die uitruilbaarheidstese te weerlê en die moontlike taalpolitieke implikasies van dié weerlegging in breë lyne te skets. Ek wil dit op ’n abstrakte filosofiese vlak doen deur aandag te gee aan wat vir my lyk na ’n fatale kritiek op die uitruilbaarheidstese op die vlak van die filosofiese semantiek. Dit is ’n kritiek wat eintlik heel terloops ter sprake kom in ’n artikel deur Alfred Tarski oor die definisie van waarheid.[1]

Tarski toon aan dat die sogenaamde “antinomie van die leuenaar”, een van die klassieke paradokse van die semantiek, voortvloei uit die aanname dat die taal waarin die antinomie gekonstrueer word, “semanties geslote” is — dit wil sê, “that the language in which the antinomy is constructed contains, in addition to its expressions, also the names of these expressions, as well as semantic terms such as the term ‘true’ referring to sentences of this language … [and] that all sentences which determine the adequate usage of this term can be asserted in the language”[2] Hierdie aanname, in kombinasie met die gewone wette van die logika (en gegewe ’n konvensionele definisie van waarheid[3] ), lei in bepaalde gevalle tot die absurde konklusie dat “‘s’ is true if, and only if, ‘s’ is not true”[4].

Die enigste manier om hierdie kontradiksie in die definisie van die term waar te vermy (met behoud van die gewone wette van die logika) is om die betrokke aanname te verwerp, d i om nie “semanties geslote” tale vir die definisie te gebruik nie. (Dws die definisie van waarheid moet in ’n “metataal” geformuleer word.)

Tarski merk op: “This restriction would of course be unacceptable for those who, for reasons which are not clear to me, believe that there is only one ‘genuine’ language (or, at least, that all ‘genuine’ languages are mutually translatable).”[5] Met ander woorde, die opvatting dat verskille tussen tale insidenteel is, in die sin dat die verskillende natuurlike tale (Engels, Arabies, Hindi ens) almal op dieselfde “universele taal” gebaseer en/of volledig onderling vertaalbaar is, gaan uit van ’n veronderstelling (“semantiese geslotenheid”) wat tot kontradiksies aanleiding gee. Die “uitruilbaarheidstese” is dus logies onhoudbaar — een taal is nie noodwendig “net so goed soos ’n ander” nie.

Die verbod op “semanties geslote” tale lewer volgens Tarski geen besondere probleme vir die wetenskap op nie.[6] Wat alledaagse taal betref, wys hy daarop dat “(our) everyday language is certainly not one with an exactly specified structure. We do not know precisely which expressions are sentences, and we know even to a smaller degree which sentences are to be taken as assertible. Thus the problem of consistency has no exact meaning with respect to this language.”[7]

Hoewel dit aanvanklik mag lyk of hierdie opmerking die krag van ’n Tarskiaanse weerlegging van die uitruilbaarheidstese verminder, is die teendeel waar. Die uitruilbaarheidstese impliseer naamlik juis ’n “exactly specified structure”: die universele taal wat alle natuurlike tale onderlê en dus per definisie “semanties geslote” is.

Dié tese kan dus nie teen ’n Tarskiaanse kritiek verdedig word met ’n beroep op die vaagheid en inkonsekwentheid van alledaagse taal nie, want dan is die “universele taal” self daarmee heen. So ’n verdediging is dus fataal vir die posisie wat verdedig word.

As daar egter aan die idee van ’n universele taal met ’n presies bepaalde struktuur vasgehou word, keer die “problem of consistency” in al sy oorspronklike krag terug en kan die vaagheid en inkonsekwentheid van alledaagse taal nie die uitruilbaarheidstese te hulp snel nie.

Voorstanders van die uitruilbaarheidstese word dus gekonfronteer met ’n onontwykbare dilemma: Neem werklike tale as uitgangspunt en gee daarmee die grondgedagte van ’n universele taal prys, of hou vas aan die grondgedagte en verwerp die basiese wette van die logika.

