SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Günter Grass se SS-onthulling

Loammi Wolf, Duitsland

Günter Grass

Saterdagoggend, met die geur van die eerste môrekoffie dralend in my neus, bars die bom van Günter Grass se onthulling op die voorblad van die Frankfurter Allgemeine Zeitung (FAZ): Hy was as 17-jarige in 1944 vir enkele maande lid van die Waffen-SS gewees voordat hy in krygsgevangeskap gekom het. Die eksklusiewe onderhoud met Grass dek twee volblaaie en lees lekker, so met ’n beker koffie as nagedagte in die hand. Spannend, en tegelykertyd ook ontredderend!

Die 78-jarige skrywer van Nobelprys-faam het die onderhoud op die vooraand van die verskyning van sy outobiografie, Afskil van die Ui (Beim häuten der Zwiebel), toegestaan. Dat die onthulling, wat ook in sy nuwe boek verwerk is, so ’n opskudding sou veroorsaak kon die beroemde pyproker met die hangsnor en die intensiewe swart oë agter die markante brilraam seker te wagte gewees het. Nogtans is die aard van die debat wat intussen daaroor eskaleer het, onverkwiklik. Dit reflekteer egter wesenlike elemente van die Duitsers se soeke na ’n naoorlogse identiteit, van die dilemma om so ’n belastende verlede te verwerk en van die skynwêreld wat die nuwe moralisme geskep het.

Hierdie onthulling in die Grass-outobiografie is sekerlik – naas sy Kersfees-onderhoud in die FAZ so twee, drie jaar gelede, waar hy met verwysing na sy roman Kreeftegang gesê het dat hy “te lank geswyg het oor die verlede” – sekerlik die opspraakwekkendste bekentenis deur die eiesinnige Nobelpryswenner. Dis fassinerend eerlik en op die punt af.

Binne enkele ure na die onthulling, het die nuus soos ’n veldbrand dwarsoor die wêreld versprei. Baie interessante elemente van die oorspronklike onderhoud, wat die omstandighede van Grass se keuse van die tydstip van sy onthulling goed kontekstualiseer het, maar ook vele meer gebied het, kom egter glad nie ter sprake in die oorsese media nie. Die fokus is feitlik uitsluitlik op sy SS-onthulling. Daar word skaars nog aandag geskenk aan die invloed van Celan op sy vroeë werk, of oor die stryd tussen Camus en Sartre, en hoe dit hom beïnvloed het tydens sy jare as student in Parys. Hy vertel ook van sy tyd in krygsgevangeskap saam met Ratzinger, die huidige Pous en die binne-gevegte daar tussen die kommuniste, die Nazi's en sosiaal-demokrate. Dikwels het eersgenoemde twee groepe saamgestaan teen dié wat burgerlike ideale voorgestaan het.

’n Meer gedifferensieerde standpunt wat feitlik deurgaans ontbreek in die oorsese pers gaan oor die rol van die Waffen-SS tydens die WW II. Die Waffen-SS kan nie gelykgestel word met die berugte “swart”-SS nie. Oorspronklik was hierdie bewapende eenheid van die SS se doel om vir Hitler se persoonlike veiligheid te sorg en tot sy beskikking te wees. Later het Himmler egter die Waffen-SS herontplooi as ’n tipe parallelle weermag met die doel om later die weermag in te sluk. Alle jong seuns wat opgeroep is vir weermagdiens in die laaste fase van die oorlog is daar instop, of hulle nou Nazi-ondersteuners was of nie – 900,000 van hulle. Himmler het op 20 Julie 1944 ’n dekreet uitgevaardig in terme waarvan alle vrywilligers, ongeag daarvan of hulle die SS se politieke agenda ondersteun het, in hierdie divisies opgeneem moes word. Van die rekrute wat in dieselfde jaar as Grass gebore is, is 95,000 in die Waffen-SS opgeneem – ongeveer 17,3% van daardie jaar se rekrute. Hy het in ’n pantsereenheid beland. Hierdie eenhede het hand in hand saam met die konvensionele weermag op die front  geveg, en was nie aandadig aan die swart-SS se terreur nie. Volgens die gerekende historikus, Hans-Ulrich Wehler, het die meeste van hulle nie die vaagste benul gehad van dit waarop hulle hulself ingelaat het nie en het hulle die Waffen-SS as ’n elite-eenheid betrag.

