Taaldebat - Language debateArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Skrywersversoek aan die US

Elsa Joubert, Abraham H De Vries, Leonard Koza en George Weideman

Inhoud van dokument

A. DRINGENDE VERSOEK VAN AFRIKAANSE SKRYWERS AAN US-RAAD
B. ADDENDUM
C. LYS VAN ONDERTEKENAARS

Dokument


A. DRINGENDE VERSOEK VAN AFRIKAANSE SKRYWERS AAN US-RAAD
Voorgelê aan die US-Raad, 8 Desember 2005.

Ons as Afrikaanse skrywers wie se skeppende werk ten nouste verbonde is aan die welstand van Afrikaans as taal, versoek hiermee die Raad van die Universiteit van Stellenbosch om nie toe te laat dat die Universiteit as gevolg van voor die hand liggende bestuursprobleme sy rol as belangrike Afrikaanse universiteit versaak en in die praktyk ontwikkel tot 'n dubbelmedium-universiteit nie.

Die geskiedenis van die volledige verengelsing van dubbelmedium-universiteite in Suid-Afrika is bekend. Met dubbelmediumonderrig in die Fakulteit Lettere (die sg T-keuse) laat die US reeds twee jaar toe dat – in kontras met die Rektor se uitdruklike beloftes aan die konvokasie in 2002 – Engels die vetoreg bekom oor 50 persent van Afrikaans se klastyd in vakke waar dubbelmediumonderrig gebruik word. Afrikaans is dus twee jaar al bewustelik op 'n glybaan geplaas.

Dié verminderde klastyd word vererger deur die feit dat, onder die T-opsie, sommige lesings reeds slegs in Engels aangebied word. In ander gevalle word daar onder druk van die studente oorgeskakel na Engels, ook in die 50 persent wat Afrikaans oorgehou het.

Die basisprobleem is steeds die klassituasie van studente van wie 'n paar nie die onderrigtaal verstaan nie. Die T-opsie het waarskynlik hieruit gegroei as 'n soort "oplossing" of werkswyse wat ten minste na 'n oplossing lyk. Daar is selfs, kennelik sonder veel aandag aan die behoeftes van en beloftes aan studente, beweer dat dié metode al dekades lank gebruik word. Daarvoor het 'n mens begrip. Ons het ook begrip vir dié fakulteite waar die T-opsie uitgesproke slegs op eerstejaarvlak en as oorgangsmaatreël tot Afrikaanse lesings daarna gebruik word, maar wil duidelik waarsku dat ook hierdie oorgangsmaatreël gesteun moet word met meer en beter taalkursusse vir aanleer, versterking en akademiese gebruik as wat tans aan die US beskikbaar is.

Daar is nog nêrens, en ook nie in die onlangse mediadebat oor Afrikaans aan die US nie, enige oortuigende akademiese argumente geopper vir dubbelmediumonderrig op tersiêre vlak nie, terwyl die redenasies daarteen, gerugsteun deur navorsing, verdoemend is vir die kleiner taal.

1. Indien die T-keuse deur die Raad goedgekeur sou word, beteken dit

1.1 dat die Raad bewustelik 'n skadelik-bewese onderrigmetode goedkeur wat ook reeds aan die US bewys het dat dit skadelik is vir Afrikaans;

1.2 dat die Raad die Universiteit kwesbaar maak vir ook ander akademies gediskrediteerde manipulasies;

1.3 dat die Universiteit telkens self 'n taalprobleem word binne die breër Suid-Afrikaanse konteks – wat vir Afrikaans geld, geld immers ook vir al nege ander tale;

1.4 dat 'n basiese probleem onopgelos bly voortbestaan en die Universiteit dus agter raak by twee ander Suid-Afrikaanse universiteite waar die basisprobleem reeds indringend aangespreek word.

Beredeneer vanuit die basiese probleem en die wyse waarop elke dosent sukkel om dit op te los, sou van fakulteitsrade en die senaat nie eerstens verwag moes word om vir of teen die T-opsie stelling in te neem nie, ook nie om 'n pedagogiese mistasting te verdedig nie, maar om toe te sien dat behoorlik-nagevorste bevindings die bestuurswyse onderlê waarmee die probleem aangepak word. Dit is nie gedoen nie.

