Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Hemelbrood in die feesgety

Sonia Cabano

Dis amper te veel om te verduur. Maar ons moet, en ons kan. Dit gaan kop toe, en dit gaan lyf toe. O, alla! Desember. Vakansiemaand.

Die eerste week van Desember breek aan met al die subtiliteit van ’n allesverterende vuurbal wat uit die hemel neerval en oor die hele Kaapse stadskom oopspat. Smôrens vroeg al verwelk die fuchsias en krismisrose in my tuin, en pleks van blomkoppies met Earl Grey-tee is daar ’n groot glas yswater, volgeprop met vars mentblare en deurskynende skyfies lemmetjie, op my stoeptafel.

Ek moet nou die maand se koskuiery beplan. Ek tel die dae af tot by die groot voël, en werk dan agteruit: Soveel dae vir uiteet, soveel dae vir braai, soveel dae vir vis, soveel dae vir vas ... hmmm.

My inkopielys groei ’n krullende lang stert. Hygend, dink ek, hier gaan gewerk word! Dis al weer daai reputasie waarmee ek moet stoei hierdie somer. Intussen borrel die kwik hoër en hoër asof dit in ’n warm bad gedoop is. Teen elfuur knipper ’n mens se oë teen die skitterwit mure van die Kaap, en die luggie wat vroegaand opsteek, bring al die verligting van ’n oonddeur wat oopswaai in ’n reeds stomende kombuis.

Ek wil water word. Ek wil smelt in ’n koel ysbloue blok van ’n swembad in, en net opkom vir asem en stroopsoet skywe waatlemoen en spanspek. My tong soek sappigheid en groenigheid.

Ek wil eenvoud hê.

Ek weet dis tradisie, en niemand by sy of haar volle positiewe peuter dáármee nie, maar my lyf soek vanjaar ander dinge as kalkoen en warm kos. Ek het hoeka jare lank vir die uitlanders wat hier in die suide kom uitspan, somer in en somer uit tradisionele koloniale Kersetes voorgesit waarvoor ek Kersoggende vieruur moes opstaan om betyds twaalfuur klaar te kry. (Daai reputasie, sien, kon my soms op my knieë neerworstel.) En toe was daar drie lang somers met babas en myself vanjaar af. Vir lank ook. En aan tradisie steur ek my nie ’n bloue duit nie, verkondig ek aan almal wat wil hoor.

Nie vanjaar nie en nie in hierdie hitte nie. Selfs die goue gans waaraan ek so luidkeels verknog is vir my feestafel, kan laat staan word, dink ek, en die donker vrugtepoeding en die port en soetwyn sommer ook — alhoewel dit nou ’n bietjie seer begin maak — en ek sleep summier my nuutste speelding nader: ’n glansblink, blou braaibybel uit Australië.

’n Boek wat ’n mens laat kwyl met groot kleurfoto’s van pas gebraaide lekkernye so uitlokkend sappig en vars, dit lyk asof dit net gou onder iemand se neus weggeraap is en in ’n skadu onder ’n nabye boom neergeplak is vir die kiek. My oë verslind die prente. Garnale met olyfolie, rissie en knoffel, hoenderkebabs met koljanderpesto, tandoori-lam met naanbrood en mentskerp tzatziki, gestoomde krap, kreef, komyn, lemmetjie, klappermelk, jogurtmarinades ... alles wat leef en beef en draf en swem en vlieg, op die kole. Later kom ’n paradysvrag vrugte, papajas en lietsjies en bessies en turksvye en druiwe, roomys en sorbet en vuisgrootte haselneut-en-bruinsuikermeringues wat ontplof in suikerpoeier as jy daarin hap, vir nagereg  ...

Dis mos Krismiskos vir Afrika! In my geestesoog sien ek ons al, ’n bont klomp bruin liggame in sarongs en strooiplakkies, soos wapperende vlae om die swembad uitgeryg, kreefkloutjies en glase wasemkoue vonkelwyn in die hand. Somer!

Ensovoorts.

Dag een, week twee, daar plons die temperatuur so vinnig bodem toe, ons nael spaarkamerkaste toe en pluk letterlik truie oor swembroeke en sonseer lywe aan.

Die Kaapse weer en al sy giere  ...

Meteens lyk ’n blink, bros geroosterde gans as Kersmaal glad nie na so ’n onaanvaarbare opsie nie. As die wind dan waai soos hy nou daar waai, steek ons sommer die kaggelvuur ook aan.

