Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
isiXhosa
isiZulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Kos en Wyn /
Food and Wine
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Huldeblyke /
Tributes
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

McMammon en die Mall

Clinton V du Plessis

At the end of every hard-earned day, people find a reason to believe
                                                              — Bruce Springsteen


Die kelners by die Wimpy in Sandton City ken al my plek — die tweestoel-tafel, heel in die hoek, teen die reling.

Hier ontvlug ek uit die — soms beklemmende — agt en tagtig vierkante meter woonstelbestaan en verwyl die brokkies oorskiettyd wat my so nou en dan beskore is deur koppie na koppie koffie te drink en na die mense te kyk.

Om diere dop te hou gaan jy na ’n dieretuin. Wil jy egter die moderne mens in sy nuwe grot aanskou, bring jy ’n besoek aan die Global Church of Capitalism and Consumerism — die Shopping Mall.

Ek is bykans twee jaar in hierdie stad en met reëlmaat sien ek hoe elke stukkie oop ruimte omgedolwe word deur stootskrapers. Hierdie land word versnipper in erwe, verdeel en weer onderverdeel, want almal soek ’n rojale rendement op die belegging. Op een van Billy Joel se liedjies sing hy juis oor dié fenomeen:

I’ve seen those big machines come rolling through the quiet pines
Blue suits and bankers with their Volvos and their valentines
Give us this day our daily discount outlet merchandise
Raise up a multiplex and we will make a sacrifice
Now we’re gonna get the big business
Now we’re gonna get the real thing
Everybody’s all excited about it

Who remembers when it all began
Out here in no man’s land
Before they passed the master plan
Out here in no man’s land
Low supply and high demand
Here in no man’s land

(Uit: “No Man’s land” op die album
River of dreams, Colombia Records,
1993.)


En, vir ’n wyle, ontsnap die siele van suburbia en die wanhopige woonstellers, van agter hul elektriese heinings, alarms en bemande ingange, om te kom knie buig en met kredietkaart, tjek en kontant die offerandes aan McMammon te bring.

Tien minute voordat die supermark op ’n Sondagoggend open, staan hulle alreeds en wag. Op polshorlosies word die sekondes afgetel; soos honde op hitte staan en trippel hulle teen die glasdeure, kinders hang verveeld aan broeksakke. Dan kry die sekuriteitswag die teken en die deure open. En soos lammers ter slagting storm almal na binne, gryp mandjie of trollie en word een groot gemeente wat saamkoor:

I consume, therefore I am.

En vanuit my knus koffiehoekie sien ek Homo Sapiens in sy/haar ryke verskeidenheid — knokkeleelte en al …

Modelmooi meisies in gilgeel en poefterpienk skimpy tops; ander met of sonder angstige akneemerke, selfoonspuls en luidrugtig; mollige tieners in mikromini’s, vals wimpers, prikkelende parmantige pramme en marshmallow-sagte wange; geskeide mans met die kinders op ’n uitnaweek; nog mans in kortbroeke met sewe maande swanger boepe, die haai-kyk-na-my-gymspiere en bultende biceps in sweetpakbroeke met buikbeursies, of bles met jeans, kruisbande en bande; vaders met wanneer-kom-ons-tog-hier-uit-gesigte; ’n out-of-place blonde man (op soek na werk?) in ’n swart pak met ’n snit tien of meer jaar uit die mode (as hy verder wegstap, sien ek sy skoensole is erg afgeloop); ’n vrou, oordrewe selfbewus, minus haar linkerarm; ma’s en kinders met goedkoop Steers-roomys en Ster Kinekor se popcorn, babas op die heup of in ’n stootwaentjie; gedisoriënteerde kleuters, met heliumgevulde ballonne, wat vasklou aan rokspante; dames wat onderskeidelik goed, baie goed en fantasties fit in ’n kleefbroek; aan die anderkant dié wat liewer nooit moet langbroek dra nie, knopperig en breed bedeeld; Chinese met gekleurde spiky rooi en blonde kapsels; Afrikane in helder, geblomde tweestukke en hoofbedekking; toeriste en vreemde aksente, ook Afrikaans; nog meer mense met selfone, aan die praat en beduie, ingedagte kop onderstebo aan die sms; paartjies — verlief, verwyfd of gemeng; seuns wat fashion statements maak met oorbelle, Billabong, ringe deur die neus, oogbank, lippe, tong, met gebottelde water en oorfone; ’n man kortasem met ’n slaansak oor die skouer; links van my voltrek ’n eiendomsagent ’n transaksie; ’n ou omie kruip kierie-kierie-versigtig sy laaste dae van moeite en verdriet deur; ander meisies weer dra te veel make-up, hul gesigte ouer as hul lywe, oë onnatuurlik leeg; voorstedelike vroue met ontroue mans; jonger kinders met kitskos-kilo’s op die heupe, wange en middels; mans met blinkgeskeerde koppe, goue kruishangertjies en Ray bans; die korporatiewe konings; die makers en die brekers; die sepie-queens; ex-Idol hopefuls; ’n ou vrou met — neem ek aan — haar man wat gerystoel deur ’n dun pypie suurstof die lewe halsstarrig bly inslurp, wat ’n pad probeer baan deur die Gucci- en Kentucky Fried Chicken-inkopiesakke; nog ’n paartjie halt teen die muur, die meisie sak op die grond neer en haar liggaam begin ruk, die man bly ongemaklik kalm, hou haar hand vas, praat met haar, die rukbewegings word al hewiger, ’n assistent kom uit die apteek en bied hulp aan, maar die man wys beleefd dat alles onder beheer is, help die meisie uiteindelik op en sy kyk skaam om haar rond, almal wat gestaar het, kyk vinnig anderpad, hulle verdwyn uit sig en die res keer terug na wat hulle voorheen gedoen het.

Die lewe fast forward hier by my verby.

Soms sien ek dieselfde mense: die camp haarkapper — wat ’n keer rok gedra het werk toe, die Indiërsakeman in die rystoel, met die hotelportier was hom rondstoot. Die ander haas voort — stroef en stuurs, niemand hier glimlag nie.

Gister, in die spitsverkeer woonstel toe, moes ek hard konsentreer om koers te hou. Die taxi’s en motors versnel en verwissel roekeloos van baan. In my truspieël storm ’n grys gevaarte tot kort op my gat voordat hy rem, swaai eers windgat links verby en kort voor die rooi verkeerslig weer arrogant voor my in. Een van Billy Joel se blue suits met sy duur Duitse sedan? Sy persoonlike nommerplate verklaar sy optrede: Stressed GP.

En skielik voel die twee weke wat nog moet verloop voordat die kantore vir die Kersreses sluit, net-net te ver weg.

By die kompleks vertrou die sekuriteitswag nie die beeld op sy geslotebaan-televisiestel nie en loer eers by sy venster uit voordat hy my toelaat om na binne te gaan.

Ek klim traag die trappe uit wat lei na my grot op die tweede verdieping. Die woonstel is donker en as ek die deur agter my sluit, voel ek soos hierdie hele stad.

Vermoeid en afgemat.

Miskien is dit tyd om weer vir ’n slag uit te kom.

Mall toe … en weer vang Joel ons dilemma in hierdie hoerwoud so gepas vas:

So you play your albums and you smoke your pot
And you meet your girlfriend in the parking lot
Oh, but still you’re aching for the things you have not got.

(Uit “Captain Jack” op die album Piano Man, Columbia Records, 1973.)

9 Desember 2003

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.