SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

“Nasionalisme en letterkunde — wat verder?”

Hein Willemse
Oudtshoorn: Klein Karoo Nasionale Kunstefees
30 Maart 1999

Verskillende invalshoeke is moontlik wanneer mens ’n oorsig moet gee oor die Afrikaanse letterkunde se pad tot hier en ’n projeksie moet maak oor die tog verder. Ek maak ’n paar kantaantekeninge oor die verhouding tussen nasionalisme en letterkunde. Daarom benader ek die onderwerp nie analities nie, maar as ’n gesprek oor ’n konteks en sy onvermydelik verstrengelde tekste. My voordrag sal noodwendig oorsigtelik en daarom erg vereenvoudig wees. Oorweeg die hooftendense waaroor ek dit hier het.

1
Ek is een van daardie lesers wat in die eerste dekade ná 1948 gebore is. Ons is die geslag van apartheid. Die Afrikaner-nasionaliste was stewig in die saal. Hulle invloed was oral. Vir ’n jong kind was dit doodnatuurlik om van die “net vir blankes”-parkbanke weggeruk en op die “nie-blanke”-banke neergeplak te word. Dit was net so natuurlik dat daar in klerewinkels aparte stelle klere vir aanpas was: “Nee, jy, wag eers, die hemde wat julle moet aanpas, pas een van julle mense nou aan!” En dit was net so natuurlik dat daar aparte ingange by die Kango-grotte was en dat swart en wit apart begelei moes word. En dan was daar die aparte biblioteke.

Die dorp se biblioteek vir “julle mense” was ’n aanloopplek, nie so gewild soos die plaaslike Maywood Cinema nie, maar dit is hier waar jy geesgenote kon ontmoet. Dit is hier waar die meeste van ons vir eie plesier kon lees. En sou jy die grys bibliotekaris met sy grys skoene vra na die uitleenfrekwensie van titels, sou hy antwoord dat dit hoofsaaklik Afrikaanse boeke is wat uitgeneem word. Dit sou nie vreemd wees nie. In daardie dorp was daar ’n kleinerige groepie mense wat Xhosa gepraat het, en ’n handjie vol Engels. Dié wat na Engels geaspireer het, het na die BBC se World Service geluister om hul elokusie reg te kry. Die oorgrote meerderheid het net nodig gehad om te luister na die ryk Bolandse Afrikaanse aksente om te weet wat hulle taal is.

Van tyd tot tyd het ’n groepie aspirant-skrywers in daardie biblioteek byeengekom en selfs later ’n letterkundige tydskriffie, Search, getik op blou wasvelle met ’n duisternis pienk kolle, uitgegee. Op ’n soel laatsomersmiddag het ’n heftige gesprek oor die Afrikaanse letterkunde plaasgevind. Die gewilde Afrikaanse letterkunde wat hulle gelees het, was een van wasbleek vroue en donker, maar nie té donker, net effens getênde mans. Dit was boeke oor vissers, graanlande, slagtinge, oorloë en avonture waar mans met vere in hul hoede op wit perde gery het. Waar mense soos daardie groepie aspirante wel ter sprake was, het hulle rydiere koudgelei, of bale hooi op miedens gepak en moes die baas hulle so nou en dan met vuis en sambok onder bedwang bring. Dit was ’n letterkunde, het die groepie besluit, wat niks te sê gehad het oor hulle aspirasies en fantasieë en dié van ander jong mans en meisies aan hulle kant van Durbanstraat nie.

Later sou hulle leer dat hulle tog aanwesig is, reeds vanaf die eerste publikasies in Afrikaans: in die koples-boeke van die madrassas van die Bo-Kaap of die Bayan-uddin van Abu Bakr Effendi. Hulle sou ook die stories van “outa Hendrik, die ou Boesman” of die “ou Hottentot”, ontdek in Dwaalstories van Eugène Marais of die vertellinge van Von Wielligh. Maar juis dié wete sou hulle beperkte ervaring van ’n aparte dorpsbiblioteek groter geldigheid laat aanneem. Want selfs al het die stories uit ’n buite-Afrikanersfeer ontstaan, is dit opgeëis vir Afrikanerbelang, en die aanwesigheid van mense soos hulle is gereduseer tot terloopshede.

