Taaldebat - Language debateArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die onbekende dokument wat die US se taalbesluit moes bepaal

Abraham H de Vries*

By belangrike besluite hoort gewoonlik belangrike dokumente met belangrike argumente en verwysings. So is daar in die mediadebat oor die uitbreiding van dubbelmediumonderrig (die sg T-opsie) aan die Universiteit van Stellenbosch selfs in die koerantstandpunte van bv. proff Hermann Giliomee en Leopold Scholtz verwysings na die buitelandse én plaaslike navorsing wat hul standpunt steun dat in dergelike onderrig die kleiner taal (hier Afrikaans) deur die groter taal (hier Engels) verdring word.

Daar was egter ‘n dokument waarvan die inhoud onbekend was. In Die Burger van 20 Desember 2005 het ek betoog dat na hierdie dokument – “waarvan die inhoud so belangrik, so goed gedokumenteer was dat dit alle ander menings en besware oorstem het” – net by implikasie verwys word as prof Anton van Niekerk (DB 17 Desember) sê die Raadsbesluit is geneem op die ‘"senaat se aanbeveling, geneem op akademiese gronde ..." Die Burger aanvaar in sy hoofartikel (19 Desember) dat die Raad se besluit geneem is "na 'n behoorlik demokratiese proses en op akademiese gronde". Vir albei bewerings het die bewyse ontbreek.

Die meerwaarde van die dokument lê dus veral daarin dat dit die “wen-redenasies” moes bevat vir besluite waar niks minder op die spel was nie as die identiteit van die Universiteit as Afrikaanse universiteit (of dan hoofsaaklik Afrikaanse universiteit) en van Afrikaans as lewende, groeiende onderrigtaal. Voor die Konvokasie in 2002 het die Rektor, prof Chris Brink, immers gesê: “Reeds ten tye van die proses van my aanstelling het ek ‘n Taalvisie vir Stellenbosch geformuleer, getitel ‘Ons weg deur die nuwe wêreld’. My kerngedagte in hierdie visie was, en is steeds, die groei en vooruitgang van Afrikaans, en die sentrale rol wat Stellenbosch daarin kan speel.”

Dit is normaal dat, waar wetenskaplike ondersoek ‘n potensieel fatale metode vir ‘n kleiner taal uitwys, enige universiteit tog seker aanvaarbare, wetenskaplik standhoudende argumente vir die uitbreiding van so ‘n metode sal kan verskaf. Vandaar die geregverdigde belangstelling.

Hier volg die inhoud van hierdie “verlore” dokument:

Besluit van Taalkomitee

  1.   Daar bestaan heelwat presedente vir die gebruik van die T-opsie in ander jaargange as die eerste jaar. Mits daardie uitbreidings in die lig van aanvaarbare redes behoorlik gemotiveer is, soos in die geval van Lettere en Wysbegeerte gebeur het, is die Taalkomitee bereid om dit simpatiek te oorweeg en by die Senaat en Raad aan te beveel.
  2.   Die Taalkomitee is van mening dat die gebruik van die T-opsie ‘n besondere geleentheid bied om aan studente daadwerklike ervaring van multi-kulturaliteit in klasverband op die kampus te verskaf. Dit maak die T-opsie na die oordeel van die Taalkomitee baie meer aanvaarbaar as die parallelmedium opsie. Laasgenoemde hou die gevaar in dat studente weer geskei word op grond van taal, kultuur en ras. In klasse waar die T-opsie gebruik word, is die kanse veel beter dat studente nie slegs aan mekaar se tale nie maar ook aan mekaar se leefwêrelde en kultureel gevormde beskouings, wat moontlik mag verskil, blootgestel word. Die T-opsie bied ‘n besondere geleentheid aan US om deur middel van daardie wedersydse blootstelling ‘n bydrae te lewer tot die skep van groter begrip en verdraagsaamheid tussen lede van die diversiteit van gemeenskappe in SA.
  3.   Daar is heelwat literatuur wat sterk argumenteer ten gunste van die waarde van tweetalige onderrig in ‘n situasie waar ‘n klein taal naas ‘n sterk wêreldtaal in opvoeding tereg moet kom.
  4.   Die Taalkomitee is wel van oordeel dat die T-opsie eers optimaal funksioneer wanneer studente albei tale wat gebruik word redelik beheers. Fakulteite wat hulle dus wend tot die T-opsie word baie sterk aangemoedig om stappe te doen om deur middel van kursusse en ander vorme van beskikbare steun hul studente se taalvaardigheid in Afrikaans en Engels so goed moontlik te ontwikkel.