In die onderhoud met Frank Schirrmacher (FAZ, 12 Augustus 2006) skilder Grass die beweegrede vir sy onthulling op hierdie laat stadium as volg:

“Dit het my bedruk. My swye oor al die jare was een van die belangrikste beweegredes waarom ek hierdie boek geskryf het. Dit moes uitkom, uiteindelik! Dit het destyds so gebeur: Ek het myself as vrywilliger aangemeld, nie by die Waffen-SS nie, maar vir die duikbote, wat sekerlik net so ’n mal idee was. Maar hulle het niemand meer ingeneem nie. Die Waffen-SS, daarenteen, het in hierdie laaste oorlogsmaande van 1944/45 gevat wat hulle kon kry. Dit het gegeld vir sowel die nuwe rekrute as die oumanne wat dikwels van die lugmag af gekom het. Hulle het daarna verwys as die “Hermann-Göring-donasie”. Die meeste lughawens was in ’n gehawende toestand en feitlik al die grondpersoneel is óf in die weermag óf in die Waffen-SS eenhede gestop. By die vloot was dit dieselfde storie. En vir my, daaraan kan ek my nog duidelik herinner, was die Waffen-SS aanvanklik nie iets afskrikkend nie, maar eerder ’n elite-eenheid, wat daar ontplooi is, waar dinge gevaarlik kon raak en volgens gerugte ook die hoogste verlies aan menselewens gehad het.”

Later het Grass agtergekom hoe die wind waai en het opsetlik geelsig gekry om te kon wegkom. Dit het hom ’n paar weke lank ’n blaaskans gegee. Toe het die harde opleiding weer voortgegaan, ten volle ontoereikend en met verouderde krygsapparaat.

Op die vraag waarom hy homself reeds as 15-jarige vrywillig aangemeld het by die vloot, antwoord Grass dat hy destyds eenvoudig uit die “engheid van sy huislike omstandighede wou wegbreek”. Hy was gefassineer deur die tegnologie van die eenman-duikbote, en die vloot het meer renomeé gehad as die weermag. Dat die hierdie duikbootjies maar stadig was en die Engelse hulle maklik met radar opgespoor en afgeskiet het, skyn nie tersake te gewees het vir hom nie.

Hy het daarvan vergeet, soos dit ook met vele ander die geval was, en ’n jaar later het die dienspligbevel toe die huis ingefladder. Hy is weg, het opleiding gedoen, en met die tyd het hy agtergekom dat hy eintlik by die Waffen-SS geland het. Sy herinneringe is vaag en hy kan nie presies sê of dit in Dresden was dat hy agtergekom het waar hy inderwaarheid geland het nie. Dalk kon hy dit ook op die briefhoof of aan die diensrang van die offisier wat die bevel onderteken het, herken het, maar hy weet dit eenvoudig nie meer nie. Sy herinneringe laat hom daar in die steek.

Gelukkig, so skilder hy dit, het hy kort daarna in krygsgevangeneskap by die Amerikaners beland. Die simboliek van die SS-embleem op sy uniform het eers werklik by hom ingesink toe sy offisier hom beveel het om dit uit te trek:

“Die lanskorporaal, saam met wie ek onderweg was nadat ons pantsereenheid uitmekaar gespat het, het my opgeklaar oor die betekenis van die embleem. Alles was deurmekaar en daar het chaos geheers; almal het net probeer oorlewe. Hierdie man was egter ’n tipiese Duitse offisier, wat nie bevorder wou word nie, maar op wie jy jou kon verlaat, wat alle trieks geken het en vir wie kameraadskap belangrik was. Hy het daarop aangedring dat ek my uniform wissel. Ek het nie ’n benul gehad in hoeveel gevaar ek verkeer het nie. Vandaar ook my verstomming toe ek die foto’s van die konsentrasiekampe gesien het! Ek is vir die eerste keer tydens my krygsgevangeneskap met hierdie wandade gekonfronteer...”

