SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Rika Cilliers (1951 — 1999): huldeblyk, (her)waardering

Karen de Wet

Aan die einde van April, die laaste herfsdae van hierdie millenium in Suid-Afrika, is Rika Cilliers (6.11.1951 — 27.4.1999) in Wespark, Johannesburg begrawe. Digter, dosent, dogter, ma, vrou, vriend. Een van die beste studente wat hy ooit gehad het, het Opperman gesê. Die mooiste vrou in die Afrikaanse letterkunde, het haar man altyd gesê. Die dag was so helder. Die bome huldes goud en oker. Die hemel oopgewaai en skoon van blou. Die berg grond langs die oop gat graf bloedrooi soos binnehart. En dan die verweerde agtergeblewenes. Die uitgedunde groepie tydgenote met wie die jare ook nie sagkens was nie en wat mekaar in die oë kyk met leë hande wat nie deur vars blomme of deur verkrummelende kluite aarde gevul kan word nie. En die intense jong man met die stil oë: lánk nie meer die Mauci wat prente teken vir Vlier se voorblad en “reënversies” (p. 15) maak nie. Baie regop, baie wit, en stom van tot die dood toe aan die swyg. Dat die jong predikant met die hakskoene en die potloodromp namens ons almal moet sê wat die kind in Vlier (“Skietgebedjie”, p. 24) so moeiteloos presies kon bid:

    Onse Vader, here God
    asseblief asseblief
    amen

En dat die gebed uit Opslag (1980) so in mens se kop bly klink:

    Ek bid my God tot vrou:

      die wêreld sterf dalk minder mánlik
      aan skakings skroeiende berigte op straathoeke
      en, in stampgepakte sale, oproerige verhore;

    voor háár kan ons kniebuig, onbetraand,
    want sonder om ons neer te vléí,
    gee Sy aan elke bors sy troos, laat afkoel
    tot ’n tempel Gods ons wywit lyf

Die nalatenskap wat Rika Cilliers in haar digbundels aan ons bemaak het, strek sedert 1977 met haar debuutbundel o.a. Debóra. Mens word deur die subtitel (wat stel: “vir w.e.g.l. e.a.”) verlei om te wonder oor die invloed wat W.E.G. Louw en ’n teks soos sy Bybels en Babels op byvoorbeeld die Bybelse onderwerpmateriaal van hierdie bundel had. ’n Opmerking waarmee ek allermins T.T. Cloete se opsommende indruk dat die verse ’n “ingenomenheid met ’n beperkte aantal dinge” soos “vrou wees (Eyberse en Bybelse vrouwees)” wil perpetueer. Veel eerder wil dit probeer aandui dat hierdie gegewe by Cilliers geïdentifiseer kan word as een van die uitlopers van ’n interessante veld vir tematiese ondersoek in die Afrikaanse letterkunde, naamlik die verskrywing van Bybelse figure en gegewe.
    Dit was immers aan die begin van die sewentigerjare wat Antjie Krog in Januarie-suite (1972) gedigte soos “Manoág aan Simson”, “Jonathan”, “Potiféra” en “Rebekka” opgeneem het wat aansluit het by die vroeëre Dogter van Jefta (1970). Iets waarna Cloete1 in sy oorsigtelike opsomming van o.a. Debóra nie verwys nie, terwyl dit Cilliers se debuut bloot implisiet verwyt van aansluiting by temas uit die poësie van ’n Eybers en ’n Louw uit die dertigerjare. Dit was in hierdie selfde tydvak waarin bundels soos I.L. de Villiers se Leitourgos (1972), Manna oor die duine (1974) en Gelykenisse en ander verse (1975) verskyn het — almal met ’n sterk Bybelse verwysingsveld, en minstens een (op grond van sowel titel as inhoud) uitdruklik aan ’n Bybelse figuur gewy (“Maria”, p. 48 in Leitourgos). En dan het mens nog nie eers begin kyk na die tematies ooreenstemmende poësie wat Sheila Cussons gedurende die sewentigerjare publiseer nie, ook nie na wat die dekade wat met 1980 aanbreek, hiermee maak nie. Soos die tematiese aansluiting wat Lina Spies se Van sjofar tot sjalom (1987) — spesifiek ’n teks soos “Lofsang”, byvoorbeeld — bring, ook reeds vooruitgeloop in byvoorbeeld “Gebed van Eva” (1982). En dink maar aan wat Annesu de Vos in Gebed van ’n groen perske (1980) met “Via Dolorosa” en “Pilatus” doen, kyk maar na die afdeling “exodus, levitikus” en na die gedig “maria con la luna” in Om vry uit te stap, 1982.2 Om langs hierdie ompaaie dus tot die kern van die saak te kom: dit lyk vir my duidelik dat Rika Cilliers se debuutbundel beskou kan word as ’n bydraende stem tot die poësie van, en ook die aspekte van die poëtiese gesprek van, die tydsgewrig waarin dit ontstaan het.
    Ook die gedig waarin ’n woordspel gespeel word met “van moederskant gedoop [...] na ouma hendrika salomina”, en wat ook aanleiding moes gegee het tot Cloete se (verwytende?) opmerking in een reël: “Verskeie gedigte wek die indruk van outobiografisme” vind myns insiens aansluiting by wat in die poësie van (daar)die dag aangaan. Dink aan Breytenbach se vooropstellende bekendstelling van die digterspersona in “Bedreiging van die siekes” (1964) (waarop daar immers ook in Cilliers se “opgedra”, p. 39, ingespeel word) en die latere uitbreidings daarvan en daarop; aan Opperman se Komas uit ’n bamboesstok; aan tekste soos Daniel Hugo se Die boek Daniel (1986) waarop Cilliers later in Vlier (“Opflikkering”) sal reageer. Meer nog, in hierdie gedig waarin die digterspersona onverbloemd benoem word, is daar ook die aanduiding dat die tendens waarvoor Opperman pa staan, die konkrete skryf na Afrika toe sónder om die Europese erfenis te ontken, ook hierdie digter geval:

