Taaldebat - Language debateArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Oor bemagtiging, taal en die Afrikaans-debat in die Coca-Cola-demokrasie

Jaco Alant*

By die amptelike viering van Nelson Mandela se 85ste verjaarsdag op 19 Julie 2003, regstreeks uitgesaai op SABC3 vanaf die Sandton Konvensiesentrum, is nie ’n enkele woord in Afrikaans gesing nie. Daar is swierig konsert gehou saam met kunstenaars soos Sibongile Khumalo, PJ Powers, Ladysmith Black Mambazo, Vicky Samson, Johnny Clegg en Yvonne Chaka-Chaka, maar niemand het in Afrikaans gesing nie. Geen Johannes Kerkorrel of selfs ’n Koos Kombuis nie. Weliswaar is daar dié aand hulde gebring aan Mandela in die klanke van die reënboognasie (of was dit dalk die SAMA-toekennings?), maar dit was ’n reënboognasie minus Afrikaans.

Destyds, met die aanbreek van die nuwe orde, was Afrikaanssprekendes – meesal onder die vaandel Afrikaner – telkens hoogs onthuts wanneer hulle nie meer hulle taal op openbare plekke gehoor of gesien het nie: dreigemente om nie televisielisensies te hernuwe nie toe die SABC (nie meer die SAUK nie) Afrikaans afskaal tot maar net ’n gedeelte van SABC2, kwaai briewe oor die verdwyning van Afrikaans op SAB-bierkannetjies en in die kajuite van die nuwe, volkome eentalige South African Airways, om maar net ’n paar gevalle te noem. Gedagtig aan al daardie “debatte” het ek my reggemaak vir minstens ’n bietjie verontwaardiging in Afrikaanse geledere oor Afrikaans so klaarblyklik eenkant toe geskuif is by die Vader van die Nasie se grootste verjaarsdag. Maar ek het die tekens verkeerd gelees. Niemand het oënskynlik omgegee nie.

Het die “debat oor Afrikaans” dan teen 2003 begin om van sy fut te verloor? Nie soseer nie, dink ek, maar die terme van die debat – die raamwerk waarbinne die debat plaasvind en waarna hy verwys – was nie meer dieselfde as in die jare 90 nie. Dinge was aan die verander. Tot kort vantevore kon Afrikaanstaliges nog hoogs ontstoke wees oor hoe hulle, via die (vermeende) verdringing van hulle taal, kwansuis “slagoffers van diskriminasie” was binne die nuwe demokratiese orde. Dan het hulle nie net briewe geskryf en vertoë gerig nie, maar selfs komitees en aksiegroepe op die been gebring (dink byvoorbeeld aan die Groep van 63, Dan Roodt se Pro-Afrikaanse Aksiegroep, en so meer, elkeen met sy eie webblad en plan van aksie). Kortom, die taaldebat het hoog opgegee oor ideologie – demokratiese ideologie – en die Grondwet (veral die klousule oor die gelyke beregtiging van die 11 nasionale tale) is by herhaling opgediep. Maar, soos ek reeds gesê het, dinge het begin verander. Teen die tyd dat ons geliefde oudstaatspresident sy 85ste somer gevier het, het dit al hoe minder begin gaan oor ideologie; nee, eerder oor geld.

En hierdie beginsel - ideologie wat geleidelik plek maak vir kwessies van rand en sent - is juis mildelik onderstreep by die genoemde makietie. Goed, mens aanvaar dat Mandela ’n internasionale staatsman is, en dat dit gepas is vir internasionale staatsmanne om vereer te word in glinsterende konvensiesale met gaste soos Bill en Hillary Clinton en Oprah Winfrey. Maar dat dit alles geborg moet wees deur Coca-Cola? En ook nie ’n nederige borgskap nie - nee, dié een het die middel van die verhoog én die televisieskerm oorheers met ’n massiewe banier, enige tyd so groot soos dié by jou plaaslike take-away - en van waaragter die sprekers (eers die grootbaas van Coca-Cola Suid-Afrika, daarna die voormalige Amerikaanse president) hulle lofbetuigings gedoen het. Dit was kompleet, dié dag 19 Julie 2003, asof die Vader van die Nasie sélf - en dit wat hy verpersoonlik: vryheid, verdraagsaamheid, versoening – vir ons moontlik gemaak is deur die wêreld se grootste koeldrankmaatskappy. Ja-nee, demokrasie is beter met groot groot Coke.