Grass het egter nie gelieg oor waar hy ingedeel was nie. Hy het oop kaarte gespeel met die Amerikaanse militêre bevelvoerders in wie se krygsgevangeskap hy gekom het. Op sy ontslagvorm van 24 April 1946 staan duidelik dat hy aangegee het dat hy in die 10de SS-pantsereenheid “Frundsberg” gedien het (kyk hier). Op ’n tweede vorm is ’n notatjie aangebring wat die datum “10 November 1944” en “Waffen-SS” protokolleer. Dit kan na die tydstip van sy oproepbevel verwys. Beide dokumente is vrylik toegangbaar in die weermagargief in Berlyn. Die historikus Wehler, ’n kenner op die gebied, sê dat die eenheid waarin Grass gedien het nie by enige wandade betrokke was nie en net deel van die agterhoede uitgemaak het.

Wat die situasie vir Grass mislik maak, is dat almal tot dusver geglo het dat hy in 1944 as Flakhelfer gedien het voordat hy as soldaat weermag toe is. Die flakhelpers was jong seuns wat kanonne gelaai het vir die soldate om vyandige vliegtuie mee af te skiet. Gewoonlik was hulle eers in die Hitlerjugend waar hulle deeglik gebreinspoel is in die Nazi-ideologie. Soos Grass dit stel:

“Ek weet van kinders wat hulle ouers verklik het as hulle nie die Nazi-ideologie gevolg het nie. Dit kon regtig gevaarlik wees as ouers hulle standpunte vanuit ’n burgerlik-konserwatiewe oogpunt openlik gestel het. Dit was nie maklik om jongmense destyds te oortuig nie. Ons vergeet al te maklik hoe effektief en modern die Hitlerjugend en die Jungvolk georganiseer was. Hitler se slagspreuk, “Die jeug moet deur die jeug gelei word” het ’n ongelooflike impak gehad.”

Grass was nog altyd die simboolfiguur van daardie generasie vir wie die anti-burgerlike element van Nasionaal-Sosialisme die groot mobiliserende faktor was. Grass vertel dat sy ouers die Nazi’s aanvanklik ondersteun het en dat daar spanninge in die familie was daaroor. ’n Oom van hom wat by die Poolse posdiens gewerk het, het hulle nie meer besoek nie, en die kashubiese verwante het hulle begin vermy. Hy was dus self nie blootgestel aan kritiese standpunte oor die Nazi’s nie en was skaars 11 jaar oud gewees toe die oorlog uitgebreek het. Nogtans was dit ’n waterskeiding vir hom, enersyds omdat die oorlog in Danzig uitgebreek het, en andersyds omdat dit die einde van sy kindwees was. Soos hy egter sy geheue terug volg in die outobiografie, en die lobbe van die ui van tyd afskil, vra hy homself:

“Wat het jou, die jong seun wie jy eens was, daaraan gehinder om die regte vrae te stel? Jy was tog ’n op en wakker kêrel gewees, selfs opstandig. Maar jy het geen vrae gestel nie, ook nie die deurslaggewende vrae nie. Dit was dit wat my gedryf het. Ek wou nie net eenvoudig  my verlede skilder nie, en sommer net sê: só was dit nie; ek wou vertel daarvan. Want dit is my ding: om te vertel.”

Grass se biograaf, Michael Jürgs, is baie ontsteld oor die wending van sake en het sy persoonlike teleurstelling in Grass uitgespreek en gesê dat dit “die einde van die morele instansie Grass” is. Wat die aangeleentheid nog meer brisant maak, is dat Grass in April 1985 sy kop baie ver uitgesteek het toe Helmut Kohl saam met die Amerikaanse President, Ronald Reagan, die soldate-begraafplaas in Bitburg besoek het, waar ook 49 van hierdie Waffen-SS-soldate begrawe is. Op feitlik alle soldate-begraafplase is hulle tussen die ander begrawe. Kohl het dit in sy Memoirs (2005) so beskryf:

“Dit was eenvoudig te veel vir baie van my en Reagan se kritici dat ek en hy as teken van versoening hierdie begraafplaas besoek het. As mens egter die geskiedenis van die Waffen-SS ken, weet mens dat baie van hierdie bloedjong seuns wat daar begrawe lê, hoegenaamd geen kans gehad het om die oproepbevel van die Waffen-SS vry te spring nie.”