Wat taal en taalonderrig betref, is dit ‘n merkwaardige dokument.

Dit bevat letterlik nêrens enige argument ter verdediging van die T-opsie nie en daar is geen woord in waarmee die bevindings van byvoorbeeld Jean Laponce en Victor Webb weerlê word nie. Dat die Senaat dit ook in besprekings nie gehoor het nie, is duidelik uit ‘n mosie van prof JU de Villiers, dekaan van Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, waarvolgens hy die voorstel teenstaan op grond van onder andere “dat die Taalkomitee geen deeglike werklike motivering vir die afwyking van die A-opsie as outomatiese opsie verskaf nie”.

Selfs uit die “heelwat literatuur” wat “sterk argumenteer ten gunste van die waarde van tweetalige onderrig”, word geen argumente aangehaal nie. Die enigste argument lui ongeveer so: ons het dit al vantevore toegelaat op grond van goeie motivering, Lettere het ‘n goeie motivering ingedien, laat ons dit weer goedkeur. Die drie rade wat dit moes goedkeur, het nie geweet wat dié motiverings was nie.

Maar “tweetalige onderrig” is bowendien ‘n verlegging van die meer spesifieke probleem: die gevaarlik bewese metóde van onderrig: dubbelmedium op tersiêre vlak. Daaroor sou die “heelwat literatuur” die komitees nie kon inlig nie, want na bestudering van die bronne kom prof Hermann Giliomee tot die gevolgtrekking dat dit nie enige wetenskaplike stawing bevat vir die gebruik van dubbelmedium op universiteitsvlak nie. “Al die boeke handel oor skoolonderwys en spesifiek oor die eerste stadium van die verwerwing van ‘n tweede taal. Verder is die fokus van verskeie van die bronne die onderwys van gestigmatiseerde etniese groepe soos Gastarbeiter in Europa of die kinders van onlangse immigrante wat sukkel om ‘n nuwe taal aan te leer.” (Uit ’n verslag deur Giliomee en Schlemmer aan die SA Akademie oor “Die Histories Afrikaanse universiteit (HAU) se beleid teenoor voertaal en veeltaligheid”, Februarie 2006.)

Dit laat ons dan met die aanbevelings in 2 en 4. Volgens die Jaarboek van 2005 nog is die doel van die T-opsie “om studente met Engels as huistaal of voorkeurtaal stelselmatige blootstelling te gee aan Afrikaanse vaktaal sodat hulle op tweedejaarvlak optimaal ... kan studeer in modules met ‘n A-taalspesifikasie.”

Die voorstel dat die T-opsie uitgebrei word na die derde jaar in die hele Lettere en Wysbegeerte is dus op sigself reeds bewys dat die T-opsie nie in hierdie doel geslaag het nie. Meer tyd word gevra. Om eerstejaars te help om in Afrikaans vakkundige tweedejaars te wees, wat die doel van die T-opsie was? Nee, om klastyd in Engels twee jaar langer te mag gebruik ten koste van Afrikaans, dus om Engels te versterk! Dat die metode fataal is vir die kleiner taal, is presies wat die navorsing bewys. Die metode word egter nie bevraagteken nie.

Maar al drie Rade stem saam dat die helfte van Afrikaans se voorgraadse lesingtyd in die hele Fakulteit Lettere weggegee mag word.

Die enigste motivering vir die T–opsie wat oorbly, is dié onder 2: om aan studente daadwerklike ervaring van multi-kulturaliteit in klasverband op die kampus te verskaf, ens. Hoe polities korrek en selfs oppervlakkig edel ‘n dergelike motivering ook mag klink, hierdie sosiale manipulasie, wat so eie is aan die base se manier van dink in die apartheidsera, geskied hier ten koste van Afrikaans. En weer eens is daar geen bewyse ter tafels dat dit ooit iewers geslaag het nie. Maar uit Stellenbosch kom toe ook die storie dat die T-opsie se téénstanders eintlik die konserwatiewes is, die ou omies wat in die verlede wil lewe en dink die universiteit behoort aan Afrikaners! Stellenbosch is geneig om ander van hul eie sondes te beskuldig, want die T-opsie is deur meer as 3 000 studente én ‘n organisasie van hoofsaaklik swart studente aan die US verwerp, menings wat geïgnoreer is – soos ook die menings en voorstelle van die Konvokasie, oudstudente en 130 Afrikaanse skrywers. ‘n Doofheid en blindheid waarin kennelik die apartheidsregering voorbeeld en leermeester was.