Maar Afrikaanssprekendes wat besorgd was oor hulle en hulle taal - anders gestel: oor hoe hulle hulle in die openbaar in Afrikaans kon uitleef - het teen die begin van die nuwe eeu al hoe minder begin peiltrek op die waardes van demokrasie. Nee, kapitalisme was ’n veel beter bondgenoot; nou weliswaar nie kapitalisme van die grootste globaliserende orde nie (soos, sê nou maar, verteenwoordig deur Coca-Cola), maar kapitalisme nietemin. Kortom, mense het agtergekom dat jy in die nuwe Suid-Afrika sommer lekker geld kan maak uit Afrikaans, en in Afrikaans. Groot geld: Media24 (die nuutgemaakte Naspers) is verreweg die grootste korporatiewe borg van Afrikaanse taal en kultuur, en dit is vandag baie moeilik om ’n stuk Afrikaanse media, van watter aard oo kal - koerante, tydskrifte, televisiekanale, webblaaie, kunstefeeste soos die KKNK in Oudtshoorn of Aardklop in Potchefstroom - raak te loop wat nie êrens in die fynskrif verwys na die een of ander divisie of vertakking van dié konglomeraat nie. (Loslyf is ’n uitsondering.)

En laat ons dit maar erken: Afrikaans floreer nogal te midde van al dié geldmakery. Of laat ons eerder sê: die “mark” vir Afrikaans floreer. Dié opwelling is veral duidelik in die ongekende sukses van die reeds genoemde Afrikaanse kultuurfeeste, ’n verskynsel wat eintlik glad nie bestaan het in die “ou” Suid-Afrika nie. (Die KKNK sou byvoorbeeld teen die draai van die eeu reeds groter wees, in omset en getal besoekers, as die veel ouer en hoog aangeskrewe Grahamstown Festival.) Nog ’n illustrasie van die sukses van die Afrikaanse mark lê in die betreklik onlangse verskynsel van ’n Afrikaanse popkultuur, kompleet met eie sterre en celebrities: die sepies Egoli (M-Net) en 7de Laan (SABC2) en ’n swetterjoel nuwe sangers en bands, tientalle meer as in die verlede en wat almal CD’s maak (en skynbaar verkoop).

Net mooi hóé winsgewend dié mark is, is dan ook ’n paar weke gelede onderstreep in M-Net se verrassende besluit om die komende Idols-kompetisie (of minstens die top 100 gekeurde liedjies) slegs in Afrikaans te laat sing. Dié wending het nogal heelwat reaksie ontlok in die Suid-Afrikaanse provinsie met verreweg die kleinste persentasie Afrikaanssprekendes, KwaZulu-Natal. East Coast Radio, die Independent on Saturday en selfs die Durbanse stadsbestuurder het gekla – snaaks genoeg, nie oor die besluit om Idols te verafrikaans nie, maar oor die feit dat Durban nie meer ’n opnamesentrum sou wees vir die kompetisie nie. Die rede vir hierdie uitsluiting is nogal veelseggend: volgens kykNET se bestuurder, Theo Erasmus, was dit nie soseer te wyte aan Durban se relatief klein Afrikaanstalige gemeenskap nie, maar eerder sy relatief min Afrikaanse DSTv-intekenaars! Durban, so blyk dit, het nie genoeg Afrikaanse skottels nie.

Miskien sou bogenoemde ontwikkelings, veral op die gebied van die populêre kultuur, ons daartoe kon bring om te sê dat dit hier, 12 jaar binne-in die nuwe Suid-Afrika, tóg betreklik goed gaan met Afrikaans. Indien wel, is dit soberend om toe te gee dat hierdie “groei” in Afrikaans streng gesproke maar min uit te make het met ons demokratiese Grondwet se klousules oor taal- en kultuurregte. Geen parlementêre beleidstuk of statutêre komitee, soos PanSAT, het rêrig ’n rol gespeel daarin nie. Afrikaanssprekendes het hulleself “kultureel bemagtig” (om ’n tipiese eselwoord van die demokrasie aan te haal) deur vir hulleself ’n eie ekonomiese mishoop te organiseer. Dankie M-Net, dankie Rapport, dankie Sanlam, dankie ABSA. En daar sit hulle op hulle mishoop, tussen al die ander Suid-Afrikaners en al die ander Suid-Afrikaanse tale, maar nie saam met hulle nie (net soos hulle ook nie deel was van die Volksvader se 85ste partytjie nie).