Veel later sou hulle ontdek dat die oorgrote meerderheid van die hogere letterkunde in Afrikaans nie veel van hul jeugervaring verskil het nie. Die Afrikaanse letterkunde was ’n letterkunde van vervreemding. Op enkele uitsonderings na was dit ’n letterkunde waar mense soos hulle behandel is as randfigure en onderdanig, sielloos en a-moraal voorgestel is. Hulle moes saamleef met die kontradiksie dat hulle in die letterkunde, wat in hulle taal geskryf is, bywoners is. Hulle het van buite gestaar na die flikkeringe, en die bewegings gesien en geweet dat dit weinig met hulle te make het.

2
Vanaf so vroeg as 1806 en 1815 toe Moslem-kinders in die madrassas hul koples-boeke in die krultekens van Arabiese Afrikaans geskryf en Etienne Boniface sy De nieuwe ridderorde opgevoer het, was daar swart en wit ervarings van die Afrikaanse skrif en woord. Net soos daar vanaf die eerste ontmoetings tussen Khoi en Hollander swart en wit belewenisse van die Afrikaanse taal is. En die uiteenlopende ervaringe het mekaar beïnvloed en uiteindelik vervloei. Die Afrikaanse taal het tot gedeelde goed ontwikkel.

Soos so dikwels in die loop van die geskiedenis gebeur, eien een groep gedeelde goedere vir hulself op. Die opvatting van gedeeldheid word onderdruk sodat, soos in hierdie geval, die taal tot eksklusiewe besit gereken word. Dit is dieselfde nasionalistiese ywer wat wit Afrikaans gekodifiseer en verdinglik het, wat ook in die Afrikaanse letterkunde werksaam was. Skrywers en letterkundige geskiedskrywers het hulle die taak opgelê om ’n “volksbestaan” te verdedig, “ ’n nasie om op te voed,” “ ’n nasionale selfbeeld” en “nasionale selfrespek” van die Afrikaner uit te bou. Die letterkunde was ’n langsame proses van besitname en die skepping van ’n kulturele geskiedenis vir die Afrikaner-nasionalis.

Dit is gemene saak dat Afrikaner-nasionalisme die impuls was vir die Afrikaanse letterkunde. Die Afrikaanse letterkunde is die tasbare gevolg van identiteitskepping—’n teen-koloniale aandrang om vir hulself te praat; om hul belewenisse op skrif te stel. As in ag geneem word dat van die 6000 tale en dialekte in die wêreld net meer as ’n honderd ’n letterkunde het, is die mylpaal wat Afrikaner-nasionalisme en die daaropvolgende institusies ondersteunend van Afrikaanse letterkunde bereik het, duidelik. Miskien is dit juis as gevolg van ’n nasionalisme dat ’n na-koloniale letterkunde soos die Afrikaanse letterkunde ontstaan het.

Maar juis hierdie nasionalisme het die Afrikaanse letterkunde ten diepste ook ’n selfregulerende letterkunde gemaak. Kanoniseringsprosesse en onderwyssillabusse is ontwikkel wat onderdanigheid in die hand gewerk het. Uitgewers- en onderriginstellings het onder die vaandel van transhistoriese literêre standaarde as hekwagters opgetree. Van die belangrikste skrywers in hierdie letterkunde was gedienstig aan ’n enge Afrikaner-nasionalisme. Enigiets anders was ’n gepruttel op die rand. Dit is ’n letterkunde waaruit liberale denkers en skrywers verban, gedemoniseer of eenvoudig geïgnoreer is.

Die eksklusiwiteit van die Afrikaanse letterkunde word miskien die duidelikste geïllustreer deur die wyse waarop skrywers soos SV Petersen, PJ Philander, Arthur Fula of Adam Small se formele toetrede tot die Afrikaanse letterkunde verloop. Ironies genoeg word hierdie skrywers aanvanklik hartlik verwelkom, as uitsonderlik voorgestel en onmiddellik gestereotipeer om later subtiel in ’n aparte ghetto op die rand uitgestoot te word.

Ons kon met die beste wil op aarde nie na Afrikaans of die Afrikaanse letterkunde in ’n eiendomlike verband verwys nie. Ons wou ook nie. As kinders van apartheid is ons keuse vir onderrigtaal uit en uit bepaal deur opeenvolgende apartheidsregerings, in die vyftiger- en sestigerjare onder meer deur die De Vos-Malan-verslag oor moedertaalonderwys in kleurlingskole. Die geskiedenis van die blatante verafrikaansing van kleurlingskole is nog nie geskryf nie, maar dit het verreikende gevolge vir almal gehad.