    rika kom wel
    — hoewel nie inter-
    nasionaal nie
    tóg van afrika —
    met boerser afrikaans
    tot rikasrus
    in die transvaal;
    bygenaamd rooikappie
    óf vos
    loop reynaerde ook
    deur ma reinette
    met reinhardt as háár oom.

Die inskryf van die (outobiografiese) self in tekste in, die gebruik van Bybelse gegewe en figure (dikwels om kommentaar op sosiale en politieke en persoonlike werklikhede te lewer), die fokus op die vrou (wat meer as blomskrywery en introspeksies is en wel deeglik gender-kwessies aan die orde stel) en die spel met die literêre wêreld se tradisie, tekste en funksioneringe, is alles elemente wat reeds in Rika Cilliers se debuutbundel ter sprake kom en wat dikwels deur haar oeuvre weer (ander) gestalte kry.
    Een voorbeeld: Afdeling II dra as titel die volgende reëls uit ’n Middeleeuse lied: “zij kwamen bij een galgenveld; / daer aen hing menig vrouwenbeeld”. In die Halewijnslied is dit (verstommend genoeg vir daardie tydperk, immers) die vrou (wat eintlik nóg ’n bloubaardslagoffer moes wees) wat aan die einde wel die oorwinning behaal. (Dit is sy wat haar pa se grootste hings gaan opsaal en wydsbeen ry, dit is sy wat met slinkse slimheid die verkragter/moordenaar uitoorlê én dood maak.) In die gedigte wat Cilliers in hierdie afdeling aanbied, gaan dit nie soseer om die oorwinning van die verskillende vrouens van wie (toegepaste) portrette gegee word nie, maar wel oor ’n spesifiek vroulike ervaringsveld — wat dikwels lyding, vernedering, miskenning en sosiale stereotipering (die vele lyke wat eers aan die hare opgehang moes word, die vele vernederings wat eers gely moes word) insluit. Soos byvoorbeeld in die tweede gedig “nou is ek net sara” (p. 20) waar daar boonop ’n bykans ikoniese spel met die vrou se naam gespeel word om haar verliese (wat sy aan status, aan haar kind, aan haar slavin alles moes afstaan) aan te dui:

    van jou huis is ek sarai
    sereen en vorstin
    maar ek wil vir jou wees
    hagar: skaamteloos slavin

      nou is ek net sara:
      die afgekapte klinker
      het jy en jou God
      vir jul verbondskind
      uit my skoot geneem
      en my gelaat
      barrer as tevore

