Taaldebat - Language debateArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Etlike gedagtes oor moedertaalonderrig in Suid-Afrika na Apartheid

Neville Alexander

Hoekom praat ons nou oor hierdie vraag?

Die feit dat Afrikaans op die oog af aan die kwyn is, is net een van die redes. Baie belangrik is ook die aaklige druipsyfers, veral in die jaarlikse matriekeksamen, onder niemoedertaalsprekers van Standaardafrikaans en Standaardengels.

Kan die oorheersing van Engels nog gestuit word?

Dit gaan nie soseer oor die dominansie van Engels nie. Dit is ’n vraag wat met die sogenaamde vryemarkstelsel te make het, en op daardie gebied kan net die magspolitieke stryd tussen die groot moondhede uiteindelik ’n drastiese verandering teweegbring. Ek self meen dat die toekoms heel waarskynlik in ’n wedywering tussen Engels, Mandaryns en Spaans uitgestoei gaan word.

Hoe dit ook al sy, dit gaan hier by ons en elders in die wêreld om teenhegemoniese strategieë en beleidsrigtings. Daar is ’n groot verskil tussen die dwang van oorheersing deur magspolitiek of selfs militêre maatreëls enersyds, en hegemonie of “vrywillige” aanvaarding van die “normaliteit” van die magsverhoudinge tussen die “tale”, soos ons hulle ken, andersyds. (Die verhoudinge is natuurlik tussen die sprekers van die tale en nie tussen die tale self nie.)

Is dit nog hoegenaamd prakties vandag om moedertaalonderrig te eis?

Hierdie eis word net in sekere agtergeblewe streke van die wêreld gestel. In die meeste ander wêrelddele is die beginsel vanselfsprekend. Maar in Afrika, sekere lande in Asië en Oos-Europa, as gevolg van koloniale verdrukking, word die eis gestel, juis as een komponent van ’n teenhegemoniese strategie. Ons moet die vraag dus ook in die konteks van die Afrika-renaissance en die NEPAD-beleid sien. Maar in die eerste instansie gaan dit vir ons as akademici en leerkragte om oplossings vir pedagogiese probleme.

Hoe raak hierdie vraag die HOI’s?

In die geval van Afrikaans is dit sonder meer duidelik. Maar omdat amper niemand vandag verder as vyf jaar in die toekoms wil kyk nie, kan hulle nie sien dat die ander, dws, nie-Afrikaans- en nie-Engelstalige Suid-Afrikaanse taalgemeenskappe, op een of ander tydstip heel moontlik ook instellings sal wil hê, waar hoofsaaklik in hul moedertale klas gegee sal word. Wanneer daardie tyd aanbreek, sal die voorbeeld van Afrikaans van die grootste historiese belang wees. Ek verstout my om te sê dat hierdie voorbeeld ons nasate dan allerlei konflikte en selfs burgeroorloë sal help vermy.

Uit die hoek van die onderwysstelsel gesien is die terugspoelingseffek van die universiteit op die skoolkurrikulum van so ’n aard dat elke universiteit oor sy taalbeleid sal moet besin. As daar op skoolvlak geen egte moedertaalonderrig plaasvind nie, kan die universiteit niks anders verwag nie as ’n daling van standaarde en ’n afname van die vraag na taalkursusse, veral vir L1-sprekers. Hierdie stelling is die logiese gevolg van die feit dat die ander tale geen markwaarde het nie of, soos huidig die geval met Afrikaans, al minder markwaarde het.

Hoekom is die meeste Afrikataalsprekers teen moedertaalonderrig gekant?

Eintlik is hulle nie daarteen gekant nie. Al die onlangse opnames bewys dat die groot meerderheid tweetalige onderwys sou verkies as hulle die keuse sou hê. Dit is wel waar dat die meeste van hierdie mense, en baie nie-Standaardafrikaanstaliges, skepties teenoor die praktyk staan omdat hulle dit aan die moedertaalonderwys van die apartheid-onderwysbeleid gelyk stel en omdat dit, soos die leek dit sien, die kans om Engels vlot te leer praat, belemmer of ten minste beperk. Een van ons eerste take in die beplanning vir moedertaalonderrig is dan ook om die instellinge van die meerderheid te verander en hulle in te lig oor die ware toedrag van sake. Ook in hierdie vraag is dit waar dat die beste argument die wetenskaplike bewysvoering is dat die mees effektiewe manier om kinders te leer of op te lei dmv die moedertaal is.