Al wat gedoen is, is om die basisprobleem te institusionaliseer; die Raad word dus in werlikheid versoek om goed te keur dat in die Fakulteit Lettere tot op derdejaarvlak Engels institusioneel 50 persent vetoreg bekom oor Afrikaans.


2. Vierledige versoek aan die Raad

2.1 Aangesien die Raad dus ten volle geregverdig is om die saak terug te verwys met die opdrag dat hierdie basiese probleem in klaskamers opgelos moet word met 'n metode wat nie Afrikaans en enige ander Suid-Afrikaanse taal skaad nie, versoek ons die Raad om dit onverwyld te doen.

2.2 Ons versoek die Raad dringend om 'n eksterne ombudspersoon aan te stel wie se rol dit sal wees om alle praktiese en akademiese aspekte van die taalsituasie, asook hardnekkige gerugte van benadeling van Afrikaanse studente, deurentyd te monitor en, as inligting ten bate van besluitneming, verslag daaroor uit te bring aan die Raad.

2.3 Ons versoek die Raad om opdrag te gee dat die US-bestuur dringend en indringend samewerking met ander instellings ondersoek om Afrikaans as 'n taal van hoër onderrig te bestendig en uit te bou.

2.4 Ten slotte doen ons op die Raad 'n beroep om ernstig te besin oor die erosie van Afrikaans by US – omdat dit nie net Afrikaanse skrywers raak nie, maar ook Afrikaanse mense oor die algemeen; dit kompromitteer tewens die voortbestaan van minderheidskulture per definisie en ook die moontlikheid al dan nie van die bestaan van alternatiewe verbeeldingsisteme. Keur die Raad die status quo goed, beteken dit by implikasie 'n keuse vir 'n groeiende eentalig-Engelse Suid-Afrika.


B. ADDENDUM

Geagte US-Raad

Hierdie skrywer is van Bloemfontein, waar die geslaagde transformasieproses aan die Universiteit van die Vrystaat
nasionale en internasionale belangstelling ontlok en ons binnelanders met stille trots vervul.

As Afrikaanssprekende wat in die Apartheidsjare grootgeword en 'n eie Damaskuspad-ondervinding ten opsigte hiervan moes beleef, het ek al telkens in die openbaar en in eie kring my dankbaarheid uitgespreek dat die voorreg my gegun is om die transformasie na 'n nuwe Suid-Afrika en nuwe sosiale orde te beleef en om persoonlike foute en dwalings van die verlede te mag regstel.

Die Nuwe Suid-Afrika is dus nie vir my slegs 'n omringende werklikheid nie. Dit is 'n nuwe landskap van my eie gees. Ek is tuis daarin en wil nooit weer êrens anders wees nie.

Boonop woon ons in die Vrystaat, waar slegs een uit vyf mense Afrikaans as moedertaal het. Vir dié van ons wat in die Nuwe Suid-Afrika van die gees en terselfdertyd ook hier in die binneland woon, is die volgende van onderhandelbare belang:

aanpasbaarheid
integriteit
persoonlike bydrae tot harmonie
wedersydse respek
nouer kontak met mense van ander kultuurgroepe
kruiskulturele bevrugting
die opvul van klowe tussen individue en kultuurgroepe.

Hierdie agtergrond in ag genome, is dit geen ligtelike besluit om my naam by dié van ander besorgde Afrikaanse skrywers te voeg en alles wat hier bo aangebied word, heelhartig te onderskryf nie. Ek het die debat oor die taalsaak by die Universiteit van Stellenbosch met aandag gevolg en kan die argumente ten gunste van die sogenaamde T-opsie teen die agtergrond van die suksesverhaal van die UV, selfs onderskryf.