Die groot gros van hierdie groep jongmense wat in die Waffen-SS gedien het en daar begrawe lê was tussen 17 en 19 toe hulle dood is. Grass het Kohl egter heftig gekritiseer met die woorde: “Almal het geweet wat aangaan, kon geweet het en moes geweet het.” Kohl het, volgens hom, probeer munt slaan uit die situasie om die guns van die uitgedrywe Duitsers uit Oos-Europa te wen.

Onder die gegewe omstandighede is dit dus nie vreemd dat die Joodse historikus, Michael Wolffsohn, wie se ouers tydens die Nazi-regime moes vlug, Grass kritiseer met die woorde dat hy 21 jaar gelede tydens daardie besoek ’n gulde geleentheid gehad het om met sy gewete skoonskip te maak.

Schirrmacher het Grass in die onderhoud direk gevra of hy skuldgevoelens gehad het dat hy ’n lid van die Waffen-SS was en hoe dit hom oor die jare beïnvloed het. Grass het sonder enige twyfel geantwoord:

“Terwyl ek in die Waffen-SS gedien het, het ek eintlik geen skuldgevoelens gehad nie, maar later het hierdie skuldgevoelens my in die vorm van skande bedruk.”

Grass beklemtoon dat hy nie bewus was van die gaskamers terwyl hy in die SS-pantsereenheid geveg het nie. Eers toe Baldur von Schirach sy skuld beken het tydens die Nürnbergverhore, het dit hom daarvan oortuig dat die Duitsers wel die volksmoord gepleeg het. Tot dan was hy oortuig dat die Duitsers nie tot so iets instaat was nie, en het hy gedink dat dit propaganda was.

Op die vraag of hy ’n deel van hierdie latere skok dat hy deel was van ’n organisasie wat sulke onmenslike dade gepleeg het, kon verwerk in Die Bliktrommel (Blechtrommel) en in Kat en Muis (Katz und Maus), gee hy toe dat hy dit probeer doen het. Om die verlede te takel was nie ’n vrywillige besluit nie, dit was eenvoudig onmoontlik om dit te ontwyk:

“Na die oorlog moes ek iets probeer aanmekaar timmer met die foute wat ek begaan het.”

Die vraag ontstaan dus of Grass in die naoorlogse tyd eenvoudig die regte oomblik verpas het om sy SS-verlede te tematiseer. Grass self sê: “Ek weet nie. Dis sekerlik so, dat ek geglo het dat dit wat ek skrywend gedoen het genoeg was. Ek het ’n leerproses deurgemaak en daaruit konsekwensies afgelei. Maar ’n stuk van daardie skandvlek het aan my bly kleef. Daarom het ek in my binneste altyd geweet dat hierdie stuk van die skandvlek ’n plek sou moes vind indien ek ooit sou besluit om iets outobiografies neer te pen...”

Grass het wel in die openbaar geswyg oor sy tyd in die Waffen-SS, hoe kortstondig dit ook was, maar ander skrywers en vriende van hom was bewus van die las wat op hom gerus het. So vertel Robert Schindel, ’n bekende Oostenrykse skrywer, dat die onthulling nie vir hom nuus was nie. Grass het dit al 20 jaar gelede vir hom en ’n klomp ander vertel. Schindel herinner hom duidelik daaraan dat Grass openlik daaroor gepraat het een aand tydens ’n skrywerbyeenkoms toe die gesprek in die rigting van die oorlog gedraai het. Die meeste van hulle het dit nie vreemd gevind nie, aangesien so baie jong seuns teen die einde van oorlog verplig was om by die Waffen-SS aan te sluit.