Waar Cilliers se eerste twee bundels (Opslag verskyn in 1980) kritiek moes verduur oor byvoorbeeld onewenheid, is die ontvangs wat Mammoet (1984) kry eenstemmig daaroor dat hierdie bundel ’n vooruitgang in die digterskap aandui.3 En telkens met melding van die geslaagde reeks verse waarin die swangerskaptema ondersoek word — waaroor Kannemeyer (1988: 40) byvoorbeeld in sy Die Afrikaanse literatuur 1652 — 1987 opteken dat Cilliers “ ’n nuwe dimensie tot die tradisie van dié motief in die Afrikaanse poësie” bydra. Dat hierdie motief as sterkpunt geïdentifiseer word, beteken egter nie dat Mammoet tematies arm is nie. Marais (1985: 12) wys byvoorbeeld op die kenmerkende “wetenskaplik-dokumentêre inslag” van die bundel, op die voortgesette intertekstuele spel, die aansluit by Bybelse gegewe en die “verstegniese bedagtheid”. Marais verwys ook na die intertekstuele gebruik van die kleuterrympie “Oom Olifant, jou reuse dier” in die gedig “Roos van ’n Reus” (Mammoet, pp. 16-17). Wat my hieromtrent opval, om nou weer terug te keer na my waarneming in verband met o.a. Debóra, naamlik dat Cilliers se tekste aansluiting vind by die tekste van die dag, is die gebruik van die kleuterrym in “Slaapliedjie vir Dima” (Mammoet, p. 31). En dan nie bloot as intertekstuele verwysing nie, maar as ironiserende en satiriserende middel. Alhoewel dit nie ’n kerngegewe in Mammoet raak nie, is dit tog opvallend dat tekste waarin die kleuterrym op sodanige wyse benut word, iets is wat rondom Mammoet se publikasiedatum, by meer as een digter in die Afrikaanse poësie opgemerk word. Soos byvoorbeeld gedigte van Antjie Krog in < cite>Otters in bronslaai (1981), soos onder andere Eveleen Castelyn se “Sterfliedjie op ’n ou deuntjie” (1984), soos Opperman telkens in Komas uit ’n bamboesstok (1979)4. In dieselfde trant kan verwys word na die tekens van omgewingsbewustheid wat in Mammoet voorkom — iets wat gedurende die negentigerjare sekerlik die bewusste deur Johann Lodewyk Marais se poësie verken word. In “Jumbo” (Mammoet, pp. 38-39), byvoorbeeld:

    Jumbo, toonstuk, stofvergaarder
    roerlose vloerslyter
    jou eer en fleur bly opgestop
    vir geslag en nageslag
    jy duld die hangsels, treksels
    aan jou ongelyke sterte
    kwettervinke en roomysmis
    vaders tel hul spruite op jou rug
    kiekkiek en die applous klink terug
blyk ’n subtiele kritiek op die ontering waaraan die olifant uitgelewer is: om nie die dood en natuurlike verganklikheid gegun te word nie, maar uitgelewer te word aan nagemaakte “opgestop(te)” “eer en fleur”, om vernederend benoem te word met die naam van ’n animasiekarakter uit Disney se vermaaklikheidswêreld. ’n Soortgelyke maatskappy-kritiese inslag blyk myns insiens ook uit ’n gedig soos “relikwie” (Mammoet, p. 52) waar die vernaamheid van voordoeners en grootdoeners, die dapper jagters, aan die kaak gestel word:
    hulle kom: vierwielaangedrewe, met wit skoeisel
    en helm, safarikakiepak met lang of kort pype
    na gelang van die toonstand van hulle bene;
    hulle skuil agter sonbril, sigaar, immunisering,
    voel tuis met jenewer en kaviaar in koelkoelsakke,
    lugreëling, luukseslaapgeriewe met gasvrye vroue,
    jagtrawante, bediendes en draers, safarileier
    (laasgenoemde bloot ingeval die teleskopiese wapen
    verseg om hond haar-af te maak met die eerste sarsie);
    hulle trotseer weinig meer as ’n songebrande ego [...]
    [...] origens gaan hulle deur as bewaarders
    met unieke vlieëslaners van olifantkwas, asbakke
    wat met toonnaels in die volvloermat inboor (die ander
    pote doen soortgelyke diens by uitgesoekte vriende) [...]

En ook hier kan ek nie help om te dink aan ander maatskappykritiese tekste uit hierdie jare nie. In hierdie geval spesifiek aan die kleinburgerlike en politieke ontmaskerings van Antjie Krog in (o.a.) Jerusalemgangers (1985) se ons dorp-reeks. “XIII” (p. 33):

    maandae kom die boere dorp toe
    met jeeps van onlangse modder bespat
    om pienkwang kinders in koshuise te laat
    pos, parte en koöperasiemeel plase toe te vat

    [...]

    vrydae laat meeste plaasvrouens hare doen
    vet bosduifies skuif uit duitse motors
    wat buffer teen buffer langs die hoofstraat staan
    agterin sit Liesbet met die jongste erfgenaam:

    lag baba lag
    jou pappa het gaan jag
    met sy teleskopies Sauer en Sohn 30.08