Lang tafels en banke en die hele huis se stoele, styf teen mekaar. ’n Gestyfde damaslinne-tafeldoek, glimmende silwer- en piouterkandelare, donkerrooi gestoofde rooikool en karamelbruin gemmerappels, vetgebraaide aartappels met meelsagte wit hartjies wat wegsmelt teen jou verhemelte, ferweelsagte beestong met geelmosterdsous en vet uitgeswelde sultanatjies, hoenderpasteie onder spoggerige, pofferige, goudbruin skilferkorskrone, soetwyn en port, Kerspoeding met brandewynsous, bloukaas en neute en kos, kos, kos. Oordaad, met salige behae.

Vir ’n kok is Desember ongetwyfeld die kroonmaand van die kosjaar, maar straks ook straf. Gelukkig kan ons kies, hier in Afrika (so glo ons) in die jaar tweeduisend-en-drie, tussen wat pas en wat óns pas en as die bui ons beet het — en die weer saamspeel — die beste van alle wêrelde hê: nostalgie, boekvastheid en millennium-Mediterreense maaggemak.

Beplan om jouself te beloon, sou ek opper indien iemand vra, bly maar steeds die beste leuse. Bowenal is die maand gelaai met herinneringe wat jy in jou gedagtes met versigtigheid kan oopvou soos ’n droom-adventkalender. Ek gaan vroetel rond in daardie smaaksintuig-geheuekas, en onthou: my ma se gemmerkoekies, so klein soos outydse randmuntstukke, en blikke vol speserysoetkoekies gebak, weke al voor die groot uittog see toe. (Sy luister opera terwyl sy in haar kombuis rondwandel, sing soms luidkeels saam.) Die koekies is soet en gekrui met heimwee na plekke wat ek nie kan verstaan nie, maar instinktief herken.

Pieknieks langs die pad, op witgeverfde sementbankies en tafels onder bloekombome, met die heilige triumviraat van die Suid-Afrikaanse padkosfees: tamatie-en-kafeebrood-driehoekies in waspapier toegevou, hoenderboudjies en beesfrikkadelletjies wat smaak na neutmuskaat en peper. Bitter, donker, romerige melkkoffie uit ’n vakuumfles. Stof en gekneusde bloekomblare en die petrolwalms wat onder die kar uitwolk. Die pad ’n lang swart mamba vol kinkels en konkels. Comics en taai kinderhandjies wat klapperig raak agter op die rooi leersitplekke. Warm teer.

En oplaas, hoera, die soutlug van die see. Wie’t eerste gesien? Splinternuwe swembroeke wat deur bliksemwitbranders afgeslaan word sodat almal jou plattelandse skaamte kan herken.

Blou water, blou lug, seeverspoelde hare, druppende vanieljeroomys wat uit die horinkies smelt al langs jou voorarms af, sodat jy sand en sout en soet saam aflek tot by jou elmboë.

Slopskoen-surferseuns met koperbengels om hul dun, blond gebleikte benerige gewrigte wat geelryp mango’s om en om draai in die strandkafee se windverwaaide gangetjies.

Huis toe, leë vakansiehuurhuise, mossels en aarbeie, en sand in die bed, die huil omdat jy nie snags die toilet in vreemde gange kan kry nie en bang is jou plattelandse skaamte word weer deur almal raakgesien  ... Die frank smaak van swembadchloor en waatlemoenstroop op jou bolip, alles deurmekaar.

En as die wind draai net voor sononder, staan die hele lug vol seewier, ’n donkergroen balsemreuk, onweerstaanbaar soos die ondertrek van ’n uitgaande gety, ’n seeroep wat die hare op jou agternek en arms laat regop staan. Oesterlug.

En ’n mens word groot en jy trek see toe, die eindposdestinasie van jou drome, daar waar garnale en kreef ’n alledaagse maal sal wees (so glo ons) en die sublieme as vanselfsprekend aanvaar word, en jy vind nog dat jy hunker na die reuk van die eerste bomplofdruppels reën in die fyn, rooi stof, soos voor die groot Vrystaat somerdonderstorms kom. Jou hart, en jou lyf, trek jou terug in, Afrika toe.

Hoe proe vakansie daar?

Ma-wees, in die algemeen, en vakansietyd veral, bring verantwoordelikhede groter as net om jou kroos op die smalle weg van gesonde kos en goedgekeurde voedingswaardenorme te kan hou. Hier vind jy jouself, skuins duskant veertig, sinies en kultureel ontnugter, opeens aktief, begeester, besig om die fantasieë te help herskep wat jou kinders eendag as hul eie feestradisies aan die boesem sal vertroetel. (Mag daar net nie sneeu wees in hierdie prentjie nie, bid jy vervaard aan jou eie gode, waar hulle ook al syn.)