Maar juis omdat daar (a) reeds in ons streek en elders so 'n radikale en noodsaaklike transformasie op die terrein van tersiêre onderwys plaasgevind het en (b) in die Nuwe Suid-Afrika steeds enkelmedium Engelse universiteite bedryf word om in die behoeftes van 'n bepaalde segment van die studentebevolking te voorsien, wil ek dan ook hierdie skrywe rig te gunste van 'n universiteit waar almal wat primêr tuis in Afrikaans voel, in Afrikaans onderrig kan word. Hoe langer ek oor hierdie saak nadink, hoe sekerder word ek dat dit nodig, regverdig, grondwetlik en 'n stap tot die uitbouing van die volle taal-kulturele legkaart van Suid-Afrika in die 21ste eeu is.

Ek onderskryf dus bostaande redelike, gebalanseerde en grondwetlik motiveerbare versoek ten opsigte van die behoud van die Universiteit van Stellenbosch (waar sowel ek as my eggenoot nagraads studeer het) as Afrikaanse universiteit.

Met dank vir u aandag

Maretha Maartens


C. LYS VAN ONDERTEKENAARS VAN DIE SKRYWERSVERSOEK BY A.

Hennie Aucamp
Christine Barkhuizen le Roux
Chris Barnard
Maretta Bellingan
Francois Bloemhof
Marié Blomerus
René Bohnen
Danie Botha
Ellen Botha
Susan Botha
Marianna Brandt
Breyten Breytenbach
Kerneels Breytenbach
André P Brink
Floris A Brown
Wannie Carstens
JM Cilliers
Johan Cloete
Maureen Cloete
TT Cloete
Ampie Coetzee
Helena Conradie
Jac Conradie
Thomas Deacon
Johan de Klerk
Anita de Kock
Lochner de Kock
Johann de Lange
Frieda de Villiers
Izak de Villiers
Abraham H de Vries
Julian de Wette
EKM Dido
Ebbe Dommisse
Clinton V du Plessis
Hans du Plessis
Heilna du Plooy
Herman Engelbrecht
Louis Esterhuizen
Engemi Ferreira
Corlia Fourie
Elkarien Fourie
Pieter Fourie
Charles Fryer
Jens Friis
Rita Gilfillan
Anton Goosen
Allen Grootboom
PJ Haasbroek
Henk Havenga
Bonaventure Hinwood
Elsa Joubert
Marlise Joubert
John Kannemeyer
George Kellerman
Antoinette Klein
Kleinboer
Leti Kleyn
Willem D Kotzé
Leonard Koza
Joan Kruger
Lappies Labuschagne
Trienke Laurie
Marlize Leyden
Helena Liebenberg
Chris Lombard
Kobus Lombard
George Louw
Peter Louw
Nico Luwes
Maretha Maartens
Lucas Malan
Heinrich Matthee
Petrovna Metelerkamp
Deon Meyer
Selwyn Milborrow
John Miles
Luzelle Moller
Petra Müller
Charl-Pierre Naudé
Erika Ochse
Bernard Odendaal
Fanie Olivier
Rike Olivier
Janie Oosthuysen
Elize Parker
Chanette Paul
Chris Pelser
Enslin Petersen
Fransi Phillips
Hans Pienaar
Fransjohan Pretorius
Oskar Prozesky
Ian Raper
Dan Roodt
Zuretha Roos
Leon Rousseau
Riana Scheepers
Lina Spies
ELP Stals
Carina Stander
Jaap Steyn
Charles Stofberg
Koos Stofberg
Pieter Strauss
Barend Toerien
Jasmine Uys
Theunis Uys
Marthinus van Bart
Hennie van Coller
Dietloff van der Berg
Cornelius van der Merwe
Marita van der Vyver
Hennie van Deventer
Everline van Dyk
Anneke van Niekerk
Betsie van Niekerk
Danie van Niekerk
Leon van Nierop
Cas van Rensburg
FIJ van Rensburg
Mary-Ann van Rensburg
Marietjie van Rooyen
Ilse van Staden
Jan van Tonder
Dine van Zyl
Wium van Zyl
Eben Venter
Adinda Vermaak
Hein Viljoen
Wim Vorster
Pieter Wagener
MM Walters
George Weideman
Lucia Wels
Annalise Wiid
Anthony Wilson
Patricia Witz
Gretel Wybenga


Opstellers van dokument

Elsa Joubert

Abraham H De Vries

Leonard Koza

George Weideman

8 Desember 2005




LitNet: 13 Desember 2005

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SÍNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.