Nog aanduigings dus wat dit moontlik maak om Cilliers te eien as ’n digter wat bygedra het tot en deelgeneem het aan die literêre gesprek in die Afrikaanse poësie van die dag.
    Die enigste negatiewe resensie5 wat Rika Cilliers se vierdie digbundel Vlier (1990) moet verduur, word gemotiveerd deur Joan Hambidge6 as misreading “aan die kaak gestel”. F.R. Gilfillan7 beskryf die bundel as ’n “egte en pretensielose toevoeging tot hierdie digter se boeiende poëtiese register”; terwyl Tom Gouws8 aandui dat die “kind wat in Mammoet nog in die baarmoeder was, [...] in Vlier ’n raserige avonturier” geword het wat “al die kinderdinge” doen “en heerlike versies maak”. Waar Kannemeyer Mammoet aandui as ’n bundel waarin ’n “nuwe dimensie tot die tradisie” van die swangerskapmotief in Afrikaanse poësie oopgeskryf word, wys Gilfillan op ’n ooreenstemmende vernuwing — hierdie keer deur Vlier. Hy verwys na ’n verdieping wat die tradisie van Afrikaanse verse oor die “ou-ou verhaal van ’n vrou se ervaring van moederskap en die vertedering teenoor haar kind” sedert Eybers reeds betref, en sê: “By Rika Cilliers word hierdie tema veel skrynender uitgediep.” Cilliers se poëtiese stem is dus nie net (soos die argument tot dusver probeer aandui) een van deelname aan die literêre gesprek van die dag nie, maar ook ’n verkennende een. Beide resensente wys egter ook op ’n ander belangrike gegewe in Vlier, naamlik aspekte van “lewensangs”, ’n “vrees vir verganklikheid”, en ook ’n “proses van beswering”. Alles aspekte wat ná ’n lees van Vlier bly eggo. Alreeds net in die bundeltitel vind die leser duidelike blyke hiervan: ’n vlier is immers ’n soort kanferboom bekend vir die medisinale waarde daarvan. En “Vlier” (Vlier, p. 71) is ook die titel van die slotgedig waarvan die laaste reëls só lees:

    [...] vlier teen die spier
    -pyn, weerder van mot, sweem
    van kanfer, kwyn in die kis

Die aanduidings wat reeds in Vlier is dat die poësie ’n middel tot die aanspreek van vrees en verganklikheid is, dat dit deel raak van ’n poging tot beswering, soos byvoorbeeld in “Kneusings om ’n kind” (Vlier, p. 40):

    Die kind wat U my gegee het, Here,
    oortref my seerste vrese: magnetiese
    kruks van elke krisis stop hy my hart
    op ’n afgrond, haal weer asem, lag
    verblindend voldaan en grondig onskuldig
raak in Spirakel (1996) al duideliker:
    waar die hart van mense gons,
    vervlak papier woonselle egalig grys
    met net die effense reliëf van wit-
    geduide strate [...]

    [...]

    Papier, voorsien van kolomme, nommers, simbole
    bind alles ringrug logies, eendimensioneel
    vir die professionele padvinder —
    net jy self volg al die instruksies, merk die roete
    op jou kaart, memoriseer dit, pak
    goedertrou die pad na jou bestemming aan
    [...]
    stadiger by oorgange om die naam te lees,
    [...] prewel
    byvoorbeeld: Marais, Preller, Totius, Celliers,
    Langenhoven, Eybers, Van Wyk Louw, Opperman,
    gots, al weer Celliers, kontroleer die kaart,
    oorweeg jou opsies, en om, weer om, weer om,
    tot jy mettertyd self die straat word
    wat op die kaarte bestaan, iewers op die tong
    vertoef, geberg in iemand se breinsel,
    net: nooit weer te vind nie

In haar resensie van Spirakel verwoord Helize van Vuuren9 hierdie besweringsaksie van die poësie, raak: “Die titel van Rika Cilliers se vyfde digbundel verwys na die anatomie van ’n insek: ’n “spirakel” is naamlik ’n asemhalingsgat of blaasgat. Binne die verband van verstikkende lewensomstandighede, soos in hierdie bundel beskryf, verwys die digter met “spirakel” na die poësie as enigste uiting- en asemhalingsmoontlikheid. Daarsonder sou sy versmoor by gebrek aan “lug”.” Voorbeelde wat hierdie siening kan illustreer is dwarsdeur Spirakel aanwesig.