’n Mens sou kon teëwerp dat Tarski se argument weliswaar gebruik kan word om die stelling “Alle tale is uitruilbaar” te weerlê, maar dat daarmee nog nie aangetoon is dat géén tale onderling uitruilbaar is nie. Dit sou kon wees dat daar ’n subklas van tale is wat wel op ’n gedeelde basistaal teruggaan en/of onderling volledig vertaalbaar is. En met die praktyk van taalpolitiek in gedagte sou ons daardie subklas kon definieer as “alle natuurlike tale” (Afrikaans, isiXhosa, siNdebele ens) in onderskeiding van byvoorbeeld geformaliseerde logiese, wiskundige en metatale. Sou die voorstanders van die uitruilbaarheidstese nie langs hierdie omweg by die Tarskiaanse kritiek verby kon kom nie?

Dit sou in hierdie verband nuttig kon wees om bykomende argumente teen die uitruilbaarheid van natuurlike tale aan te voer. ’n Mens sou byvoorbeeld die aandag kon verskuif van die tale self na dinge wat weliswaar kontingent, maar nietemin onlosmaaklik met tale verbonde is. Dan kom sake soos die funksie van tale as identiteitsimbole, die kommunikatiewe gemeenskappe waartoe verskillende tale toegang gee, die tekste (sowel geskrewe as gesproke) wat in bepaalde tale beskikbaar is, die verband tussen taal, mag en geleenthede en die unieke estetiese waarde van elke taal ter sprake. Dit alles beteken naamlik dat, saam met ’n taal, noodwendig ook ’n hele klomp ander goed ingeruil word. Ook in dié meer praktiese sin is tale “onvervangbaar”.

Ek gaan daardie (belangrike) argument egter nie hier verder opvolg nie, maar liewer steeds binne die raamwerk wat tot dusver geponeer is, op die voorgaande teenargument reageer. Die voordeel hiervan is dat die uitruilbaarheidstese sodoende ontneem word van wat potensieel ’n sterk en universeel geldige argument sou kon wees, aangesien dit op so ’n fundamentele vlak figureer.

Om die geheue te verfris: Die teenargument lui dat, hoewel nie alle tale uitruilbaar kan wees nie, dit steeds logies moontlik is dat ’n subklas van tale — en met name dan die subklas van “natuurlike tale” — uitruilbaar is. Dit sou dan beteken dat die Tarskiaanse weerlegging weliswaar ’n algemene uitruilbaarheid uitsluit, maar tog nie die uitruilbaarheidstese in sy praktiese, politieke funksie ontsenu nie.

Dit is egter ’n swak argument. Om dit in te sien hoef daar slegs op gewys te word dat Tarski se argument, ook al laat dit logies ruimte vir die postulaat van ’n subklas van onderling uitruilbare tale (byvoorbeeld alle natuurlike tale), in elk geval daardie postulaat van sy semantiese begronding ontneem en dit so tot die status van ’n ongegronde dogmatisme demoveer. Immers, as ons geen rede het om te vermoed dat alle tale op ’n enkele universele taal teruggaan nie — en as daardie veronderstelling selfs logies onhoudbaar blyk — dan het ons ook geen prima facie-rede meer om te vermoed dat enige spesifieke subklas van tale onderling volledig vertaalbaar is nie. Ons kan dit wel sonder logiese teëspraak beweer, maar ons kan nie meer met ’n appèl op ’n meer algemene taalteorie (die universeletaal-hipotese) dié bewering begrond nie.