Só, verdiep in die mymerende siftingsproses om my eie verlede te begin ontgin vir gepaste, nostalgie-deurdrenkte erfskatte om aan die brose nuwelinge oor te dra as “Ons Familietradisie”, beland ek nekdiep in ’n ondertrekkende gety, kom ek onthuts tot die gevolgtrekking dat daar in my eie gesin-van-oorsprong geen tradisionele Kersgeregte bestaan nie. Ek is geskok.

Ek is tog ’n kok? Waar is my mooie ma, by wie ek leer kook en eet het, se eie Krismisresepte? Nie alleen dit nie, maar in my ganse lewe, besef ek nou, het ons De Waals nooit een keer ’n eie Kersboom gehad nie, nooit het my ma haar eie Kerskoek gebak of kalkoen gebraai nie, daar was geen enkele keer dat ons as gesin saam om ’n Kerstafel in ons eie huis gesit het nie. Met behae, en oordaad, soos dit hoort. Vir sowat vyftien minute voel ek erg benadeel, belemmerd selfs — dat my kindertydse assosiasie met die feesgety nou vir ewig en ewig moet tol rondom die priemende aroma van kerrielam en briyanihoender en die olierige bedomp van Sjinese wegneemkafees, van oopgespalkte garnale in knoffelbotter en die diep, gedempte doef van swaar silwer-hoteleetgerei, die flinkvoet tafeldans van sjarmante, gladbekkige Indiërkelners(wat selfs die rouste Vrystaat-dogtertjie soos ’n Bollywood-prinses kon laat voel) en Cinderella-of-wat-ook-al-die-jaar-on-Ice.

En die riksjas, o, die riksjas, wat so soomloos die ongesiene en nooit heeltemal geloofbare Vader Kersfees in my drome kom vervang het. (Waarom, dink ek nou, sou Vader Kersfees in elk geval in Afrika dan ook ooit ’n slee deur die hemel met takbokke wou ry, met ’n sweterige pelsomsoomde rooi pak aan, as hy eerder soos ’n riksja kon lyk, daai wulpse dronk en halfkaal boepmaag pierewaaier wat met horings en kraleskilde en tossels deur die vakansiestrate kon bulder?) En die Zoeloekrygerdansers, wat speel-speel hul oorlogpassies uitvoer voor skaresirkels stil, wit, nog niks vermoedende binnelandse toeriste en hulle spilse, jillende baba-oppassers, wat my toe al laat voel het ek staan met my neus gedruk teen ’n venster, smagtend na ’n kultuur wat ek nooit heeltemal sou kon betree nie.

Jare later, in 1994, lees ek in Remarkable Feasts hoe die ewe merkwaardige Leslie Forbes skryf dat die beste feeste oraloor met “barbarity and opulence” gevier moet word, en ’n beter beskrywing sou ek nou skaars kon opdiep vir ’n Durban-familie-Kersvakansie in die jare sewentig.

So my Kersfee-albumskote was eintlik hotelbemarkingsdrome, bejammer ek die kind in my. Tot ek besef, noudat die lot op my val om my eie gesin op die Kersete van hul drome te trakteer, wat ’n meesterstrateeg my ma in der waarheid was. ’n Hele nuwe aspek van haar koks-intelligensie word aan my geopenbaar. Natuurlik! Wanneer die groot dae kom, hoort jy sorg dat jy nie eens naby ’n kombuis kán kom nie. Dit was tog immers sy wat my vroeg al my lewensmantra geleer het: “Moet nooit leer tik of stryk nie, anders gaan jy dit moet dóén vir die res van jou lewe, ad infinitum.”

Want die res van die jaar kan jy oorgawelik ’n huisgodin wees, maar selfs die beste kokke verdien ’n ruskans, ’n feesvier-ete uit ander hande.

En tog, en tog ... iewers langs die pad, rondom jou tafel, moet daar ten minste een behoorlike Kersfeesviering wees om die standaard, die bloudruk, dan, te stel waaraan alle heilige feeste, met of sonder kos, toekomstig en vergonne, gemeet kan word. Want hierdie spesifieke, grootse, über-spesiale eetfees sein tot nou toe nog, oor die jare derduisend, soos ’n ligtoring sy roepstem oor die hele jaartal uit. Januarie tot Desember, dit roep, dit roep. Paganisties of gebybeld, dis onweerstaanbaar.

Watter ander maaltyd waaraan jy kan dink, gaan met soveel pomp and splendour saam? Koormusiek uit kinderengelkele, bont koningskrone van papier, bestrikte groen en goue geskenke, nie net een maar sommer twéé vakansiedae, en bowenal, primêr, sentraal, die herrysing van die magiese, mitiese familie om weer eens byeen te vergader, in liefde, met plesier, die gedagte ondermonds: ek behoort, hiér is my mense.