Hiermee wil ek geensins te kenne gee dat die huidige tekens van groei in Afrikaans nét gaan oor geld nie. Die geld is sekerlik handig, maar die geld sal nie sy werk doen as hy nie êrens ’n raakpunt het met sentiment nie. Die adverteerders is immers nie dom nie: “Ons praat jou taal,” lui die slagspreuk van ’n bekende Afrikaanse koerant; “Ons sing jou taal,” lees mens op ’n onlangs vrygestelde lekkersing CD wat ook op televisie geadverteer is. “Ek kan rock in my taal,” sing die gevierde sangeres Amanda Strydom. Jou taal. My taal. Sou dié saamvoeg van besitlike voornaamwoord en taal dieselfde emosionele belading hê ook in die ander Suid-Afrikaanse tale?

Laat ek op hierdie punt terugkeer na die “debat oor Afrikaans”, ’n debat wat deurgaans gevoer word in rubrieke en briewerubrieke in koerante en tydskrifte, nou en dan op die radio (RSG) en televisie (by uitstek kykNET) en, veral, op die internet. LitNet, verreweg die grootste webwerf vir gedagtewisseling in Afrikaans (alhoewel hy ook ander tale insluit), verwys botweg na dié debat as die “taaldebat”. Is daar êrens in Suid-Afrika ’n “taaldebat” wat nié ’n debat oor Afrikaans – grootliks gevoer deur Afrikaanssprekendes – is nie?

In 2002, in ’n stuk met ’n soortgelyke tema as die huidige, het ek die debat oor Afrikaans ontleed aan die hand van ’n “afwysende” (dismissive) en ’n “betrokke” (engaged) indeling. Kortliks kom dit daarop neer dat die afwysendes, met destyds voor aan hulle intellektuele spits mense soos Wimpie de Klerk (broer van die voormalige staatspresident), die joernalis Max du Preez, en (in ’n ietwat mindere mate) Frederik van Zyl Slabbert, die debat oor Afrikaans sien as polities onsensitief in ’n nuwe Suid-Afrika waarin eenheid en nasiebou aan die orde van die dag is. Die aandrang op “taalregte vir Afrikaans” gaan nooit, soos Van Zyl Slabbert tereg opmerk, suiwer “maar net oor taal” nie – daar is altyd politieke implikasies by. En hierdie aandrang is nou maar eenmaal te nou gekoppel aan ’n Afrikaner-nasionalisme – klaarblyklik onherroeplik, binne die konteks van die nuwe Suid-Afrika, beklad deur sy assosiasie met apartheid – om polities regverdigbaar te wees.

In teenstelling met die afwysendes neem die taaldebat-betrokkenes ’n meer kritiese - in sekere gevalle selfs uitdagende - houding teenoor die nuwe bestel in. Die luidrugtigste nuwe taalstryder, Dan Roodt, is min of meer van die begin af van regse politiek beskuldig (veral vanuit afwysende geledere), en is vandag grotendeels as regs gebrandmerk. In 2005 het die “progressiewe” Max du Preex byvoorbeeld geweier om die verhoog met Roodt te deel by die jaarlikse Stellenbosse Woordfees, ’n insident wat op sigself tot groot debatvoering - oor “vryheid van spraak” en “haatspraak” - aanleiding gegee het).

Dit sou egter verkeerd wees om die betrokke vleuel van die taaldebat sonder meer af te maak as regse nostalgie. (Die sogenaamde Groep van 63 kon byvoorbeeld, ten minste aan die begin, op die steun van heelwat “verligte” - selfs “linkse” - akademici en skrywers reken, onder wie leidende anti-apartheidsfigure soos Breyten Breytenbach). Die betrokke debat is ’n komplekse debat wat heelwat plek afstaan, midde-in sy sentrale tematiek van taal en taalregte, aan die herdefiniëring van Afrikaner-/Afrikaanse politieke en kulturele identiteit. Ek wil hier maar net ’n enkele aspek van die betrokke debat uitlig wat hom op ’n manier onderlê en wat inderdaad teruggevoer kan word na die “storm en drang”-oorgangsjare van die 80’s en vroeë 90’s.