’n Ander faktor wat waarskynlik ook ’n rol gespeel het in Grass se keuse om sy swye verbreek, is sy kinders en kleinkinders.

“Bewus of onbewus het my kinders en kleinkinders sekerlik ook ’n rol gespeel in waarom ek die outobiografie geskryf het. Ek het dikwels nagedink oor hoe mens iets aan ’n ander generasie kan oorvertel. In die Dagboek van ’n Slak (Tagebuch einer Schnecke) moes ek hulle vertel hoekom ek in ’n verkiesingsveldtog trek, en hoekom ek aanstoot neem dat ’n eertydse Nazi soos Kiesinger kanselier is. Destyds is ek gekonfronteer met die probleem hoe ek Auschwitz aan my kinders kon verduidelik. En hierdie probleem het ons tot vandag toe nog.”

Na die oorlog het Grass ’n uitgesproke pasifis geword en baie daartoe bygedra dat die Duitse demokrasie ’n sukses geword het. Grass is sekerlik een van die belangrikste verteenwoordigers van die nuwe moralisme in die naoorlogse Duitsland. Hy was ’n geliefde ikoon van die linkse intellektuele en het uit sy pad uit gegaan om die Duitsers te maan om die verlede oop te vlek en te verwerk.

Dit kan ook kwalik bestry word dat hy baie daartoe bygedra het om die verhouding tussen Duitsland en Pole tot ’n mate te stabiliseer. In 1970 is hy en Siegfried Lenz saam met Willy Brandt Warschau toe om die Duits-Poolse Ooreenkoms te onderteken. Dit het die wesgrens van Pole aan die Oder-Neise vasgelê. Hy het dikwels die Pole se kant van ’n saak positief belig in hierdie moeilike buurstaat-verhouding. Daarvoor was die Pole hom baie dankbaar. Hy is nie net ’n ereburger van sy geboortestad Danzig wat hy in die Danzig-trilogie verewig het nie, maar het ook eredoktorsgraad van die Universiteit Posen ontvang.

Die onthulling het egter wêreldwyd skok en ontreddering ontlok. Die ergste kritiek kom vanuit die Amerikaanse pers met opskrifte soos “I served in Hitler’s SS, Günter Grass says” of “Author attacked for belated SS confession”. Die Britte is meer genadig, terwyl die Spaanse en Franse media die nuus eerder gelate aanvaar het, miskien ook omdat die intellektuele wat iets daaroor kon sê nog almal  op vakansie is.

Baie mense is verwonderd dat hy so lank daaroor geswyg het. Veral diegene wat al lankal hulle mes in het vir die oordrewe moralisme uit linkse intellektuele kringe lewer skerp kritiek. Die CDU se kultuur-verteenwoordiger, Wolfgang Bömsen, en die CDU-afgevaardigde, Friedbert Pflüger, het beide onomwonde daarop gesinspeel dat Grass ’n morele huigelaar is en daarop aangedring dat hy sy Nobelprys moet terug gee. (Die Nobelprys-komitee het egter laat weet dat Nobelpryse nie terug gegee kan word nie.)

Lech Walesa, die voormalige Poolse President, het Grass dringend aangeraai om van sy ereburgerskap van Danzig afstand te doen. Die Burgemeester van Danzig is egter nie bereid om Grass sy ereburgerskap te ontneem nie en het opnuut waardering uitgespreek vir Grass se rol in die versoening tussen die Duitsers en Pole.

Die Tjegge se Pen Club, wat ’n erelidmaatskap aan Grass toegeken het en hom vereer het met die Karel/Capek-prys, oorweeg dit egter om die prys nou terug te trek.

Die omstrede Duitse dramaturg, Rolf Hochhut, vind Grass “walglik” en die Sweedse skrywer, Lars Gustafsson, sien die laat bekentenis as ’n “verskriklike storie”.

Daar is selfs mense,  soos die President van die Sentraalraad van die Jode, Charlotte Knobloch, wat hom verdink van ’n slim bemarkingstrategie vir sy nuwe boek.