Die studente het immers gelyk. Die teenoorgestelde van apartheid is nie gedwonge samevoeging nie, die teenoorgestelde van apartheid is normaliteit – dit het Breyten al gesê. Dit is nié normaal om ‘n universiteit se belangrikste onderrigtaal (volgens sy eie aanvaarde taalbeleid) bewustelik in gevaar te stel ter wille van prosesse wat in die koshuise, in die Neelsie en oral op die kampus ongedwonge en normaal behoort plaas te vind nie.

Demokrasie word nie gedien deur net prosesse nie, maar ook deur die inhoud van die prosesse. Waar die inhoud faal, raak die demokrasie ‘n mombakkies, kom geloofwaardigheid in gedrang en voer openhartigheid oor alle dokumente en argumente ‘n sukkelbestaan by diegene wat geneig is tot outokratiese besluitneming. Dit was ook onder die apartheidsregering so. (Sien The darker reaches of Government van AS Matthews.)

Syfers vertel die res van die storie oor die kreeftegang van Afrikaans wat reeds onder die T-opsie voorkom: 70 persent van die modules waarvan die taalspesifikasies toe reeds bepaal was, was op 1 Augustus 2003 net in Afrikaans (volgens die Voorsitter van die Taalkomitee). Volgens die Jaarboek was die aantal modules met ‘n A-enkelmedium-spesifikasie in 2005 reeds minder: 65 persent, maar die Rektor het dit dieselfde jaar in sy voordrag voor die Konvokasie gestel op “meer as die helfte van ons modules”, dus meer as 50 persent. Volgens betroubare bronne is dit vir 2006 slegs 36,4 persent. Al sou ‘n mens hierdie syfer ignoreer, is die feit dat daar in 2006 in Lettere en Wysbegeerte net drie jaar se halwe lesure vir Afrikaans oorgebly het vir lesings én as aansporingspraktyk vir die verdere ontwikkeling van Afrikaans as wetenskapstaal. Nagraadse werk is reeds hoofsaaklik in Engels. Maar uit Stellenbosch kom die storie dat die T-opsie geen nadeel inhou vir Afrikaans nie ...

Wie het die US se teikenmark geword?

Voorheen benadeelde studente uit die bruin en swart gemeenskappe van die natuurlike opvanggebied? Miskien is dit so in Polities Korrekte retoriek, maar in werklikheid is dit onwaarskynlik, bloot omdat die US een van die duurste universiteite in die land is, en dus vir hierdie studente nie bekostigbaar nie. (Maar uit Stellenbosch uit kom die storie toe van die uiters swak studentemateriaal wat die bruin skole vir hulle lewer.) ‘n Poging dan om minstens die kinders van die nuwe elite te lok? Weer eens moontlik, maar die meeste van hierdie ouers het in die ballingjare in die buiteland grootgeword en verdien nou genoeg om hul kinders en kleinkinders veel eerder ‘n buitelandse opvoeding te gun as aan ‘n Suid-Afrikaanse universiteit wat sukkel met ‘n taal wat hulle nie ken nie. Afrikaners wat so patologies skuldig voel oor die apartheidsverlede dat afstand van Afrikaans vir hulle na ‘n Polities Korrekte oplossing lyk? Matelose ambisie? Of sommer net Engels as ‘n vorm van swier wat middelmatigheid moet verdoesel?

Die dokument van die Taalkomitee sê hoogstens dat die rade wat die besluite geneem het, alle waarskuwings oor die gevare van dubbelmediumonderrig geïgnoreer het en sonder motivering of opgaaf van redes die US se plek verseker het op die glybaan na ‘n Engelse universiteit wat ook aandag skenk aan Afrikaans.

Uit persoonlike ondervinding en ter afsluiting: Iets in dié hele storie is benouend bekend: die werkwyse waarmee kennis ondergeskik word aan mag, die swygende hooffigure, die geheimhouding, die besluite sonder opgaaf van redes, die skuilgaan agter die uitkoms van ‘n duister proses sonder om te dink aan toekomstige geloofwaardigheid. Iewers hoor ek Pik Botha bieg: “Ons probleem was dat ons onsself begin glo het.”


*Abraham de Vries is ‘n Afrikaanse skrywer en buitengewone hoogleraar aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Hy is ook mede-opsteller van die versoekskrif van die Afrikaanse skrywers aan die Raad van die US.




LitNet: 17 Februarie 2006

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SÍNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.