Maar net dit: ons moenie die entoesiasme onderskat waarmee daar vanuit Afrikaanse geledere - en veral dan ook vanuit die geledere van die Afrikaner-establishment - uitgesien is na ’n ware veeltalige Suid-Afrika nie. In ’n voordrag gelewer in 1992 met die titel “Die toekoms van Afrikaans in ’n demokratiese Suid-Afrika” verwoord Neville Alexander hierdie sentiment soos volg: “Die toekoms van Afrikaans is nie te betwyfel nie. Afrikaans is deel van die vryheidstryd en is ’n taal wat, net soos isiXhosa of isiZulu of seTswana of xiVenda, naas Engels, alreeds ’n grootse rol in die bou van die nuwe Suid-Afrikaanse / Azaniese nasie gespeel het en sal aanhou om dit te doen.”

Afrikaans ... net soos isiXhosa of isiZulu of seTswana of xiVenda ... Afrikaans as taal van Afrika saam met ander Afrika tale. Kon daar, aan die vooraand van 1994, vanuit taal-, identititeits- (en dus politieke) perspektief, ’n beter vooruitsig vir Afrikaanssprekendes in die nuwe Suid-Afrika gewees het? Maar dinge het nie so uitgewerk nie.

Ek wil nie veel meer sê oor die taaldebat as sodanig nie. Soos ek reeds aan die begin te kenne gegee het, het die debat – sekerlik as openbare, populêre debat - gaandeweg van sy idealisme (min of meer voortspruitend uit die Grondwet) verloor. Vandag vind dit plaas in ’n meer sobere, “pragmatiese” raamwerk waarin dit plek-plek wegraak in die koue werklikheid van die mark-ekonomie: miskien is kykNet se Afrikaanse Idols ’n belangrike toekomstige tema? Die gestoei met identiteitskwessies (“Afrikaner” teenoor “Afrikaans” en “Afrikaanssprekend”; “volk” teenoor “gemeenskap” …) duur wel voort, alhoewel  op ’n meer verintellektualiseerde, akademiese vlak – en betrek darem gaandeweg ’n groter deelname (afwysend sowel as betrokke) vanuit die geledere van swart (bruin) Afrikaanssprekendes, ’n deelname wat in ’n mate saamval met die stadig-groeiende prominensie van swart Afrikaanse skrywers.

Nie dat die debat tussen betrokkenes en afwysendes van sy venyn verloor het nie. Inteendeel. Nêrens was daar in die afgelope tyd ’n kwaaier debat as in die sogenaamde “Stellenbosch-debat” nie. Vir ’n groot gedeelte van 2004 en 2005 was die “Taaldebat” op LitNet amper sinoniem met dié debat: Moet Engels op voorgraadse vlak as parallelle medium, langs Afrikaans, in die klaskamers van die Universiteit van Stellenbosch gebruik word? Die historikus Hermann Giliomee en die filosoof Johann Rossouw, ondersteun deur van die vernaamste Afrikaanse skrywers (in die vorm van ’n kollektiewe “ope brief”), het onder andere die leiding geneem téén die voorgestelde parallelmedium beleid. Op die duur, so is daar geargumenteer, sou Afrikaans – spesifiek sy “hoë vlak” wetenskaplike en akademiese funksie – eenvoudig verdring word deur die invoer van die globaliserende wêreldtaal.

Uiteindelik word die rektor van die Universiteit van Stellenbosch, Chris Brink, self die leidende woordvoerder van die afwysende kamp wanneer hy ’n boek aan die debat wy waarin hy die “nuwe Afrikaner”-kritici van die parallelmedium-beleid daarvan beskuldig dat hulle die universiteit in ’n etniese “enklawe” wil verander – nes apartheid sou gemaak het.

Johann Rossouw, wat dié sogenaamde “nuwe Afrikaners” se projek juis as anti-nasionalisties (dit wil sê links) opeis, reageer skerp: “Precisely because Brink accepts the status quo in South Africa today so uncritically he is completely unable to see that his ’neo-Afrikaner’ critics are not harking back to the past, but debating another possible future.” Hy vereenselwig hom met hierdie projek om “sowel die definisie van die eie gemeenskap as van die buitewêreld uit [te] daag en met ander inhoude [te] vul”.

