SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskool
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole

Voel jy dit ook

Sonja du Plessis

Eers stofsuig ek die mat vir presies vyftien minute. Jaco is die tydhouer. Volgende begin ek en Jaco die groen sintetiese langhaarmat kam met ons vingerpunte sodat elke gedeelte daarvan perfek in die rigting van die voordeur wys. Dit laat die mat donkerder en nuut lyk, en die hele huis lyk dan sommer netjies, het ma al gesê.

Vandag het hy regs bo, naby die platespeler en tv, met sy negejarige kleinseuntjie-pofvingers begin kam. Ek het links bo met my elfjarige vingers begin. Ons wou dit lekker maak vir ma. Ons wou haar weer sien glimlag, en sing en die klokke in haar stem hoor.

'n Netjiese mat maak haar party dae gelukkig. Dit word deesdae nogal moeilik om haar gelukkig te maak, maar ek dink ek weet hoe. As ek dit kan regkry om presies sewe-en-twintig minute voor agt by die voordeur uit te wees op pad skool toe, en ek mis al die krake in die pavement, en ek stap met my linkervoet eerste by die klasse in, en my tas val nie een keer om nie, en ek was die glase voor die res van die skottelgoed, en maak my kamer mooi skoon en kook voor sy by die huis kom, is ma soms op sulke aande gelukkig. Jakarandatyd moet mens die vet pers vars bloeisels trap sodat hulle pop. Dit help ook.

Op haar gelukkige aande lag sy en dans sy soos ek kan onthou sy gereeld gedoen het toe ek klein was. Dan sing sy en Joan Baez en ABBA en Billy Joel liedjies asof sy op 'n verhoog voor tienduisend mense is. Glas wyn en sigaret in die hand, met 'n eierklitser vir 'n mikrofoon.

Die matkammery vat gewoonlik lank, want Jaco word moeg en verveeld en hy besef nie altyd die erns van die saak nie. Hy speel altyd dieselfde Springbok Hits-langspeelplaat as ons die mat kam. Sodra die onbeskofte Baby Makes Her Blue Jeans Talk speel, spring ek op om die liedjie te skip, en dan vat ons sommer 'n breek.

Gewoonlik begin ons dan stry oor wie koeldrank moet gaan ingooi. Hy sê altyd: "Gaan gooi vir ons Oros in, Sandra, ek is dors." En dan sê ek: "Gaan kry jy liewer die koeldrank, sodat ek kan aangaan." Ek werk baie vinniger as hy. En so maak ek altyd sy gedeelte vinnig netjieser en kry gouer klaar met die mat.

Maar vandag was anders. Ons het langs die mat gesit en die koeldrank gedrink en Billy Jean geluister en probeer afkoel terwyl ons ons halfvoltooide handewerk bewonder het. Hy maak die Oros altyd te sterk aan, maar ek het vandag niks gesê nie. Hy't sy koeldrank klaar gedrink en opgestaan, sy glas gaan uitspoel, en weer langs my kom sit.

"Ek moet vir Nico gaan groet," het hy gesê. "Ek't vanmiddag na skool vergeet." Sy bruin oë was groot gerek. "Nico gaan kwaad wees," het hy gesê toe ek hom probeer keer, en hy was op sy fiets en straataf nog voor ek besef het wat aangaan.

Ma het kort daarna by die huis ingestap, die sak met melk en brood en wyn met 'n sug op die eetkamertafel neergesit, 'n stoel uitgetrek, gaan sit en haar sandale uitgeskop. "Hallo, Sandra," het sy gesê en haar voete gevryf.

"Hallo, ma," het ek teruggegroet, en opgestaan om by haar te gaan sit. Ek kon voel dis nie een van haar gelukkige dae nie. Die mat was nog nie eers klaar gekam nie.

"Wat's fout, Soeks?" het sy gevra. Soeks. Dis 'n goeie teken. Sy's darem nie heeltemal af nie.

"Niks, ma. Ek wou ma net verras met die mat."

"Ai, my kind," het sy gesê sonder om op te kyk. "Dankie, dit lyk pragtig," en 'n sigaret met 'n tuitmond aangesteek.