Baie mense meen egter dat dit goed is dat Grass dit uiteindelik openlik beken het en sodoende homself van hierdie las bevry het. Hierdie siening word gedeel deur skrywers Dieter Wellersdorf, Erich Loest en Ralph Giordano, wat self ’n holocaust-oorlewende is.

Die Poolse Aartsbiskop Michalik sien dinge in ’n meer transendente konteks:

“Vandag is Grass ’n ou man, maar hy wou homself nogtans louter. Ek glo dat hy vandag, waar hy dit openlik beken het en ander om vergewing daarvoor vra, hy nog ’n groter skrywer is as destyds toe hy die Nobelprys gekry het.”

Die meeste is egter van mening dat sy renomeé as ’n morele instansie daarmee heen is. Dit is die mening van die historikus Arnulf Baring en vele ander. In ’n kits aanlyn-meningspeiling van die FAZ het 30% van die lesers ook die opinie geuiter dat Grass as “morele instansie” uitgedien is. 24% is van mening dat Grass se bekentenis veels te laat kom. Gelykop met 17% is diegene wat meen dat Grass hoogagting verdien dat hy uiteindelik die moed daarvoor bymekaar geskraap het, en dié wat glo dat hy te jonk was om werklik daarvoor verantwoordelik gehou te kan word. Net 10% was van mening dat dit geen invloed gaan hê op die beoordeling van sy boeke nie.

Daar is self ’n paar soos die letterkunde kritikus, Helmut Karasek, wat van mening is, indien hy sinies sou wou wees, dat Grass daaroor geswyg het net sodat hy die Nobelprys kon kry. Dis sekerlik waar dat hierdie bekentenis van Grass oor sy verstrikking met die “dubbele S” sy opgang as skrywer ’n groot steen in die weg sou lê, en dis ook moontlik dat die liefling van die linkse intellektuele nie so welwillend deur die Nobelprys-komitee betrag sou word nie. Andersyds is dit bietjie absurd om daar ’n kousale verband te sien.

Die befaamde Joodse skrywer en kritikus, Marcel Reich-Ranicki, ook ’n oorlewende van die Warschau ghetto, het eenvoudig gesê dat hy nie oor alles ’n mening moet hê nie en geen kommentaar gaan lewer nie, “nie een woord nie”.

Natuurlik is daar heelwat ander faktore as dié wat Günter Grass self noem wat ook ’n bydraende rol kon speel in hoekom hy so lank oor hierdie onaangename stukkie persoonlike verlede geswyg het. Enige iemand met kennis van die genadelose debatte in Duitsland oor kollektiewe skuld en die verwerking van die verlede sal weet dat dit een van die grootste vuurdope is wat ’n persoon homself aan kan onderwerp. Daarvan het die berug-beroemde debatte tussen Habermas en Nolte, en tussen Martin Walser en Ignaz Bubbis getuig. Grass was egter nie net terdeë bewus daarvan nie; hy het self dikwels met die hoë morele lat wat hy gestel het die temperatuur van sulke debatte laat styg.

Hierdie verstrikking van sy eie moraliteit met sy verlede het sekerlik ’n afskrikkende effek gehad en hom liewer die oomblik van waarheid laat uitstel. Martin Walser het die volgende lakonieke opmerking daaroor gemaak:

“Die mondigste van al ons tydgenote kan 60 jaar lank nie sê dat hy sonder sy eie toedoen in die Waffen-SS beland het nie! Dit werp ’n vernietigende lig op die klimaat van die verwerking van die verlede in Duitsland en op ons denkpatrone en spraakgebruik in die konteks.”

Die Frankfurter Rundschau lewer kommentaar hierop met die volgende woorde:

“Hoe anders en hoeveel meer ontspanne sou die verbete histories-politiese debatte nie verloop het in die laaste jare as Grass sy onthulling met die nodige self-kritiek in die ring gewerp het nie! Dit sou van onskatbare waarde vir die geskiedenis van die Federale Republiek van Duitsland gewees het in die belangrike, maar grotendeels pynlike konfrontasie met skuld en verstrikking. As die teenpole van Grass se jeug en sy latere politieke lewe en skeppende werk as kunstenaar soos ’n vuurtoring vir ander die weg kon wys, sou hy ’n goeie voorbeeld vir ons almal gewees het!”