Dit is nie hier die plek om uitsluitsel te gee oor die taalbeleid van ’n spesifieke instelling nie. Die waarde van die Stellenbosch-debat lê maar net daarin dat dit die soeklig pertinent laat val op juis dié vlak waar Afrikaans in die nuwe Suid-Afrika onder geweldige druk gekom het – en waar die groot-geld-kapitalisme van ’n Media24 nie eintlik ’n verskil kan maak nie: Afrikaans as onderrigtaal, as akademiese taal, as wetenskaplike taal. Kort vantevore het Afrikaans op dieselfde manier onder die soeklig gekom op skoolvlak, toe daar (onder andere) wyd in die pers berig is oor die weiering van ’n Afrikaansmedium-laerskool in Kuilsrivier (Kaapstad) om 21 “Engelssprekende” leerders in die skool te akkommodeer - dit wil sê in Engels. Na ’n uitgerekte hofgeding, aanhangig gemaak deur die Wes-Kaap-regering, word die Laerskool Mikro toegelaat om (voorlopig?) ’n enkelmedium Afrikaanse skool te bly (een van die ongeveer 300 wat daar nog landwyd oor is - vergeleke met die 1 800 van net meer as ’n dekade gelede). Ondertussen mor dit aan regeringskant dat skoolrade, wat regtens verantwoordelik is vir ’n individuele skool se taalbeleid, moontlik “te veel mag” het.
 
Twee van Afrika se vernaamste sosiolinguistiese kommentators, Ali en Alamin Mazrui, maak die stelling dat oproepe deur Afrikane vir die groter erkenning van Afrika se inheemse tale in werklikheid gaan oor “defending racial dignity rather than linguistic purity or linguistic autonomy. Language becomes just another aspect of the defence of race …” Twaalf jaar midde-in die nuwe Suid-Afrika is daar geen rede om te dink dat hierdie stelling nie óók sterk betrekking op Suid-Afrika het nie. Gaan die Grondwet se klousule oor die gelykberegtiging van die 11 nasionale tale régtig oor táál? Feitlik alle kommentators is dit eens dat die regering die bevordering van Suid-Afrika se inheemse Nguni- en Sotho-tale tot dusver glad nie as ’n prioriteit beskou het nie. (Terselfdertyd het die regering, binne die raamwerk van konsepte soos equity en transformation, in dieselfde tydperk geensins weggeskram van die deurvoer van hoogs kontroversiële – selfs aanstootlike - wetgewing van ’n rasse-aard nie.)

Dit is insiggewend, wanneer daar vanuit regeringsgeledere lippediens bewys word aan die noodsaak om Suid-Afrika se Nguni- en Sotho-tale op te hef, hoe konsekwent die bevordering van dié tale in verband gebring word met die waardes van ’n “ware” African (soms black) identiteit.

Maar ek wil hier, ter afsluiting, die beginsel van veeltalige ontwikkeling in Suid-Afrika onder die loep neem, juis nie vanuit die oogpunt van identiteit nie, maar aan die hand van die demokraties-geliefde begrip van bemagtiging (empowerment). Ek definieer dié begrip as die vermoë om te ontwikkel tot selfstandige individuele deelname in ’n “moderne” staatkundige en ekonomiese opset - en wat dus in ’n groot mate te doen het met die “hoë” opvoedkundige funksies van ’n taal. My vertrekpunt is dié van Afrikaans. Ek stip my gedagtes puntsgewys aan.