Is daar ’n grondwetlike en/of ’n wetlike basis vir die eis om moedertaalonderrig?

Artikel 29(2) van die Grondwet is baie duidelik. So ook Artikel 30. Die wetlike situasie is net belangrik vir diegene wat alreeds goed georganiseerd is, want by die groot meerderheid Suid-Afrikaners moet eers nog die ideologiese en die ekonomiese stryd vir moedertaalonderrig gewen word. Dit gaan hier uiteindelik om ’n stryd wat mens in Engels met netjiese met ’n klompie d’s as vyfdimensioneel kan beskryf: diversity, democracy, development, didactics, en dignity, oftewel identiteit.

Is die klimaat vir verandering ten gunste van moedertaalgebaseerde onderrig gunstig?

Die aanvaarding deur die Afrika-Unie van die Afrika-Akademie vir Tale (ACALAN, volgens die Franse akroniem) as ’n spesiale instelling van die AU vir taalbeleid en taalbeplanning kom daarop neer dat die staatshoofde van die kontinent die feit aanvaar dat dit onmoontlik is om van ’n Afrika-renaissance te praat sonder om toe te sien dat die tale van die mense van die vasteland tot die hoogs moontlike vlak ontwikkel, en op die hoogste vlakke gelyk aan die tale van die voormalige Europese koloniale moondhede gebesig word. Dit is ook ’n retoriese gebaar in die rigting van diegene onder ons wat male sonder tal uitgewys het dat die nagmerrie van postkoloniale onderwys in alle Afrikastate teruggevoer kan word, onder andere, tot ’n verkeerde onderrigtaalbeleid. Maar of dit blote retoriek is of nie, hierdie belangrike, selfs historiese, besluit van 23–24 Januarie 2006 te Khartoem in die oorloggeteisterde Soedan skep die ruimte vir almal wat vir moedertaalonderrig en vir die statusverhoging en korpusontwikkeling van die inheemse Afrikatale staan, om sonder meer alle hulpbronne te mobiliseer om hierdie geskiedkundige maatskaplike ontwikkeling in die weg te lei. Histories, omdat Afrika net deur hierdie pad te loop, ten einde laaste die hoop redelikerwys sal kan koester om sy ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling ten volle te verwerklik. Ek stel dit weer eens onomwonde: die ekonomiese en algemene sosiale ontwikkeling van Afrika is in ’n groot mate afhanklik van die inwerkingstelling van moedertaalgebaseerde onderwysstelsels in al die streke van die vasteland, dus ook in Suider-Afrika.

Wat staan ons te doen?

Die beplaningstemplaat vir die opheffing en ontwikkeling van enige taal in ’n min of meer gunstige politieke en kulturele konteks is vandag wel bekend. Wat natuurlik nie beteken dat hierdie proses eenvoudig of maklik is nie. Inteendeel, die struikelblokke wat oorkom en die ompaaie wat deur die beplanners en aktiviste geloop sal moet word, is alomteenwoordig, maar gelukkig is ook hulle aan ons bekend. Om dit anders te stel: alle paaie lei na die bestemming waarna ons mik; ons is op ’n wen-wen-missie. Ek verwys hier na net vier van die belangrikste skuiwe wat gemaak moet word sodat ons op koers kan kom. Ek aanvaar ook argumentshalwe dat die definisie van moedertaal hier nie geproblematiseer hoef te word nie, alhoewel hierdie debat, soos ons almal weet, menige konferensies dae lank besig kan hou.