Wie dan wil aantoon dat ’n spesifieke klas van tale, soos die natuurlike tale, nietemin in feite uitruilbaar is, sal hom of haar dus moet wend tot ’n kwasi-empiriese strategie, byvoorbeeld deur te wys dat volledige onderlinge vertaling inderdaad in alle bekende gevalle moontlik is. (Die volledige onderlinge vertaalbaarheid tussen natuurlike tale kan immers nie meer van ’n algemene semantiese teorie afgelei word nie.) Die meeste vertalers en taalkundiges sal dit eens wees dat so ’n empiriese bewysstrategie nie veel kans op sukses het nie. Selfs voorstanders van die universeletaal-hipotese gee immers toe dat ons die veronderstelde universele taal nog geensins in ons greep het nie en dat vertaling, soos dit in die praktyk waargeneem word, nog altyd ’n oneksakte en selfs ietwat misterieuse onderneming is — geen besonder sterk aanleiding om ons te laat vermoed dat ’n volmaakte vertaling selfs in beginsel moontlik is nie.

Na ’n stewige dosis Tarski bly daar dus maar min oor van die geloofwaardigheid wat die uitruilbaarheidstese onder ’n deel van die algemene publiek geniet. Soos so baie algemeen aanvaarde, oënskynlik vanselfsprekende opvattings, kan dit ’n deurtastende filosofiese bevraagtekening nie oorleef nie.

Vroeër in sy artikel maak Tarski die punt dat “… semantics … is a sober and modest discipline, which has no pretensions of being a universal patent-medicine for all the ills and diseases of mankind, whether imaginary or real. You will not find in semantics any remedy for decayed teeth or illusions of grandeur or class conflicts. Nor is semantics a device for establishing that everyone except the speaker and his friends is speaking nonsense.”[8]

Hieroor is Tarski ongetwyfeld reg. Tog moet ons nie die breër relevansie van semantiese teorieë (ook wat maatskaplike kwessies betref) te gou minag nie. Immers, ons het gesien dat ’n bepaalde stuk “folk linguistics” wat ’n belangrike rol in die taalpolitieke diskoers speel — die uitruilbaarheidstese — gebaseer is op voorveronderstellings wat deur ’n versigtige semantiese analise weerlê kan word.

Uiteraard volg hieruit geen politieke program nie — nóg wat “decayed teeth”, nóg wat “class conflict” betref — maar as tale streng gesproke nie uitruilbaar is nie, maar onvervangbaar, het dit wel implikasies vir die grondhouding waarmee ons die kwessie van taalbeleid benader. Dit mag vals wees dat “everyone except the speaker and his friends is speaking nonsense”, maar dit is sekerlik nie uitgesluit dat sommige van ons van tyd tot tyd in die politieke debat oor taal onsin kwytraak nie! Die semantiek kan ons help om te sien dat die uitruilbaarheidstese — met al die ideologiese werk wat dit in die openbare domein verrig — waarskynlik ook tot die klas van “onsin” behoort.

[1] Alfred Tarski, “The semantic conception of truth and the foundation of semantics”, in AP Martinich (red), The philosophy of language, Oxford: Oxford University Press 1996³, 61-84.
[2] Ibid, 66.
[3] Sien ibid, 63: “X is true if, and only if, p” (waar X staan vir die naam van p).
[4] Ibid, 65-66. Die argument verloop soos volg: “For brevity we shall replace the sentence just stated [d.i. die sin ‘The sentence printed in this paper on p. 52, column B, II. 28-29, is not true’] by the letter ‘s’. According to our convention … we assert [that] … (1) ‘s’ is true if, and only if, the sentence printed in this paper on p. 52, column B, II. 28-29, is not true. On the other hand … we establish empirically [that] (2) ‘s’ is identical with the sentence printed in this paper on p. 52, column B, II. 28-29. Now, … it follows from (2) that we may replace in (1) the expression ‘the sentence printed in this paper on p. 52, column B, II. 28-29’ by the symbol ‘s’. We thus obtain what follows: (3) ‘s’ is true if, and only if, ‘s’ is not true. In this way we have arrived at an obvious contradiction.”
[5] Ibid, 66.
[6] Ibid.
[7] Ibid, 66-67.
[8] Ibid, 64.


boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.