  • Afrikaans bevind hom in ’n hoogs teenstrydige situasie. Aan die een kant sou mens kon redeneer dat indien die grondwetlike beginsel van veeltaligheid aan die hand van inheemse taalontwikkeling inderdaad oor taal gegaan het, Afrikaans ’n daadwerklike nasionale bate sou gewees het: hy is immers die enigste inheemse Afrika taal suid van die Sahara met ’n volledig ontwikkelde literêre en wetenskaplike gebruiksfunksie. Die teendeel is egter waar. Deurdat die toeganklikheid van kennis en ontwikkeling, taalkundig gesproke, sonder uitsondering aan Engels gekoppel word (die inheemse tale is op hulle beste erfenis-tale, goed vir tradisie en identiteit, maar skynbaar nie vir vooruitgang nie), word Afrikaans gesien as ’n hindernis, nie ’n bate nie – vandaar die druk op Afrikaans in ons skole en universiteite.
  • Engels is ’n wonderlike taal om in bemagtig te word, maar hy is nie naastenby so toeganklik as wat in die media (veral televisie) en in magskringe voorgegee word nie. In die meeste stedelike gemeenskappe, sekerlik die meer gegoedes, is Engels inderdaad ’n “tweede” taal, dit wil sê ’n taal wat wyd genoeg in die gemeenskap voorkom vir mense om, in baie gevalle, net so goed in Engels bemagtig te kan word as in hulle huistaal. (Dit is dan juis hierdie opset wat die dikwels sigbare anglisering van die elite in die verskillende taalgroepe, waaronder ook die Afrikaanse taalgroep, onderlê.) Die meeste Suid-Afrikaners het egter weinig toegang tot Engels as ’n gemeenskapstaal. As ons bereid is om verder te kyk as die sogenaamde “eerste ekonomie”, moet ons erken dat Engels vir die meeste van Suid-Afrika se 45 miljoen inwoners nie ’n tweede taal is nie, maar ’n vreemde taal.
  • Afrikaanssprekendes, by uitstek diegene (ligvelliges) wat destyds aan die voorspeen van Afrikaner nasionalisme gesuig het, is die enigste Suid-Afrikaners – buiten die 8 persent moedertaalsprekers van Engels - wat die historiese ervaring gehad het, opgebou deur die loop van die 20ste eeu, om in eie taal bemagtig te word. Kortom, hulle weet wat dit beteken. Vanuit hierdie oogpunt gesien (eerder as, soos die neiging so dikwels is, om daarvan ’n identiteitsaak te maak), is dit geensins verrassend dat Afrikaanssprekendes ook in die nuwe Suid-Afrika in so baie opsigte die leiding neem met betrekking tot taalkwessies en taaldebatte nie. Daarteenoor is dit betekenisvol dat feitlik al die lede van die nuwe maghebbende klas in Engels – en dikwels ook oorsee – bemagtig is. Ongetwyfeld is dié nóg ’n rede waarom bemagtiging in eie taal, ten spyte van die Grondwet se bepalings, tot dusver so min aandag van die regering (en, inderdaad, die Nguni- en Sotho-elite) gekry het.
  • Laastens, in die afwesigheid van daadwerklike optrede vanuit staatsgeledere, kan die kapitaal van die privaatsektor sekerlik, soos in die geval van Afrikaans, ’n belangrike rol speel in die “groei” van ’n taal. (Helaas blyk dié soort kapitaal baie minder sigbaar te wees wat die Nguni- en Sotho-tale aanbetref: Waar is die Patrice Motsepes, Tokio Sexwales en Mzi Khumalo’s?) Die inisiatief van geldmaak is weliswaar beter as géén inisiatief nie, maar kan nooit almal betrek nie. Sover dit Afrikaans aangaan, dui alles daarop dat diegene wat die grootste voordeel trek uit die verskillende privaatsektor-inisiatiewe in en vir Afrikaans, maar grotendeels dieselfde mense is wat destyds bevoordeel is onder die apartheidsbestel - minder as die helfte van ’n Afrikaanssprekende bevolking van net onder 6 miljoen. Kortom: as ons ons taalregte deur geld gaan beskerm eerder as deur die instrumente van ons demokrasie, gaan ons ’n nog erger verdeelde nasie word. Dit sal ’n aanklag teen ons demokrasie wees indien Suid-Afrikaners bemagtiging - en veral bemagtiging deur middel van hulle eie tale - moet koop. Wanneer ek Afrikaans praat en skryf en hoor en lees, wil ek dit doen as ’n burger van Suid-Afrika wat die vryheid het om in sy eie taal te leef, nie maar net as ’n verbruiker van ’n bemarkbare kommoditeit nie.

Aantekening

1. Alant, J.W. 2002. “Bemused / Betrayed / Brazen: An overview of aspects of the current debate about Afrikaans”. Per linguam,18(1):1-14.

*Jaco Alant is ’n dosent in die Departement van Taal en Vertaling aan die Durban University of Technology..


LitNet: 25 Julie 2006

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SÍNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.