Inderdaad: ons het van buite gestaar, soms toegetree, maar dan besef dat dit nie veel met ons te make het nie.

3
Met verloop van tyd het die Afrikaner-nasionalisme ook sy eie ondermyning ingebou. Die grensverskuiwende werk van Jan Rabie, vanaf sy stotterende roman, Ons, die afgod en sy latere Bolandia-reeks, het aangetoon dat daar in skrywerskringe kosbare wroeginge aan die gang was. Dit was ’n proses wat die begin aangekondig het van ’n loswikkel uit die wurggreep van ’n verterende nasionalisme.

Daardie impulse sou versterk word in die volksvreemde poësie van Breyten Breytenbach of die romans van Etienne Leroux, André P Brink en later Elsa Joubert. Patrick Petersen, die ontslape digter, het ’n paar jaar gelede beken dat sy belangstelling in die Afrikaanse letterkunde aangewakker is deur die vroeër romans van Brink, soos Die ambassadeur, omdat hy die teks sonder ’n smaling om sy mondhoeke kon lees. Vanuit hierdie hoek was die eksperimentering met vorm en nuwe stories ’n ondermyning van die verlammende uitwerking van nasionalisme.

In die dekades daarna sou die Afrikaanse letterkunde gekenmerk word deur ’n losruk van nasionalisme. Terwyl wit dienspligtiges en swart beroepsoldate Afrikaner-nasionalisme op die grense van Namibië verdedig het, het in die Afrikaanse letterkunde ’n verdere ontkoppeling plaasgevind. Dit het uiting gevind in talle grensstories, sommige daarvan onthutsend eerlik en ontsettend, ander gedienstig, en dikwels gerieflik binne die grense van ’n geïsoleerde Afrikaner-ervaringswêreld. Hierdie grensstories, seksualiteit, homoseksualiteit en die eksplorering van persoonlike vryhede by jonger Afrikaner-skrywers was ’n openlike uitdaging en afstandsverklaring van Afrikaner-nasionalisme en Calvinisme.

Terwyl hul blanke Afrikaanse eweknieë binne die sekerheid van ’n gevestigde uitgewersbedryf en ’n koesterende literêre omgewing beweeg het, het swart Afrikaanse skrywers hul strydkrete teen apartheid self uitgegee. Binne die raamwerk wat ek vir die voordrag gestel het, is dit ’n betekenisvolle ontwikkeling in die Afrikaanse letterkunde. Na die krisis van 1976 het hierdie groep digters en skrywers téén die opvatting van Afrikaans as taal van die verdrukker ingeskryf en Afrikaans as taal van bevryding gevestig. En daarmee, saam met die United Democratic Front (UDF), die legitimiteit van Afrikaans as taal van die anti-apartheid politieke stryd gevestig. Ten minste in die suide van die land was dit nou ook duidelik dat in Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde nie net die Afrikaner of Afrikaner-nasionalisme teenwoordig is nie.

Teen die einde van die tagtigerjare het die geslag van apartheid in die Afrikaanse letterkunde ’n geslag geword met gewere oor die skouers, vuiste in die lug en swingels in die hand.

In ’n eeu of meer het die Afrikaanse letterkunde ’n lang pad met uiteenlopende beklemtoninge, kontrasterende rigtings en komplementerende ervaringe geloop. In ’n groot mate was dit ’n letterkunde wat in ’n knusse, selfs gedienstige verhouding met Afrikaner-nasionalisme verkeer het en selfs uitermate daarby gebaat het. Daar was ook die tekens van verset teen daardie nasionalisme in die Afrikaanse letterkunde teenwoordig, meesal nie erken nie, soms verban en dikwels geïgnoreer.

En vir daardie groepie van die dorpsbiblioteek? Ons het die flikkeringe van ver af gesien en ritmies ’n dans vir onsself gedans.

4
Maar dit was gister.

5
’n Paar voorstelle vir die toekoms: drie om presies te wees.