Ek het my bloudruk belewe. Een keer, lank gelede, in Engeland. Hierdie tyd van die jaar is dit vroeg al donker daar. Koud, so koud. Venters verkoop uit stomende konkas smeulende kastaiings in handgevoude papierhorinkies langs die reënbenatte strate. Jasgetooide Kersliedsangers wat voetstampend druis in Covent Garden; die Tudoriaanse winkel Liberty’s omsirkel met ’n reusagtige, meter breë bloedrooi Krismisstrik. Londen, wêreldstad, wat soos ’n snelgesnyde aar uitspoel en onstuitbaar leeg loop soos die groot dae ál voller word; tot oplaas die vreemde, vervremende gevoel van ’n bruisende metropool wat op Oukersdag geheel en al ontredderd en verlate is van alle mense, geluide, beweging, alle lewe.

’n Jaarlikse seremoniële, ritualistiese wegraping, so subtiel en beslis soos ’n dief in die nag. Meegevoer, en uitgenooi na ’n rasegte Engelse familiefees in ’n eeue oue country mansion, kompleet met sneeu (asof bestel) om middernag op Oukersnag, mince pies en Franse sjampanje vir bure wat te voet deur sneeu beur en kom carols sing by die swaar houtdeur, die soet lokreuk, van ontbyttyd al, van ’n majestieuse kalkoen al-stadig-vergouend in die Aga-oond, en spekomhulde varkworsies, en ’n vet pienk ham en gestoomde brusselse spruite met neutmuskaat en botter, en klein, kosbare heirloom kristalglasies met robynrooi port, en stinkbitter Stilton, en oplaas die pa, die PA, van hierdie veelvertakte gesin (daar is, selfs, asof uit ’n sprokie, ’n verouderde duchess, ’n adellike reliek sonder ’n sweem van ’n tiara, voor wie almal, klein en groot, genoop is om herhaaldelik die knie te buig soos sy, verlore in haar antieke koloniale drome, verbysterd en verlore van ook haarself die kamers in-en-uit deur wandel), ja dan, tog, die geëerde patriarg wat blymondig om die tafel stap met ’n vlammende, seëvierende Kerspoeding volgestop met goue munte.

En met Boxing Day daarna, die vier (of was dit vyf?) generasies Engelse wat stuporieus voor eers die Koningin se statige Kersboodskap en dan die alombekende Mary Poppins-TV-vertoning neersyg, terwyl dit buite swyg (so ver van Afrika, so koud!) onder meters spierewitte sneeu, die onkenbare, verlosde stilte tussen heiligheid en Nuwejaar se baldanse en baldadigheid.

’n Hele woud vol sneeuswaar dennebome wat soldaat staan buite.

Hier is ek nou. My neus weg van die venster. Ek, en my tong, soek iets anders, meer herkenbaars. Nou, en hier. Die eenvoud en onmiskenbare selfheid wat kom van Afrika. My lyf is hier gemaak. Dit het sy eie bloudruk, ingeprent. Hoe proe my vakansie?

Ek vra my tong, my lyf praat saam. Toekoms en verlede ontmoet en herken mekaar in verrukking. Ek ken my tong. Ek ken my lyf. En dit soek, dit vra: ’n pienkrooi, lank gestoofde springbokboud met vaalgeel slaphakskeentjies, sagte piekelperskes en knarsdapper kerrieboontjies, en koringslaai, en koue blokke pitbespikkelde waatlemoen.

Dis warm. Daar’s familie, en ’n boom. Daar’s Pella-dadels, ingelegde vye, pekanneute uit Mpumalanga, ’n ronde donker houtbord met ’n volmaan geelwit ryp briekaas en blokkies Kaapse saadbrood. Daar’s ’n buffel, somehow, in my storie, veraf snorkend op die horison, en Zoeloekrygers, maar dié’s ook baie ver van hier.

Ek is altyd onder ’n doringboom, kaalvoet, met rooi stof in my tone, die belofte van reën in die lug so as die son die berge blou daar doer. Dis my sintuiglike idee van verlossing, van ’n heiligheid. Dis in my DNS. En wie is ek om met my lyf te stry?

Al wat ek verder vra, vir Krismis, en die herinneringsonthalwe, is een klein snytjie pannettone op my stoep, ’n uitsig, en ’n koppie koffie.

So ’n stukkie hemelbrood vir die feesgety.



19 Desember 2003

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.