Soos in “Noodweer” (Spirakel, p. 24):

    met ons oë op die winter
    sal ons skarrel, raap en berg
    aan bloeiende essensies

      die glim in ’n lig-sinnige oog
      onder behoedsaam bewimpelde lede;

      die vers(m)agting van ’n mond,
      spiere van ’n pierparate tong

Soos in “Versaking” (Spirakel, p. 25):

    die morsekode
    van die hart
    se afgemete klop
    stippel, stippel,
    streep en
    stop

Soos in, soos in. Met die ysingwekkendste hiervan waarskynlik in “Nuwejaar” (Spirakel, p. 85) waar die titel se “nuwe” jaar teen die slot ironiese aanduiding raak van ’n nuwe “geboorte”:

    Vannag het ek geweet hóé.
    My seun raak reeds kontant in water
    — “Kyk, Ma! sonder vlerke, sonder ring!
    Julle kan die net maar afhaal!”

    ’n Klipgooi van my skuifdeur
    hierdie water. Snags beluister
    ek die skoonmaakmonster, naby
    soos my hartklop, ver soos ’n trein.

    Een nag, as julle droomland asem,
    trek ek my leerjas aan, laslaphandtas
    word in kompartemente volgestop
    met ongewilde sierade, tog:
    ’n klipswaar hart is gewig genoeg.

    Die deur is oop, die net is af
    — my kind kan swem —
    en sonder vlerk of ring
    kan ek gladweg, soos by die trap af, ínstap,

    en julle sal my drywend ligter vind.

Salomina Hendrika (Rika) Cilliers het binne agtenveertig lewensjare en die bestek van negentien jaar se gepubliseerde verse, onontkenbare spore gelaat, kosbare nalatenskappe.

    En zoals de honden janken als hun baas
    weggaat, zo jankten wij, toen hij wegging,

    nieuwe avonturen tegemoet.
skryf Rutger Kopland in “De man in de tuin”. Maar, soos Gilfillan opmerk na aanleiding van die Amichai-motto en die kinderverse in Vlier: “Dit is die kind wat weerbaar is, nie die volwassene nie.” Die slotwoord van hierdie huldebetoon dan aan “Mauci se reënversies” (Vlier, p. 15):
    dit reën dit reën!

    toe gaan die reën af
    toe huil die wolke
    die wolke huil toe
    hoee
    toe blaf die hond
    toe maak hy oë toe
    dan huil die hond
    hoeehoeeehoeeee

    as die wolk doodreën

    val die reën op die wind
    dan huil die wind weer
    hoeehoee

    as die reën weer kom
    gan ek hom klap
    gaan ek hom doodtrap
    met my skoen
    dan gaan die wind
    nie meer huil nie

    toe kom die son
    toe gaan die wind nie huil nie
    huil die hond ook nie meer
    hoeehoeeehoeeee nie

Departement Inligtingkunde
Universiteit van Pretoria

Eindnote

1 Sien Tydskrif vir Letterkunde XXVII(2): 111-112, Mei 1979 — wat woordeliks oorgeneem is in Die Afrikaanse literatuur sedert Sestig, p. 276.
2 Hiervandaan kan die geïnteresseerde navorser natuurlik nog verder gaan en ook tematies ooreenstemmende korttekste, betrek. Soos Riana Scheepers (pp. 37-41 in Dulle Griet) se “Die Rachelsporsie” met ’n reël soos “En my naam is Lea, dink sy. Lea met die dowwe oë” wat onvermydelik Cilliers se “lea” (o.a. Debóra, p. 21) oproep; en ook die storie in ’n Huis met drie en ’n half stories (pp. 91-96) met die polities korrekte, nonseksistiese titel “Jefta se kind” wat swoel en in hoogliedagtige taal en trant geskryf word.
3 Sien bv. J.C. Kannemeyer (1988) Die Afrikaanse literatuur 1652 — 1987, p. 430; Renée Marais in Ensovoort 5(1), Junie 1985, pp. 12-13.
4 Hierdie soort procéde gebruik Opperman natuurlik reeds in Joernaal van Jorik (1949). Sien verder ook De Wet in Stilet 9(1), Maart 1997, pp. 88-99.
5 Merwe Scholtz se Cilliers se jongste té mooi; dis twee keer suiker in die koffie in Die Burger, p. 9, 15 Januarie 1991.
6 Wilde esse in lewelose Mantessa. Op my literêre sofa, Kalender p. 2, 7 Februarie 1991.
7 Ou-ou verhaal van moeder en kind. Rapport p. 16, 17 Maart 1991.
8 Vlier — ’n roerende ervaring. Die Transvaler p.8, 17 Januarie 1991.
9 Sterk en somber verse. Insig, p. 38, Februarie 1997.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.