"Waar's Jaco, en Thys?"

"Thys is in sy kamer. En Jaco het vir Nico gaan groet."

En toe word sy stil. Sy kon nog altyd tasbare stiltes doen. Haar groot bruin oë het na my gekyk. Eintlik het dit gevoel of hulle dwarsdeur my kyk. "Nico? Is hy die outjie wat anderkant Zambezirylaan bly?"

"Ek dink so."

Rook het in twee netjiese strale uit haar neus gegly, haar sigaret tussen twee slanke vingers het nie geroer nie.

Sonder om 'n verdere woord te sê het sy haar sigaret doodgedruk, haar sandale aangetrek en vinnig by die voordeur uitgestap. "Jy moes hom by die huis gehou het!" het sy oor haar skouer geskreeu voor sy die tuinhek toegeklap het.

Ek het op die stoel bly sit en gevoel hoe my maag begin draai, hoe my spoeg verdwyn, hoe my hande yskoud word, ten spyte van die drukkende Pretoria-hitte. Dit het gevoel asof my keel sukkel om lug in my longe te kry. Ek dink my kop het toe reeds benoud gevoel, asof my brein wou uitklim. Asof daar nie genoeg spasie is nie. Daardie gevoel het lank gevat om af te skud.

Dis nou al amper halfagt. Die donker het lankal in die sitkamer kom lê. Ek sit nou met my voete op die ou bruin ingeduikte bank. Dit voel of iemand my regterarm uit sy potjie probeer trek het. Hy's lam en seer. My vingernaels voel asof dit enige oomblik kan afval.

Ek sit en staar na die perfek gekamde mat en probeer om aan niks te dink nie. Partykeer help dit om met 'n kop sonder gedagtes te sit. Of ten minste te probeer om met 'n kop sonder gedagtes te wees.

Ek hoor Thys se swaar voetstappe in die gang afkom. By die kombuisdeur stop hy en sê sarkasties: "Móói, suster. Jy't nou weer die hele middag spandeer om 'n vrot mat te kam. Sy gaan dit nie eers agterkom nie. Pleks jy eerder 'n bietjie tyd aan jou huiswerk spandeer. Of leer. As jy so aanhou, gaan jy die jaar pluk. Waarheen het ma anyway nou weer verdwyn?"

In my geestesoog sien ek hom met 'n swerm bye wat vasgekoek oor sy gesig loop.

Thys het darem 'n bietjie angs met woede gesteel. Ek besluit om maar tv te kyk. Ek stap op die bank langs. Anderkant af, trap versigtig langs die mat om niks deurmekaar te maak nie, en skakel die tv aan. Hy vat 'n rukkie om op te warm. The Lone Ranger is op. Hulle praat en beweeg, maar ek sien en hoor min. Jaco is mal oor hierdie program.

Thys kom ingestap met 'n bord spaghetti en geblikte smoorvleis wat ek met 'n bietjie tamatiepasta aanmekaar gegom het. Dis einde-van-die-maand-kos. Hy is vyftien en altyd honger. My eetlus is saam met ma by die deur uit toe sy vir Jaco gaan soek het.

"Moet om hemelsnaam net nie op die mat trap nie, Thys!" gil ek.

"Okay, Okay," sê hy en klim oor die bank se armleuning. "Waddehel is fout met jou?"

"Ek worry my vrek. Jaco het half-flippen-ses op die fiets geklim om vir daai klein brat van 'n Nico te gaan groet, en nou't ma hom gaan soek en sy's de hel in vir my omdat ek hom nie gekeer het nie. Waar IS hulle nog? As Jaco by Nico was, sou hulle lankal terug gewees het." Ek voel hoe my oë warm word, en sluk die trane terug. Ek huil nooit voor my broer nie. Dit word net nie gedoen nie. "En weet jy, ek het agter hom aangehardloop en swiets en kougom belowe as hy sou omdraai. Ek't vir hom gesê ma gaan sy gatvelle aftrek as hy laat is." Daar is 'n vreemde metaalsmaak in my mond. My woorde klink hol.

Thys bly stil, en eet stadiger. Ek besluit om niks te sê oor die rooi streep tamatiepasta wat soos 'n vuil spoegstreep oor sy ken lê nie.