Natuurlik is die mens ook onlosmaakbaar vervleg met sy eie ervaringsveld. Daar het ’n paar jaar gelede ’n interessante studie verskyn oor die Flakhelfer-generasie wat dalk ook meer lig daarop kan werp. Klaarblyklik het die les wat hulle geleer het uit hulle “jeugsondes” daartoe gelei dat hulle later “onpolitiese saaklikheid” of “anti-politiese moralisme” bedryf het. Daarin het Grass werklik uitgeblink.

Die naoorlogse Zeitgeist en die streng self-sensuur ten opsigte van fascisme en oordrewe nasionalisme onder linkse intellektuele het sekerlik ook ’n invloed gehad op Grass. Die parallelle tussen hom, Sartre en Mitterand is opvallend, veral ook die manier waarop hulle die geraamtes in die kas hanteer het. As die Franse geweet het dat Mitterand ’n fascistiese toekenning gekry het van Pétain, sou hy sekerlik nie president geword het nie. Die mite wat hy laat herleef het van homself in die résistance, het dit moontlik gemaak dat hy die politieke mag in Frankryk kon oorneem. Sartre, wat die hegemonie van die neo-Marxiste soos min ander verteenwoordig het, sou sekerlik nie ’n Nobelprys opgegee het omdat sy eerste stukke hul premiere gevier het met die seën van die Duitse besetting of dat hy sy eerste pos as ’n onderwyser gekry het omdat ’n Jood sy pos moes ruim nie. Hulle kon juis as gewete van die volk opgang maak omdat hulle die kuns van die linkses se mag en moraal beheers het. So gaan dit ook bietjie met Grass.

Dat die heftige kritiek teen hom as persoon hom nie onaangeraak gelaat het nie, is duidelik uit Grass se reaksie op die aanvanklike kritiek van bekende figure oor sy onthulling:

“Hulle probeer om ’n on-mens uit my te maak.”

Miskien was hierdie tydstip dalk tog die beste wat hy kon kies vir só ’n onthulling. Iets is inderdaad aan’t verander in Duitsland. Dis asof die Duitsers begin uitloop onder die skadu van die verlede, asof hulle weer vry begin asemhaal. Dit het baie duidelik deurgeskemer tydens die Sokker Wêreldbeker. So ontspanne oor hulleself was die Duitsers 60 jaar lank nie meer nie. Miskien het hulle ook nie meer sulke morele ikone soos Grass nodig nie.

Wat die oeuvre van Grass betref, is dit asof die laaste stukkie van die legkaart sy plek gevind het. Grass se onthulling verduidelik die ambivalente aard van sy werk. Die onthulling is die “missing link” wat Grass, die politieke figuur, en Grass, die kunstenaar, met mekaar verknoop oor die ompad van sy verlede.

Grass is ’n uitsonderlike kunstenaar juis weens sy veelsydigheid. Ek het al dikwels oorweeg om van sy boeke aan te skaf net weens die filigrane sketse waarmee hy sy werke illustreer het. Omdat sy werk egter so swaar in die maag lê, het ek met die jare daartoe oorgegaan om eerder na die hoorboeke te luister, want Grass lees sy werke self voor, en dis ’n ware plesier! Die verskillende Duitse dialekte waarin hy naatloos kan wissel as stem van sy karakters, laat hulle baie meer lewendig word voor jou geestesoog as wanneer mens die boeke self lees. Miskien hang dit saam met die aard en wyse van sy skeppende proses. Grass het eenkeer verduidelik hoekom hy so graag aan sy skryfpult skryf en net die sketse op sy lessenaar doen. Hy lees die sinne hard voor terwyl hy skryf, want, sê hy: “’n Sin moet kan asem haal!”

Miskien kry hierdie sonderlinge kunstenaar en gewete van die Duitsers ook ’n nuwe asem noudat hy homself van die korset van moralisme bevry het...

Loammi Wolf, Duitsland


LitNet: 18 Augustus 2006

  • boontoe / to the top


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.