Tot dusver was my voordrag ’n binnegesprek tussen taalgenote. Jaar na jaar word meer titels in Afrikaans gepubliseer as in enige ander Suid-Afrikaanse letterkunde, selfs Engelse Suid-Afrikaanse letterkunde. Hierdie publikasies getuig van ’n verrassende reikwydte. Ek sou selfs so ver gaan as om te sê dat die Afrikaanse letterkunde in omvang, indien nie ook literêre kwaliteit nie, dié uitstaande Suid-Afrikaanse letterkunde is. Tog word weinig daarvan in die breër Suid-Afrikaanse kulturele omgewing besef. Dit is buite die grense van hierdie taalgemeenskap dat mens besef dat die Afrikaanse letterkunde, selfs vir ingeligte lesers buite die Afrikaanse spraakgemeenskap, totaal onbekend is. Daar mag woelinge en strominge wees wat indonder teen die Voortrekker-monument of die erfenis van PW Botha, maar vir die breër Suid-Afrikaanse leserspubliek beteken dit niks. Hulle ken nie hierdie letterkunde nie en hulle kan daardie sentimente nie waardeer nie. Waar daar wel oor Afrikaanse letterkunde geskryf word, is dit aan die hand van tweederangse sekondêre publikasies. Daar is dus ’n toenemende behoefte dat die Afrikaanse letterkunde uit sy kokon moet breek, sodat dit ook aan ’n breër Suid-Afrikaanse gehoor beskikbaar gestel moet word.

Daar moet groter en omvattende pogings wees om Afrikaanse publikasies, in sy wye verskeidenheid, aan ander lesers as Afrikaanssprekendes beskikbaar te stel. Vertaal. Vertaal. Vertaal.

Dié groeipunt van swart Afrikaanse skryfwerk is een wat gekoester moet word. Die Afrikaanse letterkunde het hulle nodiger as wat hulle die Afrikaanse letterkunde het. Dit is hierdie skrywers wat kom uit meer as 50% van die Afrikaanssprekende gemeenskap wat in die volgende paar dekades ’n groter en toenemende rol gaan speel. Uitgewers en kunstefeeste soos hierdie sal aktief werk daarvan moet maak om daardie skrywers en hul gemeenskappe betrokke te kry: in die kern van hulle bedrywighede en nie op die rand nie, soos tans die geval is.

En laastens: ons leef in ’n gedeelde wêreld—ook in hierdie land. Ek verstom my vir die ywer waarmee allerlei idees oor isolasie, afkamping, taalgenootlike samesyn en wat nog meer in hierdie tyd in ons openbare gesprek oor Afrikaans aanwesig is. Dit is waar dat Afrikaanssprekendes, en ek sluit my daarby in, die toenemende verwaarlosing van Afrikaans in die staatsdiens waarneem. Laat ons dit duidelik stel dat vir ’n verskeidenheid van redes, waarvan die minste die demokratiese reg is om in jou taal aangespreek te word, Afrikaans ’n volwaardige plek in Suid-Afrika in die een-en-twintigste eeu verdien. Ek twyfel of die regering die wil het—met reg—om een taal bo ’n ander uit te sonder. Afrikaanssprekendes kan dus nie op die regering staatmaak vir sy voortgesette vestiging nie.

Daarom: die handevat rondom Afrikaans moet eerstens oor sosiale en politieke grense strek na ander taalgenote. Nie in die huidige akkommoderende benadering waarin die belange en behoeftes van hoofsaaklik gevestigde middelklas Afrikaners voorrang geniet nie. Wat is die taalbelange van die middelklas bruin/swart plattelandse Afrikaanse gemeenskappe? Wat is die taalbelange van die toenemende angliserende Afrikaanse stedelike gemeenskappe? En is daar ’n manier om uit hierdie taalbelange ’n oorkoepelende belang te ontwikkel? En hoe sluit die taalbelange van die groot Afrikaanse werkersklas daarby aan? Solank daar die gevoel bly bestaan dat bruin/swart Afrikaanssprekendes gekoöpteer word, sal daar ’n afstandelikheid ten opsigte van enige inisiatief bestaan.

Ten tweede: Ek weet nie hoeveel keer ek die afgelope tien jaar of meer gesê het dat Afrikaans slegs kan gedy wanneer Afrikaanssprekendes ook die belange van ander taalgroeperinge verdedig nie. Dit is handevat oor taalgrense heen om gedeelde taalbelange te verdedig. Om hierdie pad alleen te loop, is een van toenemende isolasie.

En wat sou die middeljarige aspirante van die ou aparte dorpsbiblioteek sê? Hulle sou in oordonderende optimisme uitbundige danse sien en van aller harte hoop dat daar van binne en buite, oor die strate heen ’n kakofonie van klank, ritmes, protes en gesprek sal uitbars.

Trammakassie, soos hulle eertyds in die Bo-Kaap gesê het.

Dr Hein Willemse is die uitvoerende direkteur van OLM Kommunikasie.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.