  1. Die inheemse Afrikatale van Suid-Afrika, waarby ek Afrikaans insluit, moet markwaarde kry en/of behou. Die openbare en die privaatsektor moet dit, oa ter wille van arbeidsproduktiwiteit en kwaliteit-diensverskaffing, as voorwaarde vir aanstelling tot sekere werkskategorieë stel dat kandidate ’n geskikte Afrikataal magtig moet wees. Reklame moet in al die amptelike tale van ’n provinsie, ’n ekonomiese streek of die land op geskikte maniere geskied en mense wat meertalig is, veral professioneel opgeleide tolke en vertalers, moet vir hierdie waardevolle vaardighede in ’n veeltalige land baie beter beloon word. Ons tale moet as bates benader word en die fondasie vir ’n taalbedryf daarstel. Die nodige taalinfrastruktuur, wat tolk- en vertaaldienste, terminoloë, leksikograwe, uitgewerye edm behels, moet uitgebou word sodat ons, soos oa Australië, die ekonomiese voordele van ons diversiteit kan ontgin. Elke kind, elke skolier, elke leerder moet weet dat die deeglike kennis van sy of haar moedertaal, naas die soortgelyke kennis van Engels (of ’n ander belangrike internasionale taal), ’n ekonomiese bate is wat vir hom of haar ’n goeie werksgeleentheid kan ontsluit en dus vir hom of haar ’n bemagtigingsinstrument is – en nie net op ekonomiese gebied nie.
  1. ’n Bewustheidsveldtog moet georganiseer word sodat die man en vrou op straat kan besef dat elkeen van hulle met ’n goue gawe - hul moedertaal - toegerus is en dat die behoorlike gebruik van hierdie gawe eintlik een van die sleutels tot hul eie en ons almal se maatskaplike vooruitgang is. Veral moet hulle tot die besef gebring word dat moedertaalgebaseerde tweetalige onderwys (wat, terloops, enkelmediumskole as een van ’n reeks opsies insluit) die beste manier is om hul kinders Engels sowel as ’n deeglike kennis van die moedertaal by te bring.
  1. Die nodige leermateriaal moet geproduseer word. Dit is een aspek van die ekonomiese voordele van moedertaalonderrig en van die waardetoevoeging wat die fokus op die inheemse tale sal meebring.
  1. Allerbelangrik is die deeglike professionele opleiding van die leerkragte. Die moedertaalprojek sal slaag of faal na gelang ons ons onderwysers en onderwyseresse kan besiel en bemagtig. Hier sal veral die politieke leierskap se visie en konsekwente toegewydheid deurslaggewend wees. Omdat Afrikaans hierdie pad, met al sy politieke en ideologiese dubbeltjies wat hom voor 1994 vir baie van ons tot ’n via dolorosa gemaak het, alreeds geloop het, het ervare taalkundiges en onderwysopleidingsmense in Afrikaanse geledere ’n groot rol te speel. Ons sal moet hand bysit en help waar dit ook al nodig is en die alliansie tussen Afrikaans en ander Afrikatale met mening versterk – nie teen Engels nie, maar wel teen die ontmagtigende gevolge van die hegemonie van Engels

Ten slotte, in die klimaat wat geskep word in hierdie Jaar van Afrikatale, wat ook te Khartoem uitgeroep is, kan ons met rasse skrede vooruitgang maak. Ek meen dis ’n uitdaging vir ons almal en wil daarvoor pleit dat ons hierdie veldtog so benader dat dit nie in ’n absurde etniese oorlog ontaard nie. Ons projek is jeens die groter Suid-Afrikaanse samelewing nie-antagonisties van aard; die Grondwet gun ons die ruimte om langs wetlike paaie as belangegroep vir die regte en die handhawing van Afrikaans ons hulpbronne saam te bring en, net soos dit ander taalgemeenskappe vrystaan, daarvoor te mobiliseer. As ons gaan toelaat dat hierdie projek ’n partypolitieke projek word, kan ons sommer nou maar ophou. Dit sal net ’n vermorsing van tyd en energie wees. Ons lewe in ’n veeltalige en multikulturele land, ons en ons kinders móét saam hier leef, en ons hoef glad nie in vyandskap hier te leef nie. Taal is uiteraard polities, maar dit hoef ons in postapartheid-Suid-Afrika op hierdie stadium van ons wording tot ’n nuwe historiese gemeenskap nie in partypolitieke hokke te verdeel nie.

Kaapstad, 1 September 2006

 

Referaat gelewer op die Taalberaad: 'n Volhoubare plek vir Afrikaans in die tersiêre onderwys, Stellenbosch, 1 en 2 September 2006. Aangebied as 'n gesamentlike aksie van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.



LitNet: 6 September 2006

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SÍNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.