Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
isiXhosa
isiZulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Kos en Wyn /
Food and Wine
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Huldeblyke /
Tributes
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Oor Ricki Lake, Paris Hilton, JD Salinger, vryheid (and all)

Clinton Du Plessis

Ek skryf vandag so 'n bietjie bont, maar daar loop tog iewers hier 'n draad deur alles.

So 'n week gelede, of is dit nou twee, is ek met Paris Hilton bed toe! Meer daaroor later.

Dis 'n kleinnefie van nege jaar wat my vertel van haar. Nee, nie van Hilton nie … van Ricki Lake. Hy sê dat die bisarre storie van sy ouer broer en dié se eks eintlik hoort op Lake se program. Die sage het nie so ver gekom nie, maar wel Die Son se kollig gehaal (tot groot vermaak van die kleinnefie.)

Maar ek kyk oor die algemeen nie na kak nie - veral nie as daar iets beter is om te doen nie - gevolglik weet ek nie te veel van Lake nie. Ten minste nie tot vandag toe nie … 27 April 2005.

Ek systap tussen vier kanale (ja, ek is nog nie middelklas genoeg om te kan skottel kyk nie, dus is ek ook Springer gespaar) en beland heel per ongeluk in Ricki Lake se rioolput.

So twee minute in die program in besef ek … fokkit, maar sommige Amerikaners is darem ook maar plein kommen. Sonder om die hele storie oor te vertel - ek het net so halfpad gekyk en toe vars lug op die plein gaan soek - maar die tema vir Lake se program is 'n tipies Amerikaanse kooi-klets-neologisme: mercy sex, of in goeie Triomf-Afrikaans vertaal: simpatiestoot.

Die een dame (of miskien is die rap-jargon "bitch" hier meer gepas) probeer om iemand in die hande te kry om 'n vriendin wat maande laas seks gehad het, geholpe te kry, by wyse van spreke. Haar vrees dat die vriendin moontlik ook 'n ogie op haar het (dié verwys glo gedurig na haar "sexy butt" as sy in haar onderklere voor haar paradeer), word bewaarheid as die "verstotene" (met die mooi persoonlikheid) ook op stel verskyn en beken dat sy so loops is dat sy die steekwoordelike (in dié geval) Tom, Dick of Harry sal laat binnekom, of self die vriendin, indien enige van hulle haar uit simpatie sou wou … hoe sal ek dit nou stel? … stoot.

Nie dat dit my skok of dat ek neofobies is nie. Ek het so deur Catherine Millet se jagsjoernaal The Sexual Life of Catherine M geblaai (het Brink dit nie iewers gepas haar naaikatalogus genoem nie?), 'n rukkie pagina 44 gelees, en verder geblaai - en net soos Lake verveel sy my tot die dood toe.

Te veel, te veel.

Maar terug by die bedstorie van Paris Hilton …

Ek koop ook nie gewoonlik FHM nie, maar hulle het my, en sekerlik menige ander meer gereelde lesers (of kykers - kan mens so 'n tydskrif lees?), 'n lae hou gegee met die voorblad van die Mei 2005-uitgawe:

42 (in groot rooi) page babe bonanza (in wit)
Paris Hilton! (groot in swart)

Die tydskrif bedoel natuurlik (sien ek eers nadat ek gekoop het) dat daar 42 bladsye lyf is en dat Hilton maar net 11 daarvan verruklik vol vul. En mooi is Hilton gewis, veral in pienk, veral met bietjie baie min aan. Dis haar foto op bladsy 103 (wat terloops met meer been in 'n Afrikaanse Sondagkoerant verskyn het) wat my laat dink het aan die karakter in JD Salinger se The Catcher in the Rye. Op bladsy 111 wag hy op sy afspraak met ene Sally :

I was way early when I got there, so I just sat down on one of those leather couches right near the clock in the lobby and watched the girls. A lot of schools were home for vacation already, and there were about a million girls sitting and standing around waiting for their dates to show up. Girls with their legs crossed, girls with their legs not crossed, girls with terrific legs, girls with lousy legs. Girls that look like swell girls, girls that looked like they'd be bitches if you knew them. It was really nice, sightseeing, if you know what I mean.

Ek dink ek kan, net soos Cloete destyds vir Monroe oor haar foto in blou, ook vir Hilton 'n gedig skryf oor daai pose in pienk op bladsy 103. Die bekoring van die foto lê juis in wat Hilton nie wys nie - sy kyk ook nie in die oog van die kamera nie. Min is, weer hier, baie.

O ja, ek wou ook nog iets skryf oor vryheid.

Ek het vandag nie na enige politieke poeppraatjies geluister nie. Tien jaar in die paradys in en daar woel al meer slange in die gras. Ras begin weer die maatstaf word - ek sweer een van die dae sal Blekes (as hulle weier om hul ras op sekere dokumente te vermeld) aan die potloodtoets onderwerp word. Is dit waaroor alles maar gegaan het? So fok ons voort.

Dus het ek liewer my finansies op die rekenaar uitgewerk en tot die verbasende slotsom gekom dat as ek op my trant van finansiële dissipline voortbou, ek my huisverband teen einde Augustus ten volle opbetaal sal hê, vyftien jaar voordat die termyn verstryk, en dat ek 'n wavrag se rente sal bespaar. Dít, vir my, is vryheid - 'n lewe sonder skuld en rente!

Intussen hoop ek dat die kleinnefie van nege eendag van meer sal weet as net Lake en geblikte "Oh my God"-verbasing, dat hy ook by lees en miskien by Salinger sal uitkom, en op 'n manier self sal kan uitwerk wat dit beteken om vry te wees.

Miskien kan ek begin deur hom 'n volgende keer na die gestorwe troebadoer te laat luister - sy boodskap was so eenvoudig en maklik om na te volg: Sit dit af … sit dit af.



LitNet: 06 Mei 2005

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.