Na 'n rukkie sê hy: "Moenie worry nie, man. Hulle's netnou hier. Watch wat ek jou sê. Ma het hom gaan haal en by tannie Willa gaan wyn drink. Vir die nerves."

Ek voel bietjie beter. My derms ontknoop effens. "Dink jy so?"

Nou's die foon ook weer afgesny. Ek staan op en klim oor die bank se rug om 'n bietjie te beweeg. Om ander goed raak te kan sien. Om oor iets anders te kan dink. Die aaklige droëmond-beknopte-kop-gevoel kan ek nie afgeskud kry nie.

Ek stap voorstoep toe, gaan sit op die lae muurtjie en luister na elke geluid. Mrs Koch se hond blaf verlangs. Iemand gaan hom nog eendag vergiftig, sê ma altyd. Die viooltjies blom langs die stukkende voetpad na die geroeste tuinhek. Gerhard van langsaan luister Dixies Midnight Runners se Come on Eileen. Lekker liedjie. Net jammer hy's so 'n idioot. Dit ruik of hulle vanaand weer hoender eet.

'n Dowwe dreuning kom van Zambezirylaan af. Daar's 'n beklemmende hitte in die lug. Darem geen sirenes tot nou toe gehoor nie.

'n Motor kom stadig aangery. Die volmaan skyn koud deur 'n wolkgaping en staar soos 'n blinde op die voorstad af.

Ek kan hoor dis nie my ma se voos motor nie, maar ek besluit om te wag en te kyk. Dis 'n nuwe motor. Een wat nie rattle en raas nie. Een wat se sitplekke sonder vlekke is en nie ruik soos brakefluid binne nie. Een met drie passasiers in. Een sonder 'n half jack in die cubbyhole.

Dis regop polisiemanne wat stadig uit die motor klim, bietjie rondstaan, in hulle sakke grou en hulle netjiese keppe regskuif. Ek dink nie hulle sien my op die donker stoep nie. Die derde persoon wat uitklim, is my ma se broer, oom Burt. Dan het hulle seker maar vir hom gewag. Dit voel of my brein gestol het. Die geroeste voorhekkie kraak oop en toe, en hulle stap woordeloos met die stukkende paadjie met die mooi viooltjies tot vlak voor my. Ek verstom my aan hulle blink skoene. Dit lyk of ligte daarin woon. Daar's 'n verdowende geruis in my ore. Ek's dalk besig om doof te word.

"Hallo, Sandra."

"Hallo, Oom."

"Is Thys hier?" vra oom Burt en kyk af. Oom Burt huil. Ek moet sterk wees. Shit, ek het nog my skoolklere aan. Ma gaan freak.

Ek hoor Thys se stem iewers deur die gesuis. "Hallo, oom Burt." Sy stem klink ver. Ek wag. Ek kom agter ek bid dat ma in die tronk is. Dat sy net vergeet het om vir Jaco te gaan haal. Iewers gaan suip het, en dronk op die pad gevang is, maar okay is. Die polisiemanne staan nou langs my op die klein stoep. Die lange het deursigtige blou oë. Van so naby ruik hulle uniforms soos skoenpolitoer en sigaretrook.

"Daar was 'n ongeluk," sê die lange. Skielik voel dit of die gekraakte stoep onder my beweeg. Dit lyk of die lamppaal op die polisiemotor gaan kantel en dit voel of my bene poeier word. Oom Burt draai om en sy skouers ruk.

'n Week later staan ek langs Jaco se graf met kougom en Wilson-toffies in my sweterige hande en wonder hoe ek dit vir hom kan gee sonder dat mense dink ek's simpel. Dit sou nogal my dag gelukkig kon maak. Die oorhandiging sonder dat iemand sien. Ek het lankal vergeet hoe hy gelyk het. Ek was self verbaas toe ek Maandagoggend in 'n histeriese lagbui in die saal uitgebars het toe hulle sy "verlies" aangekondig het. My stukkende ma stap met arms in die lug weg. My pa het darem kom kuier.



LitNet: 06 September 2005

Wil jy reageer op SkryfNet VII? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.